Die plek van litigasie in inter-gemeenskapsgeskille

In die lig van die besondere belang van die soos verwoord in die opskrif hierbo en met waardering vir onder andere drie jong regslui, Péter Wassenaar, Cilliers Brink en Willem van der Schyff wie se menings in hierdie ruimte weergegee is, neem ek graag die geleentheid te baat om verder breedvoerig die kwessie toe te lig. Die onmiddellike aanleiding van die huidige gesprek oor die rol en plak van litigasie ten aansien van die belange die belange van ʼn gemeenskap – in die geval die Afrikaners – is die Malema “haatspraaksaak.” Ofskoon hierdie bydrae na die saak verwys, is die bedoeling daarvan om ʼn meer algemeen geldende uitklaring van die rol van litigasie met betrekking tot inter-gemeenskapsgeskille en die politiek te bied. Aanvaar asseblief my verskoning vir die feit dat hierdie bydrae ietwat lank is.

________________

ʼn Prima facie erg beledigende slagspreuk teen Afrikaners wat onder andere insluit dat Afrikaners (Boere) geskiet moet word, kan nie ligtelik opgeneem word nie veral gedagtig aan die volgende faktore:

  • Dit kom van Julius Malema, die jeugleier van die African National Congress, wat verreweg die kragtigste politieke faktor in die huidige Suid-Afrika is.
  • Dis blyk gemik te wees teen die Afrikaners wat vanweë die feit dat hulle as ʼn minderheid nie oor politieke mag beskik nie, in ʼn kwesbare posisie verkeer.
  • Die slagspreuk weerklink te midde van hoë vlakke van gewedsmisdaad, in die besonder ook teen boere op die platteland.

Teen hierdie agtergrond spreek dit vanself dat Afrikaners sal probeer verseker dat die slagspreuk hulle nie benadeel nie. Daarom is dit te begrype dat organisasies soos Afriforum en TLUSA besluit het om Malema daarvoor voor die hof te daag.

Die saak is egter gekompliseer vanweë die feit dat die African National Congress hom met Malema vereenselwig het en as tweede respondent tot die saak toegetree het. Die ANC voer aan dat het by die saak betrokke geraak omdat sy erfenis is op die spel, want sê hulle, ʼn liedjie in Zoeloe waarin die woorde “Skiet die Boer” voorkom en wat tot hulle strydgeskiedenis teen die eertydse blanke bewind behoort, kom hierdeur in die gedrang. Hulle wil hulle stryderfenis bewaar en wil gevolglik ʼn verbod teen die liedjie verhoed. Hierby aansluitend voer die ANC aan dat “Boer” in die liedjie nie op Afrikaners betrekking het nie maar op die eertydse blanke bewind. Afrikaners en die applikante in die saak se vertolking van die slagspreuk as ʼn aanstigting van geweld teen hulle is derhalwe verkeerd.

In die lig hiervan is dit duidelik dat waarmee ons in hier te doen het wesenlik ʼn geskil tussen gemeenskappe is naamlik tussen Afrikaners en (ʼn deel van) die swart meerderheid (soos verteenwoordig deur die ANC). Die aard van die geskil kan nouliks oorbeklemtoon word. Dit beteken dat dit verkeerd is om dit bloot te sien as ʼn geskil rondom Malema as individu. In die betoog van die amicus curiae in die Hooggeregshof is die onderhawige kwessie juis ook as so ʼn inter-gemeenskapsgeskil tipeer en is die vraag gevra of daar regsbeginsels bestaan wat inter-gemeenskapsbetrekkinge reël, en indien wel, wat dit behels.

In wese behoort ʼn reg van inter-gemeenskapsbetrekkinge te bestaan in die onderlinge vergelyk tussen gemeenskappe waardeur die betrokke gemeenskappe erkenning aan mekaar verleen en in die besonder aan elkeen se veiligheid, kultuur, belange, historiese belewenis, toekomsverwagting en dat elke gemeenskap sal toesien dat hyself (kollektief) en sy lede op ʼn wyse sal optree wat nougeset by die vergelyk hou.

Die staat, in die besonder ʼn plurale staat kan juis beskou word as die vergestalting van die openbare vrede wat op so ʼn vergelyk berus. Die noodsaak vir gesonde verhoudings tussen gemeenskappe word beklemtoon deur die feit dat die konflik tussen gemeenskappe veel groter verwoesting meebring as stryd tussen individue. Hierdie waarheid word onderstreep deur die volksmoorde en misdade teen die mensdom ook in die onlangse verlede waar mense juis vanweë die feit dat hulle tot ʼn bepaalde groep behoort uitgewis is en nie vanweë hulle individuele identiteit nie.

Ongelukkig word inter-gemeenskapsgeskille nie geëien word vir wat hulle werklik is nie en verkeerdelik benader asof hulle wesenlik geskille tussen individue is. Gevolglik word sodanige geskille benader op ʼn grondslag soortgelyk as privaatregtelike geskille tussen individue en met behulp van die mees geykte middele wat die staatlike reg verskaf naamlik die howe. Howe is by uitnemendheid geskik om geskille van ʼn private, individuele aard te bereg. ‘n Individu teen wie ‘n bevel deur die hof verleen word, het nouliks ‘n ander keuse as om dit te gehoorsaam en is eenvoudig te swak om hom/haarself te verweer teen die uitvoerende gesag wat die hof in die afdwing van bevele bystaan.

Sedert die aanbreek van die era van die oppermagtige grondwet in 1994 sien ons egter toenemend hoe litigante op grond van veral die grondwet tot die howe neem om ook geskille wat die belange van gemeenskappe raak te bereg op wesenlik dieselfde manier as geskille tussen individue. Hier onder tel geskille oor naamsverandering, die onderrigtaal van skole, en nou pas die veel besproke sogenaamde haatspraaksaak teen Malema en die ANC, ens. Die toevlug na die howe vir die beregting van hierdie geskille is gebaseer op ʼn bykans afgoddelike vertroue in die grondwet en die howe. Die grondwet is per slot van sake oppermagtig en bevat, so word blykbaar geglo, die volledige pakket van “verskanste” regte (en wetgewing kragtens die grondwet) om ook in die geval van inter-gemeenskapsgeskille heil vir die betrokke gemeenskap/pe te waarborg. Grondwetlike regte word objektief deur die howe toegepas, word geglo. Sodanige toepassing van die grondwet en sy regte lewer wesenlik net een korrekte uitspraak op, naamlik ʼn uitspraak wat reg en geregtigheid beliggaam. Daar is natuurlik nie so ʼn enkele korrekte uitspraak nie. Die blote feit dat die applikante en die respondente in die onderhawige (haatspraak)saak radikaal van mekaar verskil, is per slot van sake die duidelikte bewys daarvan. Terselfdertyd moet daar ook nie te breedsprakig verklaar word dat die huidige uitspraak van regte Lamont reg is nie. Daar was al vroeëre uitsprake wat net so reg gelyk het en ook die bron van blydskap was maar spoedig verkeerd geblyk het te wees. Die uitsprake is spoedig op appèl omgekeer en daarmee is die eertydse vreugde ook met teleurstelling vervang. Dink maar aan die saak van Ermelo Hoërskool toe die Appèlhof se uitspraak wat na baie se mening ook so reg was, ook met groot vreugde begroet is, net om spoedig daarna deur die Konstitusionele Hof (op baie oortuigende gronde) omgekeer te word.

Volgens die geloof dat die howe inter-gemeenskapsgeskille net so goed as  individuele geskille kan bereg, moet gemeenskappe wanneer hulle benadeel word, net so maak soos wat individue altyd gemaak het: nader ʼn prokureur, stel ʼn advokaat aan en prosedeer! Daarna sal die reg soos vervat in die grondwet in die howe objektief “sy loop neem”. Die hof sal ʼn uitspraak en bevel gee – ʼn voorspelbare en die enigste korrekte uitspraak, want die reg is per slot van sake duidelik. Die respondent teen wie die uitspraak gegee is, net soos altyd by individuele geskille, sal die bevel gehoorsaam of andersins met die dwingende mag van die uitvoerende gesag te doen kry.

Die oortuiging dat die reg, in die besonder die grondwet deur bemiddeling van die howe net so geskik en doeltreffend is om inter-gemeenskapsgeskille bevredigend by te lê, is egter onrealisties, ongeldig en boonop nadelig. Wanneer dit kom by die bylê van geskille tussen gemeenskappe kan beregting deur die howe op grond van die grondwet en verbandhoudende reg hoogstens ʼn geringe komponent van ʼn veel breër strategie wees om tot ʼn meer gunstige vergelyk te kom. Die grondwetlik gebaseerde weg van litigasie vir die bylê van inter-gemeenskapsgeskille het verskeie wesenlike swakhede.

Eerstens is dit onmoontlik om hofbevele teen ʼn hele gemeenskap af te dwing. Indien ʼn hele gemeenskap, byvoorbeeld diegene wat in en rondom die ANC versamel is, van mening is dat ʼn bevel verkeerd is en besluit om dit te verontagsaam, is dit onmoontlik om dit deur normale regsinstrumente en -kanale af te dwing. Die regstelsel met inbegrip van die howe en die meganismes wat die reg en hofbevele moet afdwing, is nie opgewasse om dit te doen nie. Trouens, hierdie meganismes kan nie ontwerp wees en is ook nie ontwerp om grootskaalse of algemene verwerping van die reg en verontagsaming van hofbevele te hanteer nie. Vir sodanige algemene of breë verontagsaming van die reg is daar net te min howe, aanklaers polisiemanne, balju’s ens om al die gevalle van regsverontagsaming die hoof te bied.  Dit is inherent aan alle regstelsels dat hulle geanker is in die uitganspunt dat die reg algemeen gehoorsaam word en dat verontagsaming van die reg slegs by hoogste uitsondering voorkom. Dit is slegs daardie uitsonderings wat die howe en ander dienaars van die reg kan hanteer. Anders gestel, regstelsels is in die eerste plek gebou op instemming van die oorgrote meerderheid van diegene waarop die stelsel van toepassing is. Die reg is nie in die eerste plek op dwang gebaseer nie. Dwang is ook ʼn inherente element van ʼn regsorde maar vervul bloot ʼn sekondêre en aanvullende rol tot die primêre grondslag van instemming. Dwang word net gebruik om die klein getal – die uitsonderings – van delikplegers en misdadigers in gelid te kry. ʼn Regsorde en hofbevele wat nie algemene instemming en ondersteuning geniet nie, is illegitiem en kragteloos. Dit stort noodwendig onder die gewig van grootskaalse verontagsaming in duie. Sommiges mag aanvoer dat die betrokke reël of bevel wat algemeen verwerp en verontagsaam word tog reg en goed is. Daardie vermeende goedheid is egter irrelevant; in die besonder is dit juridies irrelevant, want reg (of ʼn bevel) wat algemeen verontagsaam word en nie afgedwing (kan) word nie, is per definisie nie meer geldende (positiewe) reg nie. Sodanige verontagsaamde “reg” is nie meer geldende reg nie en verkry eerder die karakter van onafdwingbare (en omstrede) moraliteit vir die deel van die bevolking wat daarmee saamstem. Vir die deel wat dit verwerp – in die onderhawige geval die ANC – het dit natuurlik nie eens die karakter moraliteit nie.

Dit is presies hier waar die knoop lê met die hofbevel in die Malema haatspraaksaak. Malema kom dit na omdat hy besonder in die skyf is maar daarbenewens word dit algemeen verwerp. Dit is basies kragteloos en gevolglik nie werklik deel van die geldende positiewe reg nie. Die hof se bevinding dat die gewraakte woorde haatspraak uitmaak asook sy voortspruitende bevel is in die lig hiervan juridies kragteloos.

Hierdie toedrag van sake bring aan die lig dat regsreëls, hofuitsprake en -bevele – en die meganismes waardeur die reg afgedwing moet word allermins die totaliteit van ʼn regsorde behels. Daar is talle bykomende kragte wat deel van die regsorde uitmaak en wat beslissend daarvoor is. Die wyse waarop die publiek of ten minste beduidende sektore van die publiek op die regsvoorskrifte en hofuitsprake reageer is net so ʼn belangrike, of meer korrek ʼn beslissende komponent van die regsorde.

Daar heers ʼn betreklike algemene dog eng en verkeerde leke-beskouing van die reg wat nalaat om die beslissende relevansie van hierdie sosio-politieke kragter as inherente en beslissende faktor vir die regsorde te begryp en wat uitsluitlik op die regsvoorskrifte van die grondwet en wetgewing en op hofbevele gefikseer asof dié dinge die totaliteit van die reg verteenwoordig. Diegene wat hierdie eng beskouing van die onderskryf en wat versuim om gemeenskapsreaksies op regsvoorskrifte as beslissende deel van die regsorde te verreken, koester naïewe en onrealistiese verwagtings oor die winste wat met die regsvoorskrifte en hofbevele behaal kan word.

Tweedens: Litigasie met die oog op die beskerming van ʼn gemeenskapsbelang, mobiliseer lede van die gemeenskap om hulle vertroue op die reg te plaas en letterlik in die regsproses te belê, wat hulle glo ʼn oplossing vir hulle probleme sal bied. Dit was by uitnemendheid die geval in die Malema-saak waar derduisende Afrikaners in vaste vertroue op die reg, die hof en hulle regsverteenwoordigers die saak gevolg het en finansieel daartoe bygedra het. Wesenlik dieselfde, weliswaar tot ʼn mindere mate het in die saak van Ermelo Hoërskool gebeur. Laasgenoemde het op teleurstelling uitgeloop. Die hof kon die skool nie enkelmedium Afrikaans hou nie want die skool was nie vol nie. Die Afrikaanse gemeenskap self het nie ʼn strategie van selfstandige optrede gehad om die skool te vul en dit sodoende Afrikaans te hou nie. Vanweë ʼn sosiale faktor – die feit dat die skool net halfvol was – kon die reg en die hof waarop soveel vertroue geplaas is, nie die hulp verleen wat geglo is dat dit sou verleen nie. Die opgewonde vertroue in die reg wat daar met die uitspraak van die Appèlhof ten gunste van die skool geheers het, het spoedig plek gemaak vir teleurstelling en hulpeloosheid met die uitspraak van die Konstitusionele Hof. Vandag is die skool lank reeds parallelmedium.

Met die haatspraaksaak is daar ongeëwenaarde geloof (en bedrae geld) in die reg gemobiliseer. Die hof moes ter uitvoering van regsvoorskrifte ʼn slagspreuk met die strekking dat Afrikaners geskiet moet word, stopsit. Die hof gelas toe inderdaad tot vreugde van baie dat dit gestop moet word. Nogtans duur die verbode dreunsang steeds voort en is daar tot dusver geen teken van ʼn poging van wie ook al om die bevel af te dwing nie. Die voortgesette gebruik van die verbode slagspreuk en die verstaanbare dog magtelose passiwiteit waarmee dit begroet word, toon grafies die juridiese leegheid van hierdie hof-oorwinning aan. Wat dus nou gemaak na die Pyrrhus-oorwinning – hierdie skynsege? Die vlietende vreugde maak terstond plek vir verbystering en radeloosheid en laat die oorwinnaars sonder uitweg. Net soos na die Ermelo-saak is daar naas teleurstelling, en in die afwesigheid van ander strategieë, geen ander uitweg nie. In die afwesigheid van ʼn ander strategie naas ʼn beroep op die reg en die hof bring die skyn-regsoorwinning die risiko mee dat die ondersteuning wat vir die regstrategie gemobiliseer is, gaan taan aangesien die ondersteuners voor hulle oë sien dat die regstrategie nie vrugte afwerp nie. Dit is natuurlik goed dat ondersteuning gemonster word – ook deur ʼn hofsaak – maar om die ondersteuners te behou moet die litigasie deel vorm van ʼn breër strategie en in die eerste plek vir so ʼn breër strategie gemobiliseer word.

Derdens, is aan my persoonlik probeer verduidelik dat Afrikaners die voorbeeld moet volg van die swart Amerikaners wat sedert die 1950’s suksesvol van die howe gebruik gemaak het om rassediskriminasie teen hulle te beëindig en hulle burgerregte af te dwing. AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie, wat ook deur die howe in die belang van ʼn minderheid burgerregte probeer opeis. Teen hierdie agtergrond is die versoeking groot om die Afro-Amerikaners se hof-optrede as ʼn voorbeeld te sien vir wat Afrikaners te doen staan. Die voorbeeld van die litigasie-strategie van Afro-Amerikaners is egter geheel en al onvanpas. Dit is gebaseer op drie ineengeweefde dwalings:

  • ʼn grondige wanbegrip van die posisie van die regbank in wisselwerking met die sosiaal-politieke situasie waarin die howe hulle  bevind en reg moet spreek;
  • ʼn kru-liberale opvatting oor die vermeende objektiwiteit van regsreëls met inbegrip van bepalings van die grondwet. Volgens die opvatting het regsreëls basies ʼn enkele korrekte betekenis waaraan die hof gebonde is en is uitsprake bloot ʼn voorspelbare konkretisering van hierdie reëls;
  • gebrek aan begrip dat die uitslag van regsgeskille in die finale instansie nie deur vermeende objektiewe regsreëls en –beginsels bepaal word nie, maar wel deur dominante gemeenskapsopvattings.

Die Amerikaanse howe se gunstige regspraak vir die Afro-Amerikaners dien ter illustrasie hiervan. Hierdie uitsprake is gegee te midde van die groeiende oortuigings in die VSA oor rasse-gelykheid en gelyke behandeling van alle persone ongeag ras (of geslag) asook van ʼn toenemende afkeur in enige vorm rasse-segregasie en rasse-diskriminasie teen Afro-Amerikaners. Die howe was nie uit pas met die toongewende opvatting sonder Amerikaners nie. Inteendeel, die howe het aan die toonaangewende opvattings uitdrukking gegee. Indien howe uitsprake gee wat indruis teen die dominante opvattings, vind dit eenvoudig nie aanklank nie. Die uitsprake word geïgnoreer en nie uitgevoer nie. Al wat die howe daardeur bereik is om hulle geloofwaardigheid in die oë van die dominante politieke kragte in die gedrang te bring en hulle eie kwesbare posisie teenoor die politieke vertakkings van staatsgesag (die wetgewer en die uitvoerende gesag) te verswak. Vandaar die verskynsel van die versigtigheid van howe in hulle verhouding met die ander vertakkings van staatsgesag – die verskynsel van regterlike terughoudendheid oftewel judicial deference. Die regterlike werk van die howe soos dit in hulle uitsprake neerslag vind, word derhalwe allermins net deur die werking van regsvoorskrifte bepaal. Hoe meer politiek-gevoelig ʼn saak is, des te meer deurslaggewend is die impak van die heersende politieke opvattings en kragte. Daar bestaan ʼn betreklike algemene leke-opvatting, gedeel deur baie regslui, wat dikwels geen begrip het van die deurslaggewende rol van die politieke kragte in die reg nie. Dis heel verstaanbaar. Regslui word per slot van sake opgelei in regsvoorskrifte. Op die meeste kry hulle vlietend in ʼn voorgraadse kursus in regsfilosofie ʼn bietjie te doen met die rol van die politiek in die reg. Wanneer hulle begin praktiseer is die oorgrote meerderheid sake ook politiek-ongevoelig en word die indruk ingeprent dat die uitslag van sake suiwer deur die regsreëls bepaal word. Gevolglik is hulle gewoonlik onkundig oor die rol van die politiek in die reg en totaal uit hulle diepte wanneer dit kom by politiek-gevoelige sake, soos geskille van die aard van ʼn inter-gemeenskapsdispuut wat by uitstek polities is. Hulle beskik gewoonlik eenvoudig nie oor die intellektuele gereedskap om geskille van die aard te begryp nie. Daarvoor is ʼn begrip nodig van die komplekse interaksie tussen die reg en die politiek. Kennis oor en vertroue in regsreëls en die grondwet is eenvoudig nie genoeg nie.

In Suid-Afrika word van die regbank verwag om toenemend in pas met die dominante politieke kragte te kom. Die verskynsel is nie vreemd aan die politiek nie. Inteendeel, dit is eie aan alle politieke ordes om al drie die takke van staatsgesag nagenoeg met mekaar in gelid te kry en te sorg dat hulle dieselfde uitgangspunte deel. Hier te lande geskied dit kragtens die proses van transformasie en verteenwoordigendheid. Die proses is dalk meer opvallend as elders maar dit is wesenlik ʼn natuurlike verskynsel van die politiek wat homself oral voltrek soos wat (nuwe) dominante elites hulle op alle terreine van staatsgesag ingrawe. Om dus te dink dat die Afro-Amerikaners se hofstrategie as ʼn soort norm vir Afrikaners moet dien, is geheel onvanpas. Hulle het gery op die golf van die groeiende dominante opvattings tot hulle voordeel soos wat dit ook in die howe neerslag gevind het, terwyl Afrikaners te kampe het met groeiende dominante opvattings tot hulle nadeel, soos wat dit ook toenemend in die howe neerslag vind. Wat hierdie kwessie betref, is die posisie van die Afro-Amerikaners dus nie dieselfde nie maar juis die teenoorgestelde van die posisie van Afrikaners.

Hierdie verduideliking bring aan die lig dat ʼn strategie vir die belang van ʼn gemeenskap, in die besonder ʼn minderheidsgemeenskap, wat totaal of hoofsaaklik op ʼn beroep op die reg en die voer van litigasie berus, wesenlik onvanpas is. Dit berus op:

  • gebrekkige kennis en insig oor interaksie tussen die reg en die politiek;
  • wanbegrip oor die rol en die vermoë van die howe binne ʼn grondwetlike orde;
  • ʼn ongegronde bygeloof in die reddende rol van regsreëls wat verkeerdelik as objektief beskou word; en
  • onvermoë of versuim om te begryp dat die betekenis en die uitwerking van die reg in die finale instansie deur dominante politieke kragte bepaal word;
  • ʼn wanbegrip vir die risiko’s wat so ʼn strategie inhou vir die gemeenskap wat  veronderstel is om daarby te baat.

Daar is weliswaar plek vir litigasie maar dan alleen as ʼn betreklik geringe komponent van ʼn breër strategie vir ʼn gemeenskap gemik op:

  1. Die uitbou van die selfstandige vermoë van daardie gemeenskap – in die onderhawige geval die Afrikaners – en;
  2. Op die bereik van ʼn tans steeds ontbrekende vergelyk tussen die swart meerderheid en die Afrikaners gebou op:
    2.1 Wedersydse erkenning van albei groepe as permanente inheemse gemeenskappe elkeen met sy eie waardes, sentimente, belange, historiese erfenis en toekomsverwagting;
    2.2 En warvolgens elke gemeenskap sal toesien dat hyself (kollektief) en sy lede op ʼn wyse sal optree wat nougeset by die vergelyk hou.

Litigasie as ʼn substrategie van beperkte omvang is alleenlik sinvol indien dit inpas by, en strook met ʼn breër politieke strategie wat op die bogenoemde boustene rus. Die haatspraaksaak behoort ook in hierdie terme gesien te word. Trouens, dit is juis die soort saak wat hom in die besonder daartoe leen om juis so ʼn plek in ʼn breë strategie van inter-gemeenskapsvergelyk te speel.

Tans word daar egter met al die nadelige gevolge wat hierbo verduidelik is buitensporige vertroue op die reg in die besonder die grondwet en die hof geplaas. Dit spruit voort uit die grondwetlike heilsleer wat ek in die vorige bydrae verduidelik het. Daarvolgens het litigasie saam met die grondwet ʼn soort afgoddelike status verwerf, waarop ons, ons maar net telkens moet beroep.  Ons word egter hard getref met die skyn van die hof-oorwinnings wat die heilsleer vir ons bring. Dit is noodsaaklik om die buitensporige vertroue op die grondwet, die reg en die howe drasties in te kort en te beryp dat litigasie bloot ʼn geringe plek inneem in ʼn breër politieke strategie waarna hierbo verwys is. Dit is hierdie strategie wat in plek gekry moet word en in ooreenstemming waarmee die grondwet en litigasie hulle regmatige dog geringe plek moet inneem.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Koos Malan

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

peter1wassenaar ·

Ek stem heeltemal saam met Prof. Geen hofbevel sal ooit ‘n ware remedie wees vir hierdie tipe geskille nie. Slegs ‘n sosio-politiese vergelyk sal ‘n werklike verskil kan maak. Dit is duidelik dat litigasie nie gesien moet word as die alfa- en omega van geskilbeslegting vir hierdie tipe probleme nie.

Ek sukkel net om te sien hoe ‘n gemeenskap onder druk sonder litigasie hulle saak op die mees effektiefste wyse sal kan voer, grootliks om die volgende redes:

1) Die litigasieproses bied ‘n baie sterk podium vir ‘n gemeenskap om hul saak te stel. Die publisiteit en blootstelling wat daardeur bekom word, is aansienlik meer as wat enige veldtog daarsonder sal bereik. Gemeenskapsprobleme word gewoonlik slegs deur media-forums eie tot die gemeenskap blootstelling gegee. Sodra ‘n saak na die howe geneem word, word meer as net die gemeenskapseie media betrek. Die litigasieproses dien eerder as ‘n podium of seepkis vir die gemeenskap om saak te stel. Dit moet egter nie as ‘n remedie gesien word nie.

2) Terwyl ‘n regstelsel steeds tot ‘n mate in die guns van ‘n betrokke gemeenskap geskoei is, sal dit volgens my baie gevaarlik wees indien die betrokke gemeenskap toelaat dat die stelsel sonder teenset verander word. Goeie litigasie kan ten minste poog om die regspraak tot ‘n mate te probeer stabiliseer. Ja, ‘n meerderheid sal werk om die regspraak en regbank so te karnuffel dat dit in hul guns toegepas word, dit is ‘n politiese werklikheid, maar deur terug te sit en toe te laat dat dit gebeur, is myns insiens roekeloos.

3) Litigasie gee sonder twyfel vals hoop vir belanghebbendes (indien die regsverteenwoordigers die remedie oorbeklemtoon sonder om die politiese werklikheid te verduidelik) en los ‘n bitter smaak in die mond sodra die remedie nie so uitvoerbaar/ effektief is as wat geproklameer is nie. Die ontmoediging wat met so ‘n “dooie resultaat” gepaard gaan is duidelik. Sodra litigasie egter behoorlik verduidelik word en eerder gesien word as ‘n klein gedeelte van ‘n groter beweging sal hierdie ontmoedigingsfaktor omskep word in hoop. Litigasie sal in die regte konteks beskou word en die ontmoedigingsfaktor sal verklein.

Die “oorwinning” lê in die morele hoë-grond wat gewen word. Dit is waar dat die “morele waardes” kan verander, soos in die Hoërskool Ermelo geval.

Prof is heeltemal reg, die saak is ‘n sosio-politieke probleem wat nooit deur die regsproses opgelos kan word nie. Die regsproses bly uitgelewer aan die wil van die staat. ‘n Skeiding van magte (“separation of powers”) is slegs ‘n werklikheid waar die staat dit toelaat, soveel te meer waar daar ‘n “swaar” meerderheid betrokke is. Dit beteken egter nie dat ons moet toelaat dat die meerderheid na willekeur dit buig en breek nie.

As ‘n probleem sosio-polities van aard is mag litigasie nooit meer as 20% van die “strategie” uitmaak nie. Oplossings moet buite die regstelsel gevind word. Dit is bly soos Prof sê ‘n sosiologiese en politieke probleem.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.