Die krisis van die Westerse beskawing

Dr. Koos Malan. Foto: Alet Rademeyer

Leopold Scholtz se Europese beskawing onder die loep, Maroela Media, 17 Julie 2019 toon ʼn gebrek aan insig in Westerlinge, met inbegrip van Afrikaners se grootste vraagstuk, naamlik die krisis waarin die Westerse beskawing verkeer.

Vir Scholtz is pres. Donald Trump van die VSA, Victor Orban, eerste minister van Hongarye, president Wladimir Poetin van Rusland, eerste minister Matteo Salvini van Italië, Thierry Baudet, leier van die Forum voor Democratie in Nederland, Geert Wilders van die Partij voor de Vrijheid (ook in Nederland), Marine Le Pen van die Rassemblement National in Frankryk almal bloot (ekstremistiese) populiste, “(baie) soos Julius Malema.”

Almal kan dadelik sien dat die Malema-vergelyking allermins die toets van ernstige politieke kommentaar deurstaan. Ernstige politieke kommentaar vereis dat politieke figure en beleid telkens op eie meriete behandel word, in plaas daarvan om ’n veralgemeende en nogal kwetsende vergelyking te maak.

Ek kan saam met talle kommentators breedvoerig uitwei oor die gebreke in Donald Trump se mondering; Geert Wilders se politiek vind ek dikwels erg onverstandig; teen Marine Le Pen sou ek ʼn klomp kritiek kan lewer (egter heelwat minder as teenoor haar pa); en Matteo Salvini is allermins my voorkeurpolitikus.

Thierry Baudet het ek twee maal persoonlik ontmoet. In sy middel dertigs het hy reeds sy merk gemaak as formidabele intellektueel en ʼn diepsinnige skrywer van etlike besondere insiggewende boeke, onder meer, The Significance of Borders: Why Representative Government and the Rule of Law Require Nation States en Oikofobie. De angst voor het eigene. Baudet is ʼn pleitbesorger vir Nederlandse soewereiniteit en vir die herontdekking en uitbouing van die grondslae van die Westerse beskawing. Oor sosiale aangeleenthede soos selfdegeslaghuwelike en dergelike kwessies is Baudet aan die liberale kant.

Viktor Orban is geleerd en welbelese en sy verdediging van die integriteit van die Westerse beskawing, verdien ons almal se ondersteuning.

Wladimir Poetin se outoritêre handelswyse strook allermins met die meeste van ons Afrikaners se demokratiese impulse. Rusland is vanweë sy Christelik-Ortodokse karakter nog altyd ten minste deels lotsgebonde aan die tradisionele Westerse Christendom, soos wat Wes-Europa vir lank bekend was. Juis daarom moet ons Poetin ernstig opneem wanneer hy kort gelede in ʼn breedvoerige onderhoud met die The Financial Times wys op die verwoesting wat die huidige laat-liberalisme in Wes-Europa saai. Op grond daarvan word Moslem-migrasie na Wes-Europa sonder meer toegelaat in die waan dat almal maar net eenderse individue is, sonder in agneming van die Christelik Westerse beskawingsaard van Wes-Europa (en Brittanje).

Die gemeenskaplike faktor in al hierdie figure is nie in die eerste plek hul sogenaamde populisme nie. Trouens om hulle bloot as populiste te beskryf, is ʼn niksseggende stelling wat slegs van onkunde getuig van die enorme uitdaging wat die Westerse beskawing toenemend in die gesig staar.

Van veel groter belang is dat al hierdie figure gemeen het dat hulle almal van die krisis van die Westerse beskawing bewus en vir dié beskawing in die bresse tree. Sommige toon nouliks meer as ʼn instinktiewe aanvoeling daarvoor en hul reaksie daarop is soms bruut en onnadenkend. Ander se begrip is helder en die reaksie kennisgebaseerd, welberedeneerd en oortuigend.

Hierdie figure is natuurlik nie die enigste nie. Daar is ook talle ander. Dink aan Jarosław Kaczyński en sy ontslape broer, Lech Kaczyński se Party vir Reg en Geregtigheid wat vir geruime tyd reeds met sukses die botoon in Pole voer. Toe Angela Merkel in 2015 in haar dwaasheid een miljoen Moslem-migrante in Duitsland verwelkom het, is slegs 568 in Pole toegelaat.

Daar is nog talle ander voorbeelde van nuwe soortgelyke eg-Europese partye wat oral opgang maak.

Ek noem hierdie figure en partye met hul beleidsrigtings eg-Europees juis omdat hulle die outentiek Europese beskawingsaard van Europa (en Noord-Amerika) onder beskerming neem. Dit is ook ons, as Afrikaners, se beskawing, met sy drieledige wortels in die Christelike godsdiens, die Griekse filosofie en geleerdheid en die Romeinse reg en administrasie, en wat sedert die elfde eeu tot die Christelike-Westerse beskawing uitgebou is. Steeds deur hierdie wortels gevoed, word dit ook gekenmerk deur ʼn sin vir persoonlike vryheid, regsoppergesag (in plaas van arbitrêre regering), verspreiding van politieke gesag en ʼn ondersoekende (intellektuele) gees, om enkele wesenseienskappe van ons beskawing aan te stip.

Dit is die beskawing wat in Europa gevestig is, in Noord-Amerika beslag gekry het en ook elders byvoorbeeld in Australië, Nieu-Seeland asook in suidelike Afrika neerslag gevind het. Dis ʼn beskawing van baie gemeenskappe, volkere en tale, waarvan al die lede ten slotte in wesenseienskappe van die Westerse beskawing geanker is. Waar die spruite van die Westerse beskawing hulself ook al mag bevind, is hulle lotsgebonde – ʼn lotsgebondenheid wat toenemend daadwerklik ervaar word.

Die Westerse beskawing is reeds geruime tyd onder druk. Sy grootste vyand is ongebreidelde liberalisme: ʼn liberalisme waarvolgens alle mense wesenlik dieselfde is. Dit is ʼn liberalisme wat die eiesoortigheid en besonderheid van die Westerse beskawing ontken. Dis ʼn liberalisme wat vyandig teenoor die Weste staan en wil likwideer – vernietig – en wat migrasie van nie-Westerlinge wil aanwend ten einde die Weste te laat verdwyn.

Egte Westerse intellektuele – en dit is ʼn groeiende tendens – en ʼn groeiende tendens van eg-Westerse politieke bewegings en politieke leiers reageer hierop deur ons Westerse aard en geskiedenis te definieer en dit te beskerm. Hulle ondersteun gewoonlik persoonlike vryheid, maar nie ʼn vryheid wat homself so roekeloos te buite gaan, dat dit ons beskawing ophef nie.

Die vyande van die groeiende herbevestiging en herlewing van die Weste – die uitspattige liberalisme, ondersteun deur die anti-Westerse dekolonisasiebeweging – is diep verontrus oor die nuwe tekens van lewe onder Westerlinge – ook onder Afrikaners.

Hulle ontplooi etlike strategieë daarteen by universiteite, vanuit geglobaliseerde sakereuse en die geglobaliseerde media. Skel, wanvoorstellings en beswaddering is ʼn integrale deel daarvan – skelwoorde soos rassis, (neo-)Nazi, fascis, verregs en dergelike ander – en belastering soos om, onder meer, politici wat die belange van die Christelik-Westerse beskawing verwoord, met die Malema-teerkwas te bevuil.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

45 Kommentare

Pierre Blignaut ·

Baie insiggewend en n akkurate beskrywing. Wat die liberales nie besef nie is dat veral Moslems nie sal afsien van hulle geloof en kultuur nie en hulle sienswyses sal af forseer waar ookal hulle sal opeindig. Die vraag is dus, wil die liberales een kultuur vervang met n ander?

Thinus Erasmus ·

Skote Petoors dr. Malan! My vraag is: hoekom word ń sterk en konserwatiewe leier met baie navolgers (soms die meerderheid kiesers) dan ń populis genoem? So paar jaar of dekades gelede was die linkses populiste, of is ek verkeerd?

Claas ·

Baudets ideeën over de ondergang van of in crisis in de westerse beschaving zijn in Nederland zeer omstreden. Voor de opkomst van het populisme bestaan verschillende verklaringen. Een steekhoudende verklaring lijkt mij de mondialisering van de wereldhandel. Hierdoor is veel laaggeschoold werk uit West-Europa verdwenen, wat tot onrust heeft geleid bij een deel van de bevolking. Een goede voedingsbodem voor het populisme.

Frans C ·

Omdat ons in Suid Afrika bly is my vraag wat voel die swart bevolking vir die Westerse
beskawing?Volg die huidige ANC-regering maar nie net in die voetspore van Angela Merkel nie en word die nakomelinge van diegene wat die beskawing hier kom vestig het,maar nie net verdra vanweë die voordele veral op lanbou en ander gebiede en tegnologie wat daarmee gepaard gaan.

Noudat alles op die rand van ineenstorting staan word die handhawers van die Westerse beskawing beskuldig dat hul die oorsaak daarvan is en word selfs uitsprake
van wit regters deur ekstremiste verwerp.

John ·

Ja Koos, ja. Ons is terug in lank gelede… eeue ver gesink tot daar waar die Israeliete was voor Moses die Wette van die Skepper aan sy volk (en die mensdom) oorgedra het; riglyne vir seèn en geluk en voorspoed. Goddeloosheid en die eie-ek regeer nou weer; nog erger omdat die tv en pers die opperhand het; byna soos ‘n super-afgod wat almal om sy dooie pinkie draai. Oppas maar vir rotte, Koos. Jy is ‘n goeie kandidaat vir Big Brother se spervuur.

Ernst Roets ·

Dankie prof Koos. Ek dink ook daar is baie kritiek te lewer op al die name wat in die begin van die artikel genoem word. Om hulle met Malema te vergelyk is egter bietjie vergesog. Dit is soos die nuwe tendens onder die linkses om almal van wie hulle verskil as Nazis te beskryf. Die Westerse beskawing is in ‘n interessante tyd. Daar is groot krisisse, maar ook nuwe geleenthede. Daar is sekere goed wat inderdaad omvergewerp moet word – soos die onrealistiese liberale idee dat die mens slegs ‘n individu is en niks nie nie, die idee van staatsafhanklikheid, die sogenaamde “estanblishments” in sekere lande ensovoorts. Mense soos Trump en Orban is ongetwyfeld daarop uit om sekere goed omver te werp. Om sekere goed omver te wil werp is nie dieselfde as om “alles” omver te wil werp, soos Malema nie.

Krisjan Lemmer ·

Dit is nie altyd die beste leiers wat na vore tree nie maar soms die mindere man met die hart van n leeu. En ja dit gee soms eienaardige klankies af maar eerder n man met moed wat dinge gedoen kry as n lam wie se opinie in die vergetelheid verdwyn.

Donovan ·

Om te besluit of om “goed omver te werp” positief of negatief is moet ons weet WAT hierdie goed is. Sover het Trump gepoog om die 99.9% links en valse hoofstroom media, onwettige immigrasie, uitbuiting van die VSA ekonomie deur Sjina asook staatsbefondsde, genormaliseerde aborsie omver te gooi.

Net so poog Orban om die vernietiging van die familie/gesin, onwettige immigrasie, druk van ‘n nie-demokratiese, nie-Hongaars verkose EU “parlement” wat hul wil bo die van Hongare afdwing, omver te werp.

M.a.w. beide weet presies wat hul doen, en is korrek.

Alfred ·

Uiteindelik iemand wat die huidige bedreiging vir die Westerse beskawing op ‘n intelligente en ingeligde manier verwoord. Vrede en veiligheid vind sy beslag in grense-net soos kinders wat sonder grense grootword, later ongedissiplineerde en nuttelose burgers word, net so word lande wat hul grense versaak en oopstel vir almal in die naam van naasteliefde en medemenslikheid. Ou Leopold sit nog veilig in Europa juis agv hierdie Westerse beskawing en raak dikwels baie “wyshede” kwyt oor SA omdat hy nog nie self die ondermyning van die Westerse beskawing aan sy bas daar voel nie. Daar moet maar soms nie te ernstig gekyk word na sy uitsprake nie-hy wil ook maar soos baie kommentators tog net nie polities-inkorrek wees nie. Sy uitsprake oor Trump spreek maar van onkunde en bevooroordeeldheid.

Wim ·

Dankie Alfred beter kon jy dit nie gestel het nie.Ek stem saam met jou .

Leopold Scholtz ·

Dankie, Alfred. Ek voel nou beter – as jy my geprys het, sou ek geweet het ek is op die verkeerde pad! (Ongelukkig weet ek nie hoe om ‘n – wat noem hulle dit – emotikon hier in te sit nie, so ‘n gesiggie met ‘n glimlag.)

Skerpspioen ·

Ek het lanklaas iets gelees waarmee ek so heelhartig saamstem. Enigiemand wat hiermee verskil is bloot moedswlligheid en oneerlik.

Müller ·

Baie goeie insig! As daar nie erkenning vir die mees permanente definisie van persoonlike identiteit is nie, sal dit net tot absolute sterilisasie van alle diversiteit en kreatiwiteit lei. Jean-Jacques Rousseau was banaal om te dink die natuurlike toestand van die mens is ‘n individu. Alles van menswees & die wetenskap bevestig ons fundamentele sosiale aard en diepste permanente behoeftes om in ‘n groep erken te word.

Leopold Scholtz ·

Koos, dankie vir ‘n prikkelende stuk. Ek dink jy verstaan my bietjie verkeerd – of dalk het ek my nie duidelik genoeg uitgedruk nie. Natuurlik is daar groot inhoudelike verskille tussen Trump-hulle enersyds en Malema-hulle andersins. Dis egter nie waaroor dit gaan nie. Dit gaan oor ‘n manier van denke. Jy ken waarskynlik die navorsing van Cas Mudde oor populisme as verskynsel. Dis daarop dat ek my baseer. Lekker week vir jou!

Boer-in-die-Wind ·

Jammer Leopold, ek het te veel van jou artikels gelees om vir die ‘n-bietjie-verkeerd-verstaan verskoning te val.

Ben Raubenheimer ·

Leopold, weereens n vriendelik versoek. Bepaal jou by Nederlanders se sake, ons stel regtig nie meer belang in wat jy oor ons en Trump te se het nie.

Arend ·

Wel gedaan aan Prof Koos wat Scholtz se vooroordele so aan flarde geskiet het…

Helgard Muller ·

Dalk is dit beter om vir jouself te dink? Ek dink deel van die probleem met tegnokratiese liberalisme is sy beheptheid met “kenners” en politiek as tegnokraties beleid. Eerder as om meer fundamentele politieke vrae te vra. As mens verder krities wil wees, sal jy ook harde vra moet vra oor liberalisme se eie “hubris”. As alles dan so gesond is met moderne liberalisme – hoekom het ons populisme in meeste Westerse lande wat ‘n liberale geskiedenis het en hoekom bevraagteken dit kern uitgangspunte van die huidige liberale orde? Hoekom is ons nie by die einde van geskiedenis nie? Ek stel voor dit is omdat liberalisme van sy eie geskiedenis en Westerse beskawing vergeet het en besig is om kastele in die lug te bou.

Meeste “kenners” van populisme skryf dit af aan die ekonomie en immigrasie. Min vat ernstig op soewereiniteit, ontkoppeling van die gewone mens in liberale tegnokratiese politiek en kultuur. Dit gaan alles terug tot op die ou end ‘n konserwatiewe vraag – wie is ons, waarvoor staan ons en wat bind ons saam in hierdie politieke stelsel? Veral die instellings tussen die individu en die staat. Dit is die vraag wat die huidige liberalisme nie wil beantwoord nie en sukkel om te beantwoord…

Therese van Schalkwyk ·

Puik en uiters noodsaaklike, regstellende artikel deur dr. Malan!
Lesers wat dieselfde mening huldig, maar dit nie kon lug nie, voel nou so effe beter.

Jaco Kleynhans ·

Die probleem in die huidige Westerse politieke diskoers gaan oor die norm en wat as ‘n afwyking van die norm beskou kan word. In hierdie opsig slaan Professor Malan die spyker op die kop met sy verwysing na die krisis waarin die Westerse beskawing verkeer en wat hy as die norm van Westerse beskawing beskou.
Immigergewilde leiers soos Viktor Orban van Hongarye en Matteo Salvini van Italië is myns insiens juis klassieke konserwatiewes. Want want beteken konserwatisme dan nou weer? Mos juis om die goeie te behou. Om dus die Westerse beskawing aan die hand van Professor Malan se drie kern kriteria te beskerm is myns insiens suiwer, goeie konserwatisme. Daarteenoor staan die neo-konserwatisme of in sommige gevalle sommer skyn-konserwatisme van leiers wat massa-immigrasie aanmoedig en die Westerse norme en waardes in Europa afbreek.
Ons kan gerus met groter waardering oor mense soos Orban, Salvini, Baudet, Kaczynski, Kurz (Oostenryk) en ander soortgelyke leiers gaan lees. Die meeste van hulle is politieke leiers met ‘n sterk intellektuele en akademiese agtergrond wat nog altyd ekstremisme verwerp het.
Dankie Prof Malan vir ‘n belangrike wekroep!

Helgard Muller ·

100%, daar is self ook baie insiggewende liberale literatuur en argumente wat konsentreer op sosiale instellings se rol in die skep van liberale ordes van onder, eerder as van bo af deur ‘n “alleswetende” elite.

Op ‘n baie fundamentele manier kan mens die huidige konflik ook vanuit die perspektief sien. Wat gebeur is tegnokratiese liberalisme ontkoppel hom van die sosiale instellings en kultuur wat altyd liberalisme gevoed het en wat dit politieke legitimiteit gegee het. Maw, tussen die staat en die individu. Dit is juis baiekeer in die sfere waar die bedreiging meer tasbaar is vir gewone mense. Tegnokratiese liberalisme dink jy kan wegkom met ‘n vorm van politiek en argumentasie (rasionalisties) waar die reels gestel en afgedwing word van bo en waar pluralistiese instellings eintlik ‘n probleem is wat inmeng met die vorming van die liberale individu.

Dit is heeltemal andersom as die liberalisme van Skotland en selfs aspekte van die Amerikaanse tradisie wat ‘n baie belangrike rol sien vir die instellings tussen die staat en individu. Soortgelyk aan die vryemark stelsel is sosiale ruimte nodig om menslike feilbaarheid te oorkom en uitdrukking te gee aan plaaslike / sosiale kennis wat nie altyd uitdruklik gestel kan word nie. Daai raamwerk en sosiale kennis is dit wat konserwatiewe denkers wil bewaar en wil hervorm.

Theo van Burick ·

Absoluut uitstekende artikel – een van die bestes in ‘n lang tyd. Dankie aan Maroela vir die ewewigtige plasings.

Vaalseun ·

Koos, kan jy vir ons verduidelik wat jy bedoel met “beskawing” en “Westerse” beskawing, asseblief?

Therese ·

@Vaalseun
Vreemd dat ‘n Westerling dit nodig vind om te vra, maar lees weer die derde laaste paragraaf vir ‘n kort verduideliking.
Pragtige historiese muurpanele van die VSA president, Washington, loop nou gevaar om verwyder te word omdat dit aanstoot gee. Dis net een voorbeeld van duisende!

Jerry ·

Baie geluk met die vergelykings en goeie uiteensetting. Ek het wel Leopold se skrywe ervaar as vergelyking van die manier van denke van populiste waardeur n reguit lyn getrek kan word. Hoe dit ookal sy, julle is beide goeie navorsers en daar is altyd iets te leer uit julle skrywes. Die een hou van Trump se manier van dinge doen en die ander een nie. Die kruks is egter die anti-westerse dekolonisasiebeweging wat in SA totaal en al die oorhand het. Populiste of te nie, geleenthede of te nie, individu of groepie of te nie, die laaste vesting van die Christelike westerse beskawing ideologie in Afrika, is besig om teen n snelle tempo deur die verswelging van menslike getalle, te verkrummel.

Henry ·

Dankie vir ‘n kenmerkende, insiggewende skryfsel.
Dat die hedendaagse weergawe/konkoksie van liberalisme as ‘n vyand van nasionalisme ontwikkel het, is duidelik. Danksy leiers soos Trump, Orban, Le Pen, Johnson en andere wat boontoe op genoem word, ervaar die nuwe ‘liberaliste’ egter betekenisvolle teenstand.
Die kragte wat in die verlede die vestiging van nasionale state aangespoor en uiteindelik onafwendbaar gemaak het, is gelukkig steeds in die mens se psige aanwesig. Al die fensie fabels en stories van die nuwerwetse dogma wat as ‘liberalisme’ voort strompel, is besig om groterwordende teenstand te ervaar.

Petrus ·

Tot so ‘n paar eeue gelede was die Afrika kultuur en ekonomie goed gevestig, van die noorde tot die suide, met magtige leiers wat sake gedoen het met Europa en Asia, tot sover as China. Die leiers het gewine en dine met konings, keisers, en selfs die pous, imans en sutans. Gaan besoek maar museums in lande soos Egipte, Etihopia, Mali, Ghana, Marokko, Kenya, Zimbabwe, Ivoorkus en Sudan. ‘n Onbekende wêreld word daar vir Westerlinge oopgemaak, selfs op tegnologiese gebied.Toe kom Europese ondekkingsreisigers en Afrika word gekaap en gedwing om by die westerse kultuur aan te pas. Leiers is vermoor en verban. Die leierskap is verswak wat ook aanleiding gegee het tot die gebrekkige leierskap waarin Afrika vandag is, selfs hier by ons. Nou is die skoen maar net aan die ander voet. Dit is te betwyfel of westerlinge die kaping van die westerse kultuur sal oorleef. Terloops, China is bewus van dit.

Renus Steyn ·

Dankie Koos vir ‘n uitstekende en leersame artikel. Ten spite van die tragiese verswakking en verval van die Westerse Kultuurgemeenskap – en ek stem saam , ons Afrikaners se wortels groei ook daaruit, gedy die intellektuele standpunte om te verdedig en perspektief te gee. Ek bewonder die opkomende geslag intellektueles wat met nugterheid standpunte stel. Dankie nogmaals.

Jacques ·

Nationalisties populisme is aan die opkoms so ook konserwatisme, liberale steun en siening is aan die afneem wêreld wyd want al wat dit mee gebring het was globalisme en die aanval op godsdiens, volks en familie waardes. Mense is moeg, siek en sat daarvoor dit is waarom die leiers figure wat hy noem so goed vaar en die soos Merkel en ander vaal.

Charles ·

Uitstekend, dankie Prof. Malan. U skrywe moet verpligte leesstof wees.

Liberalisme en PC beteken die einde van die Westerse beskawing (met inbegrip van ons) en iemand moet dit STOPSIT!

John ·

Cas Mudde se naam klink eg Hollands en Hollanders is altyd slimmer as ander mense. Die Westerse beskawing staan mudde in die modder… Hy stem dus met ons saam, net, watter woordeboek het de knaapje gebruik? Dis my vraag. Populèr en populistes hou verband en dit verwys na gewild. Die sg populiste is dan juis ongewild by die massa; sukkel om hul idees oor te dra, veral omdat die nuuskanale hul met mening peper; menseregte as teenwig stel, juis die droom van die massa. Maar as Big Brother so sè moet ons glo: lelik is mooi en reg verkeerd. As mens mudde in die Nuwe Wèreld Orde se goeie boekies wil wees, moet jy saamspeel, of dis ‘n one-way ticket terug in die hede in die suide in your old home country. En onthou, hier moet jy krag en water spaarsamig gebruik…

Merkur ·

Het lekker gelag.
En hoe waar: mooi is lelik en reg verkeerd. Veral waar ek woon in Europa. Partykeer kry ´n mens die gevoel in ´n ope lug sanatorium te leef. Wat daardeur versterk word dat ons in hierdie gedeelte van Europa so erg eensydig met NWO- en moralisme propaganda deur die media gebombardeer word soos nêrens anders op die wêreld nie. (gelukkig is daar baie ander hier wat soos ek voel)
En vir my is Le Pen, Orban, Salvini en co die egte liberaliste.

Merkur ·

Of eerder: uit my perspektiewe is Le Pen, Orban, Salvini en co die egte liberaliste.

Kallie ·

Die Europa wat ons nou ken sal teen die einde van hierdie eeu nie meer bestaan nie. Die westerse kultuur sal net in geskiedenisboeke bestaan en Islam sal daar oorheers.

Janneman ·

“Give that man a Bells!” Uiteindelik ‘n kommentator wat die waarheid en werklikheid vasvat, en diegene wat leuens vertel oor ons Afrikaners en die Westerse beskawing aan die bek ruk. Ons benodig meer manne soos Prof Koos Malan en ook soos Steve

Jerry ·

Sjoe Kallie dis erg wat jy voorspel vir Europa wat deur Islam oorheers gaan word, maar eers darem teen die einde van die eeu! Dit is jammer dat jy nie ook se wat jy voorspel vir SA nie. Kom ek se jou wat ek vir SA voorspel het. Chaos en anargie deur die verswelging in menslike getalle, die einde van kolonialisme wat gaan plek maak vir nasionalisering en sosialisme. SA sal teen die einde van CR se termyn reeds n volwaardige derde wereldse demokrasie wees (sogenaamde sh?? hole) wat deur n liberale sosialistiese staat (anti-westers) regeer sal word. Die Afrikaner wat sy grond, eiendom en besittings verkoop het en ge-emigreer het gaan dus baie langer lewensvatbaar wees tot aan die einde van die eeu, as die Afrikaner wat steeds vasklou aan korttermyn lewensvatbare geleenthede in SA. Hoe dit ookal sy, daar is langer termyn lewensvatbare geleenthede vir Afrikaners, nie net in Europa, maar oor die wereld heen. Noudat SA reeds ontaard in n tweede Venezuela, nou is die wereld die Afrikaner se oester, al is dit ons nageslagte dan ook net beskore tot aan die einde van die eeu!

Kallie ·

Jerry, ek kan nie met jou verskil nie. Oorbevolking, watertekorte en besoedeling eis reeds sy tol. Ernstige voedseltekorte is volgende. Op die huidige trajek sal ongeveer 700 000 mense in SA teen die einde van die eeu na hulself verwys as blank, wat die definisie van blank ook gaan wees. Vandag se babas en kleuters sal dan aan die ouerige kant wees, en hulle middeljarige kinders en kleinkinders sal vir hulle moet sorg. Teen 2150 sal daar beswaarlik 20 000 oor wees, meestal afstammelinge van boere wat nog op plasies sal werkskaf. Hulle behoort tog goed te doen, net soos wittes in Tanzania en Kenya vandag. Niemand sal weet van Jan van Riebeeck, die Groot Trek, apartheid en Afrikaans nie. Of SA teen die einde van die eeu as land nog sal bestaan twyfel ek, want die kans is goed dat die spulletjie sal opbreek. Beskawings kom en gaan, dis maar hoe dit is. ‘n Duisend jaar op ‘n 13 miljard oue planeet is eintlik niks. Terloops, Islam sal ook maar ‘n plato bereik en dan verdwyn.

Francois ·

Jerry. Jy is reg en totaal ook verkeerd soos altyd. Jy is reg met jou voor die hand liggende waarneming rondom getalle. Waarvan jy egter boggerol van weet is die geskiedenis. 1. Geskiedenis het bewys dat niks reglynig is nie. 2. Jy is nie God nie en weet nie wat more behels nie. 3. Geskiedenis wys dat die Afrikaner elke keer sy uitdaging kon oorkom met vleuende vaandels en tans dit weer met mening pak. Laastens hou op om n bitterbek pessimis te wees. Julle ou pessimiste irriteer ons wat jonger is en die uitdagings pak. Bly eerder stil en vat die pad of beginne hoop propageer en leef.

Vaalseun ·

Therese, mag ek vra aan watter kerkgenootskap behoort jy?

Henning ·

Dankie Prof. Koos vir ‘n goed beredeneerde artikel. Ek lees al ‘n geruime tyd nie meer die onsamehangende twak wat deur die verkleurmannetjie Scholtz kwyt geraak word nie.

Bleek Willem ·

Stem saam met Dok Koos maar om Dok Leupold so te verguis en sy opinie net bloot te ignoreer of af te lag is myns insiens nie so gawe idee nie.

Ek heg meesal waarde aan sy uitkyk aangesien hy juis in die buiteland is en op voetsoolvlak sien, lees en hoor wat anderkant die Boereworsgordyn aangaan. Buitendien is hy ‘n welbeslese man met ‘n redelike oopkop.

Ons hoef nie met alles saam te stem nie maar die opinies moet gehoor word anders sit “ons” maar net en high five mekaar om die braairooster.

Om hom te verloor as ‘n

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.