Die rooi ligte begin flikker vir die ekonomie

ekonomie-stockfoto-02

Foto: Pexels/Pixabay.com

Deur Hannes du Preez

Die afgelope week het die gevaarligte, wat betref die onafhanklikheid van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), daadwerklik begin flikker. Vir die eerste keer sedert 1994 het die minister van finansies, Malusi Gigaba, se ekonomiese raadgewer by name prof. Chris Malikane dit onomwonde gestel dat die staat totale beheer van die SARB moet neem. In prof. Malikane se agtpuntplan vir radikale ekonomiese transformasie word dit soos volg verwoord:

“The cornerstone of the ownership and control of the state by white monopoly capital has always been the National Treasury, its associated agencies and the Reserve Bank. The leading officials and political principals have always been appointed by white monopoly capital. The ANC had never excercised political autonomy in its appointments in strategic positions in the government’s financial cluster.”

Vorige kere het die SARB se onafhanklikheid onder skoot gekom in populistiese uitsprake vanaf politieke partye, veral die EFF. Soos vermeld in my vorige artikel op Maroela Media, “Volg RSA in Zimbabwe se voetspore?”, is die voortgesette onafhanklikheid van die SARB en ʼn gesonde monetêre beleid die enigste volhoubare skans teen hiperinflasie en ʼn totale verswakking van die rand.

Ten spyte van pogings in die media deur min. Gigaba om prof. Malikane se uitsprake te versag, kan ons met redelike sekerheid verwag dat die aanslag teen die onafhanklikheid van die SARB vanuit staatskringe in intensiteit gaan toeneem.

Met reg kan gevra word: Hoe maklik of moeilik sal dit vir die staat wees om direkte beheer van die SARB te neem en watter skade kan hulle aanrig? Om hierdie vrae te beantwoord moet ons eers na die wette gaan kyk wat die SARB sy mandaat gee om monetêre beleid in te stel en hoe maklik dit sal wees om dit te verander.

Die mandaat van die SARB

  1. Die Grondwet van RSA 1996 en meer spesifiek artikels 223, 224 en 225

Veral klousule 224 is hier van belang. Dit stipuleer onder punt 1 van hierdie klousule dat: “Die hoofoogmerk van die SARB is om in belang van gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei in die Republiek die waarde van die geldeenheid te beskerm.” Daaruit vloei voort dat die SARB se hoofoogmerk is om inflasie in bedwang te hou. Vandaar die ontstaan van die 3%-tot-6%-band as doelwit. Sien die grafiek as voorbeeld.

rooi-lig-ekonomie-01

Grafika: Verskaf.

Onder punt 2 van hierdie klousule word die Reserwebank se onafhanklikheid gewaarborg. Daar staan: “Die SARB moet in die nastrewing van sy hoofoogmerk sy funksies onafhanklik en sonder vrees, begunstiging of voordeel verrig, maar daar moet gereelde oorlegpleging wees tussen die bank en die kabinetslid wat vir nasionale finansiële sake verantwoordelik is.”

Kortom, dit beteken in die praktyk dat die president van die SARB gereeld verslag lewer oor monetêre beleid aan die minister van finansies en die lede van die parlementêre portefeuljekomitee van finansies. Die president van SARB hoef egter nie hul goedkeuring te kry alvorens hulle die monetêre beleid verander nie.

  1. Die Suid-Afrikaanse Reserwebankwet 90 van 1989 soos aangepas en die regulasies wat ontstaan het binne die raamwerk van die wet.

Wat vir ons in hierdie wet van belang is, is die beheerstruktuur van die SARB deur sy raad van direkteure. In klousule 4 van hierdie wet word die aantal direkteure en die wyse hoe direkteure verkies word, bepaal. Die staatspresident wys die president en drie visepresidente aan vir vyf jaar. Een van die drie visepresidente is ook die senior visepresident. ʼn Verdere drie direkteure word ook deur die staatspresident aangewys vir drie jaar. Gevolglik wys die staatspresident sewe direkteure aan. Die aandeelhouers wys die oorblywende sewe direkteure aan en ʼn kworum is sewe direkteure.

Uit voorafgaande is dit duidelik dat die staatspresident die RSA Grondwet moet verander as hy direk wil inmeng in die SARB se sake. Daarvoor benodig hy ʼn tweederdemeerderheid in ʼn algemene verkiesing. Wat betref indirekte inmenging in die SARB kan hy reeds deur sy aanstellingsbevoegdheid ʼn rol speel.

Hoekom is die onafhanklikheid so belangrik?

Die onafhanklikheid van die SARB is belangrik omdat die waarde van die rand, m.a.w. sy koopkrag, beskerm moet word. Sou ons nie die rand se koopkrag beskerm nie, sal die lewenstandaard van die bevolking skerp daal. Daarteenoor, as die SARB daarin slaag om die koopkrag van die rand te beskerm, het hy sy doelwit van prysstabiliteit behaal. As daar geen prysstabiliteit in ʼn land is nie, gaan die langtermyn- ekonomiese groei ver onder die gemiddelde verwagte ekonomiese groei wees, omdat geen besigheid of staatsinstelling sinvol kan beplan en bestuur as inflasie en die randwisselkoers nie stabiel is nie. Gesonde monetêre beleid skep stabiliteit in die finansiële sisteem en finansiële markte wat die fondament vorm vir prysstabiliteit.

Kom ons gebruik die bekende monetêre vergelyking om die saak verder toe te lig:

MV = PT waar:

M = Die geldvoorraad in ʼn land

V = Omloopsnelheid van geld m.a.w. hoe vinnig geld hande verwissel

P = Algemene prysvlak in ʼn land

T = Hoeveelheid transaksies in omset uitgedruk

Van hierdie veranderlikes is V en T relatief stabiel, m.a.w. dit is onwaarskynlik dat hulle baie wisselvallig gaan wees. As die geldvoorraad M skerp toeneem a.g.v. kredietskepping, gaan P skerp styg, omdat meer geld dieselfde goedere jaag. As ons na die Zimbabwiese voorbeeld kyk, het hiperinflasie daar begin nadat die Zimbabwiese Sentrale Bank die geldvoorraad M drasties verhoog het deur meer geld te druk. Sien die grafiek as bewys.

rooi-lig-ekonomie-02

Grafika: Verskaf.

MV saam verteenwoordig die aanbod van geld wat in die Suid-Afrikaanse ekonomie beskikbaar is en wat deur die SARB verander kan word deur byvoorbeeld rentekoersveranderings. PT saam verteenwoordig die nominale ekonomiese groei van die Suid-Afrikaanse ekonomie (sluit groei in waarde a.g.v. inflasie in) of anders gestel, dit verteenwoordig ook die vraag na geld vanuit die Suid-Afrikaanse ekonomie. Tans sorg die SARB dat die hoeveelheid geld beskikbaar vir die ekonomie (MV) net genoegsaam is om in die vraag na geld (PT) te voldoen. In hierdie aksie vergestalt die onafhanklikheid van die SARB homself: Die vryheid om sonder politieke inmenging die waarde van die rand te beskerm deur na goeddunke kredietskepping, rentekoersbewegings en uitbreiding van geldvoorraad te bestuur om die rand se waarde te beskerm. Daarteenoor is politici populisties gedrewe en wil goedkoop geld beskikbaar maak in onrealistiese hoeveelhede deur lae rentekoerse, kredietskepping en die drukpers, sodat hulle weer verkies kan word. Dit is ʼn dodelike ekonomiese mengsel soos bewys is in Zimbabwe, waar hiperinflasie ʼn miljoen persent oortref het en hulle noodgedwonge die VSA dollar as wettige betaalmiddel in hul land moes aanvaar om nie totaal in duie te stort nie. Altesaam 53 jaar se welvaart is in agt jaar vernietig.

Ter afsluiting

Vir die eerste keer sedert 1994 kom die onafhanklikheid van die SARB onder skoot. Die ekonomiese skade wat veroorsaak kan word wanneer die staat direk beheer van die SARB oorneem, is onberekenbaar en moet sterk teengestaan word. Te min kundiges is bereid om vanweë hul betrokkenheid by instellings direk deel te neem aan debatte en artikels in die media wat die katastrofiese gevolge van kommunisties-sosialistiese beleidsrigtings sinvol kan kommunikeer. Die Chris Hart-sage het hierdie “polities korrekte versigtigheid” na ʼn nuwe vlak gevoer.

ʼn Verknogtheid aan politiese korrektheid deur die media, maatskappye en voorstanders van vryemarkbeginsels is die dood in die pot. Te veel hoë grond word prysgegee voor die werklike fundamentele debat begin oor sake soos die onafhanklikheid van die SARB, grondonteiening en nasionalisering van privaat instellings. Ons het immers talle gevallestudies ten noorde van ons om die vernietigende effek van radikale ekonomiese transformasie in syfers weer te gee. Dit is klaar laat in die dag om dié kommunisties-sosialistiese beleidsrigtings te stuit. Ons sal kaalvuis moet terugbaklei, anders gaan die geskiedenis ons fel oordeel!

  • Hannes du Preez is verbonde aan Prima Batebestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

John ·

Is daar iemand in die regering wat bogenoemde redenasie kan verstaan en ondersteun? Soek hom dringend by name. Hy is goud werd. En ook nie iemand wat net die kop van die’ leeu wil streel nie, maar hom verstaan en bewonder, sy liggaamsbou en spierkrag, jagvermoe, voeding en volhoubare leefwyse in die vrye natuur sonder heinings en verdowingspyltjies… sodat die trop kan oorleef…

Flintstone ·

Malikane,dis presies die rede hoekom die land tot nou staande gebly het en dit die land op hierdie kontinent is met die hoogste verkoopsyfer van nuwe duitse motors.Krap hieraan en dit gaan die land word met die hoogste verkoopsyfer in tweedehandse motorparte.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.