Die dag toe ek ‘n koning ontmoet het

Koning Goodwill Zwelithini (Foto: Nqobile Mbonambi/African News Agency/ANA)

Ons het besluit om KwaNongoma toe te ry, omdat mens nie regtig tyd spaar deur te vlieg nie. Want KwaNongoma is afgeleë en slegs toeganklik deur die kronkelende paaie in die noorde van KwaZulu-Natal in die Zoeloe-koninkryk. Naby die paleis moet ons die pad verlaat en deur die nou paadjies van ’n landelike nedersetting ry – ’n brug in die oorspronklike pad het weggespoel en dit is na jare steeds nie deur die plaaslike owerheid herstel nie.

Ons kom aan by die paleis. Daar is ’n netjiese gebou regs van die ingang en ’n groter gebou met twee olifante by die ingang aan die linkerkant. In die middel van die terrein is ’n stewige kraal wat van boomstompe gebou is. Ons is by iSilo Samabandla se Osuthu Koninklike Paleis. Ons parkeer, met die voertuie se voorkante in die rigting van die paleis – want, word daar vir ons verduidelik, die paleis is die simbool van die koning, en jy draai nie jou rug na die koning nie.

Ons word bewus van ’n waardige ou Zoeloe wat rondloop en met gereelde tussenpose uitroep. Hy kom groet ons en verduidelik dat hy die koning se lofsanger hiér is. Ons moet almal die koning (sy paleis) groet.

“Wena WeNdlovu!”
roep hy met sy hand in die lug.
Ons antwoord: “Wena WeNdlovu!”
Dit word herhaal. “Bayede!” roep die man.
“Bayede!” antwoord ons weer.

Selfs as ek net weer hieraan terugdink, kry ek hoendervleis. Om te kan beleef hoe kultuur en tradisie – onder baie moeilike omstandighede – oor eeue heen bewaar is, is besonders. Die gebruik is vir ons as Afrikaners kultuurvreemd, maar tog voel ons tuis. Want hier lééf tradisie, hier is ryk kulturele identiteit, hier is trots.

Ons beweeg na die gebou aan die regterkant. Daar is gemaklike stoele. Op die een stoel mag ons nie sit nie, dít is die koning se stoel – niemand anders sit daar nie. Ons eet die broodjies en gesels met die groep mense wat ons ontvang het. Ons leer van die Ingonyama Trust en hoe die raad van dié trust, wat die ongeveer drie miljoen hektaar grond van die Zoeloevolk namens die koning bestuur, werk.

Daar is ’n beroering. Die koning is hier! Ons gaan staan buite, en kry vinnig vir die laaste keer raad: Onthou om nie jou rug na die koning te draai nie, skud sy hand slegs as hy sy hand na jou uitsteek.

“Wena WeNdlovu! Wena WeNdlovu! Bayede! Bayede!” Só groet ons almal vir iSilo Samabandla. Hy stap na ons toe met ’n breë glimlag en groet elkeen van ons vriendelik. Hoe groot is dié oomblik nie. Hier ontmoet ons die seun van koning Dinuzulu en koning Cetshwayo, wat ook die mag van die Britse Ryk uitgedaag het en die Ryk by Isandlwana verneder het. Dieselfde bloed wat in Shaka kaSenzangakhona geloop het, is hier.

Die gesprek is gemoedelik, maar ook ernstig. Ons praat oor die uitdagings wat kultuurgemeenskappe in die gesig staar. Vervallende infrastruktuur, veral in landelike gebiede. Die geweldige misdaadprobleem, soos die vragmotors wat op die snelweë aangeval en verbrand word. Die landerye wat vroeër deur gemeenskapslede bewerk is, lê nou al jare lank braak. Mense se gebrek aan werkgeleenthede en selfstandigheid, hul afhanklikheid van die staat. Onteiening sonder vergoeding.

Die gesprek draai na die verlede. Ons gesels oor die koning se oupagrootjie, koning Dinuzulu kaCetshwayo, wat die ondersteuning van Afrikaners gekry het om sy regmatige plek as koning van die Zoeloes in te neem ná die verwoesting van die Anglo-Zoeloe- en die Zoeloe-burgeroorlog wat veroorsaak is deur die Britse Ryk se verdeel-en-heers-plan. Ons is immers by die Osuthu Koninklike Paleis – koning Dinuzulu se plek.

Andries Marthinus Johannes Laas.

Die oomblik is vir my baie groot toe ek die geleentheid kry om te vertel dat dit my oupa se oupagrootjie, Andries Marthinus Johannes Laas, was wat vir koning Dinuzulu tot koning oor die Zoeloes gesalf het in 1884. Die koning lag vir my uitspraak van my Laas-voorouer se Zoeloenaam “Gongol”.

Ek beleef die koning as ’n leier, aangevuur deur ’n diepe liefde vir en toewyding aan sy volk. ’n Man wat die belange van sy eie gemeenskap op die hart dra en oor hulle besorg is, soos ’n vader oor sy kinders. Iemand wat streef na goeie verhoudinge en die welstand van alle gemeenskappe. Hier praat meer as ’n enkele mens, maar ’n instelling, wat oor eeue in die smeltkroes van die tyd en die vuurherd van Afrika gesmee is. Hier praat krag wat voortvloei uit ervaring, erfenis en ’n nalatenskap wat diep gewortel is in kulturele identiteit en gesonde selfrespek.

Dié belewenis, en die paar ander geleenthede toe ek die reusevoorreg gehad het om in die teenwoordigheid van iSilo Samabandla te wees, het ’n geweldige indruk op my gemaak – en my verander.

iSilo Samabandla was die vergestalting van iets groots. Hy was vir baie van ons meer as ’n simbool, hy was standvastigheid. Hy was die versinnebeelding van kultuur, identiteit en tradisie. Hy was ’n toegewyde Christen.

Ek voel vandag arm en dra die gevoel van ’n groot verlies. Hy het sy voorouers se nalatenskap geëer, en ek eer sy nagedagtenis.

Wena WeNdlovu! Bayede!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Barend Uys

Barend Uys is die hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vrijburger ·

Waarom nie hierdie artikel ook in die ‘hoofstroom media’ plaas nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.