Die wet van onbeplande gevolge

Barend Uys. Foto: Verskaf.

ʼn Twitter-gebruiker maak vroeër hierdie week die volgende stelling:

Vir ingeval die ANC wil weet.

  1. Ja, ek organiseer alkohol en sigarette, want dit is my reg.
  2. Ja, ek besoek my vriende en familie, want dit is my reg.
  3. Ja, ek ondersteun besighede wat klaarblyklik onwettig in bedryf is, want hulle is nie.

En nee, ek luister nie vir jou nie.

’n Hele paar gebruikers het hierop gereageer met die hutsmerk #VoetsekANC.

Ek het die eerste keer van die “wet van onbeplande gevolge” te hore gekom in gesprekke rondom keiser Napoleon I se oorloë vir die sogenaamde bevryding van Europa. Bevolkingsgroepe was bly dat daar ’n redder gekom het om hul van hul onderdrukkende oorheersers te verlos. Hulle het gemeen dat hulle vry sou wees en Napoleon het gereken dat hy lojale onderdane sou hê. Ontnugterde burgers het egter uiteindelik ’n stryd teen hul eertydse bevryder gevoer en só was die vryheidsdrang wat in hul wakker gemaak is ’n onbeplande gevolg wat weer tot ’n onbeplande uitkoms vir die keiser gelei het.

Dit is nou vir almal duidelik dat die ANC, ook ’n eertydse bevrydingsbeweging, die Covid-19-pandemie misbruik het om hul politieke en ideologiese doelwitte te versnel, maar veral ook om belastingbetalers se geld op ongekende skaal te plunder. Irrasionele en drakoniese regulasies, soos die verbod op die verkoop van alkohol- en tabakprodukte, kos boonop die ekonomie miljarde rande. Ministers wat deur hul woorde en dade wys dat hulle hierdie onderdrukking van burgers geniet, het gewone wetsgehoorsame burgers breekpunt laat bereik.

Wetsgehoorsaamheid is een van die baie mooi eienskappe van gewone Afrikaners. Afrikaners is eenvoudig dié soort mense wat doen wat reg is. Daarom is dit meermaal vir Afrikaners moeilik om aan aktivistiese aksies deel te neem wat die grense van wetsgehoorsaamheid bietjie toets. Maar Afrikaners het nou die punt bereik waar hulle ’n onderskeid begin tref tussen wat reg is, en wat wet is.

Só het die ANC-regering se eie optrede, wat hulle sekerlik geglo het sal hul posisie verstewig, daartoe gelei dat hulle van hul mees wetsgehoorsame burgers vervreem en tot verset beweeg het. NP van Wyk Louw skryf in sy bundel Lojale verset: “Opstand is net so noodsaaklik in ’n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ’n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ’n hele geslag sonder protes sal verbygaan.”

Afrikaners kom tans op verskeie maniere in opstand teen die onderdrukkende regime, en voel hul meer getrou en lojaal aan hul eie kultuurgemeenskap as aan die staat waarvan hul burgers is. Uit gesprekke is dit duidelik dat hulle hul verset as regmatige optrede teen ’n oorheerser beskou en nie as ’n rebellie teen ’n regmatige regering nie. Indien Afrikaners daarin slaag om dié energie wat losgemaak is aan te wend om lewenskragtige gemeenskappe te laat herlewe, sal daar blywende positiewe gevolge vir die nageslag wees.

Van Wyk Louw kan in vrede rus: hierdie geslag gaan nie sonder protes verby nie.

  • Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Barend Uys

Barend Uys is die hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Riaan ·

Wonder maaar net… Die Wêreld Ekonomiese Forum het op die 3de Junie die “The Great Reset” aangekondig. Terwyl die WEF die wêreld ekonomieë wil herstruktureer om met die 4de industriële rewolusie tret te hou, wil dit my voorkom, probeer die marxistiese 3de wêreld lande om hulle middelklas in duie te laat stort, Wonder of daar nie sin in al die malheid van die regering se doen en late is nie.

capie ·

Wag tot stemdag en hulle stem weer anc. Keep your people uneducated and stay in power. Dit was Mugabe se ondergang en hy moes verkiesings se uitslae verander om in beheer te bly. Dit gaan volgende hier gebeur as die stemme miskien begin min raak. Wie glo dat die anc die regering aan ‘n ander party sal afstaan.

Chris ·

Die virus het die ANC meer skade berokken tot voordeel van die land, motiveer jouself en beywer hulle, en ander om te gaan stem. Heelwaarskynlik die enigste oplossing en laaste kans vir ‘n “een stap plan” om hierdie geknelde land te kan bevry of te probeer red wat nog te redde is.

Dewald ·

Ons gaan dieselfde ding doen wat nie werk nie. Wat die laaste tien keer nie gewerk het nie. Die keer doen ons dit net harder en dan sal dit werk?

JJ ·

Die Groot Verset van die Afrikaner is ‘n droom en is iets wat nie bestaan of bestaansreg het nie. Die eienskappe van die Afrikaner wat in opstand kom , is ook teenwoordig in Afrikane van kleur. Die getalle voordeel is daar en gevolglik sal dit vir die Afrikaner wys wees om metodes te vind om saam te werk met Afrikane van kleur met gemeenskaplike waardes. Eers dan sal daar politieke vernuwing plaasvind- hetsy deur revolusie of deur stemming.

JJ ·

Ek wil lesers vandag aanmoedig. Besoek die webtuisblad van die World Economic Forum en loer bietjie daar rond. Teken in op hulle nuusbriewe. As daar nog enige twyfel bestaan het dat die “nuwe normaal” nie beplan was nie, sal jou twyfel soos mis voor die son verdwyn. Wees ingelig en moenie staatmaak op mediadekking nie. Hulle rapporteer net as iets gebeur het en wanneer die koeel deur die kerk is. Die ou leuse werk steeds. Kennis is mag. Lees, doen jou eie navorsing, bevry jou self.

JJ ·

Alweer ek. Die ANC bestuurde regering is baie “prim en proper” . So word daar byvoorbeeld tans kommentaar ingewag rondom die 5G netwerk en die invloed wat die op eiendomsreg kan he. Hoeveel lesers het al kommentaar ingestuur? Seker net klein persentasie wat lees en hulself verbeter. Maar die media veersaak hulle plig deur nie die publiek betyds in te lig en hulle 1) aan te moedig om kommentaar te lewer nie en 2) te wys hoe om kommentaar te lewer nie. . As ons stilbly, beteken dit mos ons keur dit goed…. dan moet ons maar liewer ons bekke hou as dit kom by grondonteiening, belastinghervorming ( ja daar word kommentaar daarvoor ook gevra) 5G ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.