Die militêre aanwending van kunsmatige intelligensie

Foto: Pixabay

Een van die gonswoorde van die afgelope dekade is “kunsmatige intelligensie” (KI).

Universiteite, maatskappye, die leër en state streef almal koorsagtig daarna om ’n KI-strategie aan te neem en te implementeer. Trouens, daar bestaan reeds ses internasionale KI-strategieë (onder meer, dié van die Internasionale Kunsmatige Intelligensie Studiegroep, die Charlevoix Gemeenskaplike Visie vir die Toekoms van Kunsmatige Intelligensie, en die KI-ooreenkoms tussen die Verenigde Arabiese Emirate [VAE] en Indië), terwyl 18 state reeds KI-strategieë ontwikkel het.

Maatskappye, op hul beurt, sal teen 2023 na beraming $97,9 miljard aan KI-sagteware en -platforms bestee. Universiteite is daadwerklik besig om KI-kursusse te skep en om te besin oor die ontluikende strategiese potensiaal van KI. En weermagte, veral dié van die Verenigde State van Amerika (VSA), China en Rusland, wedywer meedoënloos om kommersiële ontwikkelings in KI in militêre voordeel om te skakel.

Gedurende 2017 wys die Russiese president Vladimir Poetin daarop dat dié staat wat die wedloop in KI wen, die wêreld sal regeer, ʼn stelling wat ʼn genoegsame konteks skep vir die wedywering om die militêre aanwending van KI deur die VSA, China en Rusland. Vir Poetin word nasionale oorheersing in KI met wêreldoorheersing gelykgestel. Vervolgens word KI – ʼn sambreelterm vir ʼn groep tegnologieë wat masjiene bemagtig om sodanig “op te tree” dat die mensdom dit as intelligent beskou as hy/sy dieselfde ding sou doen – dikwels (verkeerdelik) gesien as ʼn unitêre tegnologie met ʼn rewolusionêre impak soortgelyk aan die ontwikkeling van die atoombom.

In ʼn studie oor die militêre aanwending van KI, wys Niklas Masuhr egter tereg daarop dat die analogie met die atoombom ʼn uiters verwronge prentjie skets. ʼn Meer geskikte analogie, meen Masuhr, sal wees om die ontwikkeling in KI naas die ontwikkeling van elektrisiteit of die ontstaan van die internet te plaas. Laasgenoemde ontwikkelings het weliswaar alle aspekte van die mensdom beïnvloed, maar dikwels op teenstrydige maniere. In der waarheid, soos die Amerikaanse teoloog en realis Reinhold Niebuhr uitgewys het, hou elke nuwe tegnologiese ontwikkeling die potensiaal van beide goed en sleg in.

Masuhr noem verder dat die debat oor die militêre toepassing van KI dikwels oor die gebruik van sogenaamde selfstandige wapenstelsels (of gevegsrobotte) woed. Dié wapenstelsels sal in staat wees om ʼn militêre teiken op te spoor en te verwoes, sonder enige besluitnemingsrol vir die mens.

Vandag wil ek egter kyk na ʼn aspek van die debat oor die militêre aanwending van KI wat dikwels misgekyk word, te wete, die wyse waarop KI militêre opleiding en struktuur enersyds, en militêre operasies andersyds, kan beïnvloed. Hiér is veral masjienleer – waarskynlik die bekendste subkategorie van KI – tersaaklik. Gesigsherkenningstegnologie (facial recognition) of kunsmatige spelers in aanlyn bordspeletjies of rekenaarspeletjies dien as eenvoudige voorbeelde van die aanwending van masjienleer. Tans slaag masjienleertoestelle hoofsaaklik daarin om bestaande take te vereenvoudig (dié toestelle neem waar en verbeter hulself deur hul eie programmering te herskryf), eerder as om self nuwe take te onderneem.

Hoe raak KI – met spesifieke verwysing na masjienleer – militêre opleiding en struktuur?

Allereers, KI kan gebruik word om elke soldaat se kurrikulum volgens persoonlike behoeftes aan te pas. Leerwyses verskil van student tot student. KI kan, byvoorbeeld, gebruik word om dieselfde konsep op verskillende maniere (hetsy wiskundig, visueel of deur sportmetafore) te verduidelik, afhangende van die betrokke student se leerwyse. KI kan ook ingespan word om virtuele of werklike oorlogsoefeninge meer realisties en uitdagend te maak, waaruit nuwe operasionele konsepte en taktiek kan voortspruit. Deur KI met ontwikkelings in skynwerklikheid (virtual reality) te verbind, kan die taktiese opleiding van soldate kwalitatief verbeter.

Die inspanning van KI in militêre operasies beloof om heelparty veranderinge teweeg te bring. ʼn Onlangse rekenaar-oorlogsimulasie deur die Amerikaanse Leër se krygsoefeninglaboratorium wys dat die versterking van ʼn infanteriepeloton met KI-hommeltuie en -robotte ʼn tienvoudige toename in slaankrag teweeg kan bring. Verder word daar verwag dat die spoed waarteen weermagte data vanaf die gevegsterrein insamel, kategoriseer en analiseer met rasse skrede sal toeneem. Dink byvoorbeeld hier aan die wyse waarop gevorderde KI-hommeltuie byna oombliklik foto’s en seine aan verskeie ontvangers gelyktydig kan stuur.

Die verbetering in die tegniese vermoëns van hommeltuie hou ʼn ander gevaar in, te wete, dat die ontrefbaarheid van kernwapenstate se tweede slaanaanval (dit is, die vermoë van ʼn kernwapenstaat om ʼn eerste slaanaanval met genoegsaam kernwapens te oorleef om sodoende die aanvaller met ʼn kernaanval te vergeld) besig is om te kwyn. Toenemend word KI gebruik om voorheen onsienlike en ontrefbare kernduikbote en sluipbomwerpers op te spoor, ʼn situasie wat die moontlikheid van kernoorlog dramaties verhoog.

Masjienleer en verwante toepassings sal na alle waarskynlikheid ook ʼn beduidende rol speel met betrekking tot menslike werkverrigting, ʼn area wat tradisioneel ʼn groot tol eis betreffende menslike hulpbronne en tyd. Heelparty van die tydrowende aktiwiteite met betrekking tot die beplanning van verkenningsvlugte en patrollies, logistieke organisering, en administratiewe take kan deur die inspanning van masjienleertoepassings meer doeltreffend en heelwat vinniger aangepak word. Veral met betrekking tot militêre logistiek hou masjienleer baie potensiaal in. Trouens, die Amerikaanse Lugmag maak reeds gebruik van die sogenaamde voorspelbaarheidslogistiek, waar masjienleer gebruik word om meer akkuraat te voorspel wanneer vliegtuie herstel moet word.

Ten laaste kan ek noem dat groot vordering gemaak word met die outomatisering van transportvoertuie, wat beteken dat weermagte meer doeltreffend kan optree en soldate minder aan gevaar blootgestel word. Ofskoon selfstandige transportvoertuie ooit in ’n moderne gevegsterrein (dink, byvoorbeeld, aan die strate van Irak) kan funksioneer, is ʼn ope vraag.

President Poetin se stelling dat dié staat wat die wedloop in KI wen, dié wêreld sal regeer, is misleidend. Tegnologiese veranderinge het ongetwyfeld ʼn beduidende invloed op state se posisie in die internasionale stelsel, maar dit is nouliks die enigste faktor wat verreken moet word.

Bowendien, tegnologiese veranderinge speel altyd teen die agtergrond van politieke en organisatoriese kontekste af. Een gevolg hiervan is dat dit dikwels uiters moeilik is om diepgewortelde organisatoriese strukture en doktrines met tegnologie-gesentreerde konsepte te vervang. Die leër is by uitstek ʼn organisasie wat ʼn weersin in verandering het. Nietemin, stadig maar seker, met ʼn bietjie hier en ʼn bietjie daar, sal die toepassing van KI militêre strukture, opleiding en wapenstelsels verander.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eben Coetzee

Dr. Eben Coetzee is ʼn senior lektor aan die Universiteit van die Vrystaat se departement vir politieke studie en regeerkunde.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wielspore ·

Die gebruik van intelligensie gee vir die persoon of instansie voordeel bo ander omdat jou optrede ingelig en voorbereid is en op ‘n suksesvolle uitkoms gebaseer is.
In die weermag het ek geleer om dit toe te pas en tot vandag toe gebruik ek hierdie metode en dit maak jou ‘n intelligente verbruiker.
Dink uit die boks!

Marthinus W ·

Die mens wil masjiene met KI bou na hulle beeld, as hul slawe. En op `n dag gaan die masjiene weier om die mens se slawe te wees…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.