Die rol van regsgeleerdes en regters in ontwikkelende lande

dr-llewellyn-curlewis

Dr. Llewellyn Curlewis, ‘n voormalige president van die Prokureursorde van Suid-Afrika, was een van die sprekers tydens VRA se seminaar oor die Nkandla-uitspraak. Foto: Morné Prinsloo.

Hierdie teks is dr. Llewellyn Curlewis, voormalige president van die Prokureursorde van Suid-Afrika, se toespraak wat hy tydens die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) se seminaar oor die Nkandla-uitspraak gelewer het.

Dit staan vas dat die Suid-Afrikaanse regstelsel ʼn uiters sentrale gegewe is in die huidige dilemma waarin baie polities-sensitiewe vraagstukke geopper word. Die howe figureer doodeenvoudig daagliks en in bykans alles.

Dit is belangrik watter funksie die howe in Suid-Afrika vervul en veral hoe daardie howe en die reëls wat hul toepas, deur die bevolking beskou word en veral of dit waardeer en respekteer word. Is ons howe ʼn simbool van geregtigheid en billikheid?

Volgens regsvergelykers het Suid-Afrika ʼn gemengde of hibriede regstelsel. Tog is dit ʼn volkome Westerse mengsel wat toegepas word in ʼn Afrika-land met ʼn heterogene bevolking, waarvan onder meer groot verskille in die kulturele agtergrond en opvoedingspeile van individue en bevolkingsgroepe voorkom.

Dikwels word aangevoer dat die verskynsel, waarvolgens eie reg toegepas word, ʼn simptoom is van die afwesigheid van vertroue in die regstelsel en ʼn behoefte aan sigbare en verstaanbare geregtigheid.

Ons almal ken die lofwaardige beginsels van ons regstelsel soos wat dit oor eeue ontwikkel het. Myns insiens is die huidige legitimiteitskrisis van die Suid-Afrikaanse reg egter ontstellend en uiters gevaarlik.

Voor die onlangse uitspraak van die Grondwetlike Hof is met reg die vraag geopper of die Suid-Afrikaanse howe bevoeg is om die geldigheid van onbillike of immorele optrede, van veral politici, met geweldige magte, te bevraagteken. Dit kan terreg ook gevra word of demokratiese instellings ooit kan werk in Afrika. Dis welliswaar ʼn siniese opmerking, maar realisties.

Talle maatskaplike, ekonomiese, demografiese en politieke probleme lyk na derdewêreldse verskynsels wat opvlam in Suid-Afrika en dikwels word laasgenoemde dan nog boonop aangehits deur vergrype en persoonlike verryking, strategieë deur leiers van die land wat juis moet optree as beskermers van die onderdane en nie uitbuiters nie.

Ideale soos geregtigheid, billikheid en Grondwetlike oppergesag het klaarblyklik ʼn verskillende betekenisinhoud vir verskillende mense en belangegroepe en dikwels moet die reg voor onreg die knie buig.

Interpretasies van hierdie begrippe wat eintlik vanselfsprekend behoort te wees, het radikaal verander.

Die reg, met inbegrip van die rol wat regsgeleerdes (insluitende regters) speel, oet gebruik word as ʼn instrument om sosiale, ekonomiese en politieke verandering teweeg te bring, soos die uitwissing van korrupsie vergrype en wanbesteding.

Dit lyk asof die Grondwetlike Hof onlangs bewys het die sogenaamde “rule of law” (oppergesag van die reg) moet as nastrewenswaardige ideaal voorgehou word en verlore respek vir en vertroue in die regsorde kan moontlik minstens gedeeltelik herstel word.

Die boodskap blyk duidelik, naamlik dat die reg politieke prosesse beheer en kontroleer en staan nie in diens van politiek en ideologie nie.

ʼn Ander baie belangrike vraag is uiteraard watter etiese beskouing ons reg ten gronslag lê. Al hierdie vrae verg ʼn diepgaande filosofiese besinning oor die aard en rol van die reg. Dit is nie ʼn blote intellektuele oefening vir alle fanatici wat belang stel in wysbegeerte nie, maar ʼn pertinenete vraag wat gevolge vir die gewone SA burger inhou.

Regsgeleerdes (insluitende regters) moet besef ʼn morele nadenke oor wat doodeenvoudig reg en verkeerd is, is nie ʼn onnodige luukse filosofiese wensdenkery nie, maar elkeen se onontkombare verantwoordelikheid teenoor die land en sy mense.

Tot onlangs wou dit voorkom, op sigwaarde minstens, asof die reg om leuens te verkondig, blykbaar ʼn baie eiesoortige, unieke reg in SA geword het.

Die persepsie dat die Grondwet kriminele dikwels beskerm, eerder as tot verantwoording roep, het Jan Publiek afgestomp gemaak teenoor die reg en veral die Grondwet. Het ons regstelsel dan werklik bevooroordeeld geraak ten gunste van kriminele met hul kriminele agendas in plaas van diegene wat ʼn doodgewone, veilige en menswaardige bestaan wil voer en waar belastinggeld aangewend word om ons land ʼn beter plek te maak en op te bou?

My eerste indrukke van die krux van die Nkandla-saak is dat dit ʼn waterskeidingsaak is wat betref interpretasie van spesifiek artikels 83(b) gelees met 181(3) en 182(1)(c) van die Grondwet, asook die bestaansreg en magte van afdelings en instellings, soos die Openbare Beskermer.

Dit is ʼn verwoestende uitspraak teenoor ʼn staatshoof en die Nasionale Vergadering. Die uitspraak was helder, ondubbelsinnig en belangriker: dit was eenparig.

Dit is gewortel in die Grondwet en geen ruimte bestaan vir aantygings van partydigheid of vooroordeel nie. Dit bevestig gevolglik onteenseglik die regbank as oppergesag en handhawer van die Grondwet en beskermheer daarvan.

Dit is ʼn helder uiteensetting van die rol van die president, die Parlement en die Openbare Beskermer, weereens soos geanker in die Grondwet.

Dit bevestig remediële voorskrifte en/of bevindinge en verslae van die Openbare Beskermer, bindend is op die president en nakoming daarvan is nie opsioneel nie.

Dit beskryf die rol van die staatshoof as die land se eerste burger en veronderstelde behoeder van die Grondwet en verpersoonliking van die land se ideale.

Dit bevestig onomwonde dat die president en die Parlement ongrondwetlik en onwettig gehandel het met die Nkandla-sage en letterlik die Grondwet geskend.

Dit bevestig dat die amp van die Openbare Beskermer grondwetlik verskans is, dat daardie instellings se magte bindend van aard is en dit die instelling van onskatbare waarde is vir ʼn demokratiese bedeling. Dit is letterlik ʼn geskenk nagelaat deur die skrywers van die Grondwet.

Dit bevestig die Openbare Beskermer moet onafhanklik, doelgerig en dapper moet funksioneer en bly en dat alle afdelings en instellings die land se demokrasie moet versterk. Regsgevolge sal volg indien daar nie gehoor gegee word aan bevindings van sulke instellings nie. (Dalk ook politieke gevolge?).

Net ʼn Hof kan byvoorbeeld die Openbare Beskermer se bevindinge bevraagteken en omkeer in gepaste gevalle.

Dat niemand verhewe is bo die reg nie, dat ons Grondwetlike demokrasie blykbaar steeds lewendig is.

Ek wil dit selfs waag om te sê die president het heel moontlik ook sy ampseed versuim indien die bewoording daarvan nagegaan word. Dit is egter nie pertinent vervat in die hofbevel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Henry ·

Baie dankie aan Maroela vir die plasing van hierdie insiggewende artikel deur ‘n gerespekteerde regsgeleerde.
Selfs by ons leke kan daar kan geen twyfel meer bestaan, dat die huidige regime en veral die staatshoof ongrondwetlik optree nie, wat nie langer geduld behoort te word nie.
In enige staat wat nie deur ‘n korrupte regering en hul leier bedryf word nie, sou die ganse spul laaaankal geskiedenis gewees het.

alida ·

Natuurlik is dit ‘n insiggewende berig vir ons wat verstand het maar vir daardie klomp skelms is dit onaanvaarbaar. Hulle wil dit op die Afrika manier doen wat duidelik nie geduld sal word nie.

Wicus ·

Baie dankie, baie duidelik en verstaanbaar gestel.

Dankie tog vir ‘n grondwet en ‘n regstelsel wat nog werk.

Die vraag is natuurlik wanneer kry die magshebbers dit in hulle koppe om die grondwet te verander of nog erger, te skrap. Hierdie is immers Afrika.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.