Dis die 12 O’s van die ANC se linkse ideologie

flip-buys-2017-10

Flip Buys die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Verskaf.

Dit is vanjaar die 100ste herdenking van “Rooi Oktober”- die Russiese rewolusie van 1917. Terwyl daar wêreldwyd aanvaar word dat Kommunisme dawerend misluk het en ʼn verdrukkende stelsel was wat almal wat daaronder gely het verarm het, blyk die ANC se verering van Kommunisme nog duidelik.

In die ANC se jaarlikse 8 Januarie-beleidsverklaring ten tyde van sy 105de verjaardag vroeër vanjaar, het hulle met heimwee oor die Kommunistiese rewolusie gepraat. Uit hierdie beleidsverklaring, tradisioneel die party se belangrikste verklaring van die jaar, kom dié woorde: “We also commemorate 100 years since the 1917 Great October Socialist Revolution when Russian workers liberated themselves from autocratic Tsarist rule and established the first socialist workers state. The ANC remains appreciative of the solidarity and material support provided by the people of Russia during our struggle for liberation. Their struggles also inspired our struggles for freedom and the then president of the ANC, Josiah Gumede, exclaimed after a visit to the Soviet Union: ‘I have seen the new world to come, where it has already begun. I have been to the new Jerusalem. I have brought the key which would unlock the door to freedom.’”

Boris Jeltsin

Die verklaring sê niks verder oor die gruweldade en mislukkings van hierdie “nuwe Kommunistiese Jerusalem en die sleutels van vryheid” nie. Daarom kan ons die oordeel oor die 1917-“Jerusalem” aan pres. Boris Jeltsin van Rusland oorlaat: “Our country has not been lucky. Indeed, it was decided to carry out this Marxist experiment on us – fate pushed us in precisely this direction. Instead of some country in Africa, they began this experiment with us. In the end we proved that there is no place for this idea. It has simply pushed us off the path the world’s civilized countries have taken. This is reflected today, when 40 percent of the people are living below the poverty level and, moreover, in constant humiliation when they receive produce upon presentation of ration cards. This is a constant humiliation, a reminder every hour that you are a slave in this country.” 

Dié woorde het Jeltsin geuiter in ʼn toespraak op 1 Junie 1991 in Moskou.

Rewolusie

Die ANC se openlike heimwee na die 1917-rewolusie is ook ʼn belangrike regstelling op die huidige propaganda dat hulle vir demokrasie geveg het. Hulle wou ʼn Kommunistiese bestel deur middel van ʼn rewolusie instel, wat hulle as gevolg van die SAP en SAW nie kon regkry nie. Die feit dat die ANC steeds aan hierdie uitgediende denke vasklou, en dat hulle nou nog die geboorte van die daardie bloedige stelsel herdenk, gaan ʼn mens se verstand te bowe. Veral as hulle in dieselfde verklaring dan nog praat van radikale ekonomiese transformasie, onteiening van grond en beheer van die ekonomie. Ons leef nie meer in 1917 nie, daardie mooiklinkende idees het bloedig misluk. Die ANC sal moet leer om deur die voorruit in plaas van die truspieël te kyk, en dat hulle visie sterker as hulle geheue sal moet wees om die land te laat slaag.

Die gevaar is dat mense nie meer weer wat Kommunisme is en wat die gevolge daarvan is nie. Die ANC is nie die enigste skuldiges nie. Miljoene Westerse jong mense het die afgelope twee jaar in verkiesings in Amerika en Brittanje vir verlinkse kandidate soos Bernie Sanders en Jeremy Corbyn gestem. Daarom is dit nodig om kortliks te kyk wat hierdie ideologie behels, om te verhoed dat mense daarvan vergeet. Die linkses se ideologiese afgod kan in 12 “O’s” opgesom word, wat in elke land maar net aangepas word by die plaaslike omstandighede:

1. Ongelykheid

Ongelykheid is die kernprobleem vir linkses, en nie armoede nie. Sosialisme is in wese ʼn “gelykheidsideologie”. Vir hulle is gelykheid nie om almal gelyk te behandel nie, maar om almal en alles gelyk te maak. Dus eerder ʼn gelykmakingsideologie waarmee hulle almal wil dwing om gelyk by die wenpaal uit te kom, in plaas van ʼn gelyke wegspring.

2. Onreg

Net soos Karl Marx sien sy dissipels vandag nog enige vorm van ongelykheid outomaties as ʼn onreg. As iemand minder het, is dit nie omdat hy minder talente het, nie goeie kwalifikasies en ʼn goeie pos het of iets wat “sy skuld” is nie. Ongelykheid word altyd gelykgestel aan ʼn onreg, dis iemand anders se skuld. Daarom is Sosialisme in wese blaampolitiek.

3. Opstand

Die linkses se resep vir die oplossing vir ongelykheid is gevolglik nie ʼn beter pos, nog ʼn kwalifikasie, slimmer of harder werk of jou eie onderneming nie – dis opstand! Die geskiedenis word gesien as ʼn klassestryd, waar die “werkersklas” die hoër klas met geweld moet onderwerp en dan verdruk in ʼn “diktatorskap van die proletariaat”.

4. Opposisie

Marx was nooit aan bewind nie en sy ideologie is in wese net ʼn “opposisie ideologie” wat nie ontwerp is om te regeer nie. Daarom het die Sosialisme nog altyd misluk as hulle probeer regeer het. Dis ʼn aggressiewe “struggle”-ideologie om die bewind oor te neem, maar dis ʼn rampspoedige ideologie om te probeer regeer. Sosialiste is gewoonlik goeie politici maar swak regeerders. Marx en sy dissipels het bitter min gedink en geskryf oor hoe die Sosialisme nou eintlik behoort te werk. Daarom het Sosialiste net nie die intellektuele ideologiese sagteware om te regeer nie. Die vereistes vir ’n suksesvolle oorname van ’n land bots ongelukkig reëlreg met die vereistes wat nodig is vir die suksesvolle regeer van die land. Dit sien ons elke dag in Suid-Afrika ook.

5. Omverwerp

Linkses wil nie die werklikheid verbeter nie, hulle wil dit omverwerp om ʼn totale nuwe werklikheid skep. Die ANC se mislukking is in ʼn groot mate hieraan te wyte. Hulle het alles afgetakel, van die staatsdiens, skole, dorpe en stede, polisie, universiteite, tegniese opleiding, plekname, landstale ensovoorts. Die metode wat hier gebruik word, is “transformasie”, en ten spyte van die bewese mislukkings word dieselfde resep net oor en oor herhaal.

6. Ontkenning

Daar word nie verantwoordelikheid vir foute geneem nie, dit word ontken en op iemand anders afgeskuif. Dis of die kapitaliste se skuld, of die kolonialiste, of apartheid, of Jan van Riebeeck! Dis nie “wat het ons verkeerd gedoen en wat moet ons nou reg doen” nie. Dis “wie het dit aan ons gedoen en wat moet ons nou aan hulle doen!”

7. Oorheers en onderdruk

Die “bevryders” word vinnig die regeerders en later die “oorheersers”. Die politieke mag word eers betreklik demokraties bekom. Daarna word dit gaandeweg al meer outokraties aangewend om die regbank, die media, die opposisie, sakelui en minderhede te onderdruk. Die rede is eenvoudig omdat die ideologie so radikaal is dat onderdrukking nodig is om dit in werking te stel. Niemand doen byvoorbeeld vrywillig afstand van sy eiendomsreg om dit te “herverdeel” nie. Dis nie ʼn Christelike mededeelsaamheid van ʼn vrywillige “myne is joune” nie. Die Sosialistiese herverdeling is ʼn gedwonge “joune is myne” ideologie. Mense se swaarverdiende besittings word gevat met wette of geweld. Daarom eindig Sosialisme altyd in armoede en onderdrukking van die burgers en werkers. Die “dienaars” word die heersers, want die ekonomie kan nie voldoen aan die beloftes wat die politiek skep nie.

8. Oorskat en oorlaai

Sosialiste sien die staat as die land se lokomotief, nie die sakesektor nie. Anders gestel, die staat is die broodwinner, en nie net die huishoudster nie. Die beloftes van Sosialiste kan nie perke nie. Hulle dink mense moet “stem vir ʼn lewe”, en wil nie hoor van “werk vir ʼn lewe” nie. Die oorskatting van die rol en vermoë van die staat om die regering se doelwitte uit te voer is kenmerkend van alle sosialistiese state. Die oorlading van die staat lei gewoonlik tot die verval van die staat wat nie die vrag kan hanteer nie. Daarom is daar altyd ʼn gaping tussen wat die regering wil doen en die staat kan doen.

9. Onderhou en onderskat

Hulle onderskat die oorsaak en omvang van die land se probleme. Omdat hulle die oorsake van armoede vereenvoudig tot net “onderdrukking” deur die vorige orde, werk hulle vereenvoudigde “oplossings” van die omkeer van die orde ook nie. Tweedens onderskat hulle die wil en vermoë van mense om hulle eie heil uit te werk. Sosialiste sien hul kiesers nie as aktiewe “burgers” nie, maar as passiewe politieke passasiers aan wie die staat “dienste” moet lewer. Die slagspreuk is dus nie “goeie regering” nie, maar “dienslewering”. Hierdie politieke hongerdieet maak mense nooit versadig nie, en hulle wil al meer dienste verniet hê en al minder daarvoor doen. Hulle sit en wag dat die staat vir hulle werk moet gee, huise moet bou, vir toelaes, BEE-aandele en ʼn “beter lewe vir almal”. Daarom verwag die linkses dat hulle die bevolking moet onderhou, en omdat dit verbruik aanmoedig en produksie ontmoedig, eindig dit altyd in armoede en onderdrukking van die produktiewe deel van die bevolking.

10. Ophef in plaas van ontwikkel

Linkses wil ongelykheid met kitsresepte soos welsyn en herverdeling “oplos”. Volhoubare oplossings soos die verbetering van die skoolstelsel, ekonomiese groei en die ontwikkeling van die land klink vir hulle na te veel werk en te lang tyd. Wanneer hierdie kitsoplossings soos opheffing en werkskepping noodwendig misluk word die sakelui of minderheidsgroepe blameer. Hulle wil nie aanvaar dat werkskepping die gevolg is van ekonomiese groei gedryf deur goeie regering en deeglike opleiding nie. Daarom is sosialisme in wese ontmagtigend, omdat mense nie toegerus word om vir hulself te sorg nie. Dis iemand anders se skuld dat hulle ongelyk is, en dis daarom iemand anders se verantwoordelikheid om hulle op te hef. Hulle word immers wysgemaak dat hulle nie ʼn aandeel het aan hulle probleem of die oplossing nie.

11. Onderverdeel

Die linkse resep is altyd om die koek te onderverdeel of herverdeel, in plaas daarvan om die koek groter te maak. Die uiteinde is dat al meer mense later meeding om ʼn al kleiner koek, en dat daar soms net krummels oorbly om oor te veg. Die slagspreuk is eerder “bloei as groei”.

12. Ondergang

Hel op aarde word veroorsaak deur Sosialistiese ideoloë se projek om “hemel op aarde” te skep. Dit het orals waar dit probeer is uitgeloop op armoede en onderdrukking. Die ideologie kan nie werk nie omdat dit verbruik aanmoedig en produksie ontmoedig. Sosialisme is altyd gewild in lande waar dit nie kan werk nie, en onnodig in lande waar dit wel kan werk. Daarom kom daar soms eers uit die mislukking van Sosialisme ʼn blywende oplossing te voorskyn.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Roelf ·

Wat ‘n skitterende artikel!
Dit behoort in al die amptelike landstale vertaal te word.

Frans C ·

Dit sal soos water van ‘n eend se rug afrol.Kyk net wat het Masina,Ekurhuleni burgermeester,by die Chris Hani herdenkingsdiens volgens News 24 gesê:'”So please, we just want to request [Save SA] nicely: don’t divide our nation because if you continue to do so those that sided with you in 1994, they won’t be here in five years,” Masina said.

“It might be very rough and we are many, this is not a threat, we are many [and] it might be very very rough.”

“It is very important that we send a very very strong warning that… we will crush any individual who stands [in the way of] the project of nation building and social cohesion in South Africa.”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.