Die teenkant van politieke korrektheid

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz.: Foto: Reint Dykema.

As daar een ding is waaraan ek reeds dekades lank ’n hekel het, is dit politieke korrektheid. Maar die vraag is: Presies waarvan is dit dat ek so ’n afkeer het? Wat is politieke korrektheid?

Die begrip self het in die vroeë jare tagtig op Amerikaanse kampusse ontstaan. Dis destyds hoofsaaklik deur linksgesinde akademici en studente gebruik om afwykende – dus konserwatiewe en regse – mense onder druk te plaas.

Die “skuldiges” is in werklikheid met informele uitsluiting uit die akademiese gemeenskap gedreig as hulle nie met die linkse hoofstroom konformeer nie. Dit het gegaan oor begrippe soos diskriminasie en gelykheid: Vet mense móés met die eufemisme “horizontally challenged” beskryf word, en prostitute met “sekswerkers”.

Toe ek op ’n keer in 1994 in ’n nuusberig in die koerant skryf van ’n skip se “bemanning”, het ’n (onervare) taalversorger dit verander na “marinestaf” omdat my woordkeuse te kenne sou gee dat vroue minderwaardig is. Dit het ’n skerp konfrontasie tot gevolg gehad, wat ek darem gewen het.

Alle verskille tussen mense, tussen mans en vroue, tussen uiteenlopende kulture, is ontken. Talle van dié wat sulke sake as akademiese onderwerp wou bestudeer, is beskryf as “fasciste”, “rassiste” en nog erger.

Die eerste keer dat ek met die begrip in dié vorm kennis gemaak het, was deur ’n artikel in die nuustydskrif Newsweek wat gewag gemaak het van die “gedagtepolisie” op verskeie Amerikaanse kampusse.

Op grond van bogenoemde is dit dus ’n sentrale eienskap van die begrip politieke korrektheid dat hy homself verabsoluteer en geen afwykings in sy omgewing duld nie. Maar as dít die geval is, moet dit veel wyer toegepas word as slegs die politieke dwang van linkse akademici op Amerikaanse kampusse.

Toe ek in die vroeë jare sestig op hoërskool was, wou ds. Beyers Naudé – wat toe net die Christelike Instituut, ’n anti-apartheidsinstelling, gestig het – sy houding by ons NG gemeente kom verduidelik. ’n Groep jong Afrikanermans het fisiek stelling voor die hek by die kerkterrein ingeneem om hom te verhinder om te praat. Hy het uiteindelik ’n klein groepie mense buite in die straat toegespreek.

Dít was ook politieke korrektheid, nie waar nie?

In die omgewing waar ek grootgeword het, het die wenkbroue gelig as jy jou teen die Afrikanernasionalisme of apartheid uitgespreek het. Dit was eenvoudig not done.

Politieke korrektheid?

En as jy teenswoordig die kommentare onderaan artikels soos dié lees, gaan sommige mense (verreweg darem nie almal nie) half histeries te kere teen enigiets wat hulle as “links” of “liberaal” beskou. Daar word gepraat van die “liegmedia”, so asof die hoofstroommedia doelbewuste leuenaars is.

Dat dit dikwels kom van mense sonder ’n behoorlike insig in hoe die joernalistiek werk, maak dit des te erger. Maar dit daar gelaat.

Hoe moet ’n mens nou hierop reageer?

Dis duidelik dat politiek korrekte mense van alle rigtings aangetrokke voel tot wat hulle sien as kragdadigheid, sterk optrede, skerp taal. In werklikheid ekstremisme.

Die antwoord op linkse ekstremisme is nie regse ekstremisme nie. En ook nie andersom nie.

Die antwoord is gematigdheid en ewewigtigheid.

Gematigdheid is nie dieselfde as lafhartigheid nie. Inteendeel, dit verg soms moed om staande (en kalm) te bly te midde van die geskel wat van sowel links as regs om jou ore woed nadat jy ’n probleem op ’n genuanseerde wyse probeer ontleed het.

Dit wil nie sê dat só ’n ontleding perfek is nie. In die ondermaanse wêreld is dit dikwels geen keuse tussen 100% reg en 100% verkeerd nie, eerder tussen méer reg as verkeerd aan die een kant, en méér verkeerd as reg aan die ander kant.

Die sóéke na die waarheid is dikwels belangriker as die vínd daarvan. As iemand sê hy of sy hét die waarheid – laat al jou hare oombliklik penorent gaan staan. Dis wat die prototipes van die wêreld se huidige linkse en regse populiste, mense soos Adolf Hitler, Benito Mussolini, Josef Stalin en Mao Zedong, ook beweer het.

Dus, laat ons inderdaad met mekaar verskil. Ek kan nie van ander eis dat hulle oombliklik mý vertolking van sake moet oorneem nie. Ek kan wel eis dat ons op grond van feite (pleks van fopfeite), geldige logika en wedersydse respek ’n beskaafde dialoog met mekaar voer.

Op een van die pilare van die antieke Griekse heiligdom te Delphi staan ’n paar treffende woorde: “Gematigdheid in alles.” En Sokrates, een van die mees wyse mense wat ooit geleef het, het dit geëggo: “’n Mens moet weet hoe om die midde te kies en die ekstreme aan albei kante sover moontlik te vermy.”

Die vader van die moderne konstitusionele monargie, die Franse filosoof Charles de Montesqueu, se mening was dat “die gees van gematigdheid” by die wetgewers van die land moet heers. En sy landgenoot, Alexis de Tocqueville, wat in 1837 ’n nooit oortroffe ontleding van die Amerikaanse grondwet en politieke kultuur gepubliseer het, het die “verligte eiebelang” van die Amerikaners gedefinieer as “gereeldheid, matigheid, gematigdheid, versiendheid, selfbeheer”.

Feit is dat die vaders van die Amerikaanse grondwet dié soort rasionele gematigdheid – ’n sentrale element van die Verligting, wat hul idees bepaal het – in gedagte gehad het. Dis waarom hulle die mag verdeel het en voorkom het dat een persoon of instansie te veel mag kry.

Met ander woorde, die president het vennote nodig in die Kongres, die deelstate, die administrasie en in die burgerlike samelewing as hy iets gedaan wil kry en nie in ’n moeras wegsink nie. Dis ook een van die redes – daar is meer – waarom pres. Donald Trump in Amerika soveel teenstand ondervind. Hy neem gematigdheid nie in ag nie.

Waar staan ek in dié opsig?

Wel, soos ek al te kenne gegee het, ek is nie links nie en ook nie regs nie. Ek is dwars.

Terselfdertyd sien ek myself as ’n konserwatiewe liberaal, of – as dit beter klink – ’n liberale konserwatief. Bowenal is ek militant gematig.

Jy kry die gematigdheid van die jellievis, van dié wat geen ruggraat het nie, wat nie standpunt wil inneem nie. Die regte soort gematigdheid is gegrond op gesonde verstand en op die besef dat jy aan ander moet doen wat jy wil hê hulle aan jou moet doen.

Ekstremiste klink manhaftig. Maar hulle rig meestal slegs ’n klomp skade aan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Ampie ·

Ek dink die skrywer verwar vryheid van spraak met politieke korrektheid.

Ou Satirikus Sinikus Erdvark ·

Geagte dr. Scholtz, ‘n uitstekende rubriek. Wat is waarheid? Wat is reg en wat is verkeerd? Wat is ewewigtigheid? Wat beteken “Gelykheid, Vryheid en Broederskap”? Wat beteken demokrasie? Wat is die perfekte regeringsvorm? Wat beteken regstellende aksie? Wat beteken “transformasie”? Wat beteken” kolonialisme” en wie is kolonialiste? Is kolonialisasie ook kolonialisme? En wie is die groot gees wat sal besluit wat die ware en enigste betekenis van al hierdie begrippe” is?
Ons leef in ‘n wêreld waar die rol van persepsiologie en hormone en al die bakterie in die menslike liggaam nie onderskat moet word nie. Die mens kan maklik slaaf wees van slagspreuke.
Gaan asseblief voort met u rubrieke. Ons land het baie Leopold Scholtzes nodig om groter perspektief oor die persepsiologiese oorlogvoerings te gee. Sela.

hennie ·

Mense ondersteun ‘n party – of ideologie – wat hulle waardesisteem en belange ondersteun en hulle veilig laat voel.
Dit was nog so deur al die eeue en deur alle vlakke van beskawings. ‘n Doodgewoon universele en instinktiewe verskynsel.
Iets wat ook op primitiewe vlak by dieretroppe aangetref word.

Gerhard ·

Gewoonlik word politieke korrektheid gebruik as ‘n skild om jou mening of standpunt te verdedig wanneer feite jou standpunt verkeerd bewys. Vryheid van spraak kan ook en word ook misbruik om spesifieke standpunte af te dwing en opposisie daarteen te probeer stilmaak. Maar soos Herman Toerien tereg in ‘n artikel gister verwys moet ons leer om mekaar weer te vertrou en respek vir ander se standpunte te hê wat sal lei tot ware vryheid van spraak en geen ruimte los vir politieke korrektheid nie.

John ·

Ek lees nie die woord ‘draadsitter’ raak nie. Hoekom neig my breintjie soheen?

gatiep ·

Politieke korrektheid is iets wat die media in USA ontwerp het want hulle base is ons eitlikke masters.Snaaks jy het nie sommer die stukkie politieke korrektheid wat in Nederland gebeur het met Turkey nou die dag ook ingesit nie.Nederland is nou verkeerd om n Politieke byeenkoms toe te laat van Turkey in hulle hoofstad?

Leopold Scholtz ·

Beste Gatiep, jy moet my asseblief verskoon, maar ek kan nie kop of stert uitmaak van wat jy bedoel nie. Kan jy weer verduidelik? Groetnis.

gatiep ·

Ok Leopold ek sien ek het heel deurmekaar geskryf.
Moet seker eers goed lees voor ek stuur.
Ek het gemeen van Turkye wat n Politieke byeenkoms wou hou in Nederland en toe verbied is om dit te doen.Nou klink dit of Nederland verkeerd is.

Pietman ·

Alles is relatief , so die middel word bepaal deur die linkse en regse uiterstes. Om in die middel te wees , maak mens nie noodwendig reg of gematig nie. Daar is opinies en daar is die waarheid. Vryheid van spraak, idees en assosiasie is ‘n noodsaaklikheid. Ongelukkig is die linkses die fasciste en onderdrukkers vandag.

chrisp ·

Netso Pietman.
30 Jaar terug was die PFP links,die NP middeweg en HNP regs. Waar staan ons nou?

Leopold Scholtz ·

Jy weet, Pietman, ek het net die laaste televisiedebat voor die verkiesing in Nederland bekyk. Geert Wilders, in bepaalde opsigte regs-ekstremisties (in ander opsigte weer heel erg links), het amper in soveel woorde gepleit dat die demokrasie opgehef moet word om die Islam te stuit. Dus, kap vryheid se kop af om vry te bly. Jy beweer die linkses onderdruk vryheid. Ja, dit kan beslis die geval wees. Maar dis nie net linkse ekstremiste wat dit doen nie, ook regse ekstremiste. Alle ekstremiste. En dit is die punt van die artikel.

Hermien Brittnell ·

Goeie rubriek. “die regte soort gematigheid” waarna u verwys sou ek ook sien as “objektief”… “realisties”. Dit is natuurlik die ideaal – om ‘n samelewing te hê met so ‘n uitkyk, maar hoe gemaak as die meerderheid nie oor “geldige logika” en “gesonde verstand” beskik nie? Dan word groepe wat nog altyd ook die gematigde houding gehandhaaf het genoodsaak om die ektreme rigting in te slaan, ter wille van oorlewing!

JC ·

President Trump is inderwaarheid redelik gematigd. Die politiek (en dele vd “samelewing”) het net SO ver na internasionalisme, “a totally skewed form of humanism and utilitarianism” en oikofobie beweeg, dat dit ‘n hengse paradigma skuif vir die meeste “liberales” sal verg om verby sy verkiesing te kom, wat hul blykbaar nie wil doen nie. Dit is die linkses wat nie meer rasionele gematigdheid kan of wil beoefen nie, en wat te ver heen is in hul politiese korrektheid. Van wanneer af is nasionalisme ‘n skelwoord, en nie prysenswaardig nie? Van wanneer af is dit verkeerd om ‘n patriot te wees? Van wanneer af is die beskerming van nasiestate se grense en kragdadige optrede in die verband taboe? Dit is inderdaad die “liberales” wat so ver heen is en wat geen teenstrydighede duld nie en VERSKRIKLIK onverdraagsaam is teenoor enige verskille met hul verdraaide ideologie. Die liberalisme moet nie gelyk wees aan multi kulturalisme en ontkenning van verskille (geloof, kultuur en die tradisionele identiteite van nasiestate nie, maar moet dit juis koester en elke groep met verskille en al bemagtig) Die antwoord is nie ontkenning van verskille en “blanket” of gelykmakende diskriminasie nie. Ons konserwatiewes sal dit NOOIT aanvaar nie. Ek bid en hoop net Mnr Geert Wilders behaal vandag sukses in die Nederlandse verkiesing. Behoede Europa indien die Nederlanders nie wakker skrik nie…en ja, ek stem saam met John, die Weste is nie meer lus vir draadsitters nie, en vernaam die “liberale demokrasie” nie, want dit WERK nie.

JC ·

President Trump is inderwaarheid redelik gematigd. Die politiek (en dele vd “samelewing”) het net SO ver na internasionalisme, “a totally skewed form of humanism and utilitarianism” en oikofobie beweeg, dat dit ‘n hengse paradigma skuif vir die meeste “liberales” sal verg om verby sy verkiesing te kom, wat hul blykbaar nie wil doen nie. Dit is die linkses wat nie meer rasionele gematigdheid kan of wil beoefen nie, en wat te ver heen is in hul politiese korrektheid. Van wanneer af is nasionalisme ‘n skelwoord, en nie prysenswaardig nie? Van wanneer af is dit verkeerd om ‘n patriot te wees? Van wanneer af is die beskerming van nasiestate se grense en kragdadige optrede in die verband taboe? Dit is inderdaad die “liberales” wat so ver heen is en wat geen teenstrydighede duld nie en VERSKRIKLIK onverdraagsaam is teenoor enige verskille met hul verdraaide ideologie. Die liberalisme moet nie gelyk wees aan multi kulturalisme en ontkenning van verskille (geloof, kultuur en die tradisionele identiteite van nasiestate nie, maar moet dit juis koester en elke groep met verskille en al bemagtig) Die antwoord is nie ontkenning van verskille en “blanket” of gelykmakende diskriminasie nie. Ons konserwatiewes sal dit NOOIT aanvaar nie. Ek bid en hoop net Mnr Geert Wilders behaal vandag sukses in die Nederlandse verkiesing. Behoede Europa indien die Nederlanders nie wakker skrik nie…en ja, ek stem saam met John, die Weste is nie meer lus vir draadsitters nie, en vernaam die “liberale demokrasie” nie, want dit WERK eenvoudig nie.

humor ·

Wat n verfissende skrywe, ek lees nerens die naam Trump nie. Hoe gaan die liedjie; “Its a strange, strange world we liven in.” Soos in Prediker geskrywe staan dat die lewe en aardse sake n stuk vermoeienis is. Die geworstel met die eindelose vrugtelose onvolmaakte. Ja daar is n veel meer ontspanne vredevolle wyse van lewe en dit is beslis nie volstruispolitiek nie.

Gerhardus Petrus Padda ·

Ai Leopold, jy begin goed en dan begin jy n bietjie drentel and dan raak jy die kluts kwyt. Politiek gaan net oor mag, niks anders nie. Die enigste vraag wat jy moes gevra het is: hoe help politieke korrektheid om meer mag aan die politikuste te gee? Die antwoord is, ironies genoeg in jou slotsom, maar nie jou slotsom nie. Elke mens dink uit sy oogpunt uit, hy is gematig, of ten minste geregverdig in wat hy doen.

Wat is regverdigheid? Dit is heel waarskynlik n oorlewings emosie wat help dat sosiale diere hulle deel van die gemeenskaplike kos kry en nie uitsterf nie. As ek iets vir my een kind gee en nie vir die ander nie, is daar oorlog in ons huis, en ek kan jou verseker ek het dit nie vir hulle geleer nie, en ek was ook dieselfde as kind.

Nou hoe pas dit in by politieke korrektheid? Elke mens beleef die wereld op n ander manier. Hierdie persepsie word geskep deur moraliteit, hoe jy grootgemaak het ens. Plato praat daarvan dat elkeen net die skadus teen die grotmuur sien, nie die werklikheid nie Politieke korrektheid is n metode om hierdie skaduwees anders te interpreteer.

Wat hulle wil he jy moet sien is dat alles gleyk MOET wees: Man/vrou, Christen/Moslem/Hindu, mooi/lelik, slim/dom ens. Hoekom? Want as jy sien die wereld is nie soos dit MOET wees nie, veroorsaak dit kognitiewe dissonansie.

Gerhardus Petrus Padda ·

Mense hou nie van kognitiewe dissonansie nie. Dit veroorsaak ongemaklikheid en meestal sal mense hierdie nuwe inligting wat kognitiewe dissonansie veroorsaak ignoreer, of probeer afmaak as onwaar. Wat sosialiste egter doen is om n antwoord te gee vir hierdie dissonansie. Dit is maklik, iets of iemand is te blameer vir die ongelykheid. Dit aktiveer die “regverdigheids emosie” wat baie kragtig is, en so kan mense gemobiliseer word om fascisme te aanvaar, want surprise surprise, hier kom n politikus met beloftes, om as jy hom maar net bietjie meer mag gee, die ongleykheid uit te wis.

Dus is Politeke Korrektheid n manier, n metode om meer mag aan die staat te bewerkstellig.

Is dit die engiste metode? Nee, Hitler en Mussolinie het ook etniese nasionalisme misbruik om fascisme te bewerkstellig. Terloops, my definisie van fascisme is die hoeveelheid mag wat die staat oor individue het in hulle alledaagse lewe. Om te kan diskrimineer is vryheid.

In die verlede het die Katolieke Kerk fascisme toegepas, so dit is nie beperk tot net n staat nie. Die Moslem geloof is vandag n uitstekende voorbeeld van fascisme. In daardie lande het die staat (Moskee?) amper totale beheer oor individue. Oor wat hulle mag aantrek, wat hulle mag eet, wie hulle mag trou ens.

JC ·

Ongelykheid (wat insluit ruimtelike persepsie, kognisie EN KONASIE, d.w.s. die ganse bewussyn, en die “sin maak” van wat jou sintuiglike waarnemings of reseptore jou “vertel” ) IS natuurlik en kom ORAL voor in die natuur. Dit is juis die onnatuurlike strewe om hierdie ongelykhede “gelyk” te wil probeer maak deur middel van materialisties-sosiale idelogiee, wat tot kognitiewe dissonansie en verdraaing van werklikhede ly. Genoeg daarvan gehad!

Therese van Schalkwyk ·

Politieke korrektheid het ongetwyfeld deesdae meer as een gedaante en is vervleg met spraakvryheid, of die gebrek daaraan. Linksgesindes is egter, soos destyds op kampusse in die VSA, steeds meesters daarin.

‘n Relevante voorbeeld in hierdie tye is toe ‘n bekende SA persoonlikheid op uitnodiging die Nederlanders in Den Haag oor plaasmoorde sou toespreek. ‘n Groep uitgeweke, linksgesinde Suid-Afrikaners in Nederland het luidrugtig teen die besoek beswaar gemaak, en kommer oor die veiligheid van blankes in SA as oordrewe beskryf. Hoe ironies, maar dit daar gelaat.

Daar kan met reg gevra word waar die gematigde, ewewigtige stemme is wanneer links en liberaal mééstal die enigstes is wat gehoor word? Stilswye kan ook politieke korrektheid wees.

Henry ·

Foeitog ja en so is Holland* vir sovele jare reeds ‘n tuiste vir die ‘dapper’ anti Apartheid ‘krygers’ soos de Jonge, Braam, Schuitema en sy Okhela organisasie wat die arme naïewe Breyten van doerie jare in die RSA se gevangenis laat beland het ens ens. Om nie eers te praaaaat van buurland België se Helena Pastoors wat gehelp het om die Kerkstraat bom vanuit Mosambiek na Pretoria te smokkel nie.

Wil al lyk asof die bekkige en luidrigtige radikales van Holland ‘n bietjie teenspoed optel. Kry vi’djille!

* Politiek Inkorrekte naam vir Nederland.

JC ·

Dankie Leopold, ‘n goeie, gebalanseerde en regverdige stuk, en jou artikel lok ook ‘n interessante kommentaar-stroom uit.

Lampies ·

Leopold se artikel is tot so ‘n mate middel-van-die-pad dat hy rigting verloor. Politieke korrektheid in SA sinspeel op links = korrek. Niks anders nie, selfs al sou “regses” hul standpunte tereg ook as polities-korrek kan beskou. Feitlik al die media in SA neig na links-korrek of selfs radikaal links en staan afwysend teen enigiets wat konserwatief of nasionalisties (o aarde, tog net nie nasionalisties nie!) mag voorkom. Die “regse” standpunte word eenvoudig doodgeswyg en afgemaak as onnoselike drogredenasies wat nie tred hou met die Nuwe Wêreldorde en die Nuwe Era beweging nie. Watter objektiewe waarnemer sou byvoorbeeld die panele van KykNet Aktueel wat oor politieke kwessies handel as onpartydig beskou? Myns insiens is dit oordadige gematigdheid (kyk liewer weg en speel volstruispolitiek) wat die Afrikaner vandag in so ‘n treurige situasie laat beland het. En ja, vals nuus of fopnuus is inderdaad vandag bykans die in-ding. Liberale onverdraagsaamheid in die VSA word tans gekenmerk deur vals nuus ten koste van Prresident Trump. Die hoofstroom-media is almal linksgesind en hulle beskou dit blykbaar as hulle reg om alle standpunte wat nie met hullle “linksheid”saamstem nie, te verrdoem, of dan minstens verdag te maak.

Rynhardt ·

Lampies jy slaan spyker op die kop met Leopold Scholtz en klomp linkses in hoofstroommedia! Hoofstroommedia kan in ontkenning leef soos hy wil, maar hulle het almal bygedra tot die Afrikaner se ondergang! Ek kan net nie deur die klomp, ou liberale gebreinspoel word nie! In 2017 het talle internasionale kommentators die volgende boodskap vir hoofstroommedia oor die wereld gehad:”The liberal new worldorder doesn’t work anymore!”Ek staan ook by daai stelling.Liberale se tyd is verby, hul weet dit net nog nie!

JC ·

Ek moet saam stem Rynhardt, die “liberale” verkramptes se klokkie het gelui yippee!
Ek hoop net die Nederlandse verkiesingsresultate bevestig dit vandag, anders veg ons maar net weer aan op ‘n ander dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.