Die lang stryd vir selfbeskikking van Suid-Tirool

suid-tirool-berge-natuur

Suid-Tirool se landskap. Foto: Pixabay.com

As ’n mens oppervlakkig na die huidige Suid-Tirool kyk, lyk dit asof alles voorspoedig gaan en almal min of meer gelukkig is. Daar was egter ’n lang stryd vir selfbeskikking wat met veel opofferings gepaard gegaan het. Daar is verbasende parallelle met die Afrikanervolk se stryd vir vryheid teen magtige teenstanders.

Hierdie jaar is Suid-Tirool 100 jaar lank deel van Italië en dit was grootliks moeilike jare. Italië het sedert die oorname van die eens Oostenrykse streek Suid-Tirool in 1918 probeer om die gebied te veritaliaans om sodoende te verhoed dat dit ooit weer deel van Oostenryk sou word.

Die eerste paar jaar ná die oorlog het dinge nog aanvaarbaar vir die Suid-Tirolers voorgekom en is hulle in ’n mate met rus gelaat. Met die opkoms van die fascistiese diktator Benito Mussolini in 1922 en daarna, het dinge egter in die verkeerde rigting beweeg. Mussolini en sy voltrekker in Suid-Tirool, Ettore Tolomei, wou van die Suid-Tirolers Italianers maak en alle herinneringe aan Oostenryk uitroei. Oostenrykse simbole is verwyder en fascistiese simbole en geboue oral opgerig, veral in die hoofstad Bozen. Die veritaliseringswaan het so ver gegaan dat elke dorp- en straatnaam verander is, die Duitssprekendes is gedwing om in die openbaar Italiaans te praat en is selfs verbied om eie koerante, skole, organisasies en kerke te bedryf. Selfs hul name en vanne moes verander word om Italiaans te klink. Tolomei was vir die Suid-Tirolers, soos Alfred Milner vir die Afrikaners was, iemand wat met alle mag taal en kultuur van die verloorders wou uitroei en ’n eentalige ryk wou bou. Gelyktydig is op groot skaal arm Italianers uit die res van die land in Suid-Tirol, veral in die hoofstad Bozen gevestig, om die demografie om te draai.

Om die eie taal te bewaar, het Duitssprekendes ondergronds gegaan en sogenaamde katakombe-skole bedryf en in die geheim vergader om hul taal te praat. Oostenryk en Duitsland het nie tot hul taalgenote se hulp gekom nie, want hulle het self fascistiese regerings gehad wat met Mussolini op goeie voet wou wees. Terwyl Hitler elders, soos in Tsjeggië of Pole, die aantas van die Duitse minderheid se regte as rede tot oorlog gebruik het, het hy in die geval van Suid-Tirool sy medediktator sagkens hanteer. Trouens, hy en Mussolini wou die Suid-Tiroolse vraagstuk finaal oplos: die Suid-Tirolers sou tussen twee slegte opsies kon kies: emigreer na Duitsland en behou jou taal en kultuur, maar verloor jou heimat; of bly in jou heimat Suid-Tirool en word heeltemal Italiaans (laat dit ’n mens nie ook dink aan die Afrikaner se keuse tussen kulturele amalgamasie of emigrasie nie?). Die meerderheid het toe emigrasie na Duitsland gekies, maar die Tweede Wêreldoorlog het die uitvoering van die volksverplasing grootliks verhoed.

Beide Hitler en Mussolini is verslaan en dood, en die nuwe demokratiese regering van Oostenryk het nou opgekom vir sy volksgenote in Suid-Tirool en het hul regte in die Ooreenkoms van Parys met die demokratiese regering van Italië vasgeskryf. Die moontlikheid om Suid-Tirool terug te gee, het Italië egter van die hand gewys en is ook daarin deur die oorwinnaars van die Tweede Wêreldoorlog ondersteun.

Generaal Jan Smuts, destyds eerste minister van Suid-Afrika en prominent betrokke by die vredesonderhandelinge, was daarby egter aan Suid-Tirool se kant en het gepleit vir die teruggawe aan Oostenryk. Die deelname van Suid-Tiroolse vrywilligers aan Boerekant in die Tweede Vryheidsoorlog het ’n rol gespeel by Smuts se simpatie met die klein land.

Die probleem was egter die implementering van die ooreenkoms. Italië se eerste minister Alcide de Gasperi het die slim plan uitgedink om Suid-Tirool en die Italiaanse streek Trient, wat oorwegend Italiaanssprekend, maar ook eens deel van die Habsburg Ryk was, saam te voeg en het aan die nuwe streek Trentino-Alto Adige beperkte outonomie gegee. Omdat Italiaanssprekendes egter in die gesamentlike, nuwe streek ’n meerderheid gevorm het, het die outonomie vir die Duitssprekendes niks beteken nie. Hul strewe was deurgaans om die eintlike Suid-Tirool as outonome provinsie erken te kry met die leuse, Weg van Trient (en as uiteindelike doel, Weg van Rome).

Nog steeds het Italianers in groot getalle na Suid-Tirool getrek en van tweetaligheid en gelyke aanstellings wat beloof is, het in praktyk ook min gekom. Die Duitssprekendes het begin mobiliseer rondom die Suid-Tiroolse Volksparty (wat die rol gespeel het wat die Nasionale Party in dieselfde tyd vir die Afrikaner gespeel het) en het ’n politieke faktor geword. Met Silvius Magnago het hulle ook ’n onkreukbare, doelgerigte en vasberade leier gehad. Ook van Oostenryk se kant was daar druk op Italië via die Verenigde Nasies om die outonomiepakket te implementeer.

Party Suid-Tirolers het hulle self tot geweld gewend en het veral in die vroeë 1960’s deur middel van sabotasie op infrastruktuur die erns van hul saak beklemtoon. Van hulle is gevang en teen alle konvensies gemartel of vermoor, wat die bitterheid jeens Italië versterk het. Die koelkoppe het egter die beheer behou en ná volgehoue diplomatieke pogings kon daar uiteindelik in 1972 ’n nuwe outonomiestatuut tussen Oostenryk en Italië onderhandel word. Suid-Tirool het as provinsie met spesiale outonomie uit die greep van Trient gekom. Streng tweetaligheid en gelykheid wat aanstellings in die staatsdiens betref, het gegeld.

Dit het 20 jaar geneem om alles te implementeer en in 1992 het Oostenryk laat weet dat hulle tevrede is en die konflik as opgelos beskou. Die Suid-Tiroolse outonomiemodel word as ’n voorbeeld vir die akkommodering van minderhede beskou en, alhoewel daar altyd nog haakplekke tussen die taalgroepe is en party groepe as volgende doel onafhanklikheid of aansluiting by Oostenryk eis, is die meerderheid tevrede en beskou die lang stryd as uiteindelik deur sukses gekroon.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Hendrik ·

Telkemale word daar oor selfbeskikking, selfstandigheid, Plan B, ens geskryf waar daar net besef word dat daar net geskryf word oor die onderwerp. Waar daar ‘n wil is daar ‘n weg en daar is enkele plekke in S.A waar mense werk op hierdie oomblik na selfstandigheid, met Artikel 235 van die grondwet in die agterkop, om moontlik in die toekoms ‘n selfbeskiiking area te onderhandel met die regering. Die flou poging van Capexit gaan nie help nie en daar moet ‘n daadwerklike plan wees van al die rolspelers om die Afrikaner ‘n bestaanreg te gee vir die toekoms. Weereens vra ek die rolspelers soos Solidariteitsbeweging, TLU SA, Praag, Vollsraad en andere om by mekaar te kom dat ons hierdie droom van selfbeskikking kan realiseer. Daar kan ooral selfbeskikkings enklawes wees soos die ou tuislande en die slefbeskikkingsgebied hoef nie net op een sentrale plek te wees nie.

Eish ·

Ek deel jou sentiment in totaliteit.
Ons het uitstekende leiers aan die stuur van hierdie organisasies met bekwame personeel. Hoekom hul so sukkel om van hul troontjies af te klim en n sambreelorganisasie te stig met n gemeenskaplike doel sonder om enigeen se individualiteit prys te gee, gaan my verstand te bowe.
Baie dankie aan die artikelskrywer vir n werklik interressante skrywe waarmee ons onself mee kan vereenselwig.
Selfs al is die gebied van selfbeskikking op n sentrale plek, gaan ek. Al moet ek alles netso los en n skoonmaker in die plaaslike skool word vir kos, blyplek, n paar grepe data en n skoon tweestuk oorpak.

JC ·

Baie dankie Sebastiaan, dit was nou fassinerend! Veral die parallele wat op ‘n briljante wyse getrek is tussen die Suid-Tiroliers en ons geskiedenis en politieke ontwikkeling

Natuurlik gaan Afrikaners ook die pad van Suid-Tirool stap, veral wanneer ons gedwing gaan word om Mandaryns te praat-ja-dit gaan gebeur- gister het Sjina Suid-Afrika vir ‘n winskopie aangeskaf- en daarom beskou ek die artikel as besonders gepas, relevant en aktueel. Welgedaan daarmee!

Danie ·

Laat ons inspirasie uit hierdie en ander gevalle kry vir ons eie onafhanklikheid. Dit kom nie maklik nie maar is uit en uit die moeite werd.

Anita ·

baie interesant. Die navorsing na my Hugenote familie uit Lombardye, kom baie ooreen. Eers Oostenryk dan Italië en deel van Frankryk. Maar op die moment is daar sekere bewegings wat die Kaapprovinsie wil afskei, en die roep vir so iets word daagliks bespreek, ek self is daar voor, maar dit is die afstammelinge van die eerste Kaapprov. bewoners wat nou daarop begin aandring. As dit kan waar word !! hier is plek vir al ons minderhede met dieselfde lewens opvatting.

Basjan ·

Om af te stig is algemeen en daar is goeie rede en motivering om dit te doen, hulle moet net dit met volle vertroue volstoom aanpak.

JAN ·

Soos elders geskryf , kyk wat aan die gebeur is.:
Terwyl Soviet onteiening van tuislande wat begin is deur Vorster en nou afgehandel wil word deur Ramaposa … word staatsentiteite geprivatiseer agv bankrotskap en skuld en korrupsie en wanbestuur . Hulle probeer floreer op chaos sonder enige aanspreeklikheid — alle rasse.
Privatisering van Dorpies en woongebiede en behuisingskemas soos Myn dorpe en selfs Noord Wes provinsie deur die VN en Zululand… en grooot mega boerderye
Poskantoor en SASSA en Telkom en SAL en ESKOM .. en reuse sekuriteits nywerheid.. van elektronies, IT tot draad tot honde.
Die Chinese maak slegs van hul eie arbeid gebruik — skitterend !!
En die rondloperhonde sal verdwyn soos hulle ge-eet word

Jan ·

Die mense praat en praat nou al jare. Wanneer word dit nou gedoen?????? Elke dag lees ons van moorde op ons eie mense. Blanke mense wat die land moet verlaat. Wanneer gaan die Afrikaner hom afstig? Daar word net gepraat maar wanneer doen ons dit ???? Dit moet soos in die volgende paar jaar gebeur anders is daar niks meer oor om te red nie.

Herman G ·

Hitler het baie aan die Suid-Tirolers gedink, maar die artikel is reg, hy en Mussolinie was soos kettie en klip. Sy plan was eers was on die Suid-Tirolers in Pole te vestig (Duitsland het in 1939 die weste deel van Pole ingeneem en toe erg ver-Duits). Nadat hy Rusland ingeval het, het hy besluit ondie Suid-Tirolers in die Krim skiereiland te vestig, nadat hy sou wen. Dit het natuurlik nie gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.