Die SAL-sage: Die geveg om idees en die eie belang daaragter

Deur Derek Mans en Gideon du Plessis

(Foto: Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se ondergang het nie oornag plaasgevind nie aangesien die lugredery al vir langer as ʼn dekade ʼn verliesmakende onderneming is. Gedurende die Zuma-administrasie en met die SAL-voorsitter, Dudu Myeni, aan die stuur, was die SAL se ondergang in snelrat. Vuyani Jarana, die vorige uitvoerende hoof van die SAL, wat in Junie 2019 bedank het, was wel die lugredery se laaste hoop, maar hy was nie in pas met die aandeelhouer se ideologie nie en kon nie die lugredery op die ontwikkelingstaat-model bedryf nie.

Benewens die wanbestuur van die SAL onder die Zuma-administrasie, het die metaalwerkersvakbond, Numsa, se staking van November 2019 die SAL oor die afgrond gestoot. Die roekelose staking het ʼn baie negatiewe uitwerking op sowel die SAL as Numsa gehad.

Numsa se staking

Tydens die 2019-salarisonderhandelinge was dit duidelik dat die SAL en SAL Tegnies (SALT) geensins in ʼn finansiële posisie was om verhogings toe te staan nie. Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Loodse (SAAPA) het toe reeds ʼn ooreenkoms beding wat vir ʼn 5,9%-salarisverhoging vir vlieëniers voorsiening gemaak het. Weens ʼn verdere verswakking in die SAL se finansiële posisie nadat die ooreenkoms gesluit is, het die SAL aangedui dat hy nie meer die verhoging kon bekostig nie. SAAPA het toe die ooreenkoms deur middel van arbitrasie afgedwing.

Intussen het die SAL aangedui dat geen verhogings vir ander werknemers toegestaan kon word nie. Numsa en die SA Vereniging van Kajuitpersoneel (Sacca), wat as ʼn koalisie optree, het in hul reaksie daarop tot ʼn staking oorgegaan. Vanuit ʼn ideologiese oogpunt is aangevoer dat die “haves” (die vlieëniers) ʼn verhoging kon kry, maar die “have nots” nie.

Tydens die staking het Numsa in die media die klem verskuif en aangedui dat die staking aan hul dispuut met Eskom gekoppel is en dit as boodskap moet dien dat hulle enige vorm van privatisering en die ontbondeling van Eskom met dieselfde nywerheidsoptrede sou teenstaan.

Die SAL se finansiële verknorsing was welbekend, maar Numsa as ultralinkse vakbond wat homself as Marxisties-Leninisties beskryf, se ideologiese ingesteldheid oorskry enige vorm van ekonomiese realisme. Die vakbond was ook bewus daarvan dat die regering nie die SAL sou laat ondergaan nie en daarom kon hulle op die dek van die Titanic staak.

Numsa was ook “slim” om Sacca by die staking te betrek sodat die staking meer ontwrigtend sou wees met kajuitbemanning wat ook staak, maar op dié manier is nog ʼn party betrek wat deels geblameer kon word as dinge sou skeefloop.

Numsa en Sacca   se week lange staking het geëindig met die ondertekening van ʼn leë ooreenkoms wat vir ʼn 5,9%-verhoging voorsiening gemaak het, onderworpe aan die beskikbaarheid van fondse in Maart 2020 – wat beteken die werkers het ʼn week se salaris tydens die staking verloor en in ruil daarvoor het hulle geen verhoging gekry nie.

SAL tot in sakeredding gestaak

Gideon du Plessis.

Weens die staking het die sukkelende SAL meer besigheid en aansien verloor en Numsa het besef dat hy die lugredery tot in dieper bankrotskap gestaak het. Om die negatiewe narratief te verskuif, was Numsa genoodsaak om sy ideologiese teenpool, Solidariteit, se sakereddingsaansoek van vroeg Desember 2019 te steun. Dié aansoek was daarop gemik om wanbestuur en korrupsie rondom die SAL te bekamp en die entiteit teen likwidasie te beskerm.

Die regering het toe vinniger die sneller getrek en self die SAL op 5 Desember 2019 in vrywillige sakeredding geplaas.

Hoewel een van die sakereddingspraktisyns, Les Matuson van Matuson & Associates, by die eerste krediteurevergadering van 19 Desember 2019 van mening was dat die SAL gered kon word as alle belanghebbendes (die aandeelhouer, krediteure en vakbonde) hul deel doen, het die praktisyns ses maande later nog met geen reddingsplan van hul kant af vorendag gekom nie.

Die praktisyns het wel onlangs die aflegging van ʼn groot deel van die werksmag geïnisieer, maar in die wete dat daar geen fondse beskikbaar was om afleggingspakkette te betaal nie. Numsa het die afleggings in die arbeidshof beveg en die hof het in Numsa se guns beslis en bepaal dat die afleggingsproses tersyde gestel word omdat ʼn sakereddingsplan nog nie gepubliseer is nie.

Numsa se hofaansoek was genoodsaak om SAL-werkers te beskerm teen die uiteindelike gevolge van hul staking en ʼn dreigende aflegging sonder die voordeel van ʼn pakketuitbetaling, maar Evraz Highveld Steel se sakereddingsproses van 2015 het ook by Numsa gespook. In Julie 2014 het Numsa by die staalaanleg Highveld Steel, wat soos die SAL op sy knieë was, gestaak. Enkele maande later is die maatskappy in sakeredding geplaas en Matuson & Associates is ook daar as sakeredders aangestel. Altesaam 1 900 werknemers is sonder die betaling van ʼn afleggingspakket afgelê en Numsa is geblameer dat hul staking die aanleg se sluiting versnel het.

Hoewel talle arbeidsregkenners van mening is dat die onlangse SAL-Numsa-uitspraak deur ʼn hoërhof tersyde gestel sal word, het die uitspraak Numsa se verhouding met SAAPA en Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings, herstel ná spanning tussen die partye weens Numsa se vroeëre optrede en aksies.

Spanning met sakereddingspraktisyns

Derek Mans.

Daar bestaan tans geen vertrouensverhouding tussen Gordhan en die sakereddingspraktisyns nie. Hulle het ʼn geskiedenis van verskille, maar die departement en die sakereddingspraktisyns het gepoog om hul verskille by te lê en onlangs ʼn memorandum van verstandhouding onderteken wat enige moontlikheid van die sluiting van die lugredery, ongedaan sou maak. Dit bepaal ook dat die partye se aksies tot voordeel van die SAL en sy werknemers sal strek. Daar is voorts ooreengekom dat die SAL proporsionele salarisse vir Mei en Junie sal betaal.

Hoewel ʼn sakereddingsuitkoms gewoonlik onseker is, is daar wel sekerheid dat die sakereddingspraktisyns geld sal maak uit die proses. Tot op hede beloop die twee SAL-sakereddingspraktisyns se koste R30 miljoen. Tydens Gordhan en die praktisyns se verskyning voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) op 15 Mei, het Gordhan kaalvuis onder die praktisyns ingeklim oor hul astronomiese rekening wat boonop geen plan tot gevolg gehad het nie. Die praktisyns het in hul reaksie daarop onder meer die departement, maar eerder vir Gordhan, vir hul uitdagings geblameer en terselfdertyd aangekondig dat geen salarisse betaal sal word nie, wat strydig is met die ooreenkoms.

Benewens die voorgenoemde, het hierdie spanning met Gordhan ook ʼn ideologiese onderbou met Gordhan, wat kommunisties georiënteerd is, wat moet toekyk hoe die praktisyns groot inkomste uit ʼn sukkelende staatsentiteit verdien. Daarmee gepaardgaande wil die staat alles by die SAL beheer en was hy aanvanklik geneë om gereeld finansiële reddingsboeie van miljarde rande te betaal om staatsbeheer oor die SAL te behou, maar nou is die geld gedaan. Dit is ʼn sprekende voorbeeld van Margaret Thatcher, die eertydse Britse premier, se bekende standpunt oor sosialisme, naamlik dat ʼn mens uiteindelik iemand anders se geld gedaan maak.

SAL plaas sakeredding en die ideegevegte in kollig

Die optrede om die SAL in sakeredding te plaas, was die korrekte en enigste uitweg, maar het dit het ʼn goeie gevallestudie van ʼn stryd om idees geword. Die sakeredders se hantering en ongewildheid pas die regering in ʼn mate, want die sakeredders kan nou geblameer word vir die SAL-gemors en dit kan die aandag aflei van die oorsprong van die probleem, naamlik die ANC se korrupsie en beheptheid met sentrale beheer.

Benewens die sakeredders se planne, maak Gordhan nou voorbrand vir ʼn nuwe en kleiner lugdiens wat met ʼn privaat vennoot uit die SAL se as kan verrys. Dit klink onlogies, maar as die staat geen reddingsboei aan enige van die ander lugrederye wat nou in finansiële nood verkeer, bied nie en die SAL se opposisie op dié manier ten gronde gaan, beteken dit dat die dood van die ander lugrederye die SAL se brood gaan wees.

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Numsa steun die voorstel van ʼn privaat vennoot, maar dit is tog ironies dat SAL-werkers in November 2019, onder meer, moes staak teen ʼn Eskom-privatiseringskwessie, terwyl Numsa nou besef dat ʼn privaat belegger onontbeerlik vir SAL se voortbestaan gaan wees. Dalk gaan daar nou ʼn lig op dat ʼn privaat vennoot ook tot Eskom se redding kan kom. Die EFF, daarenteen, is totaal gekant teen enige betrokkenheid van die privaat sektor, en in pas met hul ideologie, moet die staat alles beheer.

Om die laaste legkaartstuk van die ideologiese prentjie in te pas, het die DA sakeredding aanvanklik ten volle ondersteun. Kort daarna verander die DA sy posisie en propageer hy nou likwidasie as enigste opsie vir die SAL. Heelwat kommentators sal die DA se voorstel steun, maar as die SAL gelikwideer word, sal al die werkers op straat sit. Vir sosialiste is dit ʼn tipiese weerspieëling van die vrye mark wat harteloosheid teenoor werknemers openbaar – vandaar hul weerstand teen dié ideologie.

Die spanning is tans op breekpunt met die SAL wat in Junie vlugte wil hervat en die sakeredders wat daarteen skop. Terwyl die geveg om idees rondom die SAL woed en kliënte benadeel word, is dit ongelukkig die SAL-werknemers en hul afhanklikes wat die swaarste getref word deur die gevolge van hierdie geveg.

  • Derek Mans is Solidariteit se organiseerder in die lugvaartbedryf en Gideon du Plessis is die vakbond se hoofsekretaris.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

As die land enigsins voorentoe wil beweeg is dit tyd vir die vakbonde om vernietig te word. Ons het ‘n Margaret Thatcher nodig om te se soe ver en nie verder nie. Maar dan het ons ‘n goverment nodig wat nie die ANC is nie. Sal DIT nou nie lekker wees nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.