Die boere kom in opstand

(Foto: Jens Schlueter/AFP)

ʼn Sweempie van revolusie hang in die lug in Duitsland.

Verlede week het die protesoptogte van die georganiseerde landbou begin. In talle stede is betoog, strate en opritte na deurpaaie deur trekkers geblokkeer en voor die kantore van die Groenparty, wat ook die minister van landbou stel, is plek-plek vragte mis afgelaai. In die hoofstad Berlyn was die groot stedelike rylaan Strasse des 17. Juni vol parkeer met reuse-trekkers as deel van ʼn betoging teen die regering.

Die boere is al lankal ontevrede en het reeds in 2020, nog in die regeringstyd van Angela Merkel, soortgelyke proteste geloods. Merkel het dit egter destyds op haar kenmerkende manier geïgnoreer en die aanbreek van Covid-19 het in elk geval alle byeenkomste onmoontlik gemaak en die proteste is sodoende doodgesmoor.

Nou is die boere weer met mening terug.

Die nuwe vlaag betogings is spesifiek gerig teen ʼn maatreël van die regering om die subsidies op trekkerdiesel af te skaf ten einde hulle begroting te laat klop. Die boere, reeds van die mense met die langste werksure en, in vergelyking met fabrieke en banke, lae inkomste, voel dat hulle as ewige melkkoei misbruik word en moet opdok vir die regering se onbevoegdheid om hulle finansies in orde te kry.

Die agtergrond is die opspraakwekkende oordeel van die konstitusionele hof verlede jaar wat die regering belet om die ongebruikte Covid-19-noodfonds vir hulle klimaatfonds te gebruik. Sodoende het daar ʼn begrotingstekort van 60 miljard euro ontstaan en is besluit om die skouers wat reeds swaar dra nog verder te belas, oftewel om die toelaes weg te vat – dit terwyl maatskaplike toelaes die hoogte in skiet.

Die boere geniet egter wye ondersteuning in die bevolking en waar die trekkers opruk, word vir hulle gewaai en “duim hoog” gewys.

Ook ander bedrywe, soos die vervoerkontrakteurs, wat eweneens onder die regering se ekonomiese beleid van hoë kragtariewe, hoë belasting en burokratiese rompslomp sukkel, steun die boere. Dit gaan lankal nie meer net oor die boere nie – vir die gewone burger is die boere net die voorpunt van ʼn wyer beweging wat eenvoudig moeg is vir die regering se onbekwaamheid, aan die een kant, en hulle voorskriftelikheid en beterweterigheid, aan die ander kant. Veral die stedelike, groen stemmende elite is die fokus van hierdie afkeur.

ʼn Voorsmaak van die Franse geelbaadjieproteste is te bespeur. Van die Duitsers word eintlik gesê dat hulle goeie onderdane is en nie sommer in opstand kom nie, in vergelyking met die warmbloedige Suid-Europeërs wat oor elke ding betoog en staak. Tans vind ook ʼn staking van treindrywers plaas.

Die regering het intussen aangekondig dat hy die afskaffing van subsidies eers geleidelik sal infaseer in die hoop om die proteste te blus. Dit is egter te min te laat en verander in elk geval niks aan die onderliggende probleem nie. Hulle doen dit wat hulle die beste kan doen, naamlik om enige anti-regeringsbetoging in die verregse hoek te plaas, om burgers teen burgers op te sweep en in “goeie” en “slegte” betogers in te deel.

Helaas, dit werk al hoe minder en volgens peilings is reeds twee derdes van die bevolking ontevrede met die regering en eis ʼn vervroegde verkiesing. Later vanjaar vind drie belangrike streeksverkiesings plaas wat as ʼn kans gesien word om met die regering af te reken.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Schalk ·

Is dit nie tipies van die regerings van lande dat hulle die landbou wil benadeel nie. Dit is besig om ‘n uitgestorwe beroep te word met al hoe meer jong mense wat nie tradisioneel wil gaan boer nie. Nog meer regulasies gaan net die teenoorgestelde uitwerking bewerkstellig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.