Die opleidingskaart moet die rassekaart vervang

Gideon du Plessis.

Die enkele praktyke waar wit werknemers bo swart werknemers bevoordeel is, wat vergoedingspraktyke en opleiding betref, is baie jare gelede om die onderhandelingstafel en deur wetgewing hanteer en uitgewis.

Daarmee saam is die posvlak van vaardige werknemers in die meeste sektore suksesvol getransformeer soos wat onder meer deur die mynbouhandves se indiensnemingsresultate weerspieël word. Dit ten spyt, bly die rassekaart ʼn gewilde instrument in populistiese vakbonde se onderhandelingswoordeskat.

Maar die rassekaart is ongelukkig nie tot die onderhandelingstafel beperk nie en het Numsa ʼn ruk gelede met ʼn staking by die Medupi-kragstasie gedreig en aangevoer dat Solidariteit se voltydse verteenwoordiger baie meer as Numsa se voltydse verteenwoordigers verdien. Ons het die betaalstrokies vergelyk en die teendeel bewys, naamlik dat ʼn Numsa-verteenwoordiger ʼn diskriminerende R25 000 per maand meer as sy Solidariteit-eweknie verdien omrede die werkgewer op dié manier goeder trou probeer “koop”. Numsa het die dispuut sonder ʼn regstelling van die feite teruggetrek.

Die voortgesette vals beweringe van rassebevoordeling om die onderhandelingstafel skep egter die grootste ongemak by Solidariteit en sy lede. Ter stawing van hierdie wanvoorstelling sal veral vakbonde soos die National Union of Mineworkers (Num), die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) en die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) steeds in onderhandelinge aanvoer dat hulle lede groter verhogings as die vaardige werknemers (meestal Solidariteit se lede) moet kry om die sogenaamde “apartheidsloongaping” te verklein.

Die voortgesette misbruik van die rassekaart is egter te wagte, maar die hartseer saak is werkgewers wat swyg en nie die beweringe weerlê nie. Die gevolg is ʼn voortsetting van die gevestigde praktyk waar vele werkgewers weens druk en politieke korrektheid steeds radikaal hoër persentasieverhogings in vergelyking met vaardige werknemers aan intreevlakwerknemers toestaan om die “apartheidsloongaping” te verklein, wat lankal nie meer bestaan nie.

Die gevolg is dat die vergoedingspakket van vaardige en ongeskoolde werkers in sekere poskategorieë nou baie naby aan mekaar is, terwyl die vaardige werknemers heelwat meer verantwoordelikhede het en werksdruk ervaar.

Die gevolg is ʼn toenemende tendens waar werknemers met veral kritieke vaardighede, wat voel hul word onbillik behandel, se skaars vaardighede hul eenrigting-kaartjie tot ʼn werk in die buiteland word.

ʼn Interessante verwikkeling is wel die spanning wat lank reeds aan die opbou is in die mynbousektor waar vaardige swart werknemers, wat eens in die laer posvlakke was en hulself opgewerk het, nou ongelukkig raak oor die kleiner wordende gaping in vergoeding. Die vaardige werknemers is tipies lede van die Num of Amcu en begin vervreemd voel.

Dit is egter nie deel van die populistiese vakbonde se DNS om effektief te beding vir hul vaardige lede wat se vergoeding grootliks aan toelae en uitsette gekoppel is nie. Dit was juis hierdie tameletjie wat tot die Marikana-voorval aanleiding gegee het toe die Num in Januarie 2012 by Impala Platinum-myn ʼn vaardigheidstoelaag, wat aan vaardige lede toegeken is, onder ongeskoolde lede wou verdeel en dit groot spanning veroorsaak het wat uiteindelik na Lonmin oorgespoel het.

Dit is ongelukkig nie net vakbondonderhandelaars wat in die uitgediende rasseretoriek vasgevang is nie. Prince Mashele skryf in sy rubriek in The Sowetan dat die rede waarom Solidariteit altyd die eerste is om werkgewers se loonsaanbod te aanvaar, is omrede Solidariteit se wit lede baie meer verdien as swart lede op dieselfde vlak.

Mashele se vals aantyging word weerlê deur ons deelname aan ʼn vorige rondte mynbou-onderhandelinge waar Amcu vir 5 maande gestaak het. Solidariteit-lede se hoofmandaat aan die vakbond was om eerstens vir ʼn lewenskosteverwante verhoging te beding wat nie werksekerheid in gedrang sal bring nie, en om tweedens vir ʼn verhoging van die aftree-ouderdom van 60 na 63 jaar te beding.

Terwyl populistiese vakbonde vir ʼn onrealistiese verhoging beding het, wat deur die rassekaart gemotiveer is en so die potensiaal van ʼn staking verhoog, het Solidariteit met sukses ʼn skikking bereik op ʼn inflasieverwante verhoging en is die aftree-ouderdom na 63 verhoog – sodoende het ons ʼn bykomende 36 betaalstrokies vir ons lede beding. Waarom moet ons dan die proses uitrek of gaan staak?

Tydens vanjaar se mynbou-onderhandelinge het Solidariteit suksesvol beding dat ons lede op vierde nywerheidsrewolusie (4NR) verwante opleiding geregtig sal wees wanneer ʼn mynhuis enige vorm van modernisering by ʼn myn implementeer.

Geen van die ander drie betrokke mynbouvakbonde het opleiding-verwante eise gehad nie, maar het weer op die verkleining van die apartheidsloongaping gehamer wat weereens ʼn staking tot gevolg gehad het. Weens die beginsel van geen werk, geen betaling wat tydens stakings geld, het die betrokke werkers hulself bloot armer gestaak.

By dieper ontleding is my gewaarwording egter dat die rassekaart, benewens die gevestigde aard daarvan, eerder op ʼn ideologiese gestremdheid dui en dit is verstommend hoe ideologie ʼn vakbondonderhandelaar kan verblind deur te glo alle intreevlak werkers word uitgebuit.

Terwyl die Num se minimum loon-eis van R15 000 en Amcu se R18 000 as minimum loon vir ongeskoolde werkers met aggressie aangedryf word, verdien sekere individue uit dieselfde geledere waarna vroeër verwys is reeds oor die R50 000 per maand omrede hulle deurlopend bevorder word vanweë hul ywer om nuwe vaardighede te verwerf.

Die blindekol is dan dat opleiding en vaardigheidsontwikkeling nooit ʼn primêre eis is van vakbonde wat ongeskoolde werkers verteenwoordig nie. ʼn Dubbelsyferverhoging bly die primêre eis en die onderliggende, selfsugtige rede daarvoor is die voordeel wat dit vir vakbond-inkomste inhou.

Waar Solidariteit se lidmaatskapfooi ʼn vaste bedrag is, beloop die populistiese vakbonde se lidmaatskapfooi 1% van ʼn lid se salaris. ʼn Verhoging van 12% wat vir lede beding word, beteken dus ʼn 12%-verhoging in die vakbond se inkomste – so onderhandel vakbonde dus ter wille van hul eie bankrekening.

Die populistiese vakbonde sal in die belang van hul lede en van die land hulle eie bevoordeling en uitgediende retoriek dringend opsy moet skuif en begin ag slaan op Nelson Mandela se siening dat “opleiding die magtigste wapen is wat gebruik kan word om die wêreld te verander”. Die waarde van kwaliteit vaardigheidsontwikkeling is juis die voordeel wat Sol-Tech en Akademia vir Solidariteit-lede en -ondersteuners bied, ʼn bemagtigingsinisiatief waarop geen ander vakbond aanspraak kan maak nie.

Daarom is dit in belang van lede van populistiese vakbonde dat die raskaart om die onderhandelingstafel met die opleidingskaart vervang word. Opleiding is die weg na ʼn beter lewe en die weg na daadwerklike bemagtiging van ongeskoolde werkers – vakbonde soos Solidariteit besef dit, maar talle populistiese vakbonde bied weerstand daarteen want opgeleide mense kan nie so maklik misbruik en opgesweep word soos wat tans die geval is nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bertie ·

Dis om van siek te word hoe die rassekaart uitgebuit word. Dis tyd dat die waarheid baie hard en duidelik begin verkondig word.

Jack ·

Ja dit is ‘n skande.Maar al verander die regering die gewone werker gaan NOOIT weer tevrede wees om ‘n werker se salaris te verdien nie.Die gewone werker gaan NOOIT weer annvaar dat mense met meer geleerdheid en kennis meer verdien as hulle nie.Die president is geskep en sal van krag bly tot die land ten gronde gaan.

Moedeloos ·

Skandelike dat n ongeskoolde werker eis n loon tussen R15 000 tot R18 000. Ek weet van vele gegradueerde kinders wat slegs R8 000.00 – R10 000.00 p/m verdien met geen byvoordele nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.