Europese beskawing onder die loep

berlynse-muur

Foto: Photoholiday/Pixabay.com

’n Kwarteeu gelede, in die jare ná die val van die Berlynse Muur en die verkrummeling van die kommunisme, het kommentators dikwels na die krisis in die sosialisme/kommunisme verwys. Linkse ideë was dood en agterhaal; hulle moes nog net formeel begrawe word, was die gevoel.

Die toekoms het aan die liberalisme behoort – die liberalisme gedefinieer as die liberale veelparty-demokrasie, die vrye mark en die vryheid van die individu.

As ’n mens terugkyk, het dié liberalisme beslis baie trekke wat hom honderd maal verkiesbaar bo die sosialisme/kommunisme maak. Immers, die hele grondslag waarop die Europese kultuur en beskawing berus, is intens deur die liberalisme bepaal, wat ook die aard van die ná-Koue Oorlogse internasionale politieke orde beïnvloed het.

Maar niks in die geskiedenis is ooit staties nie. Deesdae hoor jy al hoe meer kommentators wat praat van die krisis in die liberalisme. Dit na aanleiding van die groei van regspopulistiese partye en bewegings in Europa en Amerika.

Miskien het die tyd aangebreek dat ’n mens die derde hoek in die Europese beskawing se polities intellektuele driehoek – die konserwatisme – krities onder die loep moet plaas. Beteken die opkoms van politici soos pres. Donald Trump en ander regse populiste die oorwinning van die konserwatisme?

Kom ons definieer dit eers. Die wyd gerespekteerde Londense nuustydskrif The Economist het vroeër vandeesmaand ’n temanommer aan die konserwatisme gewy en dié definisie van die filosoof Michael Oakeshott (1901-1999) as uitgangspunt gebruik:

To be conservative… is to prefer the familiar to the unknown, to prefer the tried to the untried, fact to mystery, the actual to the possible, the limited to the unbounded, the near to the distant.

Die tydskrif ontleed die verskil tussen liberalisme en konserwatisme dan só:

Edmund Burke (1729-1797)

Liberals say that social order emerges spontaneously from individuals acting freely, but conservatives believe social order comes first, creating the conditions for freedom.

Voor ons verder gaan, kom ons verwyder eers ’n misverstand wat wyd onder Afrikaners leef: Konserwatief is nie noodwendig regs nie. Tradisioneel wás dit wel so in Suid-Afrika, maar buite ons grense is die werklikheid anders.

Byvoorbeeld: Adolf Hitler en Benito Mussolini was albei twyfelloos regs. Maar met die beste wil in die wêreld kan jy hulle nie konserwatief noem nie.

Die begrip konserwatief kom van die Latynse conservare, of “bewaar” en sluit dus goed aan by die Oakeshott-definisie hierbo. Hitler en Mussolini wou nie bewaar nie; hulle wou juis alles op sy kop omkeer en verander. Hulle was regse revolusionêre en op hul eie manier ewe radikaal as Wladimir Lenin, Josef Stalin en Mao Zedong.

Moderne konserwatiewe en liberale staan nie noodwéndig altyd teenoor mekaar nie; in hul aanvaarding van die Westerse liberale veelpartydemokrasie en die kapitalisme vind hulle mekaar min of meer. Dis meer ’n kwessie van gradasie en nuansering as van egte prinsipiële verskille.

Die vader van die moderne konserwatisme, die Ierse filosoof Edmund Burke (1729-1797) is ’n goeie illustrasie. Ondanks die feit dat hy lewenslank ondersteuner van die Liberale Party (die Whigs) was, het hy die radikalisme van die Franse Revolusie (1789) skerp veroordeel, juis vanweë die chaos en onstabiliteit wat dit meegebring het.

In ’n pamflet teen die Revolusie het hy geskryf:

“The French have shewn themselves the ablest architects of ruin that have hitherto existed in the world. In this very short space of time they have completely pulled down to the ground, their monarchy; their church; their nobility; their law; their revenue; their army; their navy; their commerce; their arts; and their manufactures.”

In ’n brief aan ’n Franse kennis het hy die betekenis toegelig: “You have subverted monarchy, but not recovered freedom.”

Die verloop van sake in die jare hierna het sy gelyk bevestig. Nadat die Revolusie (in die woorde van die revolusionêr Georges Danton) “sy eie kinders opgevreet het” in die jare van die Terreur, het die diktatuur van Napoleon, die protofascis en voorloper van Hitler en Mussolini, gevolg.

Burke se soort konserwatisme was rasioneel en vir sy tyd baie verdraagsaam: Hy was ’n protestant met ’n Roomse ma en was dus – wat in sy tyd taamlik opmerklik was – ten gunste van godsdiensvryheid. Sy konserwatisme was nie ten gunste van ’n blinde behoud van alles nie, maar van ’n verstandige ewewig tussen die behoud van wat die moeite werd was en die noodsaak om by veranderende omstandighede aan te pas.

Dit herinner aan die beroemde woorde van pres. Paul Kruger: “Zoekt in het verledene al het goede en schoone, dat daarin te ontdekken valt, vorm daarnaar Uw ideaal en beproeft voor de toekomst dat ideaal te verwesenlijken.”

’n Mens sou Kruger inderdaad ’n Burkeaan kon noem.

Die probleem is nou dat die Burkeaanse konserwatisme in ’n politieke krisis vasgevang is. Dit word uitgedaag deur die populistiese bewegings – regs én links – wat hul kop in Europa en Amerika uitsteek.

Wat is populisme presies? Die akademikus wat dalk die meeste daaroor nagevors het, is die Nederlander prof. Cas Mudde, tans verbonde aan die Universiteit van Georgia in Atlanta. Hy meen populisme is geen goed deurdagte en uitgewerkte filosofie nie, maar dit bevat wel enkele gemeenskaplike kerngedagtes: Die belangrikste kloof in die moderne samelewing is ’n antagonistiese een tussen “die mense” (fundamenteel goed) en die “elite” (korrup, sleg en sonder voeling met die daaglikse lewe). Tweedens, alle politiek moet ’n uitdrukking wees van die “algemene wil”.

In die proses word mense se woede en gevoel van naderende ondergang, doelbewus aangewakker. Dit kan die volk (etnies gedefinieer) wees wat bedreig word, of ekonomiese welvaart. Altyd word ewenwel ’n sondebok (rykes, swart mense, Jode, wittes, Christene, Moslems) as die oeroorsaak aangewys, en mense se onverdraagsaamheid en haat teenoor dié sondebok word doelbewus uitgebuit. Ook speel die grootskaalse bewieroking van die leier ’n groot rol.

Mudde se analise word steeds meer in akademiese kringe gedeel.

Teen dié agtergrond kan ’n mens populiste soos Donald Trump van Amerika, Viktor Orbán van Hongarye, Wladimir Poetin van Rusland, Matteo Salvini van Italië, Thierry Baudet en Geert Wilders van Nederland, Marine le Pen van Frankryk en ander, wel in mindere of meerdere mate, as régs beskou, maar nié as konserwatief nie. Hulle wil nie bewaar nie; hulle wil juis alles omverwerp. (Klink baie soos Julius Malema!)

En saam met dié gematigde Burkeaanse konserwatisme is ook die liberalisme onder skoot.

The Economist sluit sy analise só af:

“At its best conservatism can be a steadying influence. It is reasonable and wise; it values competence; it is not in a hurry. Those days are over. Today’s right is on fire and it is dangerous.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

James ·

Se asb vir my Leopold – wie breek by ons af?
Die regses/ konserwatiewes s of ander?
Is dit nie waar dat die arme Europese lande ontevrede is dat hulle oorval word deur immigrante nie? Hierdie lot wat hulle so oorval wil Duitsland nie meer Duits het nie ens.

Stephan de S ·

Wat jy beskryf Leopold, is die gebroke mens se ewige gesoek na die waarheid en balans en die verskille tussen verskillende groeperinge se beoordeling van waarheid en balans. Solank as wat ons nederig bly in die wete dat ons net ten dele ken. Die vyand wat aangeval moet word(jou woorde) is dikwels ook filosofiese en lewens-en-wêreldbeskouinge wat mense vooringenome beinvloed …….dikwels onwetend. Akademici en geleerdes maak hul dikwels skuldig daaraan….omdat hul met so baie filosofiese idees te doen kry. Soms weet gewone mense dat daar êrens iets fout is met sekere redenasies maar is onmagtig om dit te formuleer. Die hooghartigheid waarmee dele vd pers hule idees op mense af forseer en die mag vd pers radikaliseer baie mense. Soms voel ek met alle eerlikheid dat die openbare media n mens molesteer. Interessant v ons samelewing is dat net n ligte oorveeg jou in groot moeilikheid kan bring maar herhaalde idee-molestering en vernietigende woorde is nie strafbaar nie.

Jacques ·

Nee Leopold, ek stem nie met jou saam nie. Mense soos Salvini van Italië, Orban van Hongarye of Le Pen van Frankryk is juis konserwatief. Hulle wil juis bewaar wat kosbaar is vir hul onderskeie volke, naamlik om die unieke identiteite van hul volke te bewaar, hul kultuur te bewaar, hul ekonomiese sekuriteit te bewaar, hul selfbeskikling te behou, godsdienstige Vryheid te behou, ens. Daar is niks radikaal hieraan nie.
Die mense wie wél radikaal is, is die linkses/globaliste wat daarop uit is om die kultuur en soewereiniteit van Europese state te vernietig. Mense wat bv. agter massa migrasie na Europa sit van mense wat nie versoenbaar is met Europeërs nie. Die mense wat tot dusver alles omver gewerp het is juis die liberaliste. Wat nou gebeur is ‘n terugkeer na gesonde verstand.

Herman G ·

Ja, ek byt baie swaer dat Trump of Orban ‘n groter bedryging inhou vir die Westerse Beskawing as die linkse progresiewe groepe, of die immigrante wat Europa instroom.

Trump, Orban en andere is ‘n gevolg van die weerstand wat gewone mense het teen die progresiewe beweeging, en die mense sien hulle as ‘n manier om die beskawing te behou.

Ter loops, die Economist is ‘n linkse blad wat die GFC in 2007 gemis het, en hulle noem hulself ekonome? Ek sal twee keer dink voordat ek hulle aanhaal.

Leopold Scholtz ·

Hoe laat jy my nou lag! The Economist links? Lees jy die blad ooit?

Herman G ·

Ek was ‘n intekenaar vir ‘n paar jaar. Ekonomies is hulle kapitalisties, maar polities definitief links. In 1 berig was hulle bly oor immigrasie van latyns Amerika want dit verander die VSA se demografie.

Hulle het by my geloofwaardigheid verloor toe hulle deur die GFC onkant gevang is. Ek onthou hoe beindruk hulle was met al die finansiele instrumente, wat toe op die einde op sand gebou was.

Herman G ·

Ek was ‘n intekenaar vir ‘n paar jaar. Ja, ekonomies is hulle kapitalisties, maar polities is hulle definitief nie konserwatief nie. Ek onthou hoe ek in die Economist ‘n berig gelees het, waarin die skrywer bly is dat immigrasie van Latyns Amerika die VSA minder wit gaan maak.

Itv die GFC, die Economist het baie goeie berigte geskryf oor finansiele instrumente wat gebaseer is op goedkoop lenings. Dit blyk toe baie van daai lenings is niks werd nie, iets wat hulle gemis het.

Jax ·

Nee Leopold, ek stem nie met jou saam nie. Mense soos Salvini van Italië, Le Pen van Frankryk of Orban van Hongarye is glad nie radikaal nie. Hulle is juis mense wat wil bewaar wat vir hul onderskeie volke kosbaar is. Hulle wil bewaar hulle unieke kulture, hul godsdiensvryheid, hul ekonomiese vryheid, hul veiligheid en sekuriteit. Hulle wil bewaar hul reg om oor hulleself te regeer. Hier is niks radikaal hieraan nie, dit is bloot normaal en natuurlik.
Die mense wie wél radikaal is, is die liberales/globaliste wie poog om die ganse Europa te ontneem van hul soewereiniteit as onafhanklike volke, Europa te oorstroom met migrante wie nie versoenbaar is met Europese volke nie. Nee Leopold, jy sit die pot mis.

John ·

…. baie meerwaardig soos ons Europeèrs ken en beslis meer kundig soos alle fopnuus-nuusdraers. Populiste probeer die gewone man se guns wen om ooreenkomstig die sg demokratiese resep om as leier verkies te word. Trump is beslis nie gewild onder die gewone inwoners, wat nou geredelik uit migrante en hul nasate bestaan nie. Binnekort sal daar meer Afrokane in die VSA op skool wees as wit burgers. 1984 is duidelik ‘n voorspelling van die toekoms. Leopold noem wit, swart en liberaal, konserwatief. Oppas vir die rotte mense!

Charles ·

Geagte Leopold, regs nie NOODWENDIG KONSERWATIEF NIE: maar kyk asb. hierna:

rightism =
noun, (sometimes initial capital letter)
conservatism, especially in politics.
reactionary principles, attitudes, or behavior.

Ek stem egter saam met jou dat Hitler in die opsig nie KONSERWATIEF WAS NIE MAAR WEL REAKSIONÊR WAS EN BOONOP DIE LEIER VAN ‘N SOSIALISTIESE PARTY WAS – TE WETE DIE ANDER KANT VAN DIE MUNT VAN DIE KOMMUNISTE WAT HY EN SY PARTY SO (MET GOEIE REDE!) VERAFSKU HET, – wat baie vreemd is – en dat daar beslis ‘n snaakse kruisbestuiwing daar plaasgevind het!
In VERREWEG die meeste gevalle is regs egter = konserwatief.
Dankie.

kla-kous ·

Baie goeie artikel. Ek stem egter nie met alles saam nie, veral nie oor *populisme* en die *gevaar* van die *regses* nie.

Baie van die denkstrominge is nuut geskepte drogbeelde om onlangse demokraties verkose leiers wat nie die elite se dagdrome koester nie, te ondermyn. Ewe skielik is daar ‘n regse afgrond wat wink. Dan is die *populiste* ook bereid om aangeleenthede te takel wat die linkses al dekades af van wegdeins nie, soos China, Israel, Iran en N Korea. Om immigrante (met die regte velkleur) in groot getalle toe te laat om funsionerende lande tot breekpunt te teister los ook nie die probleme op in die areas waar hulle vandaan kom nie- indeendeel dit neem alle inisiatief weg om wel daardie lande op te hef. Suid -Afrika se xenofobie is ‘n goeie voorbeeld van wat gebeur as jy werklikhede misken om ideologiese redes.

GB ·

Mens wonder ook hoe dood die sosialisme werklik is. Vandag is die sosiale wetenskappe by die meeste Westerse universiteite deurtrek met -ismes soos postmodernisme, postkolonialisme, feminisme – almal afkomstig vanuit die sg. kritiese teorie met sy sterk anti-Westerse sentimente. Die kritiese teorie het sy oorsprong in die Frankfurt skool wat gestig is deur Neo-Marxiste soos Weil en Marcuse. Marcuse het later die kritiese teorie na die VSA gebring en vandaar het dit soos ‘n veldbrand deur Westerse universiteite versprei.

Toe sosialisme nie in die Weste wou posvat nie, het Neo-Marxiste geglo dat Westerse waardes en kultuur in die pad daarvan staan. Kritiese teorie moes eers help om daardie waardes af te breek voordat die sosialisme kon groei. Met die klem op die “vryheid van die individu” het die liberalisme die kritiese teorie met ope arms omhels en gehelp om die anti-Westerse sentiment onderliggend daaraan te versterk. Baie Europese leiers van die afgelope dekades kom uit daardie tradisie.

Die kritiese skool is in sy wese populisites omdat dit groepe teen mekaar opstel, byvoorbeeld feministe teen patriargie, gay regte teen tradisionele gesinswaardes ens.

Die opkoms van konserwatisme vandag is ‘n reaksie op daardie radikale, populistiese beweging wat, danksy ondersteuning vanuit die liberalisme, so suksesvol besig is om die Weste te vernietig.

Jacques ·

Ek stem met jou saam. Sosialisme en Kommunisme is nie dood nie. Hulle probeer dit by die agterdeur inkry deur middle van Kultuur Marxisme. Wanneer morele waardes genoeg daardeur afgetakel is, sal die massas baie makliker volledige kommunisme aanvaar.

Charles ·

Dankie, die skrywe laat die gedagtes vloei: die probleem is uiteraard dat POPULISME, contra die slegte naam wat die hoofstroom manipulerende media daaraan wil toeskryf: BLOOT DIE VOLLEDIGE EWOLUSIE (gemeng met ‘n ordentlike porsie NASIONALISME) van DEMOKRASIE IS, EN DIE VRYHEID OM DIE politici/VERTEENWOORDIGER van jou keuse (verkieslik “burger presidente” soos Pres. Trump wat nie gekompromitteer is deur die hoofstroom elite en hul instellings nie en met die gewone man op straat praat) te verkies.
DIT is egter te veel vir die elite globaliste en hul korrupte, inhalige en SELFVOLDANE spreekbuise; en derhalwe die oormatige en verskriklike reaksie wat ons sien van die links-liberale, globalistiese en kollektivistiese, westerse wêreld-hatende oikofobetiese reaksie van hulle en hul gemanipuleerdes se kant af!
Dit spreek van ‘n ideologie en milieu wat op sy laaste is, en derhalwe die reaksie en geskree want die einde is naby.
Tradisioneel was liberalisme=links maar die linksheid wat ons vandag sien is ‘n verwronge monster daarvan(vandag se linkses is anti-vryspraak en ook VIR sensor-sien ANTIFA!)en helaas is dit nie meer die geval dat links=liberalisme nie.
Baie dankie.
Terloops,Sokrates het gewaarsku teen demokrasie in die vorm soos ons dit vandag ken, wat ‘n verwronge weergawe daarvan is.Daar was aan die einde van die 1990’s pogings om die elektorale/kiesstelsel in SA te hervorm,maar die pogings is deur die ANC regering gesmoor-EK WENS iemand wil daaroor skryf!

Peter Murray ·

Dis jammer dat die gemiddelde leser nie vir hom/haar self kan dink nie, en alles vir soet koek opvreet.
Die grootste gedeelte van die media behoort aan “diktators”. Hulle is die base. Hulle skryf voor. En niemand kan hulle teëgaan nie.
Ek mag nie name noem nie, maar die klomp van Wall Street swaai die septer.
Leopoldt Scholtz is n bekende in daardie kringe. Ek het hom nog nooit die afgelope 46 jaar ernstig opgeneem nie.
“Die tegniek van misleiding”, is n goeie beskrywing.
“Ondersoek alle dinge, en behou die goeie”.
Samuel Huntington het eendag gesê:”Slegs 4% Afrikaners dink”. (Die res is skape wat die verkeerde leiers volg).

Leopold Scholtz ·

Beste Peter, wow, maar nou vlei jy my darem. Dat ek ‘n bekende in Wall Street is, het my tot dusver ontgaan. Lyk my ek is baie invloedryker as wat ek besef het. Dankie dat jy my dag gemaak het!

Andreas ·

Leopold, dalk het hy jou met een of ander standbeeld daar verwar, so word jy nou al vereer.

Vaalseun ·

Baie dankie vir goeie insigte, Leopold.
As ek die kommentaar hierbo lees, lyk dit my dat daar ‘n goeie mengsel van onkritiese politiese dogma gemeng met blinde helde-verering is.
Jou artikel val saam met die maanlanding, gister 50 jaar gelede, ‘n jaar en half na die 1ste hartoorplanting. Was hierdie twee gebeure links, regs, liberale, konserwatiewe, fascistiese, kommunistiese, rewolusionêre of populistiese stappe vorentoe of agtertoe?
Wanneer politici en regerings saamwerk met die doel om ‘n beter toekoms vir die kinders van al die inwoners te skep, soos die Voortrekkers, Boere-republieke, Unie en Republiek regerings van die vorige eeu, kon ‘n land soos Suid-Afrika groei van niks tot die 18de grootste wêreld-ekonomie binne 3 eeue.
Die Westerse beskawing se groot les en riglyn was dat geestelikes, politici en heersers en die gewone werkers hulle moet losmaak van onkritiese dogma as magsinstrument. Die Westerse beskawing het vir ons die groot geskenk gebring van debat en ondervraging waarmee navorsing en projekte suksesvol afgehandel kon word. Sonder begrip vir die onskatbare waarde van kritiese ondersoek en kommentaar op al die fasette van die samelewing, loop elke nuwe geslag die gevaar om deur magsbehepte leiers gekaap te word, ongeag of hy of sy links, regs, liberaal of konserwatief is. Die resultaat is uiteindelik agteruitgang en ‘n swakker toekoms vir ons kinders.

Frans C ·

Daar is al baie geskryf,bv.Teen die einde van sy lewe, reeds teen die tyd dat Kuyper die leisels van die beweging begin oorneem het, lewer Groen in Augustus 1867 ’n toespraak by die vyfde algemene vergadering van die internasionale Evangeliese Alliansie. Hierin betreur hy eksplisiet wat hy beskou as die revolusionêre agenda van rassevermenging en afskaffing van politieke grense tussen verskillende volke as ’n middel tot die verkryging van absolute staatsmag:

Weet u, diepzinnige wijsgeren, wijze politici, weldoeners van het moderne Europa, wat u krijgt als u het nec plus ultra van uw utopieën zou bereiken? Dan krijgt u, als je het zo mag noemen, kleurloze naties zonder ruggengraat, bevolkingsgroepen, menigten, massa’s, samenraapsels van individuen, verzamelingen atomen, dan krijgt u stof dat modder wordt.

Dan krijgt u een materie die op tweeërlei wijze gebruikt kan worden. Huurlingen voor alle mogelijke vormen van òf anarchie òf despotisme. Zoals Vinet het uitdrukte: “vandaag rebellen, morgen slaven”. Dan krijgt u, met uw eenheid van gebied, taal en ras, de rassen waarover de Tocqueville het had in zijn bewonderenswaardige geschriften; schapenrassen met herders die hen naar de schaapskooi of naar de slager zullen leiden; die laten hen grazen in de vette weiden van de goddeloosheid en de zonde, om ze vervolgens het avontuur in te sturen: het bloedblad van de slagvelden. Dan krijgt u, kortom, de gruwelijkheden van een nieuwe wreedheid te midden van het meest verfijnde raffinement van de beschaving.

Marthinus Willemse ·

Leopold, ek verskil van jou tipering van Wladimir Poetin as populis. Hy is konserwatief, wat wil bewaar, nes die meerderheid Russe. (`n Lughawe is onlangs vernoem na Nikolaaas II.) Die liberale in Rusland beskou Poetin as gematig, omdat hy byvoorbeeld nie die stede Marijoepol en Odessa saam met die Krim wou annekseer nie.

Poetin wakker nie sy mense se woede aan nie. Hy motiveer hulle om te praat en te skryf sonder om vloekwoorde te gebruik, om respek vir die reg en hul moedertaal, en godsdiens te hê, om `n meer geestelike lewe te lei, sonder `n blinde gejaag na blink en rykdom, om gesonder te leef en minder alkohol te gebruik, om `n groter liberale demokrasie te bou, ensovoorts. Vir my is dit `n positiewe boodskap.

Christiaan Jooste ·

Die artikel is prikkelend en laat mens dink. Mens moet maar voortdurend jou eie standpunte toets en heroorweeg anders mis jy die werklikheid wat by jou verbygaan.
Dr Scoltz, een vraag wat wel by my opkom raak die tipering van die liberalisme. Uit die artikel wil dit voorkom of die liberalisme as die ideaal voorgehou word, die konserwatisme gekwalifiseerd verdra kan word en die populisme afgewys moet word. Ek is bevrees dat die foutlyne van die liberalisme dikwels versteek word agter die masker van vryheid. Die gevolg is dat die een se vryheid dan ten koste van ‘n ander se vryheid nagstreef word. ‘n Voorbeeld hiervan is die aborsie debat. Die vrou se vryheid om te kies kom ten koste van die baba se vryheid om te lewe. Dus is liberalisme maar net so bevlek en onvolmaak soos konserwatisme en selfs populisme. Ek dink dat die huidige stelsels roep om hervorming. Maar na wat is nog nie so duidelik dat ek dit in 79 woorde wat oor is kan beskryf nie…

Leopold Scholtz ·

Christiaan, ek het nie fout te vind met jou siening oor die verskillende rigtings en hul leemtes nie.

Leopold Scholtz ·

Vir Herman G. oor The Economist: Beste Herman, ek lees The Economist graag elke week, eenvoudig omdat hy stewig in die gematigde politieke midde is. Jy sou die artikel waaruit ek aangehaal het, kon sien as ‘n ode aan die gematigde konserwatisme. Dis trouens waar ek my tuis voel – by die gematigde midde. Maar ja, as jy self op die uiterste regterkant van die politieke spektrum staan, is alles wat links van jou is natuurlik nie in die midde nie, maar links. Ek begryp jou nou beter. (Terloops, wat is die GFC? Ek is maar ‘n dommerige outjie.) Lekker naweek vir jou en mag dit lekker reen in die Kaap!

MTSteyn ·

Ek dink jy gaan ver moet soek om iemand te kry wat van jou gaan verskil, veral met betrekking tot jou eerlike bekentenis in jou voorlaaste sinnetjie.

Herman G ·

Haai Leopold, dalk is gemagtigde konserwatisme, soos skoonheid, in die oog van die kyker! (Ek weet, erg anglisisme, ek kan nie aan die Afrikaanse weergawe dink nie).

Die GFC is die Global Financial Crises wat in 2007/2008 uitgebreuk het. Die bom het gebars toe Lehman Brothers gevou het.

Al verskil ek met jou politieke sienings, geniet ek jou artikels. Maar ek geniet jou geskiedenis boeke meer (ek besit 2).

Groete

Reisiger ·

Leopold, Dankie. Uiteindelik ‘n poging tot objektiewe mening opgespoor in die media. Ek doen nie politiek maar Liberalisme blyk die nuwe geloof te wees in die weste. Toer jaarliks in Europa , die agteruitgang is ontstellend. Maar vir die Europese reisiger is die selfde waar van SA. So krimpende middelklas en agteruitgang seker waar in alle Liberale Demograsië. Ander reisigers sê weer die meer Nationalistiese lande is nog aangenaam om te toer. Poland, Hongarye, Oostenryk en Turkye bv. Nou self besoek aan Istanbul aangenamer gevind as Milan.
Maar Turkye het Nationalisme en Islam om die Gemeenskap se regte teen Menseregte en die Liberalisme te beskerm.

Jaco Prins ·

Ek vind dit intressant dat Leopold sosialiste soos Hitler en Mussolini as regs beskryf of eers assosieer met konserwatiewe denke. Hulle was nie een van die twee nie, nie in hul denke, markbeginsels of politiek nie. Eerder ver links…baie ver soos meeste tirannië en menseregte vergrypers wat miljoene laat omkom aan geforseerde ideologië.

Hierdie artikel is tipiese misinformasie wat deur oormatige linkse akademsie geskryf word om mense te verwar en te mislei. Dit is veragtelik.
Of miskien is die artikel geskryp as ‘n grap!

@Leopold Scholtz ·

Mnr Scholtz, jy is ‘n arogante en onverdraagsame mens.

Therese van Schalkwyk ·

Wanneer die filosoof Michael Oakeshott se definisie van konserwatisme gelees word, blyk dit dat die lys verdoemde “populiste” in die stuk een honderd persent voldoen daaraan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.