Doen die regte ding, kry ongekende sukses

’n Foto wat op 23 Julie 2023 geneem is, toon ’n Switserse vlag en die Alpe wat die oord Gstaad in die Saanen-munisipaliteit omring. (Foto: Fabrice COFFRINI / AFP)

Tydens ʼn onlangse toer na Europa besoek ons groep onder andere Zürich in Switserland.

Ons oornag eers in die dorpie Kirchdorf, buite die stad. Die dorpie doen sy naam “kerkdorp” behoorlik gestand met die klokke van die plaaslike kerk wat ons elke halfuur herinner aan die verloop van tyd, en om sewe uur die Dinsdagoggend onophoudelik begin lui om die begin van ʼn nuwe werksdag aan te kondig.

Kerkklokke in Wes-Europa raak geleidelik stiller. Sekularisering van die voorheen hoofsaaklik Christen-bevolking aan die één kant en die toevloei van toegewyde Moslem-migrante het gelei tot toenemende onverdraagsaamheid teenoor die eeu-oue tradisie van kerkklokke wat beier.

Ons ry met die trein na Zürich en ontmoet ons toergids vir die dag voor Zürich se treinstasie, wat uitloop op die Bahnhoff Strasse waar ʼn standbeeld van Alfred Escher ons begroet.

Escher was ʼn Switserse sakeman en politikus wat onder andere Credit Suisse en die Switserse Noordoostelike Spoorwegmaatskappy gestig het voordat hy 175 jaar gelede in 1848 lid van die eerste nasionale raad van die nuwe Switserse Konfederasie en later ʼn vise-president van die land geword het.

In Amerikaanse terme sou hy dalk bekend gestaan het as een van die “founding fathers”.

Switserland, met sy bevolking van 8,8 miljoen mense bestaan uit 26 kantons of deelstate wat elkeen ʼn eie vlag, kantonregering, kantonpolisie, amptelike taal en burgerskap het. Die meeste kantons het Duits as amptelike taal maar daar is ook Franse en Italiaanse kantons.

Wanneer jy ʼn Switserse burger wil word, doen jy aansoek by jou kanton en eers as jou kanton jou as burger goedgekeur het, word jy voortvloeiend daaruit ʼn burger van die Switserse staat. Van die kantons soos Uri, Schwyz en Obwalden bestaan reeds meer as 700 jaar sedert 1291, maar die jongste kanton, Jura – die Mekka van Switserse horlosies – bestaan slegs 44 jaar sedert 1979 met ʼn bevolking van minder as 75 000. Die kleinste kanton, Appenzeill-Innerhoden, het ʼn bevolking van slegs 17 000 mense.

Die Switserse parlement bestaan uit twee huise, ʼn nasionale raad met 200 lede en ʼn stateraad met 46 lede, waar elke kanton twee lede en die ses halwe-kantons een lid elk het. Die twee rade geniet gelyke status in die wetgewende proses en dan is die land vir sy referendums waar burgers self besluite neem.

Nie ver van die stasie nie, stap ʼn mens met ʼn brug oor ʼn kanaal wat die oorblyfsel is van die watergragte waarmee die antieke stad Zürich homself teen moontlike invallers beskerm het en van daar is dit minder as tien minute se stap teen ʼn steil bult uit na die Lindenhof, waar die Romeinse oorheersers reeds in die 4de eeu ʼn fort op die hoogte gebou het wat oor die antieke stad Zürich uitgekyk het.

Lindenhof het ʼn bymekaarkomplek van die burgers van Zürich geraak waar oor die eeue heen belangrike besluite oor die toekoms van hulle stad geneem is.

Nadat die Helvetiese Republiek in 1789 onder invloed van Franse revolusionêre tot stand gekom het en die onafhanklikheid van die kantons ingeperk het, het die ambagslui in 1847 na vore getree en vir Switserland weer ʼn federale grondwet beding waarin die kantons weer hulle regmatige plek geneem het.

Sedert 12 September 1848 het Switserland sy huidige grondwet waaronder die land van krag tot krag gaan.

Die verhaal van Switserland is een van opeenvolging van ryke, stede en die stryd tussen sentralisme en lokalisme.

Geen bedeling is finaal nie en waar die regte dinge gedoen word, is daar groei en ongekende sukses.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is direkteur van Hurter Spies Ingelyf en uitvoerende voorsitter van Pretoria FM.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die perfekte stelsel vir ‘n onafhanklike federasie in die Wes-Kaap.

Groen Ghoen ·

Dit is ‘n edele en werkbare gedagte, mnr. Spies. Hoe kom ons by die ANC verby? Die hele SA. owerheid is gebaseer op gevestigde belange: Elke munisipale raadslid, burgemeester, parlemenstlid ensomeer wei uit die belastingbetaler se trog. Hulle sal dit NOOIT opgee nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC se interne probleme vererger. Die land is oor die afgrond en die ANC is ook in vryval. Kortom, die ANC is buite beheer. Buite die Wes-Kaap is die ANC goed ingeburger en regeer met vrees. In die Wes-Kaap probeer die ANC dieselfde doen, maar hulle steun is broos. Op grondvlak leef die ANC hier nog in die 1980s. Die ANC kan nie meer al die vure doodblaas nie en sal toekyk hoe hul mag wegkwyn.

annie ·

‘n Klomp klein kantons sou dalk kon werk, maar gou sal ‘n sosialistiese jammerhart soos ‘n brommer in die heuningpot val of werkers sal soggens sewe uur per taxi by die ryk oud bankbestuurder of professor móét gaan uithelp ens. En die ANC se leë beursie sal dit summier keer. Of alle Afrikaners in so ‘n klein opset plesierig gaan wees is ‘n geslote vraag geoordeel aan die talle onsmaaklikes in ‘n oop buurt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.