Die Chinese eeu het aangebreek

(Foto: Mark Schiefelbein, AP)

Terwyl die Covid-19-virus nog lustig wêreldwyd voortwoed, het die krisisse wat daarmee gepaard gaan verreikende gevolge. Een daarvan is dat die Amerikaanse eeu tot ’n skielike einde gekom het en die dominerende wêreldmag nou China is, alhoewel hierdie oorheersing eers oor ’n dekade heeltemal duidelik gaan wees.

Covid-19 het veroorsaak dat tendense wat eers oor jare of dekades heen sou plaasvind, nou bespoedig is. Die val van die VSA, wat dalk nog vir 10 of 20 jaar die leidende rol sou speel, is daarmee verhaas. Die Chinese se rol in Covid-19 moet hier uitgelig word, aangesien hul model van inperkings wat slaafs deur die Weste nagevolg is, reeds die Weste se ekonomieë so uitgemergel het dat die Chinese nou koning kraai. In nabetragting, ’n briljante skuif deur China.

Die VSA se val

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die VSA was vir ongeveer ’n eeu die dominerende wêreldmoondheid. Dit het egter eers heeltemal duidelik geword tydens en ná die Tweede Wêreldoorlog, toe die Europese moondhede mag en hul kolonies verloor het. Pax America het toe aangebreek, ten spyte van kompetisie deur die Sowjetunie, laasgenoemde wat later heeltemal platgeval het.

Die einde van die Amerikaanse eeu het egter nie oornag gebeur nie, dit is reeds jare in wording en veral duidelik met die politieke verdeling tussen konserwatiewes teenoor liberaal-linkses, finansiële agteruitgang en verhoogde skuldvlakke, die instroming van Derde Wêreld ekonomiese vlugtelinge en die oordrewe rol van identiteitspolitiek; alles dinge wat Amerikaners se nasietrots doodwurg.

Dit kan nie aan ’n enkele gebeurtenis, soos die dramatiese bestorming van die Amerikaanse Kongresgebou (Kapitool) op 6 Januarie gekoppel word nie – dit is maar net ’n simptoom van die agteruitgang. Dit is sekerlik ’n simboliese teken van Amerika se agteruitgang, wat uiteraard deur die linkse media vir propagandaredes oordryf word. Terloops, die linkse media se massiewe rol in die val van die Amerikaanse Empaaier staan egter soos ’n paal bo water.

Aangewese pres. Joe Biden. (Foto: Jim Watson/AFP)

Die aanbreek van Chinese oorheersing sal sekerlik sommige lesers laat teëstribbel; dat die VSA steeds oor die grootste weermag en ekonomie beskik en die nuwe president, Joe Biden, die VSA se tradisionele vennootskappe gaan herbou. Buitendien is dit steeds die VSA wie se groot tegnologiemaatskappye – soos Google, Apple, Amazon, Tesla en ander – die wêreld oorheers met hul innoverings. Dis waar, maar die VSA het ’n diep verdeelde samelewing wat geen gesamentlike toekomsvisie het nie. Dié verdeeldheid tussen globaliste (Demokrate) en nasionaliste (Donald Trump se ondersteuners), is onversoenbaar. Die ineenstorting van hul eie demokratiese waardes en selfs hul politieke stelsel wat op die liberale demokrasie gebou is, het egter hul ondergang versnel.

Voeg daarby dat die Covid-19-pandemie wat die VSA seker die hardste van alle lande getref het en vertroue en ekonomiese stelsels deur inperkings erg geskaad is, terwyl tans amper 400 000 mense daar van die koronavirus gesterf het, en die val is onbetwisbaar.

Die Chinese is nou voor

(Foto: Mark Schiefelbein, AP)

Die eerste bewys van China se oorheersing is dat China se ekonomie die VSA gaan verbysteek in 2028, vyf jaar vroeër as wat aanvanklik verwag is. Die Britse Centre for Economics and Business Research (CEBR) het in Desember ’n verslag gepubliseer wat aandui dat China se ekonomie tot 2030 teen tussen 4-6% gaan groei, en die VSA slegs tussen 1,5-2%.

Met Trump uit die Withuis, behoort die handelsoorlog tussen die VSA en China weer te taan en China te begunstiging. Dit lyk nie tans of Biden en die Demokrate die Chinese die stryd gaan aansê nie, aangesien dit nie by hul globalistiese agenda gaan inpas nie.

China is tweedens vinnig besig om die militêre gaping te verklein, hoewel nog glad nie op dieselfde vlak as die Amerikaners nie. Die tweespalt in die politiek in die VSA sal beslis ’n invloed hê op hul militêre vermoëns, veral as die VSA weer betrokke raak by konflikte in die Midde-Ooste.

China se fokus is weer om sy eie invloedsfeer te verstrek. Nadat Hongkong sonder veel internasionale teenkanting sy selfbestuur deur ’n dekreet van China in 2020 verloor het, is die volgende stap om Taiwan in te palm. Taiwan, wat deur Chinese bewoon word wat in die 1940’s voor die kommunistiese regime gevlug het, was nog altyd in China se spervuur en ’n steen des aanstoots vir die Chinese. Dit is nou net ’n kwessie van tyd voordat China Taiwan met militêre mag gaan onderwerp, selfs al lei dit tot ’n konvensionele oorlog. Dis onwaarskynlik dat die VSA, behalwe ernstige murmurering, China in sy agterplaas gaan aanvat in ’n oorlog.

Derdens het China reeds vir dekades vennootskappe gebou en sy invloedsfeer wêreldwyd gevestig. Nie net op handelsgebied nie, maar China se vennootskappe is ook gebou met outokratiese en/of korrupte regimes, wat die Weste en veral die VSA verafsku oor hul herhaaldelike aandrang op ekonomiese en politieke hervormings. Die meeste lande in Afrika, Suid-Amerika, Asië en selfs Europa is tans in China se sakkie. Dit gaan nie net oor handel nie, maar ook oor ontwikkelingshulp.

(Foto: AP Photo/Ng Han Guan)

Vierdens is Chinese tegnologiemaatskappye toenemend besig om die VSA uit te stof. Maatskappye soos Huawei, ZTE en ander, wat deur die Chinese regering besit of beheer word, is aan die voorpunt van die 5G-tegnologie en -netwerke, wat die dryfvere van hierdie eeu se kunsmatige intelligensievernuwing gaan wees. Regerings wat nie Chinese dominasie van tegnologie gaan aanvaar nie, gaan eenvoudig gedwing word om in te stem.

’n Goeie voorbeeld is die boelie-aksies wat tans teen Australië deur die Chinese ingespan word oor handel. Dit volg nadat die Aussies in ’n ernstige geskil met China betrokke geraak het oor toenemende Chinese invloed op hul politieke stelsel, onder meer omkopery en spioenasie. Die boodskap is duidelik: maak soos China sê of verloor jou handelsbande – 50% van Australië se uitvoere gaan tans na China, en hulle het eintlik geen keuse as om China se boelietaktiek te aanvaar nie. Voorheen was die VSA die groot boelie.

Die dollar is (nou) nog koning

Die Wêreldbank se hoofkantoor in Washington D.C. Foto: Eric BARADA /AFP

Die een aspek wat China nog nie beheer oor het nie, is die internasionale finansiële stelsel. Weens die internasionale Bretton Woods-stelsel domineer die Amerikaanse dollar en beheer die VSA die Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds (IMF). Beide entiteite stel hope voorwaardes aan state voor hulle help met infrastruktuur-oprigting of finansiële hulp in krisistye. Dit maak lande afhanklik van die IMF en verskans die Amerikaanse dollar se posisie as wêreldgeldeenheid. Dit wil Xi Jinping, die Chinese president, graag regstel – deur die Chinese joean (ook genoem renminbi) die wêreldgeldeenheid te maak. Dit kan gebeur deur onwillige lande, deur hul skuld aan China en deur ander metodes, te dwing om die joean te gebruik en die dollar te versaak – wat Chinese wêreldoorheersing finaal sal bevestig.

Die grootste dryfveer agter China se nuwe status, is sekerlik Xi Jinping. China probeer reeds ongeveer 30 jaar om Amerikaanse oorheersing uit te daag, maar Xi (aan bewind sedert 2013) het hierdie proses versnel. Hy het die versigtige en geleidelike beleid van China verander in ’n aggressiewe een. Xi is 67 jaar oud en het homself basies in 2018 as lewenslange president laat aanwys. Die Chinese se toenemende uitdagende beleid is sekerlik enersyds te danke aan die Weste se inploffing weens politieke korrektheid, en andersyds omdat Xi China as dominerende moondheid wil sien in sy leeftyd.

Staatsmag en vryhede

‘n Gereguleerde ingangspunt na ‘n woonarea in Wuhan. Foo: (Chinatopix via AP)

Die Chinese politieke en ekonomiese model is ook besig om vinnig veld te wen teen die Weste se liberale demokrasie wat toenemend onder druk verkeer. Die Chinese model van staatsmag, suksesvolle staatsondernemings en beperkte vryemarkbeginsels het uitsonderlike resultate bereik. Staatsmag (ook deur tegnologie), beheer van die bevolking en natuurlik ook met inperkings (die Chinese uitvoerproduk), wen veld teen vryhede en vrye spraak. Die feit dat vele Amerikaanse deelstate en feitlik alle ander lande steeds vryhede beperk en inperkings toepas met die koronaviruspandemie (wat basies ’n jaar terug as onmoontlik beskou sou word), is ’n reuse-oorwinning vir China ten koste van individuele vryhede. Hierdie opsies is ook aantreklik vir ontwikkelende lande wat deur die Weste gedwing word om demokrasie in te stel in ruil vir ontwikkelingshulp. Die Chinese stelsel van beheer oor bevolkings en beheer van die ekonomie (deur staatsondernemings) is net soveel aantrekliker.

Die inleiding van die Chinese eeu beteken ook dat Chinese sosialistiese waardes toenemend vastrapplek kry in die Weste. Die VSA, wat sekerlik vir 100 jaar as die voorbeeld van ongekende voortuitgang deur kapitalisme en vryhede beskou is, gaan onder die Demokrate se nuwe president Joe Biden seker maak dat die staat sosiale verantwoordelikhede verhoog. Dit impliseer nuwe stelsels van staatshulp vir armes, mediese dienste en selfs ’n minimum oorlewingstoelaag, met ander woorde, sosialisme en staatsafhanklikheid.

Globalisme pas die Chinese

Xi Jinping, president van China. (Foto: Li Gang/Xinhua News Agency via AP)

Polities en militêr is die VSA besig om vinnig agteruit te gaan en hulself te vernietig deur hul volgehoue aandrang om globalisme te omarm en identiteitspolitiek te bedryf. Globalisme lei tot die vernietiging van hul eie industriële vermoëns, die afbreek van ’n gedeelte kultuur en die daarstel van ’n diverse, kosmopolitaanse land wat deur ekonomiese vlugtelinge van die Derde Wêreld oorstroom word, met gevolglike Derde Wêreldse probleme.

Die Chinese is reeds ekonomies die toonaangewende land en die wêreld se industriële reus. Hul beheer oor Taiwan en eersdaags die handelsroetes van die Suid-Chinese See gaan baie lande se aanvaarding van Chinese oorheersing verhaas. Militêr gaan hulle verbeter en die VSA beslis agteruitgaan, totdat China ook daar domineer. Deur globalistiese instellings soos die Wêreldhandelsorganisasie, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) en ander VN-instellings, gaan China sy posisie toenemend verstewig en aandring op ’n nuwe monetêre stelsel. Die globaliste se aandrang op ’n nuwe klimaatvriendelike omgewing gaan enersyds die Westerse state verder ekonomies verswak en andersyds die Chinese se strewe na meer ekonomiese mag aanhelp.

Ons moet egter nie verwag dat die Chinese se beheer ook ’n 100 jaar gaan duur nie. Die Chinese het self onderliggende probleme wat veroorsaak is weens hul jare lange een-kind-beleid, die onderdrukking van die bevolking deur staatsmag en die opkoms van kompeteerders soos Indië.

Maar vir eers ons sal ons gewoond moet raak aan China se oppergesag.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dries ·

As jong man het regse Afrikaner leiers menigmal gewaarsku teen die gevaar wat China vir SA en die wereld inhou. Hulle was dan uitgekryt deur die liberaliste as neoroties. Kyk nou waar staan ons vandag. Selfs met die waarskuwing dat SA oppad is om n 2e Zimbabwe te word was uitgemaak as nonsens. Nou is ons al in erger moeilikheid as Zim

Delarey ·

Baie goeie artikel en die scenario kan heel moontlik uitspeel. Niemand kan egter die toekoms voorspel nie en miskien net miskien kry die Weste nog ‘n kans …..

Stel jou voor Biden word suksesvol “impeach” vir korrupsie of stort in intellektuel in duie en Kamala Harris moet oorneem as President. Laasgenoemde is meer ongewild as Hillary Clinton by die Amerikaanse publiek en saam met ‘n power ekonomie en hoér belastings dra dit by tot ‘n swaai van gematigde demokrate wat of nie in die volgende verkiesing stem nie of vir die Republikeine stem.

Stel jou dan voor dat Amerikaners nie in die volgende verkiesing oor die pos kan stem nie. Stem-oesery kan dus nie gebeur nie en die Republikeine met Donald Trump wat staan vir ‘n tweede termyn kom aan bewind met ‘n sterk meerderheid.

Voorgaande saam met die opkomende nasionalisme in die Weste sal dan die toneel opstel vir of en wanneer China die volgende oorheersende wéreldmoondheid word.

Tyd sal leer.

Sterk staan Afrikaners.

Jaco ·

China het Corona gebruik om van Donald Trump ontslae te raak. Wel, hy is nou uitgestem in Amerika, so China se plan met Corona het gewerk. Kan China nou asseblief ook weer Corona laat weggaan? Dis regtig nie lekker onder lockdown nie. Mens kan nie eens strand toe gaan nie.

Michael ·

Dat die meerderheid mense nog oortuig is dat hierdie ‘n werklike pandemie is gaan mens se verstand te bowe. Dit terwyl statistieke steeds toon dat daar meer mense aan ander oorsake doodgaan maar dit word nie as lewensbedreigend deur wereldleiers beskou nie. Hierdie pandemie word vir jare reeds beplan en die groot leiding wag nog op die wereldbevolking. As christene glo ons dis die voorbereiding vir Christus se koms

Rudolf ·

Met die beplanning vir die toekoms net na die Tweede Wêreldoorlog het China onder bespreking gekom. Churchill se profetiese woorde was: ” Leave the dragon alone. It will devour us and the world we know.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.