Die leë blikke maak EFFe te veel geraas

EFF-ondersteuners by die Giant-stadion in Soshanguve tydens die bekendstelling van die EFF se verkiesingsmanifes (2 Februarie 2019) (Foto: Brenda Masilela/ANA)

Deur Monica Mynhardt

Dit het hierdie verkiesingseisoen baie duidelik geword dat die partye wat die meeste sê, die minste sin maak. Met ’n verkiesingsmanifes van 170 bladsye was die EFF die perfekte voorbeeld hiervan. Met ’n uiters omvattende, dog uiters vae plan van aksie vir die komende jare, het die EFF honderde absoluut onvervulbare beloftes aan hul voornemende kiesers gemaak. Hierdie ideologiese uitgangspunte moet egter in die lig van hul politieke modus operandi bestudeer word ten einde vas te stel waartoe hulle werklik in staat is.

’n Politieke party se gevaarlikheid hang immers van sy daadwerklike doeltreffendheid af. 

Die EFF in teorie

Die EFF en hul Afrika-nasionalisme het met die deur in die huis geval met ’n foto van hulle “Son of the Soil”, Julius Malema, wat lewensgroot op bladsy vier pronk. Ná die foto en lywige voorwoord, wat eindig met “Revolutionary Regards”, spreek die res van die dokument luidkeels van die suiwer kommunisme wat hulle aanhang.

Die EFF bevestig ruiterlik waarom rooi waarlik die enigste kleur is wat hulle kán dra. Eerder as om bloot hooffokusareas te stipuleer, het die hulle ’n volledige plan van aksie van die EFF-regering uiteengesit. Regdeur die manifes word beskryf wat die EFF-regering alles gaan doen en gee. Hierdie oneindige lys beloftes en doelstellings wat álles deur die regering vervul en bereik gaan word, skets die prent van ’n party wat oor absolute mag wil beskik en elke aspek van elke burger se lewe wil dikteer.

Die slagspreuk “Our Land And Jobs Now” oorheers hul verkiesingsveldtog. Hierdie dringende fokus op grondbesit en werkskepping is weens die feit dat swart mense vandag steeds nie volkome bevry is nie. Die manifes verduidelik dat hoewel swart mense stemreg in 1994 verkry het, hulle steeds vasgevang is in ’n wit beheerde ekonomiese apartheid. Hoewel die EFF sê dat hulle slegs ekonomiese emansipasie vir hul mense wil hê, spreek die manifes eerder van ’n party wat outonome en absolute beheer oor die ekonomie wil hê. Hulle wanpersepsie oor watter absolute afwésigheid van vryheid ’n kommunistiese bestel teweegbring, is kommerwekkend.

Die sewe pilare waarop hulle hierdie plan van aksie skoei is:

  • Onteiening sonder vergoeding;
  • die nasionalisering van strategiese sektore sonder vergoeding;
  • die opbou van staats- en regeringskapasiteit;
  • gratis onderwys, behuising, gesondheidsorg en sanitasie;
  • beskermde industriële ontwikkeling;
  • massiewe ontwikkeling van die Afrika-ekonomie; en
  • ’n deursigtige en aanspreeklike regering.

Die EFF wil die staat die absolute heerser en onuitputbare voorsiener maak. In nadere bestudering van hierdie pilare, word dit duidelik dat selfs één onderafdeling van één pilaar absoluut onhaalbaar en onvolhoubaar is vir ons land.

Eerder as om meer gunstige ekonomiese omstandighede te skep waarbinne werkgeleenthede outomaties geskep sal word, wil die EFF-regering ’n massiewe staatsgebaseerde werkskeppingsprogram van stapel stuur. Hulle sal alle werkloses “absorbeer” en vir hulle werk soek en gee. Hulle sal alle uitkontraktering van dienslewering staak en sodoende verseker dat staatsamptenare álles self doen. Dit gaan neerkom op nóg miljoene werknemers in die openbare sektor – iets wat dié rooi gevaar sal liefkoos en die land sal verwoes.

Iets wat ook nie verbasend is nie, is die feit dat die EFF rassisme wil kriminaliseer. Hulle wil die mees private dele van mense se lewens infiltreer en beheer – selfs hul gedagtes, idees en menings.

Wat onderwys betref, gaan alles gelukkig ook vir almal gratis wees op alle vlakke – kursusgelde, kos, verblyf, studiemateriaal, tegnologiese hulpmiddels en vervoer sal alles gratis wees. Daarbenewens, gaan hulle verseker dat elke skool in die land toegerus word met twee grasvelde, twee krieketblaaie en ’n swembad. Die beloftelys gaan nimmereindigend aan.

Een ding is wel baie duidelik: die EFF het nie toegelaat dat feite of die werklikheid die verreikendheid van hulle drome beïnvloed nie. Hulle absurde doelwitte is oneindig. Die probleem is nie die EFF se fokusareas nie, maar eerder die wyse waarop hulle probleme wil oplos. Hulle suiwer kommunistiese aanslag spreek van ’n party wat nie die vaagste benul het hoe om ’n land op ’n vry en volhoubare manier te regeer nie. Die EFF het beslis ’n plan van aksie weergegee – ’n plan om ons land onomkeerbaar te vernietig.

Die EFF in praktyk

Niks van hierdie uitgangspunte is egter ’n verrassing nie. Om te bepaal watter wesenlike bedreiging hulle vir ons land se vooruitgang inhou, moet ’n mens egter kyk na wat hulle in praktyk kán doen.

Die EFF sien hulself as ’n party wat “kleurrykheid” na die parlement gebring het en die politiek “modieus” gemaak het. Hierdie kan eerder vertaal word as “anargie” en “skynheilig”.

Hierdie party hang chaos aan en floreer daarop. Hulle is magsbehepte populiste wat ideologieë verkondig waarvolgens hulle geensins sélf kan of wil leef nie. In ontwerpersklere staan en spreek hulle massas ondersteuners toe oor hoe wit monopolie-kapitaal die euwel is wat swart mense onderdruk terwyl hulle dit eintlik self ruiterlik ondersteun. Op beleid beoordeel, is die party besonders radikaal en ’n wesenlike gevaar vir enige magsposisie. Die EFF se radikalisme is waaraan hulle suksesse én mislukkings toegeskryf kan word. Hulle is ’n heenkome vir ’n klein groep linkse radikales. Die EFF is aggressief in beleid en optrede. Hulle kon egter soveel meer steun geniet indien hulle effe na die politieke sentrum sou skuif. Daar is ’n groot gedeelte ontevrede en konserwatiewe ANC-kiesers wat na die EFF sal oorskuif as hulle meer gematigd is. Gelukkig stel die EFF nie hierin belang nie. Hulle het dit duidelik gemaak dat radikalisme inherent tot hulle aard is. Dít sal vir die voorsienbare toekoms genoeg wees om die drastiese groei van hul party te inhibeer.

Een van die EFF se grootste wapens is hulle leier. Ongeag of jy Julius Malema verafgod of verafsku, moet jy erken dat hy ’n uitstekende politikus en spreker is. ’n Groot gedeelte van die party se sukses kan aan hom en sy vermoë om mense strategies op te sweep, toegeskryf word. So radikaal as wat die EFF is, het hulle in net ses jaar tot die derde grootste party in ons land gegroei. In sy toesprake herinner Malema se woorde en charisma onomwonde aan ’n weergawe van ’n Afrika-Hitler. Sy vermoë om mense te mobiliseer en indoktrineer met hulle Afrika-nasionalisme, doelwitte van ’n radikale nasionale demokratiese rewolusie (NDR) en ekonomiese transformasie is prysenswaardig.

Dit wat die EFF se eksponensiële groei in die wiele ry, is hul oormatige fokus op radikalisme en oproerigheid. Hulle stel amper uitsluitlik daarin belang om gewelddadige chaos te veroorsaak.

Wat daadwerklike dienslewering en suksesvolle regering betref, skiet hulle liederlik tekort. Nóg op hul eie nóg in ’n koalisie het die EFF die vermoë om enige iets suksesvol te bestuur.

’n EFF-regering is egter nie die grootste bedreiging vir ons land nie. Hulle is duidelik te radikaal en onbevoeg om in so ’n absolute magsposisie te kom en bly. Wat hulle wel uitstekend regkry, is om die politieke klimaat onbeheersd te laat opvlam. Met roekelose retoriek en beleidvoorstelle stel die EFF nuwe uiterstes van die politieke spektrum daar. Namate die EFF se retoriek al sterker na links neig, trek hulle die ANC ook al meer links. Siende dat die twee partye in ’n groot mate vir kiesers en mediadekking kompeteer, lei die EFF se radikale neigings na die ANC se poging om by hierdie nuwe politieke norm te hou. Hierdie retoriese opsweping lei in praktyk tot die progressiewe radikalisering van ons land se beleidsraamwerk – iets wat Suid-Afrika nié kan bekostig nie.

Die gevolgtrekking

Die EFF is in wese ’n klomp radikale, oproerige kommuniste. Onder die gedeelte van die landsburgers wat daarmee vereenselwig, is hulle suksesvol. Hierdie is nie ’n party wat mag behoort te kry in Suid-Afrika nie – hulle sal ons ten gronde bestuur. ’n Oorwegend konserwatiewe Suid-Afrika gekombineer met ’n radikalistiese EFF beperk tans hulle mag.

Met ’n gevaarlik hittige politieke klimaat gaan dit egter interessant wees om te sien hoe groot die vlamme op beide punte van die ideologiese spektrum gaan wees hierdie verkiesing. In die tussentyd gaan die raserige retoriek voort – grootliks te danke aan dié leë blikke.

  • Monica Mynhardt doen tans ‘n internskap by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

marco polo ·

Hulle sal struggle tot in lengte van dae. As alles genasionaliseer is, waar gaan die geld vandaan kom?

John ·

… die Zim-drukkers is oppad. Waar al die papier vandaan gaan kom, is die vraag. Maar dalk gaan die biljoene-triljoene goudstawe in die Reserwebankkluise uitgedeel word… dit is mos wat die EFF op hoop. Interessant is die feit dat Malema nie ‘n woord rep oor arbeidsaamheid nie. Almal gaan kry… en kry… Wie gaan doen? Of is dit ‘n een-dag-plan en dan oor die idilliese, manjefieke en wonderlike afgrond stort… in style… expensive clothes, car, bags and watch…

Gys ·

Dis nie net hulle wat droom nie. Baie wittes het in 1992 ook oor “magsdeling” en “wigte en teenwigte” gedroom en gekwyl.

Andreas ·

En gister, op menseregtedag, het Julius in sy toespraak aan sy volgelinge Zimbabwe voorgehou as dié voorbeeld van ‘n suksesvolle land, omdat die mense daar almal grond het.

Boerboel ·

Klink te mooi!, maar sal nie werk nie, en hulle glo hom!

JMC ·

Sien anderdag hulle plakkaat met Jules se kiekie en die “Son of the soil” slagspreuk, toe dink ek dis nogal 100% akkuraat. Hy is mos ‘n kluit.

Steven ·

Hulle, die EFF is die voorvegters vir die ANC. Hulle doen wat die ANC begeer, maar nie kan vermag nie… soos grondonteiening.

Sal nie verbaas wees indien JM na verkiesing oorstap ANC toe nie… en die 2de fase vd revolusie begin nie… soos Joe Slovo dit beplan het…

Rooi ·

My keel trek toe as ek die berig lees en net weer besef hoe piepklein die gesonde verstand van die outjies in rooi is … alles sal verniet wees … grond gaan uitgedeel word en volgens hulle die ekonomie ‘n boost gee???????? Waar gaan die fondse vandaan kom vir gratis “alles”??? Hulle dink dis ‘n fonteintjie wat net nooit gaan leegloop nie. En sy klein brein volgelinge glo elke woord wat die sot sê. Wat het van die VBS skandaal geword? Hyt net sy betrokkenheid ontken en almal aanvaar dit nou net so. Tot sy zombie volgelinge. Korrup. Siek. Stupid. Soos grond ja … soos grond …

Gert ·

Gelukkig wil hulle rassisme kriminaliseer, dan is ons ontslae van die hele spul!

Andrew ·

Hulle leier het darrem ‘n plaas in Limpopo gekoop. Alles is reeds op dieselfde pad, net beter.

Chris ·

Ek voel soos ñ “fool” om te dink dat daar hoop is vir hierdie land!

SuidkusTannie ·

As daar ‘n wet is wat staats en regeringsamptenare verplig om slegs staatsinstansies, soos skole, hospitale, vervoer, of watter staatsinstansies ookal, te gebruik, behoort dit beter te gaan in SA. Glo nie elke jan rap en sy maar gaan die land wil regeer nie.

marco polo ·

Tannie, as jy wakker skrik, gaan jy groot skrik. Wette beteken niks vit die spul nie en ja, almal wil regeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.