Die selfgemaakte globale energiekrisis

Daar is tans ʼn ernstige energiekrisis en die meeste lande beleef een of ander vorm van energietekorte.

Energie is nodig om die wêreld aan die gang te hou deur ʼn gevestigde stelsel wat massaproduksie vir veral verstedelike bevolkings noodsaak. Sonder genoeg energie sal daar erge implikasies wees vir die mensdom, insluitend voedseltekorte.

Die Sweedse omgewingsaktivis Greta Thunberg neem haar sitplek in voor die openingsessie van die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland. (Foto: Markus Schreiber, AP)

Die oorsaak van die energietekorte is ʼn sameloop van omstandighede, maar in ʼn groot mate is dit ʼn selfgemaakte krisis. Die primêre rede vir die korttermyn krisis, wat veral in Europa hierdie komende winter sy tol gaan eis, is ʼn kat-en-muis geopolitieke spel. Op die langer termyn lyk die prentjie nog meer somber, hoofsaaklik weens die (Westerse) globaliste se fassinasie met sogenaamde groen-energie, wat alle fossielbrandstowwe moet vervang.

Alternatiewe energie in Suid-Afrika

Elke land het maar sy eie oorsake vir energiekrisisse, hetsy weens natuurlike prosesse soos droogtes, of swak politieke besluite. In Suid-Afrika is ons uitgelewer aan die ANC-regime se swak beplanning, korrupsie, asook gebrek aan instandhouding en verantwoordbaarheid. Terwyl Suid-Afrika reuse steenkoolreserwes het – daar is daagliks honderde steenkool-laaitrokke op pad na Maputo se hawe om steenkool te verskeep na China en Europa – kan die wanbestuurde Eskom nie eens die bestaande steenkoolkragsentrales aan die gang hou nie.

Ons het dus in Suid-Afrika geen ander keuse as om alternatiewe energiebronne te omarm vir oorlewing nie. Waar Eskom vir 80 jaar daarin geslaag het om energieopwekking en -verspreiding te sentraliseer, gaan groot stede en dorpe nou gedwing word om te desentraliseer en self energie op te wek. Aangesien stede in Suid-Afrika nie die luukse het van groot finansiële hulpmiddels om kragsentrales te bou nie, weens die sosialistiese welsynstaat waarin ons leef nie, is sulke entiteite afhanklik van privaat bestuurde groen-energiebronne in die toekoms.

Die ironie is dat die Weste gretig ons verval sien as ʼn geleentheid, waarin Suid-Afrika omskep kan word in ʼn land wat meestal groen-energie opwek. Hoewel só ʼn alternatiewe energieopwekking uiteraard nooit dieselfde uitsette sal kan lewer as die ou funksionele Eskom nie, sal die plaaslike bevolking maar net dankbaar wees dat daar wel ʼn alternatief is.

‘n Sonkragaanleg in De Aar in die Noord-Kaap (Foto: @eskom_sa, Twitter)

Dit bied aan die Weste se omgewingsbewuste regerings die ideale geleentheid om met groen-energie te eksperimenteer. Indien hulle kan wys dat ʼn land soos Suid-Afrika se relatiewe groot ekonomie op groen-energie kan funksioneer, sal hulle dit voorhou as voorbeeld dat hul eie ekonomieë dit ook moet doen. Die VSA, Brittanje en die EU het reeds US$8,5 miljard (tans R153 miljard) beloof om hierdie omskakeling in Suid-Afrika te finansier. Dit is natuurlik manna uit die hemel vir die ANC-regime wat nie krag kan lewer nie, terwyl ou steenkoolkragsentrales weens veroudering toenemend ingee.

Edele motiewe

Terug na die globale energie krisis. Ons weet almal dat brandstofpryse die laaste jaar of wat die hoogte ingeskiet het. In Suid-Afrika is ʼn gebrek aan energie nag vir die industrieë en ʼn irritasie vir huishoudings. In Europa word dit so koud dat ʼn gebrek aan verhitting in wooneenhede kan lei tot duisende se dood. Gevolglik het nie net die prys van petrol en diesel die hoogte ingeskiet nie, maar gaspryse se verhoging het reeds energiepryse vir meeste Europese huishoudings laat verdubbel of verdriedubbel, met alle aanduidings dat dit nog verder gaan verhoog.

Europa neem nuwe stappe om energiekrisis aan te spreek (Foto: Yasin Demirci/AFP)

Die energiekrisis wat tans heers, het begin met edele motiewe. So het Duitsland in 2011 weens omgewingsredes besluit om al sy kernkrag- en steenkoolkragsentrales te sluit. Nou word hulle gedwing om steenkoolkragstasies weer aan die gang te kry. Die aandrang na skoon energie word jaarliks meer, aangesien omgewingsaktiviste al vir jare waarsku dat ons energieverbruik klimaatsverandering veroorsaak. Weens die druk wat op regerings geplaas word hierdeur, het regerings reeds verskeie klimaatsverdrae geteken, wat hul eie gebruik van brandstowwe sou verminder.

Hoewel daar reeds triljoene dollars aan alternatiewe energiebronne spandeer is, veral in die Westerse state, blyk dit steeds ʼn droom te wees om sonder brandstowwe industrieë en besighede aan die gang te hou. Son- en windkrag is beperkend, terwyl die stoor van energie op batterye duur en ondoeltreffend is. Komponente verouder vinnig en moet weggegooi word, terwyl ander grondstowwe soos litium en kobalt in groot hoeveelhede benodig word. Dit skep dus nuwe probleme wat oënskynlik deur die groenes geïgnoreer word.

Inperkings en muishondlande

Die energiekrisis word vererger deur ʼn klomp faktore. Dit sluit in die inperkings wat amper alle regerings afgedwing het weens die Covid-19-pandemie. Skielik was daar ʼn tekort aan brandstowwe weens die logistieke nagmerrie danksy bewegingsbeperkings wat afgedwing is. Dit het skeepsvrag direk geraak en tekorte veroorsaak. Regerings se stimuluspakkette aan hul bevolkings het weer inflasie deur die dak laat skiet. Kleiner lande, soos Sri Lanka en Libanon, het skielik nie meer oor genoeg valuta beskik om brandstof aan te koop nie. Baie regerings kom nou eers agter dat om ekonomieë vir 18-24 maande toe te maak, gevolge het.

Die Westers-gedrewe isolasie van muishondlande met reuse energiereserwes is nog ʼn faktor. So word Iran en Venezuela al vir jare internasionaal geïsoleer weens hul regerings se optrede. Aangesien dit nog minder brandstowwe die markte laat bereik, vererger dit skaarstes. Soveel so, dat die VSA nou wel as vergunning toelaat dat Venezuela olie na Europese lande kan uitvoer. Dit kan verwag word dat Iran se olie- en gas-uitvoere ook binnekort toegelaat sal word om tekorte aan te vul. Sanksies kan ook net solank hou totdat dit jouself seermaak.

Dieselfde geld natuurlik met sanksies teen Rusland weens die oorlog in die Oekraïne. Rusland is een van die grootste uitvoerders van olie en gas, maar na hul inval in Oekraïne is sanksies vinnig ingestel. Dit is egter ten koste van bevolkings in Wes- en Oos-Europese lande soos Duitsland, Pole en Italië, wat grootliks afhanklik is van Russiese energie. Die Russe, wat steeds (verlaagde hoeveelhede) gas aan Europa verskaf, het eenvoudig ander markte in Asië gekry, insluitend Indië en China.

Die onsekerheid van die oorlog, wat intussen in ʼn volmagstryd (proxy war) tussen Rusland en ʼn VSA-gefinansierde Oekraïne ontaard het, kan selfs in ʼn kernoorlog meebring. Die slagoffer is egter die Europeërs, wat naarstigtelik alternatiewe verskaffers van gas soek om “beurtkrag” hierdie winter te vermy.

Daar is alternatiewe verskaffers van gas, soos byvoorbeeld Noorweë, Katar en die VSA, maar dan moet dit per skip plaasvind, want daar is nie pypleidings om oor te skakel van verskaffer nie. Sulke prosesse word oor jare gevestig, met heelwat befondsing.

Kragte en teenkragte

Daarmee saam is daar ook ander faktore. Ongekende droogtes in Europa, die VSA, Brasilië en China in die somer het byvoorbeeld hidrokragopwekking erg ingeperk. Ook in Frankryk, met so iets soos 72 kernkragsentrales, moet amper die helfte sluit weens instandhoudingsprobleme.

Pres. Joe Biden (Foto: MANDEL NGAN/AFP)

Die olieryke state in die Midde-Ooste, soos Saoedi-Arabië, het reeds pres. Joe Biden van die VSA se versoek verwerp om meer olie te produseer om die olieprys te verminder. Hulle is (tereg) bekommerd oor die Weste se groen-energie-agenda, wat hul bestaan as olieuitvoerders ondermyn. Gevolglik ondersteun hulle toenemend om die VSA en dollar-gedrywe internasionale bankstelsel te laat vervang deur ʼn alternatiewe geldmarkstelsel. Dit sal die VSA se ekonomiese oorheersing beëindig en potensieel die VSA se oormag breek.

Daar is dus heelwat kragte en teenkragte wat die selfgemaakte energiekrisis veroorsaak. Dit is beslis nie weens ʼn tekort aan fossielbrandstowwe nie. Inteendeel, daar word amper jaarliks nog groot energiebronne ontdek. Die idee dat die fossielbrandstowwe “binnekort” gaan opraak, soos al vir 50 jaar voorspel word, is bog. Die wêreld sal vir dekades kan voortgaan om brandstowwe te gebruik, al is dit ten koste van die omgewing. Dit sal egter minder katastrofaal wees as triljoene dollars wat aan groen-energie spandeer word, met gebrekkige resultate en ʼn snelgroeiende spoor van omgewingsbesoedeling deur ou groenkrag-komponente (soos batterye en sonpanele).

In die proses het die propaganda dat die wêreld binnekort gaan vergaan, weens verbranding van brandstowwe en absurdhede soos die produksie van vleis en melk, reeds soveel momentum opgebou dat Westerse regerings hul reeds verbind het tot alternatiewe energiebronne. Selfs die energiekrisis wat ons tans beleef sal nie die momentum kan stuit om triljoene te spandeer en ekonomieë verder te verswak nie.

Bedreiging vir energie

Opsommend is die grootste korttermyn bedreiging vir energieverskaffing tans geopolitieke speletjies – ongeag die meriete van die saak. Die weiering om Russiese gas te koop, kan lei tot duisende se dood hierdie winter in Europa. Daarmee saam het resessie reeds ʼn stewige vastrapplek gekry, met groter internasionale finansiële chaos wat voorspel word. Dit gaan lei tot grootskaalse armoede oral, wat weer nuwe vlugteling-probleme gaan veroorsaak.

By die inwerkingstelling van die EmsEnergyTerminal wat Nederland se afhanklikheid van Russiese energievoorsiening sal help aanspreek (Foto: ANP MAG/AFP)

Die grootste bedreiging vir energiesekerheid in die wêreld is egter klimaatsaktivisme wat nou die globaliste, wat die Westerse wêreld beheer, se sentrale tema is. Niemand is sekerlik teen die groter gebruik van alternatiewe energie nie, veral nie in Suid-Afrika wat geen ander keuse het nie.

Indien regerings in die VSA en Europa egter voortgaan met hul duur, aggressiewe planne om fossielbrandstowwe byna oornag uit te faseer, kan dit binnekort groter probleme veroorsaak. Ja, die lug sal sekerlik skoner wees, maar dit wil voorkom of die implikasies hiervan nie verreken word nie.

Soos ons reeds met die inperkings en sanksies teen Rusland gesien het: alle aksies het noodwendig gevolge.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jacob ·

Is dit “follow the science” of eerder “follow the Dollar signs”? Melissa Fleming van die Verenigde Nasies maak dit duidelik tydens die “Sustainable Development Impact Meeting 2022” dat, in haar eie woorde, “We own the science”. Die SDIM 2022 word deur die die World Economic Forum aangebied en ons hoort almal nou al te weet dat die WEF een van die dryfkragte agter die vernietigende inperkings en “inentings” teen Covid 19 was. Bill Gates het die Omicron variant wat basies ‘n verkoue is, as “sad” beskryf omdat dit inenting nog meer onnodig gemaak het.

Hoe bring ons die twee bymekaar uit? Dit gaan daaroor om die wereldbevolking afhanklik te maak van ‘n handjievol sogenaamde elite. Covid 19 was die voorloper en klimaatsverandering word in opvolg daarvan gebruik om beheer te kry oor voedselsekerheid. Wie die kos beheer, beheer die mense.

As ek of my familie bedreig word, huiwer ek nie om dodelike geweld te gebruik nie en daar is biljoene wat soos ek voel.

Pieter ·

Ja nê, daardie “vernietigende inenting”. My arm was seer vir ‘n hele dag.

Jacob ·

Jy is werklik gelukkig Pieter, want ek sien die Amerikaanse senaat het die FDA opdrag gegee om dringend, in diepte te kyk na ‘n skokkende toename in gevalle van erge en dodelike newe effekte as gevolg van die “inentings”. ‘n Vriend is oorlede aan beroerte twee dae na sy tweede inspuiting, ‘n ander vriend se vrou (met twee kinders nog op universiteit) het gesterf aan beroerte twee dae na haar tweede inspuiting. Dit word uit die VK berig dat sowat 1 uit 800 inentings lewensveranderende en lewensgevaarlike gevolge het, maar daar is ingeligtes wat beweer dat dit heeltemal onder-aangemeld word en slegs ‘n druppel in die emmer verteenwoordig.

Ek kan stawende dokumente verskaf, dus Pieter, ek herhaal, jy is baie gelukkig. In elk geval, van wanneer af is dit ‘n pandemie met mortaliteit van slegs 0.08% ?

Nettie ·

Dis goed om te sien hoeveel mense besef nou die waarheid agter als, dankie Jacob. Hierdie “regeerders” gaan nog uitvind daar is ‘n Groter Regeerder en Hy gaan hulle net nog ‘n tydjie lank gee. ‘n Kort tydjie.

JD ·

Jacob is wakker, wees meer soos Jacob en hou op hoofstroom nuus kyk/luister asb tog mense.

Goed gesê Jacob.

Groen Ghoen ·

‘n Puik artikel dankie! Geskiedkundiges sal moontlik die dag toe Jurassic Joe Biden as die magtigste man aangewys is aandui as die dag toe die Weste se ondergang begin het. Hierdie man het eiehandig die globale ekonomie gekelder met die triljoene Dollar wat gedruk is en nou tot ‘n daling van +20% in markte en stygende inflasie lei. Sy sinnelose sluiting van Amerikaanse energieprojekte en vasklou aan die Oekraine (Dalk weens persoonlike belange daar?) kon die konflik met Rusland vermy het (Putin het vir Biden gevra om nie missiele naby Rusland aan te bring nie). Sy obsessie met Covid het die globale ekonomie onberekenbare skade aangedoen. Hoe vinniger hierdie man tot ander insigte kan kom, hoe beter vir almal.

Pieter ·

So jou puik plan is eenvoudig, die antwoord is: doen niks. Regerings en die privaatsektor moenie geld spandeer om nuwe energiebronne te ontdek / ontwikkel nie. Nuwe idees is simpel, fossielbrandstowwe is die toppunt van menslike ontwikkeling.

Jacob ·

Die sogenaamde groen energie oplossing is nie groen nie en beslis nie ‘n alternatief vir fossielbrandstowwe nie. Daar sal mense die winter sterf van koue a.g.v. die belaglikheid.
Die hoeveelheid wat meer gemyn moet word om in die behoefte van “groen energie” te voorsien, is skokwekkend. Sogenaamde groen oftewel battery aangedrewe voertuie se batterye het ‘n leeftyd van sowat 160 000 kilometers (meeste goed opgepaste binnebrandenjin voertuie is dan eers behoorlik ingeloop) en die vervangingskostes vir die batterypak vir ‘n Lexus EV beloop sowat R 570 000. Die vraag is wat word van die ou batterye? Dis nou groen of hoe Pieter?

Vrijburger ·

Soos my oupa altyd gese het: “As jy dom is moet jy sukkel”. Die weste se ‘wokeness’ en gebrek aan gesonde verstand haal hulle nou in.

Treurwilger ·

Skitterende samevatting van die betreurenswaardige stand van wêreldsake.
Die vloedgeteisterde Pakistan eis skynbaar ‘n tipe skadevergoeding van ryk Westerse lande, wat volgens hulle die sondebokke in hierdie hele treurmare is.
Die Davos-elite sal die sakke moet skud.
‘n Woelige tyd lê voor …

Autobahn ·

Manfred Kleine-Hartlage skryf oor die politiek vandag in die BRD: Die voortsetting van die Merkel-Syndroom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.