Dít is hoe die Eskom-mafiastaat werk

(Foto: AFP PHOTO/GIANLUIGI GUERCIA)

ʼn Effektiewe staat, sterk leierskap, ʼn duidelike struktuur, elkeen wat weet wat hy/ sy moet doen.

Van die politici tot die mees junior amptenaar doen sy of haar deel, geld vloei, daar is goeie kommunikasiekanale, gesonde balansstate, betalings word gemaak en daar is ʼn effektiewe regstelsel wat verantwoordelik is vir regspraak en straf oplê.

Dít is Suid-Afrika se mafiastaat. Terwyl die regstaat inplof, word die mafiastaat soos ʼn gladde masjien bestuur.

Regstaat en mafiastaat soms vervleg

Eskom bewys dat Suid-Afrika twee parallelle state het. Die een is die de jure-regstaat, terwyl die ander die de facto-mafiastaat is. Die grense tussen hierdie twee state vervaag, oorvleuel ongelukkig en het interafhanklik van mekaar geword.

Die regstaat wat verswak, skep ʼn vakuum waarin die mafiastaat kan funksioneer. Die mafiastaat maak dit vir die regstaat moontlik om gunste uit te deel om posisies van mag te versterk. Die posisies van mag open netwerke vir die mafiastaat om in te funksioneer. Die uitkoms is geïnstitusionaliseerde (vervlegde) korrupsie.

Solidariteit meld korrupsie aan lank voor De Ruyter

Solidariteit, met meer as 6 000 lede in Eskom, het al ses jaar gelede doelbewuste sabotasie en korrupsie aan Eskom se topbestuur gerapporteer. Dit het tender-onreëlmatighede by verskeie kragstasies ingesluit.

Tenders is byvoorbeeld by kragstasies se as-aanlegte aan maatskappye sonder gesertifiseerde kwalifikasies en voldoening aan voorgeskrewe vereistes toegeken. Swart bemagtiging was die dekmantel. In daardie stadium het ons reeds besef dat daar iets sistemies geskort het.

Solidariteit het ook ʼn veilige fluitjieblaserportaal geskep waar korrupsie aangemeld kan word. Mense is bang, want die mafiastaat is so vervleg dat jy nie weet of jou direkte hoof, die stoorman of die sekuriteitswag betrokke is nie.

Ons moes ʼn veilige platform skep, want fluitjieblaas in Eskom is gevaarlik. Nadat ʼn Eskom-werknemer in die Molefe-tyd korrupsie anoniem aan Eskom gerapporteer het, het ʼn voormalige hoof van sekuriteit haar gebel en geïntimideer.

Na aanleiding van die aanmeldings wat Solidariteit gemaak het, was daar al arrestasies, skorsings en afdankings, waarvan die mees onlangse aan die einde van 2022 was. Die persone wat by onreëlmatige toekennings betrokke was, sluit in ʼn mensehulpbron-, aankoop- en instandhoudingsbestuurder. Die prentjie van sistemiese korrupsie op mafiastyl het al hoe duideliker vir ons begin word.

Solidariteit het ook strafregtelike klagtes teen die voorste plunderaars, Brian Molefe, Matshela Koko en Anoj Singh by die Suid-Afrikaanse Polisiediens gelê. Dit het daartoe gelei dat Koko gearresteer is.

Ons inligting strook met die opspraakwekkende onderhoud met De Ruyter en die daaropvolgende onthullings in die media.

Groot maatskappye word deel van die korrupte stelsel, óf hulle word uitgeskop

Die groot hekwagter van die mafiastaat gebruik politieke invloed tot so ʼn mate dat sekere groot maatskappye wat met Eskom sake doen, dink dat dit normaal is om fasiliteringsfooie te betaal, soms direk in die hekwagter se frontmaatskappye.

Verskeie groot maatskappye het net eenvoudig deel van die korrupte stelsel geword. Die ANC-beheerde Chancellor House het ʼn 25%-aandeel in Hitachi Power Africa (HPA) opgeneem. Ook onder die vaandel van swart bemagtiging het die kontrakte gevloei.

Die Amerikaanse intelligensiedienste het bevind dat HPA omkoopgeld aan die ANC betaal het om reusekontrakte te bekom. Dit is maar een van die bewyse dat De Ruyter reg is. Eskom het ʼn voertrog vir die ANC geword.

Talle ander eerlike groot maatskappye is deur streng rassevereistes uit die stelsel geknikker. Die omvang is dermate dat minder as 50% van steenkooldiensverskaffers hul dienste aan Eskom kon lewer.

Steenkoolmyne met direkte vervoerbandtoegang na kragstasies kon weens ras nie hul dienste lewer nie. Groot maatskappye soos Anglo American Coal en Exxaro kon net nie aan die rasvereiste voldoen nie, wat die deur vir die klein kartelmaatskappye oopgemaak het. So ʼn groot premie word vir swart ekonomiese bemagtiging betaal dat Eskom minstens 27% te veel vir swak steenkool betaal en dit word dan weerspieël in die kragpryse wat gewone mense moet betaal.

Dít is hoe die kartelle werk

Die mafiastaat is goed georganiseer in kartelle met ʼn frontmaatskappy wat as kontrakteurs optree.

Sabotasie vind byvoorbeeld by die aanleg plaas deur ʼn goed geplaaste werknemer wat weet wat om toe of oop te draai of te breek om skade effektief aan te rig.

Voorbeelde hiervan is ʼn ratkas se inspeksieglasie wat stukkend geslaan word sodat die olie stelselmatig uitloop tot die ratkas ingee; om kabels op transformators te laat val wat tot gevolg het dat eenhede uitklink; en doelbewuste afsluiting van verkoelingstelsels wat veroorsaak dat laers oorverhit.

Die frontmaatskappy van die kartel sal dus vir die herstelwerk tender en die opgeblase tender word deur ʼn aankoopagent in die maatskappy oorweeg. Soms sal selfs drie kwotasies, almal opgeblaas, uit die kartel voorgelê word.

Dit kan nóg erger. Items word uit die stoor verwyder en “misplaas”. Op die stelsel word aangedui dat daar nie voorraad is nie. Nuwe spookvoorraad word binne die kartel aangekoop en dan word die “misplaaste” voorraad weer teruggebring.

Elkeen in die waardeketting doen sy of haar deel en elkeen kry iets om te eet.

De Ruyter staan op boewe se suurstofpype

De Ruyter se groot sonde was dat hy op die suurstoftoevoer van die boewe gestaan het. Sy straf was gif in sy koffie en dit is vir hom onuithoudbaar gemaak om by Eskom aan te bly.

Die herrie rondom De Ruyter se kop ná sy onderhoud op eTV was en is totaal onvanpas. Klagte word nou teen dié held aanhangig gemaak. Die een wat die skuldiges ontbloot, word die beskuldigde. Dit alles dui op ʼn siek mafiakultuur.

Korrupsiewetgewing verwag van De Ruyter om die vermoede van korrupsie aan enige polisieamptenaar te openbaar. Solidariteit het onberispelike bronne wat bevestig dat De Ruyter die bewerings op die hoogste vlak aan die polisie, minister Pravin Gordhan, die voormalige voorsitter van die Eskom-direksie en adviseurs van president Cyril Ramaphosa bekend gemaak het. Die bewerings wat geopenbaar is, sluit in die name van hooggeplaaste ANC-politici.

Lig anderkant die mafiastaat

Daar is wel twee ligstrale anderkant die mafiastaat. Die eerste is dat die lig nou op die mafiastaat skyn; mense is bewus daarvan.

De Ruyter se groot nalatenskap is dat hy die bestaan van die mafiastaat duidelik uitgestip het. Daar is nou ondersoeke en die beweegruimte vir die boewe het kleiner geword. Spesiale vermoë is nou in die SAPD gevestig om Eskom-verwante misdaad te ondersoek wat ʼn spesiale nasionale beheersentrum in Megawatt Park insluit. Daar was al arrestasies op die laer vlakke, maar groot visse soos Koko en Molefe moenie te lekker slaap nie. Die groot boewe en die hekwagter (en almal weet wie dit is) loop egter nog vry.

Die tweede is dat Eskom só leeg gesteel is dat die land permanente beurtkrag het. Die lig is dat dit die regering gedwing het om ʼn bedeling te begin skep wat dit vir die privaat sektor moontlik maak om krag op te wek.

Opwekking word in praktyk geprivatiseer. Bykans alle nuwe opwekkingskapasiteit gaan uit die privaat sektor kom. Privaat opwekking is dus besig om eksponensieel te groei.

Privaatkragregistrasie het binne ʼn maand van 16 MW na 1 000 MW gegroei en daar is nog baie in die pyplyn. Daardie kragpyplyn is onherroeplik oop. Eskom gaan al hoe meer ʼn transmissiebesigheid word.

Danksy nuwe tegnologie gaan die privaat sektor die elektrisiteitsektor oopbreek. Eskom gaan altyd deel van die energiemengsel wees, maar sy aandeel in die mengsel gaan kleiner word.

Dit is onwaarskynlik dat daar weer ʼn stabiele nasionale netwerk sal wees, maar daar gaan stabiele kragvoorsiening by sekere konsentrasiepunte wees waar die privaat sektor en die gemeenskap ʼn groot rol gaan speel. Die ekonomie én die mense gaan in daardie rigting beweeg.

Daar kom dus ʼn kragbedeling anderkant die staat en nuwe tegnologie gaan nuwe antwoorde vir krag moontlik maak.

Daar is beslis lig anderkant die staat, maar tot tyd en wyl gaan ons as gevolg van die boewe nog moet klippe kou in die donker.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Etiek en ‘n godsdienstige hartsverandering is nodig anders dwarrel ons verder af in die donker gat na totale ondergang. Om in ‘n diep hool te sit, se groot probleem is dat jy hulp soos ‘n leer benodig om mee uit te klim. Hoe kry jy ‘n leer? Cyril weier om te glo die land is in ‘n krisis en bargain net op ewige pledges se droom-leer wat die Mandela-roem altyd maar sal laat sak. Maar as jou helpers self hulp nodig het, wanneer jy gehelp wil word, is nou die vangplek. Die buiteland sit self in ‘n verkorsing en WW3 dreig.

Groen Ghoen ·

Absoluut skokkend. ‘n Pandemie(?) van korrupsie. Maar, so gaan dit in die res van S.A. ook – orals waar die ANC kaders hul hande op die magshefbome het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die regime gaan ‘n nuwe en groter Eskom stig waar hulle plundertog kan voortduur.

Ziggy ·

Dis ‘n goeie ding dat die Privaat sektor nou tot ‘n 1000MW tot die netwerk kan bydrae. Probleem is net, dat hierdie toegewing gemaak is gedurende die huidige nood toestand. Wat gaan gebeur as die nood toestand opgehef word?

Nettie ·

Soos die mafia staat langs die regerende staat ontwikkel het, het ons ook ‘n “ons sal self” staat begin deur privaatskole, privaathospitale, privaatsekuriteit, ens. Dis nie goed genoeg nie, en dis ontsettend duur (veral omdat ons dus eintlik dubbeld betaal), maar dit het gehelp.

My voorspelling is soos die staat in die middel al swakker raak, gaan hierdie 2 teenpole aan die kante al sterker word. Tot ons later nie meer dubbeld vir als hoef te betaal nie, maar slegs aan jou keuse van ‘n “staat”. Die mafia of die “ons sal self”.

En dan gaan daar ‘n split noodwendig kom. Want dis onmoontlik vir 2 sulke teenpole om suksesvol in een land saam te leef. Elkeen sal die ander een wil oorwin. Die mafiastaat vir beheer en die “ons sal self” vir geregtigheid. En dis hier waar ek glo God gaan dan intree. Sterkte aan almal, dit gaan maar rof raak! Maar ons weet wie gaan wen.
Sorg dat jou saak met God reg is voor jy die kans ontneem word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.