Digitale goud

Deur Frank Karsten

(Foto: André François McKenzie/ Unsplash)

“Om kontant te hou, is soos om op ʼn smeltende ysblokkie te sit,” meen Michael Saylor.

Hierdie Amerikaanse entrepreneur het in 2020 miljarde dollars se Bitcoin gekoop om sy besigheidsbates te verseker. Hy kon ook sy geld in die bank sit, maar dan was hy seker dat sy rykdom sou krimp, aangesien die rente op spaargeld laer as inflasie was.

Die probleem met ʼn hoë inflasiekoers is dat mense al hoe meer riskante dinge gaan doen net om nié op daardie ysblokkie te sit nie. Hulle sit dus hul geld in aandele, eiendom, kuns of edelmetale. Maar dit is riskante beleggings waarin jy nogal moet delf en wat jou baie hoofbrekens kan besorg. Gelukkig is Bitcoin ʼn interessante alternatief wat ook groeipotensiaal het.

Eiendom gee onderhoudskoste, eiendomsbelasting, onsekerheid oor verbandkoerse en ʼn gesukkel met huurders. Enigiemand wat kuns as belegging koop, kan dit aan die muur hang. Dan moet jy dit teen brand en diefstal beskerm, wat die opbrengs wat jy daarop wil maak verlaag. Dieselfde geld vir goud of ander duur edelmetale – die sekuriteit daarvan is duur.

Regerings kan selfs die besit van goud verbied. In 1933 is Amerikaners gedwing om hul goudstawe en goue munte aan die regering te verkoop. Diegene wat die wet oortree het, het tien jaar tronkstraf gewaag.

Hierdie beleggnigsklasse het ook nog ʼn nadeel. Jy kan dit moeilik in kontant omskakel. As jy ʼn Rembrandt aan jou muur hang, kan jy dit nie in die helfte sny en die helfte verkoop omdat jy ʼn duur seiljag wil koop nie. Diegene wat in vaste eiendom belê het, kan dit nie saamneem wanneer hulle emigreer nie. Jy moet dit eers verkoop en dán met jou geld die grens oorsteek, wat gewoonlik moeilik is.

Bitcoin, wat dikwels na verwys word as “digitale goud”, het feitlik geen van hierdie nadele nie. Dit is maklik om oor die grens te kom, omdat dit onsigbaar is en omdat jy dit eenvoudig oor die internet kan stuur. Die sekuriteit daarvan kos byna niks, want dit is net karakters wat kriptografies geënkripteer is.

As Bitcoin so geskik is om waarde te stoor, hoe hoog kan die prys daarvan styg?

Die eerste Bitcoin-transaksie het op 22 Mei 2010 plaasgevind – ʼn dag wat nou elke jaar as Pizzadag herdenk word. ʼn Man van Florida het toe soveel as 10 000 Bitcoin vir twee groot pizzas betaal, wat toe ʼn halwe sent per muntstuk beloop het. Sedertdien het die prys sowat 6 miljoen keer gestyg tot $30 000. Jy sou dink dat die groei daar sou ophou, maar dit lyk nie so nie.

Die totale waarde van alle Bitcoin op aarde, die markkapitalisasie, is nou sowat $600 miljard. Dit klink na baie, maar is ʼn fraksie in vergelyking met die totale goudwaarde van $12 000 miljard (billion), of $12 triljoen (trillion). Die globale kunsmark is selfs sowat $19 triljoen werd en die aandelemark soveel as $115 triljoen.

Die totale waarde van alles in die wêreld word geskat op $900 triljoen. Bitcoin is minder as ʼn duisendste daarvan. Die potensiaal is dus groot, want as daardie gedeelte tot net een persent groei, sal die prys van een Bitcoin tienvoudig tot $300 000 styg.

Al hoe meer mense en maatskappye ontdek dat Bitcoin ʼn uitstekende manier is om hul rykdom te verseker. Selfs Blackrock, een van die grootste batebestuurders ter wêreld, het onlangs aansoek gedoen om ʼn lisensie om Bitcoin aan kliënte te bied. Stigter Larry Fink het selfs verklaar dat “dit ʼn finansiële revolusie kan wees”.

Dit klink alles baie hoopvol. Maar ook hier is voorspellings moeilik, veral as dit by die toekoms kom. Moet dus nie dadelik jou spaarvarkie platslaan om Bitcoin te koop nie. Doen behoorlike navorsing voordat jy van jou ysblokkie afklim.

  • Frank Karsten is die skrywer van The Discrimination Myth (discriminationmyth.com) en mede-outeur van The Democracy Beyond (beyonddemocracy.net).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert ·

Van laas week af kan enigiemand met hul Luno App crypto beursie Bitcoin, Etherium…ens crypto gebruik sonder enige diensfooi om aankope doen by enige Pick & Pay.

Kobus ·

Soos die rand tuimel stop ek eerder my rusbank vol Amerikaanse dollars. Ek glo nie Bitcoin groei vinniger as wat die rand tuimel nie..?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.