Die Koerde, die Katalane en die Afrikaners

koerde

Onafhanklikheid wink vir Koerdistan. Foto: Safin Hamed/Thekurdishproject.org

In die volgende twee maande gaan twee referendums gehou word wat heelwat implikasies vir Europa sowel as die Midde-Ooste inhou. Op 25 September gaan die Koerde in die Noorde van Irak ʼn referendum hou oor onafhanklikheid. Skaars ʼn week later, op 1 Oktober, gaan die Katalane in die noordooste van Spanje ook stem of hulle onafhanklik wil wees.

Hoewel die Koerde sowel as die Katalane se onafhanklikheidstrewe reeds vir dekades bekend is en albei gebiede tot ʼn groot mate reeds heelwat outonomiteit verkry het, is onafhanklikheid ʼn onbekende stap vorentoe. Onafhanklikheid, en die wettigheid van afskeiding, word ook tewens teengestaan deur die Irakse sowel as die Spaanse regering.

Nasiestate

Onafhanklikheidstrewes is nie ʼn nuwe konsep nie. Nasiestate soos ons hulle vandag ken, byvoorbeeld Duitsland, België, Turkye, Lesotho, Japan en ander, was al vir eeue betrokke in die strewe na onafhanklikheid. Heelwat oorloë is al daaroor gevoer, insluitend burgeroorloë, en daar is sekerlik tans dosyne onafhanklikheidsbewegings wat gewelddadig of vreedsaam poog om onafhanklik te word.

Hoewel die post-Koue Oorlog wêreld geskoei is op regionale samewerking asook individuele belange, regte en die benadering dat almal wêreldwyd maar eintlik dieselfde is, eerder as nasionale of etniese strewes, het heelwat state in die afgelope 25 jaar onafhanklikheid verkry oor feitlik al die vastelande heen.

In Europa het die voormalige Sowjetunie aan die begin van die 1990’s gedisintegreer en 15 onafhanklike lande gevorm. Daarna het die ou Joego-Slawië in duie gestort en ná jarelange oorloë het die sogenaamde Balkan-state een vir een onafhanklikheid verkry, soos Kroasië en Slowenië. Die jongste onafhanklike state in Europa is Montenegro (2006) en Kosovo (2008).

In Afrika, waar lidlande van die Afrika-unie (AU) en sy voorganger, die Organisasie vir Afrika Eenheid (OAE), vir jare lank geen grensverandering geduld het of afstigting van nuwe onafhanklike state erken het nie, moes hulle later ingee en is Eritrea (1991) en die Suid-Soedan (2011) onafhanklikheid gegun. So ook het Oos-Timor in 2002 in Asië ʼn onafhanklike staat geword.

Volgens internasionaal erkende volkereg kan ʼn land as onafhanklik beskou word indien die inwoners ʼn fisieke geografiese gebied beset, die gebied kan bestuur en beskerm, belastings invorder en onafhanklik in terme van buitelandse beleid en militêr optree.

So byvoorbeeld voldoen Skotland feitlik aan al die vereistes en het selfs ʼn eie parlement, maar die Britse regering tree internasionaal en militêr namens die Skotte op. Skotland het dus selfregering maar het nog onlangs net-net besluit om nie onafhanklik te word nie. Dieselfde geld vir Palestina, wat glad nie onafhanklik is nie, maar deur baie lande (soos Suid-Afrika) as onafhanklik erken word. Ook die Sahrawi Republiek (wat ʼn outonome gebied binne die Marokkaans-beheerde Wes-Sahara is) word erken as ʼn onafhanklike staat deur die AU ten spyte daarvan dat die “regering” daar feitlik geen beheer oor die gebied het nie en Marokko die oorgrote deel van die gebied beset. Terloops, die ANC-regering erken ook die Sahrawi Republiek se onafhanklikheid.

katalonië-flickr

Op 1 Oktober sal die Katalane in die noordooste van Spanje ook stem of hulle onafhanklik wil wees. Foto: SBA73/Flickr.com

Hoop vir die Koerde en Katalane

Die Koerde word as ʼn etniese groep beskou hoewel die meeste Moslems is en ook Arabies praat. Die Koerde word nie net in Irak aangetref nie, maar is teenwoordig in verskeie lande, insluitend Turkye, Irak, Iran en Sirië. In Turkye word hulle erg onderdruk weens die aksies om deur geweld onafhanklikheid te verkry. Daarenteen het die Koerde in Irak lank reeds selfregering as gevolg van die Amerikaans-geleide Golfoorloë in 1990 en 2003. Die Koerde het die verval van Irakse militêre beheer in albei gevalle aangegryp en funksioneer basies onafhanklik. Hul selfregering was egter onlangs in die gedrang nadat die Islamitiese Staat (Isis) die Koerdiese stad Mosoel vir drie jaar beset het. Die Koerde het gevolglik hul aanspraak om onafhanklikheid uitgestel, maar nadat Isis in Julie vanjaar uit Mosoel verdryf is, het die Koerde besluit die tyd is reg vir ʼn referendum oor onafhanklikheid.

Die internasionale gemeenskap is versigtig en diplomaties oor die referendum. Irak self beskou dit as ongrondwetlik en buurstate met Koerdiese bevolkings soos Turkye, Sirië en Iran verwerp die idee. Natuurlik vrees hulle dat hul eie Koerdiese bevolkings ook op onafhanklikheid sal aandring sou die Irakse Koerde suksesvol wees.

Dit lyk nietemin na ʼn uitgemaakte saak dat die Irakse Koerde teen gunste van onafhanklikheid sal stem. Hulle voldoen ook aan al die volkekundige vereistes om wel onafhanklik te word. Nietemin is die eintlike toets vir onafhanklikheid internasionale erkenning.

So het Suid-Afrika onder die vorige regering onafhanklikheid toegeken aan swart etniese groepe in lande soos Bophuthatswana, Transkei en Venda, maar die lande is nooit internasionaal erken as onafhanklik nie en hulle is maar geforseer om weer deel van Suid-Afrika te word. Het hulle volkeregtelik aanspraak gehad op onafhanklikheid? Ja, beslis. ʼn Grondgebied, etniese meerderheid, belastinginvordering en selfs ʼn buitelandse beleid en ʼn weermag. Die idee dat onafhanklikheid by die bevolking lê en opgeëis kan word, is dus legitiem, maar word onder sekere omstandighede deur die internasionale gemeenskap verwerp.

Wat ná die referendum gaan gebeur is ʼn ope vraag. Dit word betwyfel of die Irakse regering sal besluit om die Koerdiese gebied binne te val, selfs al verklaar hulle onafhanklikheid. Hulle gaan eerder probeer om deur druk op buurlande en die VN die Koerde se onafhanklikheid te ontken. Dit sal “Koerdistan” dus teoreties onafhanklikheid gee (soos eintlik reeds jare gebeur), maar nie amptelik nie.

Dieselfde kan geld vir die Katalane. Ná ʼn jare lange stryd teen die Spanjaarde het die Katalane (soos die Baske) outonomiteit verkry. In die Baske se geval het ʼn terreurbeweging die Spaanse staat beveg en is eers onlangs onder beheer gebring.

ʼn Onafhanklike Katalonië, wat ʼn groot stad soos Barcelona insluit en ʼn groot deel van Spanje se ekonomie beheer, sal rampspoedig vir die Spaanse ekonomie wees. As EU-lidland (naamlik Spanje) sal Katalonië moeilik kan ontsnap van EU-beheer en die EU-lande sal waarskynlik nie Katalonië as onafhanklike staat erken nie. Soos met Brexit kan dit ’n reuse-kopseer word vir die EU.

Anders as in Brittanje, waar die Britse regering Skotte die opsie gegee het om te besluit oor onafhanklikheid, is die Spaanse regering gekant daarteen. Spanje sal eweneens nie sommer militêr optree teen Katalonië sou laasgenoemde onafhanklikheid verklaar nie. Die Spanjaarde dui aan dat die grondwet nie voorsiening maak vir onafhanklikheid nie. Eweneens sê die Katalane dat die grondwet nie afstigting verbied nie!

Sou Katalonië wel aandring op onafhanklikheid en sy grense sluit, is daar nie eintlik veel wat die Spanjaarde kan doen buiten om deur hul Europese vennote Katalonië ekonomies te isoleer nie.

Internasionale erkenning

Waar laat hierdie ontwikkelinge ander onafhanklikheidstrewes? Dit wys ons eerstens dat die tydperk van vorming van nuwe nasiestate nog glad nie verby is nie. Dit is duidelik dat onafhanklikheid van die Koerde en Katalane ander nasies se strewe na onafhanklikheid kan bevorder. Ons het al ʼn gebrom gehoor dat Kalifornië wil afstig van die VSA nadat Donald Trump president geword het. Eweneens was daar voor die ontstaan van die “nuwe” Suid-Afrika in 1994 ʼn sterk gevoel dat Natal (nou KwaZulu-Natal) onafhanklikheid moet verkry. Dit het gevolg op heelwat etniese geweld in daardie provinsie waarin duisende omgekom het. Daar het ook al ʼn paar stemme vir ʼn onafhanklike Wes-Kaap opgegaan, al is daar geen bewese steun daarvoor nie.

Ons kan seker aanneem dat ʼn redelike deel van die Afrikaners ook nie sal omgee om onafhanklik van die chaos, misdaad en korrupsie van Suid-Afrika te leef nie. Ten spyte daarvan is progressiewe inisiatiewe soos Orania klein en ondersteun die meerderheid Afrikaners (oënskynlik) nie so ʼn opsie nie.

Afrikaners is, anders as die Koerde of Katalane, ook nie beperk tot sekere geografiese eenhede nie, maar oor die hele Suid-Afrika versprei. Selfs deur ooglopende en wettige volkeregtelike aansprake bly die kernvraag of daar enige internasionale erkenning sal wees van só ʼn opsie.

Dit lyk tans of internasionale erkenning ʼn onafhanklike Koerdistan of Katalonië en ander moontlike vryheidstrewes kniehalter.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Nico K ·

Die probleem bly dat regerings nie wil toelaat dat stukke land van hul afgeneem word nie. Daar moet eers oorlog en bloedvergieting wees. Dit bly maar ‘n soort van kolonialisme. Hulle is natuurlik bang oor die ekonomiese implikasies, maar ‘n ekonomiese unie tussen sulke gebiede kan mos ‘n oplossing wees. Elkeen regeer homself, maar ons werk ekonomies saam. Dit bly ‘n feit dat verskillende groepe (taal, ras of godsdiens) in een land nêrens gelukkig saamwerk nie. Hoe die Nasionale Party gedink het dit kan in SA gebeur is onverstaanbaar.

Johan Grobbelaar ·

Die grootste verskil tussen die Afrikaner onafhanklikheids strewe en die res van die wereld groepe wat daarna streef is dat die Afrikaners klaar internasionale erkening het vir ons onafhanklikheid!! Al die ander groepe moet nog erkenning kry deur onderhandeling of konflik. Daar is n akkoord onderteken op die 23ste April 1994 deur die NP , ANC en Vryheids Front asook verteenwoordigers van Amerika , Brittanje en Duitsland. Dit erken die onafhanklikheid van die Afrikaners en gee hulle die reg om dit op te eis sou hulle dit verkies. Die probleem is dat hierdie akkoord verswelg word en geen media dekking gekry het of kry nie. Absoluut niks behalwe ons gemaklikheid verhoed ons om in n area te konsentreer en ons onafhanklikheid op te eis nie. Gaan kyk op die VVK se webtuiste onder dokumente en jy sal die akkoord vind. Nou toe wie trek saam?

JC ·

Dankie Johan, ek het nie geweet van die akkoord nie:)
Dis wonderlike nuus!!

gatiep ·

Nie geweet nie Johan dankie dat jy darm die goeie nuus vir ons gee.
Ek wil nie meer saam met die mense bly wat so verskriklik sensitive is nie, dink nie eens hulle gaan saam met hulle self kan leef in toekoms nie.

Richard ·

Johan, hoe las jy dan sommer die VSA, Brittanje en Duitsland by daardie “akkoord”? Die akkoord bestaan wel, maar dit was tussen die Vryheidsfront van Constand Viljoen, die ANC (onderteken deur Mbeki) en die NP (onderteken deur Roelf Meyer). Die drie lande wat jy noem, het daarmee niks uit te waai gehad nie.
Gaan lees self die akkoord. Daarin is ooreengekom dat die idee van selfbeskikking in die vorm van ‘n volkstaat getoets sal word deur die ondersteuning wat partye met ‘n sterk selfbeskikkingsmandaat in die 1994 verkiesing kry. Met ander woorde, dat dit getoets sou word deur die steun vir die Vryheidsfront in 1994.
Die akoord was slegs om “deur ‘n proses van onderhandeling die idee van Afrikaner selfbeskikking te bespreek”.
Van die akkoord het daar toe niks gekom nie.

Paul ·

Ek verstaan nie die relevansie van die Koerde se geloofsoortuigings tot of hulle ‘n “etniese groep” is of nie. Is dit bloot ‘n verheldering vir lesers wat dalk dink dat alle mense wat Moslems is, dieselfde kultuur het of van dieselfde etniese groep is?

Verder ook moet ‘n korreksie gemaak word – die Koerde praat nie Arabies nie. Hulle praat verskeie tale wat algemeen “Koerdies” genoem word. Die grootste taal van Koerdies is genaamd Koermandji en kleiner taal is Sorani. Daar is ook ‘n derde taalgroep wat deur Koerde gepraat word, genaamd Zaza-Gorani, maar dis so verskillend van die ander twee dat dit nie as “Koerdies” gereken word nie. Die taal(e) is deel van die Irannese/Persiese taalgroepering. Dit is glad nie dieselfde as Arabies nie, en is nie eers nou verwant aan Arabies nie. Koediese tale is deel van die breë Indo-Europese taalfamilie, terwyl Arabies deel is van die Semitiese taalfamilie. Sprekers van Koerdies gebruik wel talle leenwoorde uit Arabies, soos wat Afrikaanssprekers talle leenwoorde uit Engels gebruik, maar dit maak Koerdiese tale nie Arabies nie.

Koerdies en Arabies is meer verskillend van mekaar as wat Afrikaans verskillend is van Grieks.
Die Koerde in Irak verkies deesdae dikwels om eerder Engels as ‘n tweede taal te leer as Arabies.

Adoons ·

Paul, ek dink jy verstaan die skrywer verkeerd. Hy bedoel maar net die meeste Koerde kan Arabies praat, net soos die meeste Afrikaners en Zoeloes ook Engels kan praat. Wat hy bedoel, is dat ten spyte daarvan dat die meeste ook Arabies kan praat en boonop Moslems is, voel hulle hulle nie een met daardie deel van die bevolking nie. Dis eintlik ‘n goeie vergelyking met Afrikaners wat byvoorbeeld onder Engelse bewind godsdiens met die oorheersers gedeel het, en boonop hulle taal magtig was.

Gert ·

Die probleem is dat Afrikaners so afhanklik van hul huishulpe, tuinwerkers en plaaswerkers is dat hulle gaan probeer om hulle te laat saam trek. Hulle doen sit nog altyd. Moeilike ene dié.

Johannes Meintjes ·

Die Afrikanerstrewe tot selfbestuur en selfbeskikking is eintlik goed gevestig, met regsgeldige meganismes in plek, – maar word (ook in verdeelde Afrikaner geledere) onderdruk sodat meeste Afrikaners nie weet van die opsies, prosesse en aktiewe deelname daaraan nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.