Boris Johnson se val

Boris Johnson het bedank. (Foto: Justin Tallis/AFP)

Brittanje se eerste minister, Boris Johnson, het toegegee aan die druk vanuit sy eie party en as leier van die Konserwatiewe Party bedank. Die druk het lank opgebou en Johnson het met verbasende vasberadenheid voortgegaan en die storm getrotseer.

Hy het reeds ʼn mosie van wantroue uit sy eie party se parlementêre koukus oorleef. Toe verskeie parlementslede en selfs verskeie ministers egter later uit protes teen Johnson bedank het, en hy toenemend geïsoleerd geraak het, moes hy die onvermydelike doen en sy bedanking aankondig. Hy bly wel eers nog aan as eerste minister, maar net tot die party se kongres in Oktober waar ʼn nuwe leier, wat dan ook eerste minister gaan wees, gekies gaan word.

Dit was nie een groot skandaal wat tot sy bedanking aanleiding gegee het nie, maar ʼn reeks flaters, verkeerde besluite, swak oordeel en veral oneerlikheid − iets wat kiesers by enige politikus verpes, selfs in tye waar politici se menslike foute hulle dikwels vergewe word. Johnson se val het begin met partytjies tydens die koronavirus-grendelstaat. Sy nuwe vrou, wat te veel die rol van prinses gespeel het en haar man blykbaar gemanipuleer het om onnodige uitgawes aan te gaan om hulle ampswoning te verfraai, was ook ʼn bydraende faktor. Twee verlore tussenverkiesings het reeds gewys dat Johnson se gewildheid by die kiesers taan. Die laaste strooi was egter toe Johnson Chris Pincher, ʼn persoon wat hom in die verlede aan seksuele wangedrag skuldig gemaak het, as adjunkhoofsweep aangestel het. Johnson het van Pincher se wangedrag geweet en hom nog steeds aangestel, en toe dit op die lappe kom daaroor gelieg. Net so dramaties soos sy opgang was, so dramaties was sy val.

Johnson het in sy kort termyn, van slegs drie jaar, egter heelwat bereik. Sy grootste nalatenskap is Brexit, wat sonder sy besliste optrede waarskynlik met een of ander toegewing effektiewelik ongedaan gemaak sou gewees het. Natuurlik sal die tyd eers moet leer of Brexit Brittanje op die lang duur bevoordeel, maar om vir jou land beheer terug te neem van ʼn globalistiese superorganisasie wat eintlik geen teëstand duld nie en dit boonop nog teen jou land se gevestigde orde te doen, is geen geringe prestasie nie. Johnson het ook ten minste probeer om die migrantegolf na Engeland te stuit met die plan om asielsoekers na Ruanda te vlieg om hulle daar te laat aansoek doen sodat hulle nie onwettig in Brittanje kan aanbly nie.

Tydens die Black Live Matters-histerie en die storm rondom standbeelde het Johnson koelkop gebly en hom nie, soos talle ander politici, opportunisties deur die radikale en anti-Westerse golf laat meesleur nie, maar dit verwerp en gekritiseer. Ook die aandrang op die uiteindelike afskaffing van verpligte bydrae tot die linksgesinde BBC is aan Johnson te danke, wat nie bang was om met magtige instansies swaarde te kruis en vir die burgers op te kom nie. Dapper was ook sy standpunt oor die oorlog in Oekraïne, waar Brittanje geen kompromieë aangegaan het nie en vir Oekraïne van die begin af swaar wapentuig gelewer het terwyl Duitsland en Frankryk nog geweifel het. ʼn Groot deel van Johnson se bewindstyd is wel deur die Covid-19-pandemie beslaan en het ook sy hervormingsagenda daardeur ingeperk.

Die vroeë uittrede van Johnson is ʼn verlies vir die politieke landskap − nie net in Brittanje nie, maar ook in Europa. Hy was ʼn uitkenbare, eksentrieke karakter, vergelykbaar met Donald Trump, wat gereeld die gevestigde orde uitgedaag en kwaadgemaak het, in verfrissende kontras tot uitruilbare, niksseggende en oninspirerende politici soos Olaf Scholtz, Mario Draghi of Joe Biden. Dit het bygedra tot sy gewildheid en aan sy party in 2019 ʼn dawerende verkiesingsoorwinning besorg, maar sy karakter was ook die oorsaak van sy val: ʼn politikus moet ook ʼn spanspeler wees en mag nooit dink hy is verhewe bo die wet of hoef hom nie steur aan sy reputasie nie.

Die gesprekke oor moontlike opvolgers het reeds begin en met die koronaviruspandemie en Brexit min of meer afgehandel, skuif die fokus nou na die ekonomiese beleid − iets wat broodnodig is in die huidige omstandighede. Belastingverlaging word deur talle kandidate beloof. Rishi Sunak, voormalige minister van finansies, wat met sy bedanking tot Johnson se val bygedra het, word tans as die gunsteling gesien om Johnson op te volg, maar nog aankondigings van swaargewigte word verwag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Marthinus W ·

Engeland doen Brexit, maar Boris hardloop rond oor Europa asof hulle steeds deel is; hy was meer aktief in Europese politiek as wat Brexit sou bepaal.

Ek hoop nie hulle kies Ben Wallace nie; hy is regtig oorlogsugtig.

annie ·

Ons sal nou sien wat in Brittanje se binnekamer aangaan. Die verkeerde keuse gaan daai land soos die VSA na die afgrond jaag. Die skrywer hou van Boris en Zelenskyy en hy haat ook vir Rusland. Miskien sal ‘n paar van onse mense ook voet in die hoek sit na die ryk siener van Kiëv. Die bosoorlog was darem lieflik misbruik deur ouens wat jong troepies in hope laat krepeer en laat glo het hulle doen dit vir ons land maar toe altyd vir die ego’s en so van die groot ooms.

marius ·

Korrek . Die Rooi Gevaar leuen wat gebruik is om jong seuns te offer om olie en diamant belange verniet te beskerm . Die onwettige ivoor jag van groot koppe uit weermag helikopters ook . Alles was een groot vet bedrogspul !

Manie ·

Bedrywige knapie in die kooi met ‘n hele aantal buite egtelike kinders.

Dries ·

Sebastiaan wil jy nie vir ons n artikel skryf oor die oorlog in Ukraine nie. Elke dag word die pro-Putin mense in SA al meer. Ek verstaan dit nie. Wat is die rede. Ek sal graag Jaco Kleynhans se opinie hieroor ook wil weet

marius ·

Korrek . Die komediant dra ‘n masker maar flous nie almal nie .

Dries ·

Boris was een van die sterkste leiers in die wereld. Die VK gaan nog lank na hom verlang

Marianna ·

Ek stem saam met Dries. Die Tories het nie verwag hy sou inkom as premier nie. Hulle het mekaar vertrap om premier te word maar Boris wat ook daardie tyd London se burgemeester was en die beste nog, het die mense geinspireer om weg te breek van Europa. Hulle het lank gesoek na redes om van hom ontslae te raak. Manie, sy persoonlike lewe het niks met sy werk te doen nie. Marthinus, was jy of is jy in die politiek?

Marthinus W ·

Ek was nie en is nie in die politiek nie. n Skoolvriend is raadslid van die DA. Ek was 26 jaar in die staatsdiens [13jr NP, 13jr ANC]. Ek het met n paar ministers en voormalige leier van die opposisie gewerk, maar my opinie op MM is suiwer my eie.

Filistyn ·

Sebastiaan, ek geniet jou skrywes. Jy is objektief en bly by die feite. Well done.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.