Die stryd tussen die ‘Anywhere’s’ en die ‘Somewhere’s’

europa-aardbol-vastelande

Foto: Markusspiske/Pixabay.com

Verkiesings is deesdae nie meer die wedywering tussen diegene wat vir lank klassiek links (werkers en die progressiewes) of regs (burgerlike middelklas en konserwatiewes) was nie, maar het ʼn tweestryd tussen die globaliste en die geworteldes geword. Of, soos die Britse outeur David Goodhart dit in sy boek The Road to Somewhere beskryf, die “Anywhere’s” en die “Somewhere’s”.

Die “Anywhere’s” is, soos die naam sê, orals en nêrens tuis, is hoogs opgelei en hoogs mobiel en is as’t ware wêreldburgers. Hulle sienings is gewoonlik links-liberaal en hulle is in die meeste Westerse lande in beheer van die media, die geld, staatsinstellings, akademie, dikwels ook die maatskappye. Hulle woon veral in die groot stede en glo aan hulle eie morele verhewendheid. Hulle beskou die wêreld as een plek (wat aan hulle behoort) en verag die verdeling van die wêreld in lande en volke as verouderd en toenemend irrelevant. Hulle land is sommer net ʼn plek waar hulle toevallig is en waar hulle tans werk, maar iemand wat in Londen woon en werk, kan net sowel môre in Hongkong of Rio de Janeiro woon en werk. Hy of sy voel nie tuis in sekere lande of stede nie, maar eerder in ʼn geglobaliseerde opset wat ʼn mens in alle stede kry en wat deur sekere restourante, koffieplekke, teaters en vermaakplekke wat die globale kultuur uitstraal, verteenwoordig word. Omdat hulle so mobiel en los van bindings en tradisies is, is talle van hulle ook sonder kinders of vaste verbintenisse soos ʼn formele huwelik.

Vantevore was daar ook ʼn elite wat hulle as verhewe bo die gewone mense beskou het, wat internasionaal ingestel was en binne hulle groep getrou het, die adellikes. Hulle moes hulle nie bekommer wat die “mense op grondvlak” gedink of gevoel het nie, want daar was geen of baie beperkte verkiesings. Die elite van vandag is heelwat breër en sluit groot dele van die middelklas in. Om verkiesings te wen, sluit hulle boonop bondgenootskap met immigrante en ander sogenaamde verontregtes en minderhede, asook besigheidsbelange, en skep op dié manier ʼn breë maar kunsmatige beweging. Die “Anywhere’s” het ook die groot voordeel van die mooi beeld wat hulle uitstraal en die morele hoër grond wat hulle beset. Al is jy nie een van hulle nie, wil jy aan hulle kant wees, want hulle is altyd reg.

Die “Somewhere’s” woon gewoonlik op die platteland en die dele wat minder welvarend, meer tradisiegebonde en minder geglobaliseer is, maar wat juis dikwels bedreig word deur vinnige veranderinge in die vorm van die instroom van vreemdelinge en die uitwerking van globalisering. Hulle doen gewone, plekgebonde werk en is bekommerd oor hulle werksekerheid, omdat hulle nie besonder hoë en gesogte kwalifikasies het nie. Hulle strewe ook gewoonlik na ʼn gesinslewe en die opbou van ʼn tuiste en dink nie aan emigreer nie. Hulle is die underdog wat mag, beeld, geld en invloed betref, maar hulle is nie magteloos nie. Hulle kan wen as hulle op grondvlak mobiliseer en as sekere leiersfigure uit die elite na hulle kant toe oorkom, soos ʼn Donald Trump of ʼn Boris Johnson (en die etiket “populis” word dan gewoonlik om sulke mense se nekke gehang wat dit durf waag om vir die gewone mense [populus] op te staan).

Die “Somewhere’s” het ʼn meer eerlike leierskap en hulle mense is ook meer lojaal en hoewel hulle nie die media beheer nie, het hulle ook netwerke op grondvlak en bied die sosiale media ook vir hulle geleenthede.

Terwyl die “Anywhere’s” die op die oog af seldsame alliansie van ryk elite en middelklas met uitheemse minderhede sluit, sluit die “Somewhere’s” alliansies tussen patriotte wat gebonde aan hulle land of streek voel saam met werkers en inheemse armes, iets wat vroeër ondenkbaar was, toe die werkers en armes bankvas in die “progressiewe” kamp was. Hulle trek ook in ʼn mate steun van die anti-globalistiese beweging. Hulle het ook die voordeel dat hulle ongetoets is en polities iets anders kan bied as “meer van dieselfde”. Die “Somewhere’s” staan nie koud teenoor die armes en verontregtes nie, soos dikwels teen hulle gesê word, hulle glo eerder aan “Charity begins at home”. Vir die “Anywhere’s” is almal dieselfde en is die wêreld een plek en daarom gee hulle om vir armes in Afrika of vir die wêreldwye klimaat eerder as vir armoede en probleme in hulle eie land, wat in elk geval ʼn vreemde begrip vir hulle is. Dit maak dat die “Somewhere’s” uitgesluit voel.

Vroeër was mense verdeel oor sekere belange, maar was almal burgers van ʼn land of deel van ʼn volk. Deesdae ontbreek ʼn gevoel van solidariteit tussen groepe binne ʼn land. Vir die “Somewhere’s” is gemeenskap hulle direkte omgewing, hulle dorp, woonbuurt, kerkgenootskap of vereniging. Die “Anywhere’s” erken nie gemeenskap nie, of hoogstens in die vorm van die “cruise ship community” waar mense saam in dieselfde ruimte is, saam vermaaklikhede en belangstellings deel en oppervlakkig met mekaar kommunikeer, sonder om regtig bande te vorm.

Die verdeling van bevolkings in elites en die res is niks ongewoons nie, maar in die verlede het hulle gewoonlik mekaar in dieselfde partye gevind en het elke regering probeer om die twee groepe saam te snoer. Die nasiestaat het egter nie meer die appèl van vroeër nie en die hoofstroompartye behandel grootliks hulle “gewone mense” met minagting. Progressief of links was vroeër om vir die regte en beter werksomstandighede van werkers te wees, vandag is dit om vir ʼn abstrakte een-wêreld-idee of ten minste Europa-idee te wees wie se hooffokus is om die nasionale en streeksidentiteite te vernietig en om globalisering op ʼn nuwe vlak te vat.

Onlangse verkiesings was sprekend van die verdeling tussen die “Anywhere’s” en die “Somewhere’s”: eersgenoemde was vir Macron, vir Clinton en vir Van der Bellen en teen die Brexit, laasgenoemde vir Le Pen, vir Trump, vir Hofer en vir die Brexit. Die “Anywhere’s” is oortuig dat hulle aan die regte (maar linkse) kant van die geskiedenis is en die morele oppergesag het. Hulle het veral in Europa eintlik nog altyd gewen, maar hulle vergeet dat elke oorwinning meer moeite kos en dat al meer ontevredenes en gegriefde “Somewhere’s” versamel. Met die Brexit-referendum het die “Anywhere’s” die eerste keer met ʼn skok besef dat die veragte “Somewhere’s” ook kan organiseer en wen. Om hulle net as “regs”, “populisties” en irrelevant af te maak skiet tekort.

Die fout wat die “Anywhere’s” egter maak, is om griewe van die grondvlak te ignoreer. Tans word orals deur die hoofstroommedia uitgebasuin dat “Europa” of “die oop en multi-kulturele samelewing” in die onlangse verkiesings gewen het teen “eng nasionalisme”, “rassisme” en “haat”, maar die woede en griewe van die “Somewhere’s” gaan nie verdwyn nie en die volgende golf gaan net sterker wees.

Voorheen is ʼn verwyderde en ongevoelige elite weggevee deur rewolusies soos in Frankryk, Rusland en meer onlangs in Oos-Europa. Die geskiedenis herhaal hom nooit presies op dieselfde manier nie en ʼn rewolusie in ʼn Westerse demokrasie is hoogs onwaarskynlik, maar ʼn land of vasteland wat in homself verdeel is en waar groot dele van die bevolking uitgesluit word of ten minste uitgesluit voel, soek vir moeilikheid.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Puik, soos altyd!

Wat veral opvallend is, is dat die vlugtelinge van die wêreld nie sommer “anywhere” heen vlug nie, maar verby menige lande na ‘n spesifieke “somewhere”.
Wanneer die gesogte bestemmings bereik is, is dit nié die “Anywhere’s” wat moet meeding met die nuwe aankomelinge om staatsbronne nie, maar die “Somewhere’s”.

Dalk is ‘n behoorlike rewolusie soos van ouds presies wat die nuwe adelstand nodig het.

Nico K ·

Sebastian ek dink jy oorvereenvoudig die situasie. Jy is duidelik teen die Europese unie, maar dit was nooit die doel van die Europese unie om nasies te vernietig nie. Die oogmerk was bloot om met groter samewerking ook groter ekonomiese vooruitgang te bewerkstellig. Die VSA se ekonomie is so groot as gevolg van die land en sy bevolking se grote. Lande soos Swede is per capita baie ryker as die VSA, maar het nie globale mag omdat hulle bloot te klein is. Die val van die Europese unie was omdat veral suidelike Europa se ekonomie agteruit gegaan het, en natuurlik wil die ryker lande nie meer vir die armes sorg nie. Die toestroom van immigrante het sekerlik wrywing gebring, maar ek is seker elke Europese land is nog steeds in staat om sy eie immigrasie beleid te bepaal. Die “somewheres” is baie minder gepla oor die armes, so om te sê dat die “anywheres vergelyk kan word met die ou adel is nie waar nie. Hulle is juis ten gunste van die armes (sosialisme). Onthou dat Brittanje se Konserwatiewe Party, (wat nou so ten guste van afskeiding van die EU is) deur die ou adel gestig is. En ek is nie seker of Brittanje se ekonomie sommer sterker gaan word net omdat hulle van die EU afskei nie.

Sebastiaan Biehl ·

Nico, ek het geen probleem met die EU as handelsverbond nie, soos wat dit die oorspronklike bedoeling was. Brittanje was altyd ten gunste van so ‘n vryhandelsone. Eers toe die EU in die rigting van ‘n superstaat met ‘n spesifieke globalistiese agenda beweeg het, het ek en talle ander ongemaklik daaroor begin voel. En lande is nie werklik meer in beheer van immigrasie as die hele Schengen-sone geen grense meer het nie en immigrante daarbinne kan rondbeweeg. Party lande beskerm hulle grense soos Hongarye en toenemend ook Oostenryk en word deur die EU-kommissie vel gekritiseer daarvoor. Die Britse Konserwatiewe Party is ook nie die party van die “Somewheres” nie, UKIP is. Die Konserwatiewe Party was redelik verdeel oor die Brexit, maar hulle het nou gesien vanwaar die wind waai.

JC ·

Uitstekende skrywe, Sebastiaan. Dit is puik, goed-ontleed, en informatief soos altyd!
Wat opval en ook lagwekkend is, is dat die verfoeilike “anywhere’s” skynbaar nie plekke besoek waar hulle moet OPBOU en hard werk vir hul brood nie, maar verkies om “reeds verpakte” en snoesige heenkomes te oorval waar hulle na hartelus kan parasiteer,
Lekker man!!

Gideon Jones ·

Goeie artikel. Jou beskrywende woorde “morele verhewendheid” slaan die spyker op die kop. Dit is ongelukkig ook duidelik waarneembaar onder baie van ons eie landgenote. Dit is egter “perdevye”. As jy die vernis afkrap, slaan die roes deur. Ek waag ‘n mening dat die moderne wereld die politieke verklarende woordeboek heeltemal gaan herskryf. Begrippe soos konserwatisme en liberalisme het reeds totaal ander betekenisse gekry.

Gideon Jones ·

Goeie artikel Sebastiaan. Ek hou van die beskrywing “morele verhewendheid van die elite”. Ongelukkig is dit ook algemeen in ons eie gemeenskap. Perdevye – krap jy die vernis af, slaan die roes deur. Ek waag ‘n mening – die politieke verklarende woordeboek is besig om heeltemal herskryf te word, terme soos konserwatisme en liberalisme kry nou ander betekenisse. Die modernisering van die mensdom en totstandkoming van ‘n nuwe wereldorde verander alles

Henry ·

Die oorgrote meerderheid van die “Somewhere’s” in hierdie droewe land is tans hard aan’t woeker om met stakings, geweld, oproer, klipgooi, brandstigting, hulself te laat geld.

Dat rewolusies die geneigdheid het om hul eie weg en resutate te vind, is inderdaad raar maar waar. In hierdie droewe land se geval is die uitkoms van die huidige rewolusie van “radikale transformasie”, ‘n gewisse bedreiging vir die voorheen bevoorregte “Anywhere’s”. Ironies genoeg, ook vir die vorige “Somewhere’s” wat tans van die vettighede van hul nuut verworwe “Anywhere” status leef.

Wat seker en vas is, soos my Vlaamse pelle dit stel, behoort die “Somewhere’s” onder aansporing en leiding van die Rooi Hemde, die verloop van hierdie droewe land se toekoms oor die volgende paar jaar te bepaal.

Waarom?

Want hulle – die “Somewhere’s” – is loshande in die meerderheid en het loshande die minste om te verloor.

Therese van Schalkwyk ·

Jy is natuurlik reg, Henry. In SA is die situasie heelwat anders en ietwat meer gekompliseerd as in die Westerse wêreld!

Vaalseun ·

Die meeste van ons in Suid-Afrika is maar Anywheres – afstammelinge van die Hugenote, Britse Setlaars, Hollanders of Duitsers wat tydens of na die 30-jarige Oorlog, 1ste en 2de Wêreldoorloë hier kom vestig het. Dieselfde met die Nguni (Zulu en Xhosa), Sotho en ander Afrika volke wat afbeweeg het uit Wes-, Oos- en Midde-Afrika. Maar sodra die Anywhere-leeu ‘n nuwe lêplek gekry het, word hy ‘n Somewhere en lê en grom vir die Anywheres en ander Somewheres.

Pietsepan ·

Ek lees in somewheres die nasionaliste en in anywhere die globaliseerders in terme van ekonomiese ontwikkeling. Sommige lande soos Amerika voer globalisering te vêr ten koste van hul eie mense wat sit sonder werk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.