Die koronatoestand in Duitsland

‘n Man word vir Covid-19 getoets in München, Duitsland. (AP Photo/Matthias Schrader, File)

Onlangs is die streng grendelstaat in Duitsland, wat nou al van begin Desember 2020 duur, weer verleng, voorlopig tot middel Maart. Dit, ten spyte van ’n duidelike afname in die gevalle en sterftes. Die gevaar van ’n derde golf weens mutasies is egter as rede vir die verlenging aangegee.

Middel Maart sal daar weer besluit word, en dit kan maklik wees dat die grendelstaat daarna weer en weer verleng kan word. Tans mag net koswinkels oop wees en as enigste toegewing kan haarkappers op 1 Maart weer oopmaak. Die aankondiging van die verlengde grendelstaat deur die bondskanselier Angela Merkel het skokgolwe deur die kleinhandel-, restaurant- en hotelbedryf en die kultuursektor gestuur. Ook ouers, wie se kinders nou al maande lank by die huis rondhang, se geduld is op. Die skole en kleuterskole se heropening is in die hande van die provinsies en daar sal dalk oor ’n week of twee versigtige openings en beurtonderwys plaasvind.

Tot dusver het die Duitse bevolking die beperkings gelate aanvaar, beïnvloed deur ’n nimmereindigende stroom van waarskuwings deur uitgesoekte influisteraars van Merkel se regering, wat besluit het om eerder die ekonomie, onderwys en kultuurlewe te beskadig as om kanse te vat. Daar was in die somer van 2020 ’n reeks betogings, gereël deur die sogenaamde Querdenker, wat aanvanklik gelyk het asof dit ’n bedreiging vir die regering en die grendelstaatkonsensus sou wees, maar dit is reeds weer onderdruk deur die gewone etikettering as “regse samesweringsteoretici” deur al wat ’n invloedryke persoon en instelling is, ondanks die feit dat dit ’n baie uiteenlopende beweging is en ook talle aanhangers van die Groenparty in hul geledere het.

Die indruk word geskep dat daar ’n breë konsensus onder wetenskaplikes en die bevolking bestaan dat die streng grendelstaat so streng en lank as moontlik toegepas moet word. ’n Nuwe beweging, Zero-Covid, wat getalle tot nul wil druk en daarvoor nóg meer beheer en beperkings wil toepas, is ook besig om veld te wen en is, anders as die Querdenker, ’n beweging van die elite, onder meer talle wetenskaplikes. In der waarheid is daar egter onder sowel wetenskaplikes as onder die bevolking as geheel uiteenlopende menings oor die saak.

Intussen het dit ook aan die lig gekom dat die regering, meer spesifiek die departement van binnelandse sake, inderdaad selektief met die waarheid omgegaan het en vir hulle reeds in Maart 2020 tussen die reeks wetenskaplikes net diegene uitgesoek het wat streng maatreëls bepleit het, en die ander uitgestoot het. Meer nog, die wetenskaplikes is selfs gevra om die pandemie, wat toe eers aan die ontvou was, as enorme bedreiging met die potensiaal van miljoene sterftes daar te stel, om die bevolking sodoende bang en gelyktydig sag te maak om die grendelstaat te ondersteun.

’n Ampsdraer binne die departement wat krities daarteenoor was, is afgedank. Die Robert-Koch-Instituut, (’n regeringsinstelling wat navorsing doen oor siektes en hul bekamping) en spesifiek die viroloog dr. Christian Drosten het sedert Maart 2020 daagliks nuwe vreesboodskappe verkondig en die pad voorberei vir die wye aanvaarding, selfs steun vir ’n streng grendelstaat. Dit pas hierby dat Drosten die Bundesverdienstkreuz, die hoogste toekenning van die staat ontvang het vir sy “baanbrekerswerk” in die koronapandemie. Die nasionale departement van gesondheid het weer op sy beurt Google gevra (en betaal) om hul algoritmes so te stel dat mense wat internetsoektogte oor korona en gesondheid doen, eerste op die bladsy van die gesondheidsdepartement land, om seker te maak dat hulle die “regte inligting” kry.

Merkel se raadgewers oor die koronapandemie is almal mense wat gedurig die ergste voorspel en is uitgesproke voorstanders van die streng grendelstaat. Onder die politici is diegene wat die strengste maatreëls bepleit die gunstelinge van die media en sit in elke televisiedebat en word sodoende ook deur die bevolking as besonder oortuigend waargeneem.

In ’n land waar geloof en die kerk bykans geen rol meer speel nie, het die wetenskap die rol van godsdiens ingeneem en die wetenskaplikes dié van hoëpriesters. Anders as by ’n godsdiens, waar ’n absolute waarheid (of wat daarvoor aangesien word) verkondig word en nie daaroor gedebatteer moet word nie, leef wetenskap juis van gedurige debatvoerings en afwykende menings en bevindings. Daar kan hoogstens ’n tydelike waarheid wees wat later deur nuwe insigte vervang word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Therese ·

Interessant, en terselfdertyd teleurstellend, dat selfs die Duitsers toegee aan die Covid-histerie.
Vir een of ander rede het ek intelligenter, meer oorspronklike denke daar verwag?
‘Vorsprung Dürch Technik’, of so iets.
Die totale waansin om ‘n stad, staat of land se ekonomie tot stilstand te ruk met elke vlaag positiewe Covid-toetse, is die finale bewys dat wêreldwyd die kluts kwytgeraak is.
As politici(staatsamptenare) hul salarisse moes opoffer, soos mense in die gasvryheidsbedrywe, sou dalk twee keer gedink word oor die dwase besluite.
Is “lockdown” wragtie die enigste strategie teen toekomstige nuwe griepvirusse?

Anoniem ·

Wêreldwye “voorbereiding” van mense om totaal afhanklik van die staat te wees, aangesien ekonomië vernietig gaan word en niemand meer na hom/haarself sal kan omsien nie. Dus die grootste “voorbereidingsfase” van mense slawerny in die geskiedenis van die mensdom. Die keuse is ons s’n om daarby in te val of iets daaraan te doen. Hiermee sê ek nie dat regerings en mense onverskillig moet wees en die pandemie ignoreer nie, maar ons kan nie toelaat dat alles wat ons as mensdom oor die eeue heen opgebou het deur 1 pandemie vernietig word nie.

Karel Kobus Kruger ·

Die mensdom gaan te kere asof homo sapiens n bedreigde spesie is. Elke dag daal die % covid sterftes eintlik, want elke dag styg die wêreldwye bevolking omdat die daaglikse geboortes die daaglikse totale sterftes oorskry.

Jedi Knight ·

Ek sien met afwagting uit na pro lockdown lesers se kommentaar op die artikel….

MT ·

Dankie vir ‘n interessante brokkie nuus, Sebastiaan.

Soortgelyke manipulasie van feite, aangevul deur mis-informasie, harde leuens, bedrog en ander politiekery is aan die orde van die dag, regoor die wereld. Dit wil voorkom asof alle Internasionale Organisasies hierby betrokke is, en dat daar met ‘n uiters goed-beplande proses besig is om ALLE ekonomie te verwoes (behalwe die van China).

Maar het ons nie soortgelyke ‘manipulasie van feite, aangevul deur mis-informasie, harde leuens, bedrog en ander politiekery’ in Suid-Afrika van die 60’s en 70’s en vroee 80’s gesien nie?

Ek verstout my om te se dat enige alternatiewe oplossings en menings eenvoudig verwerp is, nogal vanuit plaaslike en internasionale geledere.

Eden ·

Die Sjinese het die wêreld oorwin. Almal pas hul toesluit beleid toe, en die gewone burger word gedwing om in huisarres te sit. Dis regtig skokkend en sekerlik ‘n voorspel wat ons in die toekoms kan verwag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.