Dag Zero. Sien ons die groter prentjie?

Bonné-de-Bod-Hydroponics-Farmer-©SABC-and-5050

Die boere het reeds twee jaar gelede al vir Bonné vertel hoe die klimaat hul boerdery-metodes aansienlik verander het en dat as hulle nie aanpas en tred hou met die tye nie, sal daar geen oeste wees nie. Foto: Verskaf/kopiereg SABC, 50/50.

Meeste mense ken my seker vir my liefde van renosters, maar ek geniet dit ook om na sport te kyk. Ek reken dit gee my die geleentheid om van die harde werklikheid van renosterstropery en die afskuwelike tonele weg te kom. Iets waarmee ek op ʼn daaglikse basis in die redigeerkamer gekonfronteer word terwyl ek besig is met die afrondingswerk aan my film STROOP oor die renosterstropingskrisis.

Om die waarheid te sê, die afgelope weke het ons heelwat vroeër met sake weggespring sodat ek tuis tyd kon hê om myself duisende kilometer ver weg te voer na die ysige -14°C temperature en die tonele van die Winter Olimpiese Spele in Suid-Korea. Ek moet byvoeg, ek voel nogal jammer vir die toeskouers wat hul bes probeer om warm te bly met komberse en gebreide mussies, maar ten minste is daar regte sneeu op die ski-hellings.

Met die vorige twee Olimpiese Speles in 2010 en 2014 in Vancouver en Sochi onderskeidelik was dit nie koud genoeg nie en die sneeu teen die hange het letterlik gesmelt. Bale strooi moes op die ski-hellings gebruik word en dit is bedek met ʼn mengsel van regte en nagemaakte sneeu! Ten spyte hiervan, het Olimpiese atlete gekla dat die swak sneeutoestande hul vertonings beïnvloed het. Dit is dus nie ʼn verrassing dat die skouspelagtige openingseremonie in Pyeongchang en selfs die talent wat by die verskeie items ten toon gestel word oorskadu is deur gesprekke oor iets heel anders nie … klimaatsverandering.

Van die stede waar die vorige 21 Winter Olimpiese Speles gehou is, sal daar nou net agt wees wat dit vandag weer kan doen, ná die warmste dekade op rekord. Die ander sal eenvoudig net te warm wees, selfs met tegnologie soos sneeu-makers, die opgaar van sneeu en die aanlê van pype met droë ys om te keer dat die sneeuheuwels smelt.

Nou wonder jy seker hoekom dit vir ons hier in Suid-Afrika enigsins van belang is, meer as 13 000 kilometer weg van al die aksie? Wel, omdat ons op die punt staan om een van die eerste lande in die geskiedenis te word waar ʼn groot stad se krane leegloop, ʼn indirekte gevolg van klimaatsverandering. Ons weet almal Kaapstad is al die laaste drie jaar in die wurggreep van ʼn droogte, maar dit is skrikwekkend om te sien hoe die tuiste van Tafelberg wêreldnuus maak op die BBC, Sky en CNN vir sy waterkrisis.

Die karnaval-atmosfeer van die stad het plek gemaak vir die harde realiteit wat “Dag Zero” gedoop is. ʼn Dag waarop Kapenaars die krane gaan oopdraai en nie ʼn druppel gaan sien nie. Maar almal kan gelukkig (vir nou ten minste) ʼn sug van verligting slaak met die aankondiging dat D-dag tot in Julie teruggeskuif is. Dit is inderdaad goeie nuus en dit het daaroor gegons op sosiale media, maar die feit bly staan, ons moes in die eerste plek nooit in hierdie posisie gewees het nie.

Die tekens van klimaatsverandering is al vir ʼn baie lang tyd saam met ons, so hoe kan ʼn stad wat deur sy ergste droogte in 100 jaar gaan, steeds die hoop stel op die sluise wat van bo oopgetrek word om die damme te vul? En moet daar vir drie jaar gewag word voor ons ʼn krisis soos hierdie tot ’n nasionale ramp verklaar? Dit is onvermydelik dat wanneer iets soos hierdie liederlik skeefloop ʼn blote afdanking of herverskuiwing van personeel eenvoudig net nie goed genoeg is vir ʼn paniekbevange publiek nie.

Die skynbaar goed-geoliede masjien, wat die stad Kaapstad is, het die skuld op ander begin pak. Vingers is na ʼn paar sleutelfaktore gewys … wanbestuur, ʼn gebrek aan provinsiale en nasionale beplanning, politieke binne-gevegte en die droogte. Ek sal die politiek vir die politici los maar wat ek wel kan sê is dat omgewingsonsekerheid ’n sekerheid is. Dit is die enigste sekerheid wat ons het!

Bykans twee jaar gelede het ek ʼn storie vir die SAUK se 50/50 gedoen waar ek deur die land gereis het en na die landbou se gebruik van water gekyk het. Ons boere gebruik 84% van ons vars water en die skrif was toe reeds teen die muur toe hulle waterbesparingstegnieke drasties begin inspan. Die boere het my toe alreeds vertel hoe die klimaat hul boerdery-metodes aansienlik verander het en dat as hulle nie aanpas en tred hou met die tye nie, daar geen oeste sal wees nie.

Laat ek dit benadruk: dit was twee jaar gelede en net nadat minister Des van Rooyen in sy rol as voorsitter van die interministeriële taakspan oor droogte opgemerk het dat “droogtetoestande ʼn natuurlike verskynsel is wat gekenmerk word deur minder as normale reënval en ʼn toename in temperature en hittegolwe”. Ons weet dit. Die Olimpiese organiseerders weet dit en hulle beplan vir die feit dat die klimaat die grootste sportgeleentheid in die toekoms gaan beïnvloed. Ons moet beplan vir die feit dat die klimaat toenemend ons land gaan beïnvloed en dat dit nie net ’n “natuurlike verskynsel” is nie. Die wetenskap vertel dit vir ons en dit is kommerwekkend dat net sportbeheerliggame dit as die norm vir komende dekades aanvaar. Ons kan nie bloot net aksie neem as ons met ʼn “Dag Zero” gekonfronteer word nie.

Die Winter Olimpiese Spele is nou verby maar die Wêreld Sokkerbeker is om die draai in Junie. Wetenskaplikes is bekommerd oor Rusland se gereedheid om die toernooi aan te bied. Hulle vrees dat nog ʼn katastrofiese hittegolf kan plaasvind soos die een wat die land verlede jaar en in die somer van 2010 getref het. Temperature het toe in Siberië tot 37°C gestyg en meer as 50 000 mense is in Rusland alleen dood.

Wetenskaplikes reg oor die wêreld het gewaarsku dat hierdie nie die buitengewone nie, maar die normaal sal word in die toekoms.

Sedert Rusland die bod gewen het, het die land se wetenskaplikes ʼn superrekenaar ontwikkel wat weerkundiges in staat sal stel om beter voorspellings te maak en weerpatrone te identifiseer gedurende die toernooi. Soos enige ander wêreld-sportgebeurtenis sal die Wêreldbeker beslis die voorblaaie haal, maar kom ons hoop Kaapstad se groot “water-gebeurtenis” in Julie bly uit die hoofopskrifte en skuif aan as gevolg van meer as net ʼn bietjie geluk met ʼn paar druppels.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Bonné De Bod

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Bonné de Bod is ’n bekroonde televisieaanbieder en vervaardiger van die dokumentêre rolprent STROOP – Journey into the Rhino Horn War wat talle internasionale pryse verower het. Sy het nou haar visier op lugbesoedeling in haar volgende dokumentêr wat in 2021 vrygestel word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper Labuschagne ·

Ons koppel die naam Kaapstad aan die krisis, maar in werklikheid is die krisis oorals. Enkele jare gelede het Kroonstad ‘n dag zero beleef toe die watervlakke in die Valsrivier so laag gedaal het dat water nie meer gepomp kon word nie. Munisipale wanbestuur het die krisis inderdaad vererger, maar die wortel van die probleem is dat waar die Valsrivier enkele dekades gelede vir tot agt maande van die jaar gevloei het, die rivier nou net vir hoogstens ‘n week op ‘n slag vloei en dan slegs twee of drie keer in ‘n reënseison. Die rivierwater stink, is erg besoedel en visvrektes kom van tyd to tyd voor. Melkboere kan nie eers die water in die rivier gebruik vir besproeing nie want dan is die bakterietelling in die koeimelk te hoog. Riviere is die are wat dorpe en stede voed, en al die tekens is daar dat daardie are erg siek is. Elkeen sien net sy eie omgewing raak, maar dit is werklik elkeen van ons se krisis. Die oplossing lê nie net in die vind van meer waterbronne nie, maar in hoe ons elke druppel water vorentoe sorgsaam sal gebruik en tot die maksimum sal herbruik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.