Buitelandse beleid deurtrek van dwaasheid

Deur prof. Jay van Wyk

Minister Naledi Pandor tydens ‘n besoek aan Rusland. (Foto: Twitter)

Onlangse gebeure, veral die oorloë in Rusland-Oekraïne en Israel-Hamas, het die ANC-regering se anti-Westerse buitelandse beleid in die media-kollig geplaas.

Dit wil voorkom, gebaseer op retoriek en aksies, dat die ANC-regering sy tradisionele onverbonde buitelandse beleid prys gegee het ten gunste van nouer bande met outokratiese lande soos Rusland, China en Iran.

Hierdie beleidverskuiwing is die gevolg van ʼn ernstige misrekening en wanpersepsie deur die ANC-regering. Sodanige wanpersepsie gaan hand-aan-hand met ʼn ontkenning van die noodsaak om knellende huishoudelike uitdagings aan te spreek. Om die waarheid te sê, die ANC-regering fokus op internasionale kwessies, soos menseregte waar onvergenoegde retoriek en groot pratery, in plaas van werkende oplossing, as voldoende beskou word.

Robert Jervis pas kognitiewe sielkunde toe op buitelandse besluitneming. Persepsie is basies die vermoë van besluitnemers om die lesse van die geskiedenis te leer. Wanpersepsie, daarteenoor, is die onvermoë om te leer. Wanpersepsie word in die algemeen beïnvloed deur faktore soos bevooroordeel, onvoldoende inligting, vals inligting, afkeur, ideologiese kortsigtigheid, ensovoorts. Volharde wanpersepsie van die Weste, het met die verloop van tyd, ʼn hoeksteen van die ANC-regering se buitelandse beleid geword. ʼn Aantal voorbeelde van wanpersepsie sal bestaande siening goed toelig.

Wanpersepsie 1: Die Weste was afsydig jeens die ANC se bevrydingstryd

Die idee dat die apartheid-regime deur ʼn gewapende stryd of rewolusie omvergewerp was, het nie gebeur nie. Politieke verandering by wyse van ʼn rewolusie is die wese van die Marxistiese ideologie soos gepropageer deur die voormalige Sowjetunie, die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP).

‘n Artikel waarin die SAKP hulle “oorwinning” tydens onderhandelinge in die 1990’s vier. (Foto: Verskaf/Pieter Mulder)

Inteendeel, die apartheid-regime het besef dat hulle houvas op politieke mag in Suid-Afrika kortstondig was. Toe die toestande gunstig was, het die De Klerk-regering besluit ʼn onderhandelde politieke skikking, in plaas van ʼn verwoestende Marxistiese rewolusie, hou meer voordele vir Suid-Afrika in.

Twee faktore het hierdie dramatiese regime-verandering te weeg gebring. Eerstens, toenemende Westerse druk op Pretoria, veral die implementering van die Reagan-administrasie se sanksiepakket (die anti-apartheidswet). Tweedens, die val van die Berlynse muur was die skrif teen die muur vir die Sowjetunie as ʼn supermoondheid. Dit was die einde van die Koue Oorlog en die VSA het staande gebly as die enigste supermoondheid in die wêreld. Die gevolg was dat die VSA en die Weste in plaas van die Sowjetunie en haar surrogate (veral Kuba en Oos-Duitsland), die aard van politieke verandering in Suid-Afrika gedikteer het.

Dit is dus ʼn historiese feit dat Westerse druk, in die vorm van ʼn onderhandelde skikking, die ANC in politieke beheer in Suid-Afrika geplaas het. Boonop het die ANC ook beheer gekry van ʼn werkende ekonomie en infrastruktuur. Ekonomiese groei het ook ʼn hupstoot gekry toe Westerse sanksies teen Suid-Afrika gelig is.

Die Barlynse Muur val. (Foto: GERARD MALIE/AFP)

Ondanks die dominante rol van die Weste om die oordrag van politieke mag aan die ANC te bewerkstellig, klou die ANC aan ʼn volstruismentaliteit dat die Weste ondersteuners van apartheid was. In retrospeksie is dit duidelik dat Westerse regerings en Westerse openbare mening, apartheid verwerp het. Dit is ook duidelik dat die Weste op die breë belange van die Suid-Afrikaanse bevolking gekonsentreer het. Vandaar die Weste se druk vir ʼn vreedsame onderhandelingsproses eerder as om afsydig te staan teen die ANC se roekelose en rewolusionêre bedoelings.

Wanpersepsie 2: Die unipolêre magsbalans, onder leiding van die VSA, is vervang met ʼn multipolêre stelsel weens die opkoms van China as ʼn supermoondheid.

My kollega, Gerrit Olivier en ek het in detail bewys dat die ondergang van die unipolêre stelsel ʼn mite is ondanks die volharde en opponerende retoriek van die ANC-regering. Die grondslag van supermoondheidstatus is verhewe ekonomiese en militêre mag.

Volgens die gesaghebbende artikel van professors Brooks en Wohlforth oorskry die militêre en ekonomiese mag van die VSA die van Rusland en China met gemak. As die ekonomiese en militêre mag van die Noord Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) by dié van die VSA gevoeg word, is die mindere status van die outokratiese magsblok selfs meer opsigtelik.

Die nasionale vlae van lidlande buite Navo se hoofkantoor in Brussel (3 April 2023) (Foto: Kenzo Tribouillard/AFP)

Dit wil voorkom dat die ANC-regering dink die herhaling van ʼn halfgebakte siening uiteindelik as die waarheid beskou sal word. Die prentjie lyk ook meer bedroef as in ag geneem word dat ʼn multipolêre magstelsel ook die mees onstabiele vorm van magsbalans in internasionale politiek is.

Wanpersepsie 3: Die ANC is toegewy tot die langtermynhandhawing van demokrasie in Suid-Afrika

Inteendeel, die ANC se ideologiese lojaliteit is ʼn verbintenis aan die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) eerder as die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996.

Die NDR is ʼn reeks ANC-beleidsdokumente van die afgelope drie dekades. Die NDR het ten doel die radikale transformasie van die Suid-Afrikaanse politieke stelsel, ekonomie en samelewing. Sodoende word beoog om ʼn sosialistiese staat te skep met ʼn almagtige regering wat alle aspekte van openbare lewe oorheers en beheer.

Ondanks die NDR se skyn as ʼn demokratiese dokument is dit by wyse van ideologie en terminologie bloot Marxistiese propaganda. Die NDR is ʼn hernude poging van die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) om ʼn Sowjet-tipe stelsel in Suid-Afrika in te stel.

Die navorsing van Anthea Jeffery ontbloot dat die veragting vir demokratiese beginsels die kern die NDR argument vorm. Dus, die ANC verwerp individuele vryhede en openbare aanspreeklikheid. Volgens Jeffery is die ANC se selfbeeld dié van ʼn nasionale bevrydingsbeweging wat onverbonde is aan die reëls van die politieke spel.

Voorts, die ANC dring aan dat hulle die enigste politieke party is wat geskik is om te regeer. In die sin is die ANC minagtend jeens die parlement, opposisie partye, persvryheid, ʼn onafhanklike burgerlike samelewing, en nadelige verkiesingsuitslae (DA-oorwinning in die Wes-Kaap). Die ANC voel dus nie gebonde aan die Grondwet nie. Die ANC se aanvaarding van die Grondwet in 1996 was bloot ʼn taktiese skuif. Volgens die ANC hou hulle die reg voor, onder veranderde of meer gunstige omstandighede, om ander opsies na te streef.

In internasionale verhoudinge is dit nie ʼn verrassing dat die ANC-regering meer gemaklik voel in betrekkinge met Rusland en China nie. In hierdie lande is aanvaarding van korrupsie algemene praktyk, bevolkings word onderdruk tot ʼn stand van onderdanigheid, en outokratiese beheer van openbare lewe is aan die orde van die dag.

Wanpersepsie 4: Internasionale indekse is verdag, want dit het ʼn ingeboude vooroordeel teenoor Suid-Afrika as ʼn nie-Westerse land.

Die neiging is dat Westerse lande beter posisies op internasionale indekse beklee as nie-Westerse lande en veral lande in Afrika. Alhoewel Suid-Afrika deur die Wêreldbank as ʼn hoë-middelinkomste land beskou word, is Suid-Afrika ʼn kroniese onderpresteerder op verskeie internasionale indekse ten opsigte van politieke, ekonomiese, sake, en maatskaplike rangordes.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die Kaïro-vredesberaad in Egipte in 2023. (Foto: The Presidency/Twitter)

In wese vorm ʼn land se huishoudelike suksesse of mislukkings, jeens politieke, ekonomiese, maatskaplike en sake kwessies, die grondslag van internasionale indekse. Suid-Afrika se status as ʼn onderpresteerder op internasionale indekse is dus ʼn tragiese werklikheid. Die talle mislukkings van die ANC-regering jeens die voorsiening van noodsaaklike dienste en die bevordering van maatskaplike welvaart vind weerklank in internasionale indekse.

Internasionale indekse is egter ʼn baie handige instrument om Suid-Afrika se swak prestasies te vergelyk met eweknie lande, veral in die ontwikkelende en opkomende wêreld. Indekse is ook handig vir plaaslike belanggroepe, die media, en opposisie partye om die ANC-regering aanspreeklik te hou vir die groeiende aantal beleidmislukkings.

Die wanpersepsie jeens internasionale indekse kan dalk van dieperliggende bevooroordeel spreek. Vanuit die oogpunt van politieke sielkunde is die ANC-regering se onderprestasie en negatiewe siening van internasionale indekse waarskynlik ʼn vorm van ʼn minderwaardige selfbeeld. Swak vertoning op hierdie indekse kan aanleiding gee tot ʼn gevoel van kompeterende nadeel en omsigtig, in die verband, is  ʼn verstandige benadering.

ʼn Gevoel van ʼn swak selfbeeld kan ander negatiewe gedragspatrone ontketen, soos ekstreme onsekerheid, oorsensitiewe reaksie op kritiek, aandagsoekery, onverklaarde of uiterste assosiasies, onvermoë om verantwoordelikhede uit te voer, en aggressie jeens diegene wat jou sonder respek behandel. (sien Nufeesah Allen en Kristina Hallett se “What does it really mean to have a inferiority complex?”, www.mindbodygreen.com)

Pres. Cyril Ramaphosa en Russiese pres. Wladimir Poetin. (Foto: GCIS)

Die ANC se aandrang dat hulle mees geskik is om alles in Suid-Afrika te beheer, is waarskynlik ʼn oordrywing van werklike vermoë. Met ander woorde ʼn skyn van die werklikheid om verantwoordelikheid te aanvaar vir ooglopende onvermoë. Die ANC se blinde lojaliteit aan Rusland kan as ʼn “uiterste assosiasie” beskou word.

Wanpersepsie 5: Die ANC-regering beskik oor genoegsame vermoë om die skikking van internasionale kwessies te beïnvloed.

Volgens Robert Jervis is die oorskatting van ʼn land se vermoë om effektiewe oplossings vir internasionale probleme te vind, ʼn baie algemene vorm van wanpersepsie in buitelandse beleid.

Die ANC-regering het vir geruime tyd voordeel uit die Mandela-sindroom getrek. Mandela was universeel vereer as ʼn groot staatsman. As gevolg van die Mandela-sindroom is Suid-Afrika uitgelig tot die status van ʼn geloofwaardige rolspeler rakende morele kwessies ten opsigte van menseregte, rassediskriminasie en nasionale aspirasies, veral van lande in die ontwikkelende wêreld.

Ongelukkig het die ANC-regerings wat na Mandela gevolg het, hierdie morele status gruwelik ondermyn. Suid-Afrika se beleid jeens menseregte openbaar blatante teenstrydighede. Onderdrukking van menseregte deur lande wat die ANC-regering as vriende beskou, word geïgnoreer, byvoorbeeld in Soedan, Zimbabwe, China, Mianmar en Rusland se oorlog teen Oekraïne.

Israel se regspan in die Internasionale Geregshof. (Foto: AFP)

In teenstelling het Suid-Afrika se siening dat Israel se oorlog teen Hamas in Gaza die regte van Palestyne skaad, die regering genoop om Israel na die Internasionale Geregshof te sleep. Die verskil is ooglopend. Die ANC-regering se optrede teen Israel word deur ʼn anti-Westerse houding gedryf.

Dus, die ANC-regering se beleid rakende internasionale menseregtekwessies spreek van kognitiewe dissonansie, dit is teenstrydige beleidsrigtings. Israel word verdoem, maar vriende word gevrywaar van alle verantwoordelikheid rakende menseregte. Die ANC-regering se geloofwaardigheid as ʼn “eerlike makelaar” rakende internasionale menseregtekwessies, word verder ondermyn deur ander gedragspatrone. Suid-Afrika se “hand-om-die-blaas”-vriendskappe met lande waar menseregte gruwelik geskend word, onder meer Rusland, China en Iran, is betreurenswaardig.

Die ANC-regering se mislukte huishoudelike beleid, as gevolg van wanbestuur en korrupsie, ondermyn eerder as bevorder menseregte. Dit is voor-die-hand liggend dat die ANC-regering sy verklaarde onverbonde buitelandse beleid prys gegee het ten gunste van openlike assosiasie met die outokratiese magsblok, onder leiding van China en Rusland, in internasionale politiek.

Idees om te oorweeg 

In wese behoort Suid-Afrika ʼn buitelandse beleid te volg wat die beste belange van die land en sy mense bevorder. Dit wil voorkom dat ʼn terugkeer na ʼn onverbonde buitelandse beleid ʼn verstandige keuse is. Sodoende word die beleid gedryf deur waardes soos pragmatisme, neutraliteit, en voordelige transaksies, in plaas van ideologie.

Eerstens. Suid-Afrika behoort nie kant te kies tussen magsblokke wat kompeteer vir beheer van die wêreldorde nie. Die koste van pro-Russiese en Chinese en ʼn anti-Westerse oriëntasie is potensieel uiters nadelig vir Suid-Afrika. Om Suid-Afrika se omvattende ekonomiese verhoudinge met die VSA, EU, en Brittanje in gedrang te bring, is nie ʼn wyse keuse nie.

Albert Muchanga, kommissaris van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (bekend as Agoa) tydens die Agoa-beraad in 2023. Agoa verleen aan kwalifiserende Afrika-lande, waaronder Suid-Afrika, belangrike toegang tot belastingvrye uitvoer na die Amerikaanse mark. (Foto: Guillem Sartorio/AFP)

Suid-Afrika behoort ekonomiese diversiteit na te streef deur transaksionele bande, nie net met die Weste nie, maar ook met lande in Asië, Afrika, Latyns-Amerika en China. Alle ekonomiese- en handelsbande, buitelandse beleggings en regering-sake-vennootskappe wat in Suid-Afrika se belang is, moet met ywer nagestreef word. Pragmatisme moet altyd bo ideologie geplaas word in buitelandse beleid-besluitneming.

Tweedens. Openbare belange moet altyd die botoon voer oor die belange van die regerende elite. Die ANC-regering se roofsugtige self-belang (korrupsie) en ideologiese bevooroordeel (trou aan Rusland en China) dien bloot die opgeblase ego’s van politici. Dit dra niks by tot die verbetering van lewenstandaarde vir Suid-Afrikaners nie.

Derdens. Buitelandse beleid moet die nasionale belange van Suid-Afrika dien. Dit is die nastrewing van openbare belange in internasionale verhoudinge. Die magdom huishoudelike probleme moet voorkeur geniet bo esoteriese beleidsdoelwitte. Suid-Afrika is nie die verlosser van die probleme van die Afrika-kontinent en die menseregte van “onderdrukte” minderhede nie. Soos hierbo bespreek, is dit onvanpas vir Suid-Afrika om die waterdraer vir Marxistiese ideologie te wees.

Vierdens. Voortvloeiend uit die vorige punt, behoort werkskepping vir die miljoene werkloses in Suid-Afrika, ʼn primêre fokuspunt van die ANC-regering se buitelandse beleid te wees. Werkloosheid is een van Suid-Afrika se grootste huishoudelike probleme. Dit is ʼn verleentheid om te erken dat Suid-Afrika die hoogste werkloosheidsyfer in die wêreld het.

Alle buitelandse beleidsbesluite moet ʼn eenvoudige vraag beantwoord: sal dit meer werksgeleenthede vir Suid-Afrikaanse burgers skep? Werkende burgers sal ʼn deugsame sirkel ontketen deur lewenstandaarde te verhoog, en ekonomiese groei stimuleer. Die belangrikste gevolg is egter dat die vernederende afhanklikheid aan karige regeringsubsidies verminder sal word.

  • Jay van Wyk is professor-emeritus in internasionale sakebestuur aan die Pittsburg Staatsuniversiteit in die VSA. Hy was ook voorheen professor en direkteur van die eenheid vir internasionale studies aan Rhodes Universiteit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

annie ·

Vreemde deurmekaar waarhede plus wanpersepsies van ‘n kwasie-Amerikaner. Prof Van Wyk staan duidelik by die Amerikaanse beleid as heerser van die wêreld en sy dominerende mag… ‘n emeritus-posisie wat aan’t kwyn is. Om Rusland steeds as ‘n kommunistiese land te beskryf is outyds. Die ANC en sekere ander lande gebruik dit omdat dit hul ingeboude droom van gelykheid te pas en om ander te oorheers. Rusland het so ‘n fase beleef en dit het mettertyd andere se droom bevestig. Sjina gebruik kommunisme om die oormassa mense te beheer maar lig sodoende ook hul lewensstandaard. ‘n Suid-Afrikaner wat soos ‘n Amerikaner sy ‘kennis’ oor SA toon, kan nie as ‘n burger probeer deurgaan nie. Hy het die reg opgesê. Die ANC bestaan meestal uit ander rasse buiten witmense en sy denkwyse is soos diegene wie dit is. Waarhede vir die ANC is soos dit hom pas net soos die VSA en ander Westerse land redeneer ooreenkomstig hul genetiese en politieke aard. Mag regeer en die ANC regeer met mag. Ons sal dit weer binnekort sien uitspeel. Talk is cheap.

Antionette ·

Ek stem heeltemal saam met prof Van Wyk. Die NDR is d ANC se enigste dryfveer en beslis nie die grondwet v 1996 nie. Dis hoekom alles getransformeer moet word…..skole, howe, munisipaliteite, ens. Die howe is op d oomblik d ANC se grootste doring in d vlees en ons arme bevolking se enigste redding. Ek weet net nie nog vir hoe lank nie, want d regstelsel is besig om te knak onder onbevoegde aanklaers, landdroste en regters. Prof Van Wyk slaan d spyker op d kop!

Marthinus W ·

Cyril se nie die unipolere wereld is vervang met n multipolere wereld nie, hy werk saam in Brics sodat n multipolere wereld gebou kan word – iets wat Poetin onlangs bevestig het. prof Van Wyk is dus verkeerd.

Internasionale indekse: Corruption watch, om net een voorbeeld te noem, is deel van Transparency Intl, wat gefinansier word deur die VSA se State Dept, en regering soos Nederland, Taiwan, Duitsland, Frankryk. Hulle indekse is dus bevooroordeeld.

Republikein in die Wes Kaap ·

Amerika is magtig. Hulle knip die ANC se ogies voor teetyd, onwettig of nie.

Kroo ·

As ons prakties dink — SA moet besluit watter ideologie ons wil volg.

0Verseker kies ons regering tans die sosialisiese rigting. Duidelik is ons voorbeeld en leerskoop BRICS et al ( nuwe toevoegings) Nou verbeel jou hoe lyk die advies van hierdie BRICS bondel aan ons? Vergeet die VSA— ons SA fondasie of ons dit wil weet of nie, is eg Afrika histories, getemper deur die Westerse kultuur .

Of dit modern is of nie – Putin droom van die ou dae, nadat die aardbol weer in twee geskeur is. Dui dit op n rooskleurige toekoms ?

China is die parasiet van die aarde. As iets gevat kan word of geeet kan word
is dit weg ! Hulle vorm van ‘common capitalisme’ het ons reeds ingesluk— met –as dit min is laat kapitalisme toe, as dit baie is vat dit oor en beheer dit — Beheer dit Sentraal. Waar het ek dit al gesien ?– selfs gate in die pad word tans sentraal in ons land beheer ? — ongelooflik.

Ek kan nie help om raak te sien dat dit baie lyk of al die Zondo geidentifiseerdes, verdagtes, onder verdenkingdes ens liewer in n BRICS rigting sal wil gaan waar dit voorkom of daar baie wegkruipplek is ,as om in n geordende Weste te veel gesien word nie.

,
Vir die verkiesing —Jammer om te noem, maar dit kom al hoe meer voor asof die VPgroepering dalk mag val vir n ANC uitnodiging. In die knyp oor MK en EFF (of dalk doelbewus, oor die ‘bedreiging’ wat hulle inhou soos in die dae van die AWB weens n gebrek aan n werklike bedreiging? )

Dit mag dan lei tot samewerking van die VP groepering met die ANC en ons nasie sit dan met n Sosialistiese Regering van n Nasionale Eenheid, steeds beheer deur n mmerderheid van oneerlike leiers in n vrugteslaai van idiologie?

Dan was alles verniet !

Adriaan ·

How Gorbachev was misled over assurances against NATO expansion

US Secretary of State James Baker’s famous “not one inch eastward” assurance about NATO expansion in his meeting with Soviet leader Mikhail Gorbachev on 9 February 1990 was only part of a cascade of similar assurances.

The promises not to expand NATO only lasted until 1997, however, when Poland, the Czech Republic and Hungary were invited into the alliance. In total, 13 Eastern European states have become NATO members since then.

Gorbachev and subsequently Putin have frequently bemoaned the West’s broken promise, with the latter insisting that it fundamentally undermined the fragile trust between an internationally retreating Russia and an ascendant United States.

Cherokee ·

Adriaan, moet nie plasings deur NATO WATCH plaas sonder om die oorsprong aan te dui nie. Dan neig dit te lyk asof jy dit ‘asof’ oorspronklik wil plaas.

Adriaan ·

Cherokee, die oorsprong is nie NATO WATCH nie, wat dit ookal mag wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.