Die rentekoerse: Moet jy, of moet jy nie?

dawie-roodt-begrotingsrede-2018

Die ekonoom Dawie Roodt. (Argieffoto: Reint Dykema/AfriSake)

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) het die repokoers, oftewel terugkoopkoers, met ’n ongeëwenaarde 275 basispunte, of byna drie volle persentasiepunte, sedert die begin van die jaar tot 3,75% verlaag; ’n rekordlaagtepunt. En verdere verlagings is moontlik.

Natuurlik is die optrede van die SARB veronderstel om ’n ekonomie in nood te ondersteun. Dus, buiten die verlaging van die repokoers, is ook ander maatreëls, soos die verslapping van die likiditeit- en kapitaalvereistes van banke, ’n gewaarborgde leningskema in samewerking met die tesourie en die koop van staatskuld in die sekondêre mark, geïmplementeer.

Hoewel hierdie maatreëls vir ’n ruk sal help om sommige ondernemings en individue – en daarom die ekonomie – te ondersteun, sal die uitwerking van hierdie maatreëls waarskynlik redelik klein wees. Die rede is eenvoudig: Ofskoon die rentekoerse nou laer is, sal Jan Alleman nie noodwendig nou kan wegspring om ’n nuwe motor en platskerm-TV te koop nie, want die vertroue in die land is die laagste ooit.

Selfs al sou rentekoerse verder verlaag word, sal dit onwaarskynlik wees dat mense meer lenings sal aangaan. Boonop, wanneer rentekoerse verlaag word, sal baie mense – veral bejaardes wat van ’n rente-inkomste afhanklik is – se inkomste daal. Sommige sal dus wen met laer verbande en ander terugbetalings, maar ander se inkomste sal daal en as gevolg daarvan, swaarkry. Het jy al gedink aan jóú opsies met betrekking tot hierdie nuwe rentekoersomgewing?

Die redes vir ’n lae vertroue kan meestal toegeskryf word aan ’n vernietigende regering en die verkeerde ekonomiese beleid, maar dit is nie waaroor hierdie artikel gaan nie. Hierdie artikel handel oor rentekoerse en die besluite waarmee ondernemings en individue in hierdie nuwe rentekoersomgewing gekonfronteer sal word.Met laer koerse is dit ongetwyfeld beter vir diegene wat lenings aan die bank moet afbetaal, en baie mense sal graag hierdie meevaller daarvoor wil gebruik. Dit is dan ook die rede waarom baie dit oorweeg om die rentekoers op hul lenings (veral hul verbandlenings) vas te pen.Die meeste verbandrentekoerse in Suid-Afrika is “buigsaam”, wat beteken dat hierdie koers fluktueer soos die SARB die repokoers verander – soos onlangs gebeur het. Die meeste Suid-Afrikaanse banke is egter bereid om die rentekoers van hul kliënte se verbandlenings op ’n sekere vlak vas te pen. In die huidige omgewing van lae rentekoerse kan dit derhalwe sinvol wees vir leners om te oorweeg of hulle hul verbandkoerse wil vaspen, al dan nie.

As ’n rentekoers “vas” is, is dit gewoonlik vir ’n beperkte periode van een tot drie jaar. Daarbenewens, waar rentekoerse tans aangepas word wanneer veranderings aan die repokoers aangebring word, sal ’n vaste koers gedurende hierdie beperkte periode onveranderd bly.

Maar – en dis net hier waar jy jou kan vasloop – as ’n koers vasgepen word, word dit gewoonlik vasgepen tussen 150 tot 300 basispunte (oftewel 1,5% tot 3%) hoër as die huidige koers wat ’n kliënt tans betaal. Dit beteken dat korttermynrentekoerse met 150 tot 300 basispunte of meer sal moet daal – en eerder gouer as later – vir ’n kliënt om gelyk te breek indien hy/sy besluit om sy/haar rentekoerse vas te pen.

Verdere rentekoersverlagings is beslis moontlik in die volgende paar maande, maar min ekonome verwag dat rentekoerse met meer as 50 basispunte sal daal, wat die vaspen van jou rentekoerse op hierdie vlakke waarskynlik ’n onverstandige besluit sal maak.

Die rede waarom jy jou rentekoerse wil vaspen, is juis omdat jy verwag dat rentekoerse binnekort sal styg. Maar, soos hierbo genoem, verwag die meeste ekonome dat die repokoers oor die volgende paar maande nog verder sal daal en verwag dus nie binnekort ’n styging nie.Sekerlik is dit moontlik dat koerse teen ongeveer volgende jaar kan begin styg, en dit is heel waarskynlik moontlik dat koerse byvoorbeeld 150 basispunte hoër kan wees as wat dit tans is, maar ek twyfel of die koerse oor ’n paar jaar 300 basispunte hoër sal wees as nou. Oor drie jaar  kan die koerse egter sekerlik 300 basispunte hoër wees as nou. Of selfs hoër.

Dus, die vraag om rentekoerse vas te pen of nie, hang natuurlik af van die vlak en tydperk waarvolgens jy die koerse kan vaspen. Gegewe die huidige onsekerheid oor toekomstige neigings in die repokoers en die feit dat jou vaspenning ’n vervaldatum het, kan jy jouself gelukkig ag indien hierdie vaspenning vir jou werk, sou jy vandag besluit om dit te doen. Daar is een geval wanneer jy ’n vaspenning kan oorweeg, en dit is wanneer jou begroting so knap is dat dit beter sal wees om dit vir ’n relatief kort periode teen ’n hoër koers vas te stel. Onthou, banke het ook ekonome wat vir hulle werk en geen bank sal ooit ’n ooreenkoms aangaan as hy dink dat sy bank in die proses nie geld daaruit sal verdien nie.

Dus, reken ek, is die veilige antwoord op die vraag: Moenie jou rentekoers vaspen nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dawie Roodt

Meer oor die skrywer: Dawie Roodt

Dawie Roodt is direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep en lewer gereeld ekonomiese kommentaar.

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Die Wolf

In my opinie sal ek my belegging by die bank nou vir n langer periode vaspen, terwyl jy nog n goeie koers kan kry.

Michael 1

Dit klink reg dankie vir die raad.

Kanjynoumeer

Nou wil ons hê hy moet ook vir ons vertel hóé kan ons te werk gaan om die minste belasting te kan betaal. Die verkwisting van ons hard verdiende belasting geld voel soos die ysige koue op die oomblik.
Dankie vir die artikel oor rentekoerse.