Deel lV: Koalisiepolitiek as die kuns van die moontlike?

Prof. André Duvenhage. Foto: NWU

Met deel III van die reeks as grondslag kan die volgende redes aangedui word as sake wat bydraend was tot die gebrekkige suksesrekord van vorme van koalisiepolitiek in Suid-Afrika tot dusver.

Politieke opportunisme waar partye en ook individue (lees leiers) van veral kleiner partye toetree tot samewerkingsooreenkomste. Dit is problematies aangesien eie belang en nie die breër belang nie, telkens vooropgestel word. Susan Booysen verwys in hierdie verband na: “a fraught alternative” en die “institutionalization of opportunism as part of coalition culture”.

Die prominensie van die swakstaatverskynsel en die aanwesigheid van patrimoniale en neo-patrimoniale tendense (die politiek van die sterk man en sy ondersteuningsnetwerke) ontwrig samewerkingsooreenkomste en die effektiewe werking van konstruktiewe samewerkingsooreenkomste.

Uiteenlopende en dikwels botsende ideologiese uitgangspunte (byvoorbeeld liberaal-vrye mark versus sentralisties-sosialisties) maak dit soms moeilik om middelgrond te vind met betrekking tot gedeelde waardes en strategieë.

Intra-party stabiliteit is dikwels ʼn probleem aangesien faksionalisme (en fraksionalisme) binne verskeie partye problematies is en daar gevolglik nie uit een mond/ standpunt onderhandel word nie. Dit raak nie net die ANC nie, maar ook partye soos die EFF, Cope en selfs die DA.

Gebrekkige sosiale kohesie, eeuelange geskiedenis van konflik en geweld, asook sosio-ekonomiese uitdagings (armoede, ongelykheid en diskriminerende praktyke) maak dit moeilik om gevestigde koalisies te onderhandel en volhoubaar te bestuur.

Die groot getal partye wat verteenwoordig word (onder meer ʼn uitkoms van die lys-­proporsionele kiesstelsel) is bevorderlik vir die vorming van minderheidskoalisie wat dikwels potensieel baie onstabiel kan wees, soos binne die Suid-Afrikaanse konteks bewys.

Bedrog, korrupsie en die afrokkel/ weglok (dikwels “koop”) van kandidate (praktyke wat dikwels met die ANC geassosieer word) ondermyn geloofwaardige samewerking en dra daartoe by dat daar nie in algemene belang gehandel word nie.

Oor die algemeen, is daar nie sterk grondslae (lees gedeelde waardes) en ʼn politieke kultuur wat bevorderlik is vir samewerking, alliansies en koalisies nie. Dit hang saam met die ongekonsolideerde aard van die Suid-Afrikaanse demokrasie, asook die afwesigheid van grondliggende waardes op grond waarvan Suid-Afrikaanse burgers as ʼn nasie kan funksioneer.

Evaluerende en slot perspektiewe

Suid-Afrika verkeer in ʼn fase van post-kantelpuntpolitiek, met groot veranderinge wat reeds aan die orde is en nog meer wat onderweg is. Die swak prestasies van die eens oorheersende ANC in onlangse verkiesings (2019; 2021), asook nuwe meningspeilings, dui daarop dat die ANC op nasionale vlak (asook in sommige provinsies) nie ʼn volstrekte meerderheid gaan behaal nie.

Myns insiens is dit op hierdie tydstip die mees waarskynlike scenario in die aanloop tot die beplande 2024-verkiesing. Dit laat politieke elite-groepe, partye en politici met ʼn nuwe stel politieke spelreëls waarbinne die wedloop voltooi moet word en die uitslag as sodanig bepaal gaan word. Hierdie spelreëls impliseer die vermoë om mag te bekom en invloed uit te oefen, in samewerking met andere, in ʼn omgewing waar gedeelde waardes ʼn grondslag moet verskaf.

Suid-Afrika se beperkte blootstelling aan koalisiepolitiek as gevolg van ʼn lang geskiedenis
van oorheersende partystelsels (vroeër onder die NP en later die ANC) maak dit moeilik
om by die nuwe spelreëls van koalisiepolitiek aan te pas. Die groter politieke, ekonomiese en maatskaplike kontekste (en die gepaardgaande uitdagings) maak dit besonder moeilik vir politieke elite-groepe en partye om met mekaar saam te werk.

Daar ontbreek veerkragtigheid eie aan gevestigde demokrasieë wat daarin kon slaag om koalisie-gedrewe praktyke binne demokratiese stelsels te integreer. Die vlakke van endemiese korrupsie, nepotisme en staatskaping stel sy eie eise ten opsigte van die geslaagdheid (al dan nie) van koalisiepolitiek in die land.

ʼn Voordeel van die koalisiepolitiek is dat dit partye dwing om middelgrond te soek betreffende gedeelde waardes in die strewe om ʼn breër algemene Suid-Afrikaanse belang te dien. Dit kan vergelyk word met ʼn groot getal klein CODESA’s wat probeer om algemene belang te herdefinieer en deur middel van samewerking daaraan uitvoering te gee.

Die sukses daarvan kan bepalend wees vir die verdere konsolidasie van demokratiese waardes en die progressiewe uitbouing van ʼn grondwetlike bedeling wat na 1994 tot stand gekom het. Die uiteinde daarvan kan ongelukkig ook baie anders wees en bydra tot verdere onstabiliteit en institusionele verval. Laasgenoemde is op hierdie stadium baie opvallend.

Suid-Afrika se geskiedenis ten opsigte van koalisiepolitiek is nie gunstig nie en talle uitdagings word tans ervaar. Die onvermoë van politieke partye om saam te werk, die aanwesigheid van konflik wat eskaleer in geweld, korrupsie en die manipulasie van die reëls is maar enkele uitdagings in hierdie verband. Stabiele stelsels word benodig om as anker vir die onstabiliteit en besluitnemingsuitdagings te dien wat met koalisiepolitiek gepaard gaan. Dit is tans grootliks afwesig in Suid-Afrika.

Dit is my oortuiging dat, soos wat dit in die laat tagtigerjare die geval was, Suid-Afrika weer eens radikaal sal moet hervorm om ʼn bedeling om te keer wat aan ʼn verswakkende staat, toenemende konflik, ekonomiese uitdagings en institusionele rassisme beslag gegee het. Koalisiepolitiek (en selfs ʼn regering van nasionale eenheid) sou hier ʼn rol kon speel.

Die alternatief is konflik, geweld en onstabiliteit – ʼn slegte-saak-scenario – wat allermins bekostig kan word. Laasgenoemde moet sovêr moontlik verhinder word.

  • Hierdie artikel is die laaste van vier in die artikelsreeks oor Suid-Afrikaanse koalisiepolitiek. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: André Duvenhage

André Duvenhage is politieke ontleder en professor in Politieke Wetenskap aan die Noordwes-Universiteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.