D-Dag: Die grootste amfibiese operasie ooit

d-dag-1944-06-06

Die foto getiteld “Into the Jaws of Death” is om 08:30 op 6 Junie 1944 deur Robert F Sargent geneem. Foto: Amerikaanse Nasionale Argief/En.wikipedia.org

Dit is vandag, 6 Junie, presies 75 jaar gelede dat 24 000 Geallieerde soldate op vier Normandiese strande aan wal gestorm het. Dit was die grootste amfibiese operasie ooit, die gevolg van ’n skitterende krygsplan wat die Duitsers volkome onkant gevang het, en wat ook die begin van die einde van Adolf Hitler se “Duisendjarige Ryk” sou word.

D-Dag, soos 6 Junie 1944 die geskiedenis binnegegaan het, was die kulminasie van maande se intensiewe beplanning om die groots moontlike militêre rendement vir die kleins moontlike prys in bloed te kry.

Die krygsplan waarop die Geallieerdes (onder die leiding van genl. Dwight Eisenhower, later Amerikaanse president) besluit het, was uiters intelligent.

Kyk na bygaande kaart wat die relevante dele van Brittanje, die Engelse Kanaal en Frankryk wys. Die Kanaal, ’n groot hindernis vir enige invalsmag, is die nouste in die omgewing van Dover en Calais. ’n Landing by Calais beteken ook die kortste pad na Duitsland.

Grafika: HistoryExtra.com/BBC History Magazine.

Dit was dus logies dat die omgewing van Calais die teiken van die landing sou wees. Dit is ook soos die Duitsers geredeneer het, en dít is dus waar hulle die swaartepunt van hul verdediging – bunkers, fortifikasies en troepe – geplaas het.

Die Geallieerdes het gevolglik besluit op ’n veel moeiliker ompad: Normandië. Normandië lê veel verder van die Britse kus, en die afstand daarvandaan na Duitsland is ook aansienlik groter.

Dis volgens alle standaarde ’n onlogiese roete. En dus het die Geallieerde generaals dáárop besluit.

Dit was ’n berekende waagstuk, maar ’n korrekte keuse. Alle gerekende militêre skrywers stem saam dat jy ’n vyand nie moet aanval waar hy sterk is en jou aanslag verwag nie, maar juis waar hy swak is en jou nié verwag nie.

Die Duitsers wis dat ’n amfibiese landing aan die kom was, maar nie wáár of wannéér dit sou gebeur nie. Hitler self het nogal in ’n stadium ernstig aan Normandië gedink, maar weer later tot die gevolgtrekking gekom dat die aanvanklike Geallieerde landing, waar dit ook al was, ’n misleiding sou wees en dat die égte landing effens later op ’n ánder plek sou kom.

Daarmee het hy presies in die Geallieerdes se strik getrap. Hulle het ’n fiktiewe leërkorps in Kent en Sussex – naby Dover – geplaas, met duisende rubbertenks, -kanonne en ander fopvoertuie, wat ’n hewige stroom fopradioberigte gesimuleer het om die indruk van ’n yslike gemeganiseerde mag te skep.

Dis bowendien onder die “bevel” van lt.genl. George Patton, ’n bekende voorstander van blitssnelle operasies, geplaas. Die enkele Duitse verkenningsvliegtuie wat toegelaat is om oor die gebied te vlieg, het foto’s geneem en só het die misleidende inligting by Hitler en sy generaals uitgekom.

Die Duitse verdediging is voorts gekortwiek deur fundamentele meningsverskille. Enersyds het veldm. Erwin Rommel gemeen die Geallieerdes moet reeds op die strande, in die eerste ure van die stryd, gestuit word; die pantserspesialis genl. Leo Geyr von Schweppenburg wou die Geallieerdes laat land en dan in ’n mobiele veldslag verslaan.

Rommel het egter in Noord-Afrika kennis gemaak met die verwoestende krag van die Geallieerdes se lugoorwig, en hy wis dat die Duitse gemeganiseerde magte uitmekaar geskiet sou word nog voordat hulle die slagveld bereik. Hitler het die saak in ’n onbevredigende kompromis besleg: Hy het die meeste pantserdivisies in die omgewing van Parys geplaas en onder sy persoonlike bevel gehou.

Toe die Geallieerdes die Normandiese strande, met die kodename Utah, Omaha, Sword en Juno, op die oggend van 6 Junie 1944 bestorm, was die Duitsers onkant betrap. Hitler was diep in droomland in sy huis buite die Beierse dorp Berchtesgaden en sy personeel was te bang om hom wakker te maak.

Dit het gevolglik tot die middag geduur voordat die pantserdivisies onder Hitler se persoonlike bevel die opdrag vir ’n teenoffensief gekry het – te laat. Die Geallieerde brughoof was al gevestig, wat die voorwaarde geskep het vir die versterking van die invalsmag tot etlike honderdduisende troepe.

Bowendien het presies gebeur wat Rommel gevrees het: Die Geallieerde lugmag het die tenks se teenoffensief in hul spore gestuit.

Maar daar was nog ’n element. Om te voorkom dat die sterk magte in die omgewing van Calais na Normandië verskuif word, is voortgegaan met die illusie van Patton se “leërkorps” naby Dover.

Dit het nog etlike weke geduur voordat die Duitsers eindelik besef het die inval in Normandië is inderdaad die egte inval en nie ’n misleidingsaksie nie. Maar toe was dit te laat.

Die Duitsers het nog indrukwekkende weerstand in Normandië gebied en die Geallieerdes harde bene laat kou. Man vir man, tenk vir tenk, was die Duitsers meer as mans genoeg vir die Geallieerdes, maar laasgenoemdes het ’n enorme oormag aan wal gebring waarteen die Duitsers uiteindelik nie kon stand hou nie.

In die loop van Augustus het die Duitse weerstand verbrokkel, en die Geallieerdes het deurgebreek. Daarna het hulle in ’n blitsveldtog deurgestoot na Parys, België en die suidelike deel van Nederland, voordat die Duitsers weer vasgeskop het.

Maar ondanks Geallieerde terugslae by Arnhem in September en die Ardenne in Desember, kon die oorlog nie anders eindig as met ’n Duitse nederlaag nie. Op 30 April 1945 het Hitler in sy bunker selfmoord gepleeg, en ’n week later het die gehawende oorblywende Duitse magte onvoorwaardelik gekapituleer.

Hitler se groot fout was om voort te gaan met die konflik ná sy skitterende oorwinning oor Frankryk in Junie 1940. Hy het sy land willens en wetens gedompel in ’n oorlog met die sterkste twee lande ter wêreld, die Sowjetunie en Amerika.

Daarmee het hy sy eie doodvonnis geteken. Hy het aan sy eie onoorwinlikheid geglo en Duitsland se kragte hopeloos oorskat.

Met die Geallieerde inval in Normandië het dié koalisie se generaals gewys dat hulle die militêre kuns minstens ewe goed as die briljante Duitse veldhere (soos Rommel, Heinz Guderian, Erich von Manstein en ander) beheers. Dit is gerugsteun deur die Geallieerde magte – veral Amerika en die Sowjetunie – se veel groter industriële vermoëns, waardeur hulle eenvoudig veel meer wapens as die Duitsers in die veld kon stoot.

Dit het dikwels gebeur dat die Geallieerdes byvoorbeeld tien tenks verloor teenoor die Duitsers se een. Maar weens eersgenoemdes se absolute oorwig aan vuurkrag op land, in die lug en ter see, kon die Duitsers uiteindelik nie standhou nie.

Normandië was ’n getuigskrif vir die individuele Duitse offisiere en soldate se krygsvernuf. Maar dit was ook die begin van die einde vir Hitler.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dirk ·

Dit is baie wys dat wanneer jy militer bedreig word soos in daardie tyd of soos in vandag se tyd waar ons geboelie word, om dan die vermoe te vestig wat die boelies nie oor beskik nie. Sodoende verras jy die boelies wanneer jy hulle wel die stryd aanse! Dit is uiters onwys om die vyand of die boelies nie te mislei en te verras nie en om domastrant hulle uit te daag en die stryd aan te se daar waar hulle dit verwag en hulle vermoe die sterkste is! Dit is dan wanneer die groots moontlike prys in bloed betaal word soos tans in SA!

waarheid ·

Hier gaan nog ‘n Burgeroorlog kom – dit is so – maar jy sal nooit kan raai wie ons hulp behalwe die Here gaan wees nie- die Duitsers – hulle sit op die oomblik met dieselfde probleme as ons .

Charles ·

Uitstekend! Dankie Leopold.

Is jy darem daar in Nederland besig om oproer te maak vir ons taal en ons boere wat so genadeloos gemartel en vermoor word, en is jy ‘n pleitbesorger vir ons taal en mense omdat ons so onderdruk word deur die verfoeilike “kriminele” “regering” hier in Suid-Afrika?

Wat se die Nederlanders daarvan? Hulle was bereid om teen apartheid te veg? Waarom is hulle nou so stil?? Die grootste skending van menseregte vind op die oomblik in SA plaas, een waarvan ‘n “Taalmisdaad teen die mensdom” uitmaak, asook ‘n skaars versteekte VOLKSMOORD.

dries ·

baie interessante artikel, en dit lees baie lekker dankie Leopold. Wat van ‘n opvolg oor 1916 se Delville bos?

Leopold Scholtz ·

Dries, ek het al drie jaar gelede met die herdenking van Delvillebos daaroor geskryf. Groetnis.

Stephan de S ·

Uitstekende uiteensetting v D-dag en die gevolge. Vir die eerste keer het ek n behoorlike oorsig en begrip van wat daar gebeur het. Ek kon nooit vroeër die hele prentjie “sien”nie. Dankie.

dries ·

more Leopold, dankie vir jou terugvoer. Waar kan ek die artikel raakloop?
groete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.