Deel II: Koalisie- en alliansiepolitiek

Prof. André Duvenhage. Foto: NWU

Die Cambridge Advanced Dictionary Thesaurus beskryf koalisies as: “the joining together of different political parties or groups for a particular purpose, usually for a limited time, or a government that is formed in that way”.

Politieke wetenskaplike Andrew Heywood sluit hierby aan en beskryf koalisies as: “… a grouping of political actors brought together either through the perception of a common threat, or through the recognition that their goals cannot be achieved by working separately”.

Dikwels word daar na koalisies verwys as “the partnership of unequals”.

Koalisiepolitiek word geassosieer met konstitusionele demokrasie, gereelde en vrye verkiesings, en in besonder ʼn scenario waar ʼn enkele party nie ʼn volstrekte meerderheid behaal nie, of moontlik nie sal kan behaal nie. Hieruit spruit patrone van politieke samewerking tussen rolspelers wat in verskillende vorme kan voorkom. Samewerking en die institusionalisering daarvan kan verskeie vorme aanneem, en die onderskeid tussen koalisie en alliansie is belangrik.

ʼn Alliansie is ʼn samewerkingsooreenkoms tussen twee of meer partye, voor die verkiesing, met die oog daarop om hulle steunbasis te vergroot en die verkiesing te wen. Koalisies is daarenteen wanneer samewerking tussen twee of meer partye (in byvoorbeeld ʼn parlement of regering) na afloop van die verkiesing plaasvind.

Alliansies kan onderverdeel word in formele alliansies, waar die een identiteit in ʼn ander opgaan om soms ʼn nuwe identiteit te vorm (NNP en DP word byvoorbeeld die DA). Sub-party-alliansies soos byvoorbeeld die driepartyalliansie (ANC/ SAKP/ COSATU) is wanneer partyentiteite saamwerk, al die groepe verteenwoordig word, en elke groep tog steeds ʼn vorm van identiteit behou.

Alliansies kan ook die vorm aanneem van geleentheidsamewerkers ten opsigte van kwessies soos mosies van wantroue in die leierskap van die ANC, of om die president van die staat in ʼn staat van beskuldiging te plaas.

Koalisies kan ook in drie kategorieë onderverdeel word, naamlik veelparty-koalisies (soos die geval in sommige metropole en plaaslike regerings), subpartykoalisies, soos die driepartyalliansie wat hegemoniese mag binne instellings toespits en minderheidspartye wat deel van ʼn regering uitmaak ten einde ʼn meerderheid te bewerkstellig. Dr. Pieter Mulder se destydse aanstelling as voormalige adjunkminister, waardeur hy deel geword het van ʼn ANC/ SAKP/ COSATU-kabinet, is een van talle sulke voorbeelde in die Suid-Afrikaanse politiek.

Koalisie- of alliansiepolitiek is ʼn gevestigde praktyk in talle konstitusionele demokrasieë
in die wêreld, waaronder Duitsland, Israel en Swede. Belangrik vir koalisiepolitiek in Suid-Afrika is die kenmerke van daardie state waarin koalisiepolitiek ʼn bewese praktyk is en wat gebruik kan word om die situasie in Suid-Afrika te beoordeel.

ʼn Omgewing gekenmerk deur politieke stabiliteit waarbinne die staat en politieke stelsels effektief funksioneer, is kernbelangrik.

Politieke stabiliteit kan verstaan word as: “… the regularity of the flow of political exchanges. The more regular the flow of political exchanges, the more stability. Alternatively, we might say that there is political stability to the extent that members of society restrict themselves to the behaviour patterns that fall within the limit imposed by political role expectations”.

Een van die risiko’s van koalisiepolitiek is dat dit lei tot groter mededinging en/ of bedinging, wat juis kan bydra tot patrone van stelsel-onstabiliteit. Daarom moet die groter politieke, ekonomiese en maatskaplike stelsel stabiel wees, die reëls duidelik geformuleer word, en alle rolspelers moet ooreenstem ten opsigte van die basiese spelreëls. Duitsland, Israel en Swede val binne hierdie konteks, maar talle Afrikastate is inherent onstabiel met, in die algemeen, ʼn swak rekord van demokrasie en in die besonder van koalisiepolitiek.

Die konsolidasie van demokratiese waardes, soos vroeër in verband gebring met ʼn konstitusionele demokrasie, is hier belangrik. Sake wat sentraal staan, is die onderskeid tussen die staatkundige en die burgerlike omgewing, “trias politica, ʼn duidelike onderskeid tussen regering en regime, beperkte en verantwoordelike regering, die erkenning van die oppergesag van die reg, en toepaslike en beskermde regte van die burgery, met inbegrip van menseregte.

Baie demokrasieë, veral nuwe demokrasieë, is nog ongekonsolideerd en kan moeilik die addisionele spanning, druk en onsekerheid hanteer wat met koalisiepolitiek gepaard gaan.

Sosiale kohesie, nasiebou en die bestaan van ʼn oorkoepelende identiteit waartoe rolspelers hulle kan en moet verbind, is ʼn belangrike en selfs fundamentele voorvereiste vir die funksionering van enige politieke bedeling en derhalwe ook binne die konteks van koalisiepolitiek. Waar hierdie aspekte afwesig is, is ʼn verkiesing bloot ʼn bevolkingsensus waarin verskille ten opsigte van sake soos ras, kultuur, gender en godsdiens bepaal word en demokratiese instellings gereduseer word tot instellings wat konflik institusionaliseer.

Sodoende word demokrasie ʼn konflik van identiteite eerder as idees, ideologieë of standpunte oor hoe sake hanteer en bestuur moet word. In so ʼn omgewing (met verwysing na die meeste sogenaamde nuwe demokrasieë), is politieke konflik en geweld prominent en is dit uiters moeilik om brûe te bou na ander gedeeltes van diepverdeelde samelewings.

Leierskap en die rol van politieke elite-groepe is dikwels deurslaggewend in die totstandbringing van koalisies en die bestuur daarvan, asook met betrekking tot volhoubaarheid. Leierskapkenmerke wat belangrik is, sluit in transaksionele eienskappe (onderhandeling, konflikbestuur en vennootskappe), om algemene belange hoër te ag as bepaalde of seksionele belange, en om te beskik oor ʼn ingesteldheid wat as middelpuntsoekend beskryf kan word – waarin gematigdheid eerder as ʼn radikale beklemtoning van waardes en toepaslike strategieë vooropgestel word.

In die algemeen is ʼn pragmatiese (eerder as ʼn ideologiese) ingesteldheid belangrik indien leiers en elite-groepe suksesvol wil wees in die daarstelling en vestiging van koalisies, asook vir die bedryf daarvan.

Om suksesvol te wees, is dit belangrik dat opposisiepolitiek ʼn bepaalde waardestelsel en etos (normatief van aard) moet handhaaf as grondslag vir demokrasie in die algemeen, maar in die besonder vir koalisiepolitiek. Wanneer koalisiepolitiek ter sprake is (as uitvloeisel van ʼn breër demokratiese raamwerk van norme en etos) moet sake soos verdraagsaamheid, die soeke na konsensus, ʼn ingesteldheid van onderhandeling, ʼn “winner-lose-it-all-beskouing” (die belangrikheid van kompromieë) en ʼn onderhandelingsgesindheid teenwoordig wees en aktief toegepas word.

Wedersydse vertroue, aanvaarding en empatie as grondslag vir die beoordeling van ander groepe en hul belange is belangrik. Politieke opportunisme, omkopery en korrupsie kan die aard van samewerkingsverhoudings nie net besoedel nie, maar heeltemal skipbreuk laat ly.

Hierdie artikel is die tweede van vier in die artikelsreeks oor Suid-Afrikaanse koalisiepolitiek. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: André Duvenhage

André Duvenhage is politieke ontleder en professor in Politieke Wetenskap aan die Noordwes-Universiteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Vergeet van suksesvolle koalisies in SA.
Die DA waarsku wyd en syd voor elke verkiesing dat ‘n stem vir kleiner partye ‘n vermorsing is.
‘n Blatante leuen en direkte dwarsboming van enige koalisieplanne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.