Die Belhar-debat: Waarom ek nee gestem het

ng-kerk-franschhoek

NG Kerk in Franschhoek, Wes-Kaap Foto: Facebook

Hierdie artikel deur dr. Danie Langner is deel van Maroela Media se reeks uiteenlopende artikels oor die Belhar-debat. Volg gerus die Belhar-debat op Maroela Media se debatsplatform, Die Groot Debat. -Red

Danie Langner het hierdie mening in sy persoonlike hoedanigheid gegee en nie in sy hoedanigheid as uitvoerende hoof van die FAK of leraar van die NG-kerk nie. – Red

Wysiging van Kerkorde Artikel 1

Oktober 2013 sit ek op die besoekersgalery in die historiese Veremarksaal in Port Elizabeth. Op die tafel van die NG Kerk se 2013 Algemene Sinode is ’n besprekingspunt oor die insluiting van die Belhar-belydenis in die Kerkorde. Die NG Kerk is in ’n drukgang. Aan die een kant staan die VGK met hulle onverbiddelike eise. Aan die ander kant staan die NG Kerk van Afrika en die RCA, die GKSA en die NHK wat Belhar afwys. Intern loop die spanning hoog. Ouderling Constand Viljoen praat téén Belhar, maar vír kerkeenheid. Hy pleit dat die kerk nie diegene wat teen Belhar stem, moet verdryf nie. Piet Strauss praat teen belydenisdwang. Ander afgevaardigdes pleit vir ’n kairos-oomblik. Die sinode luister aandagtig. Die voorstel op die tafel is een van kompromie en akkommodering. Daar sal nie gestem word vir of teen Belhar nie, maar slegs oor die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde. Belhar sal ingesluit word as ’n opsionele belydenisskrif wat enige lidmaat uit vrye keuse kan aanvaar of nie. Twee derdes van die Algemene Sinode, alle streeksinodes, kerkrade en gemeentes moet die voorgestelde wysiging van Artikel 1 eerder aanvaar. Dit gaan immers oor die wysiging van die belydenishart van die kerk. Die Sinode sing staande ’n lied van dankbaarheid. Party note klink vals.

Die moderator van die VGK, Mary-Anne Plaatjies Van Huffel, sit agter in die saal. Sy frons. Die NG Kerk kies akkommodering. Die VGK-besluit is immers geen kerkeenheid sonder die Belhar nie. Middagete zoem die ringkoppe soos bye om Mary-Anne. Hulle wil haar paai. Toemaar. Moenie bekommerd wees nie. Sake is nie soos dit lyk nie. Lees tussen die reëls. Sy glimlag steeds nie.

Sommige afgevaardigdes glimlag ook nie. Hulle voel onvergenoeg. Hulle meen Belhar word met die besluit minderwaardig behandel. Die meeste afgevaardigdes voel egter verlig. Al hou hulle stilweg nie van die Belhar-belydenis nie, kan hulle immers die Belhar-belyers nou akkommodeer. Die voorgestelde wysiging maak dit moontlik om polities korrek te wees. In die wandelgange word openlik gefluister die Belhar-debat is eintlik soos ou brood. Die kans is verspeel. Die insluiting van Belhar is slegs simbolies. Daarby is die meeste lidmate moeg vir Belhar.

Honderd jaar gelede

In 1911 het die federale sinodes van die NG Kerke deur ’n soortgelyke stemproses gegaan. In die gees van Uniewording was daar ook meer as genoeg kerklike redes vir die herstel van die kerkverband. Die aparte NG Kerke was reeds een in belydenis en kerkregering. Een kerkverband onder toesig van ’n Algemene Sinode sal gesamentlike predikante-opleiding, doeltreffende administratiewe en finansiële bestuur bevorder, die kerk sal hom met meer gesag en invloed kan laat geld op vele lewensterreine.

Daar was ook gunstige politieke redes. Lidmate van die vier kerke was een in afkoms en taal. Kort na Uniewording op 31 Mei 1910 was versoening en rekonsiliasie die politieke mantra van eerste minister Louis Botha. Die Volksraad laat nie op hulle wag nie. Ses maande na Uniewording word die wetsontwerp vir ’n verenigde NG Kerk goedgekeur. Die Senaat bekragtig dit die volgende jaar. Indien die vereniging sou slaag, sou lidmate en gemeentes wat daarteen was, verplig wees om toe te tree, of van hulle kerkeiendomme afstand te doen.

Die enigste knikkie in die pad was dat driekwart van die kerkrade van elke afsonderlike sinode ten gunste van vereniging moes besluit. Dit was nie beskou as ’n groot probleem nie. Eerder ’n formaliteit. Die kerkleiding kon dit maklik bestuur.

  • Die verskillende moderature stuur aan elke kerkraad ’n kopie van die wet en ’n afskrif van die sinodale besluite ten gunste van vereniging.
  • Elke kerkraad moes die voorgestelde vereniging oorweeg en verkieslik net ’n rubberstempel-besluit neem.
  • Elke kerkraad gee amptelik kennis van sy besluit aan die hoogeerwaarde Sinode.

Pleidooie ten gunste van die verenigingsakte was oorvloedig. Bybelse en godsdienstige argumente is aangevoer. Voorop het die hoëpriesterlike gebed van die Here Jesus in Johannes 17 gestaan. Die Heilige Gees is ook as ’n medevennoot ten gunste van vereniging ingeroep. Internasionale suksesvoorbeelde is genoem, soos die vereniging van die Vrye Skotse Kerk en die Verenigde Presbiteriaanse Kerk van Skotland in 1900. Nasionalistiese oorwegings het ook gegeld: “Die Boer z’n kerk is die Boer z’n volk.” Van kansels is die erns van die saak benadruk en gemeentes is versoek om voorbidding vir hulle kerkraadslede te doen met die oog op die gewigtige besluit.

Baie lidmate was verward en onseker, maar gelukkig was daar van die media se kant af groot ondersteuning. Dit het gewissel van objektiewe standpuntstelling, kleinlike verdagmaking en halwe waarhede. Nie dat dit pla nie. Die saak is groter as die waarheid. Gelukkig was die Kerkbode-redakteur, Johannes du Plessis, die latere professor wat sy werk as gevolg van leerdwaling verloor het, ook ’n gedugte kampvegter. Die Kerkbode sou niks negatiefs publiseer nie, slegs argumente ten gunste van die verenigingsakte met duidelike positiewe standpunt.

Op sy vergadering te Bloemfontein in 1911 besluit die hooggeagte kerkleiding om duisende ponde te spandeer aan ’n inligtings- en bemarkingsveldtog om “een pamflet in het licht te geven dat behelzen sal eene duidelijke uiteenzetting der zaak met alle nodige toelichting ten einde zulks in die handen van ieder kerkraadslid gesteld mag worden”. Waarskuwende stemme het gevra dat dit net nie soos beïnvloeding moet lyk nie.

Die langverwagte uitslag was verdoemend. Die kerkrade het die vereniging afgewys. In nie een sinode is die vereiste meerderheid gekry nie. Die kerkleiding se reaksie het gewissel van verbitterde beskuldigings tot ’n gelate aanvaarding. Derms is vir jare daarna nog uitgeryg.

Deurslaggewend tot die nee-stem, was dat die stemproses nie gesien was as ’n beweging uit die gemeentes self nie, maar as “een predikante zaak”. Die kloof tussen lidmaat en dominee was duidelik. Boonop was daar ’n agterdog teen ’n gesentraliseerde algemene sinode wat as synodes contracta beklee sou word met al “de macht en het gezag van de Groote Synode”.

Eers na Republiekwording het die NG Kerk in 1962 een algemene Sinode tot stand gebring.

Redes vir my nee-stem

Spasie ontbreek om die ooreenstemmings aan te dui in die teleurstellende hantering en verloop van die eietydse kerklike stemproses. Dit wissel van onsekerheid en verwarring onder lidmate tot oorvloedige korrespondensie in sekere Afrikaanse koerante (wat dit toelaat), tot misleidende berigte in Beeld wat opgevolg word met selektiewe regstellings. Dit daar gelaat.

Daar is natuurlik ook verskille tussen die huidige en historiese stemproses. Lidmate stem nie nou oor kerkvereniging soos in 1911 nie, maar oor die voorgestelde wysiging van die belydenisgrondslag van die NG Kerk in Artikel 1. Dit is nie ’n ligtelike saak nie. Dit gaan nie oor die struktuur nie, maar oor die hartklop van ’n kerk.

Landswyd is daar talle lidmate wat Belhar as ’n belydenisskrif uit innerlike geloofsoortuiging aanvaar. Daar is geen aanduiding dat die groep in die meerderheid is nie. Die geloofserns oor Belhar-belydenis moet mens respekteer.

Daar is ook talle wat Belhar sien as ’n noodsaaklike getuienis, maar dit as belydenisskrif verwerp. Die groep beskou  Belhar as ’n politiek gelade en argaïese struggle-protesskrif wat na aanvaarding as ’n koevoet gebruik word om die NGK en sy wit lidmate oor die wêreld heen te verketter. Daar is geen aanduiding dat laasgenoemde groep in die minderheid is nie. Die weersin teen die Belhar as belydenisskrif moet mens ook respekteer.

Die voorgestelde gewysigde Artikel 1 het die potensiaal om die verskillende sienings te akkommodeer en ruimte te bied aan almal, mits dit met integriteit toegepas word.

Waarom dan my nee-stem? Hier is ’n paar redes:

  1. Die NG Kerk was nog altyd ’n breë tent wat baie teologiese strominge en selfs diepgaande verskille kon akkommodeer. Die NG Kerk kon ook met tyd aanpassings maak en tot ander teologiese insigte kom. Maar die belydenishart van die NG kerk was kerngesond en het ’n basis vir saambind en saamloop gebied. Net so min as wat ’n belydenis afgedwing kan word, net so min kan die belydenishart van die kerk op losse en opsionele skroewe staan. Aanvaar Belhar as belydenis en maak dit volledig deel van die belydenisgrondslag omdat dit in ooreenstemming met die Woord is, of los dit. Die gewaardeerde voormalige aktuarius van die Algemene Sinode en die voorste kerkregkundige in Suid-Afrika, prof. Pieter Coertzen, waarsku uit Stellenbosch: “Dit was nie wys van die NG Kerk om ’n opsionele pad vir die belydenis van Belhar aan die lidmate voor stel nie. Dit is oneerbiedig teenoor die Verenigende Gereformeerde Kerk, en dit kan die bestaan van die NG Kerk self as ’n belydenis- en belydende kerk uiteindelik in die gedrang bring.”
  2. Die gewysigde Artikel 1 bied ’n korttermyn-akkommodering , maar die lang termyn kan kerklike verbrokkeling wees. Dominee A wat die Belhar-belydenis aanvaar, sal nie sommer na gemeente B wat Belhar verwerp, ’n beroep kry nie. Dit het ook implikasies vir die doopgelofte en kategese-onderrig. Lidmate skeur nie meer nie. Hulle stem met hulle voete. Die korttermynvoordele van akkommodering kan die resep wees vir voortslepende verwarring, konflik en onherstelbare skade vir die NG Kerk. Dit wil niemand tog hê nie.
  3. Sommige beleef die Algemene Sinode se kampanje as ’n onaanvaarbare en onkerklike stoomrollertaktiek en verset hulle daarteen. Daar is bykans 70 ander hulpmiddels  in die amptelike “Belhar-gereedskapkis”. Dit is sedert verlede jaar wyd geadverteer in sinodes, ringe en gemeentes. Elke lidmaat wat ’n ingeligte keuse wil maak, moet ook kennis neem van die ander kant van die munt. In die boek Belhar geweeg (Kraal, 2012) word indringende teologiese vrae gevra en standpunte gestel wat nie beantwoord is nie.
  4. Wat van die verhouding met die Afrikaanse susterkerke, die NG Kerk van Afrika en die RCA? As die NGK Belhar met Artikel 1 insluit, is hierdie verhoudinge op die rotse. Lees gerus wat skryf prof. Dries du Plooy van die GKSA, dr Sarel Corrie van die NGKA, Kovilan Moodley van die RCA en dr Daan van Wyk van die Hervormde Kerk oor die vernietigende pad van Belhar-belydenis in Belhar geweeg.  Die Afrikaanse kerke verskil oor baie sake, maar was nog altyd op belydenisgrondslag een. Is dit die moeite werd om die eenheid in belydenis te breek?
  5. Die meeste lidmate aanvaar beginsels soos die eenheid van gelowiges, versoening en geregtigheid, maar hulle moet stem sonder die volle prentjie. Die VGK het dit tog al duidelik gestel dat ’n opsionele aanvaarding van Belhar nie aanvaarbaar is nie. Die eind-agenda van die VGK is verdag. Die beoogde vereniging van die twee kerke hou potensieel groot opofferings vir die NG Kerk in. ’n Nee-stem weerspieël ook ’n teenkanting teen die verdwyning van die NG Kerk se naam en identiteit. ’n Nee-stem is ook ’n besorgde stem teen restitusie met druk op pensioenfondsaansprake op kerkeiendom soos kerkgeboue en pastorieë. Berigte in die openbare media lui dat talle VGK-gemeentes bankrot is en nie hulle predikante se salarisse kan betaal nie. Baie is bekommerd oor die wyse waarop Belhar gebruik sal word om regstellende restitusie af te dwing. Kerklike regstellende aksie is ʼn saak wat nou onderspeel word.  Sommige kerkleiers maak dit as skrik-spoke af. Ander is openlik daaroor. Dalk is hulle reg. Dalk is hulle verkeerd. Tyd sal leer, maar spyt kom altyd te laat.
  6. ’n Nee-stem is ook teenkanting dat jong lidmate, selfs diegene wat lank na 1994 gebore word, vir dekades deur die Belhar-belydenis voortdurend in ’n staat van beskuldiging en skuldgevoelens oor apartheid geplaas gaan word. Ons kinders verdien ʼn beter toekoms.
  7. ’n Ja-stem vir akkommodering, kan nouliks as ’n ja-stem vir Belhar-belydenis geïnterpreteer word. Selfs lidmate wat ja gestem het, het na die tyd saggies gesê: “Dominee, ons is so moeg om as Afrikaners geëtiketteer en as rassiste gebrandmerk te word. Kom ons doen maar die polities korrekte ding ter wille van vrede.” Die vrede gaan nie lank duur nie. Dit sou beter gewees het dat lidmate vir of teen die Belhar-belydenis stem. Dan het die  kerkleiding presies geweet waar hulle met lidmate staan. Nou is almal onseker en die deur wawyd oop vir interpretasie en gepaardgaande konflik.

’n Nee-stem is ook ’n Ja-stem

My nee-stem is ook ’n ja-stem:

  • ’n Ja vir ’n gesonde belydenishart waarin daar geen plek is vir ’n minderwaardige hantering van enige belydenis nie.
  • ’n Ja vir die langtermynbehoud van die NG Kerk se naam en identiteit.
  • ’n Ja vir ’n kerk waarin die vryheid van Christus, sonder die bagasie van die verlede, gevier kan word.

Belhar_VoorbladBestel nou jou kopie van Belhar geweeg

In Kraal Uitgewers se boek Belhar geweeg ondersoek 18 skrywers en bekendes die waardigheid van Belhar as belydenisskrif. Belhar geweeg skets nie net die agtergrond waarteen Belhar saamgestel is nie, maar vra ook brandende vrae oor die moontlike invloed van die aanvaarding van Belhar. Die boek bestaan uit ses hoofstukke met artikels wat fokus op onder meer die ontstaan van die Belydenis van Belhar en die agtergrond waarteen dit saamgestel is, die kerkordelike pad wat gestap is en die reaksie van ander kerke en jonger kerkleiers in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Belhar geweeg sluit ook die volledige teks van Belhar in sowel as die begeleidende brief wat daarmee saamgelees moet word.

Skrywers sluit in prominente kerklui soos die voormalige moderator van die NG kerk, prof. Piet Strauss, en bekendes soos die voormalige polisiehoof, genl. Johan van der Merwe.

Belhar geweeg is beskikbaar by Kraal Uitgewers. Maroela Media-lesers kan die boek nou bestel teen die spesiale afslagprys van R70 (R20 posgeld en verpakking uitgesluit). Besoek www.kraaluitgewers.co.za om dit te bestel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kobus

Ek stem vir Christus, onbevange. En julle?

Kobus

Ek stem vir Christus, onbevange. En julle?

SJ Botha

Jou NEE stem, is die enigste een wat ek kan sien reg is.

SJ Botha

Jou NEE stem, is die enigste een wat ek kan sien reg is.

Neels

Hierdie debat gaan veel verder as Belhar. Die probleem is nie om vir of teen Belhar te stem nie, die fundamentele probleem is die feit dat die kerk in sy besluitnemings proses die sg ruimte laat vir diegene wat Belhar onderskryf so wel as diegene wat dit nie onderskryf nie. Hier le die probleem. Die koers wat die kerk inslaan met sy besluitnemings proses is die probleem, nie die besluit self nie. Deur ruimte te laat vir twee teenpole in n spesifieke saak open jy jouself vir n oneindige vloedgolf sake wat of ondersjryf kan word of nie. Wat is… Lees meer »