Duitsland kry dalk ’n meer konserwatiewe leier

Angela Merkel. (Foto: Markus Schreiber, AP)

Oor net meer as ’n jaar van nou af sal Duitsland ’n nuwe staatshoof kry. Die vraag oor wie dit gaan wees, is egter nog onbeantwoord. Die bondskanselier, Angela Merkel, het Duitsland die afgelope vyftien jaar regeer, maar tree met volgende jaar se federale verkiesing uit die politiek.

Volgende jaar se verkiesing en die aanwys van ’n nuwe regeringshoof vir Duitsland is van groot belang vir Duitsland en Europa, maar ook die internasionale gemeenskap, aangesien Duitsland tans ’n rigtinggewende rol in verskeie instellings op die Europese kontinent, maar ook globaal, speel. Die internasionale peilingsagentskap, Gallup, het in Julie bekendgemaak dat Duitsland in 2019 vir die derde agtereenvolgende jaar as die magtigste en mees gerespekteerde land in die wêreld aangewys is.

Duitsland en Europa word deur groot uitdagings in die gesig gestaar en ’n nuwe Duitse regeringshoof sal die nadraai van die Covid-19-pandemie, toenemende spanning tussen Europa en Rusland en tussen sommige Europese lande en Turkye, ’n verswakkende verhouding met China en die nadraai van Brexit moet hanteer. Verder is dit noodsaaklik dat Europa, en spesifiek Duitsland, se verhouding met die Verenigde State van Amerika herbedink en versterk moet word.

’n Nuwe Duitse regeringshoof sal egter nie net aan globale sake en uitdagings op die Europese kontinent moet dink nie. Terwyl Angela Merkel sekerlik onthou sal word vir ’n era van sterk ekonomiese groei wat sy gelei het, staar talle uitdagings Duitsland in die gesig. Een daarvan is die toestand van infrastruktuur in dié land met verskeie kenners wat reeds vir jare waarsku dat te min geld aan die onderhoud van belangrike infrastruktuur spandeer word. Ander uitdagings sluit in die hantering van die land se groot hoeveelheid immigrante en asielsoekers, sowel as ekonomiese uitdagings vir veral jongmense.

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Minstens twee van die vier grootste ekonomieë in die wêreld gaan teen volgende jaar nuwe staatshoofde hê. Japan het ook hierdie week ’n nuwe eerste minister verkies. Terwyl Xi Jinping nog vir lank in China gaan regeer, is dit onseker oor wie die presidentsverkiesing in die VSA in November gaan wen. ’n Nuwe Duitse regeringshoof sal dus met groot moeite Duitsland se internasionale rol as bron van stabiliteit moet probeer voortsit en met ’n veranderende groep wêreldleiers moet saamwerk.

Die regerende Christen Demokratiese Unie (CDU) het Maandag aangekondig dat dié party op 4 Desember gedurende ’n konferensie in Stuttgart ’n nuwe partyleier sal verkies. Dit volg ná die aankondiging van Merkel in 2018 dat sy nie met die Duitse federale verkiesing in 2021 haarself vir nog ’n termyn as bondskanselier van Duitsland beskikbaar sal stel nie.

In Desember 2018 het Merkel reeds uitgetree as leier van die CDU. Sy is toe by dié party se konferensie deur Annegret Kramp-Karrenbauer vervang. Dit het egter gou duidelik geword dat Kramp-Karrenbauer nie die nodige steun binne die party geniet of die politieke aanvoeling het om suksesvol as kandidaat vir bondskanselier te staan nie en verlede jaar het sy aangekondig dat sy vanjaar sal uittree as voorsitter van die CDU.

Duitsland word tans geregeer deur ’n koalisie van die CDU en die Beierse Christen Sosiale Unie (CSU) saam met die sentrum-linkse Sosiaal Demokratiese Party. Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog werk die CDU en CSU saam. Die CSU is ’n party wat slegs in die deelstaat Beiere aktief is en regeer dié staat reeds vir dekades. In federale verkiesings stel die CDU en CSU saam ’n kandidaat vir bondskanselier en dit is gewoonlik die leier van die CDU.

Daar was egter twee uitsonderings. In 2002 was Edmund Stoiber, leier van die Beierse CSU, die kandidaat in die verkiesing teen die sittende bondskanselier van die Sosiaal-Demokrate, Gerhard Schröder. Stoiber het egter die verkiesing verloor. In 1980 het die leier van die CSU, Frans Josef Strauss, ook daarin geslaag om die CDU/CSU se kandidaat te word, maar hy het dié verkiesing teen Helmut Schmidt verloor. Geen leier van die CSU is dus nog ooit tot bondskanselier van Duitsland verkies nie.

Friedrich Merz. Foto: (Michael Kappeler/dpa via AP)

Tot vroeg vanjaar was Friedrich Merz, Jens Spahn en Armin Laschet die drie kandidate om Merkel as leier van die CDU op te volg en gevolglik die CDU/CSU se kandidaat vir bondskanselier te word. Merz verteenwoordig die meer konserwatiewe vleuel van die CDU en is ’n voormalige leier van die party in die Duitse parlement. Spahn is tans die federale minister van gesondheid en verteenwoordig ’n jonger, nuwe leierskapgroep in die party. Laschet is die premier van Duitsland se grootste deelstaat, Noord-Ryn-Wesfale, en verteenwoordig die sentristiese deel van die party. Hoewel Merz, Spahn en Laschet steeds die drie kandidate vir die leierskaprol van die CDU is, geniet al drie beperkte steun in nasionale peilings.

Dit het bespiegelinge die afgelope paar maande laat toeneem dat die premier van Beiere, Markus Söder, homself beskikbaar kan stel as kandidaat vir die CDU/CSU in volgende jaar se verkiesing. Söder het in 2018 premier van Beiere geword en is tans die gewildste premier van Duitsland se sestien deelstate.

Die CSU was tydens die migrantekrisis van 2015 en 2016 sterk uitgesproke teen Merkel se oopgrensebeleid en die wyse waarop Duitsland meer as twee miljoen vlugtelinge en asielsoekers verwelkom het. Söder se voorganger, die huidige Duitse minister van binnelandse sake, Horst Seehofer, het skerp kritiek teen Merkel se liberale immigrasiebeleid uitgespreek.

Intussen het Söder moeite gedoen om die verhouding tussen sy CSU en Merkel se CDU te herstel. Die CSU het in die 2018-verkiesing in Beiere agtien setels verloor met die party se swakste prestasie in dekades. Die groot wenner van die 2018-verkiesing in Beiere was die regse Alternatief vir Duitsland (AfD). Terwyl die AfD twee en twintig setels gewen het, het die Groenparty ook baie veld gewen om die tweede grootste party in Beiere te word.

Markus Söder. Foto: (AP Photo/Jens Meyer)

Die uitdaging vir wie ook al volgende jaar die CDU/CSU se kandidaat vir bondskanselier gaan wees, sal wees om dus ’n verlies aan steun aan die regter- en linkerkant van die politieke spektrum te beperk. Daar is toenemend by ervare politici van die CDU ’n besef dat Söder dalk juis die soort kandidaat kan wees om dit te vermag.

Söder is, soos sy voorganger, Seehofer, ten gunste van strenger immigrasiewetgewing en ’n beperking op die getal immigrante en asielsoekers wat in Duitsland toegelaat word. Dit is ’n gewilde standpunt met sowat die helfte van alle Duitsers wat vandag nog negatief oor Merkel se immigrasiebeleid is.

Hoewel Beiere grootliks ’n Katolieke gebied is, is Söder ’n Protestant wat sy appèl verbreed. Hy het ’n sterk tradisionele aanslag en behoort konserwatiewe kiesers tevrede te stel met sy klem op die beskerming van die Duitse kultuur en tradisies.

Die afgelope paar maande is Söder geloof vir sy hantering van die Covid-19-pandemie. Hy is volgens alle peilings tans die gewildste kandidaat om Merkel volgende jaar op te volg. Hoewel Söder tot dusver ontken dat hy daarin belangstel om bondskanselier te word, en hy homself nog nie amptelik as kandidaat beskikbaar gestel het nie, is dit duidelik dat hy die soort steun geniet wat nodig is vir die CDU/CSU om volgende jaar se verkiesing te wen.

Voor die pandemie uitgebreek het, was Merkel se CDU op ’n skerp afwaartse trajek in peilings. Sedertdien het die Christen-Demokrate se steun in peilings toegeneem. Indien die party egter volgende jaar se verkiesing wil wen, sal hulle ’n charismatiese leier wat die party se verlies aan steun na die AfD die afgelope paar jaar kan omkeer, benodig.

Söder het in 2018 opspraak gemaak toe hy opdrag gegee het dat ’n kruis by die ingang van alle openbare geboue in Beiere aangebring moet word. Beiere is een van die mees konserwatiewe deelstate van Duitsland en ook die mees gelowige staat met die Katolieke Kerk wat steeds ’n groot rol in dié staat speel.

Foto: Pixabay

Söder spreek egter ook tot ’n jonger generasie Duitsers wat die afgelope tyd geneig was om vir die Groenparty te stem. Sy fokus in Beiere op beter internettoegang, meer bekostigbare behuising vir jong gesinne, omgewingsvriendelike inisiatiewe en beter openbare vervoer tel in sy guns. Hy geniet tans in Beiere die steun van meer as 90% van kiesers, die soort steunvlak wat totaal ongewoon in enige Duitse deelstaat is. In ’n peiling deur InfraTest, wat twee weke gelede bekend gemaak is, sê 56% van Duitsers dat Söder ’n goeie kandidaat vir bondskanselier kan wees.

Die uitdaging vir Söder sou wees om die CDU te oortuig om sy kandidatuur te ondersteun. Indien dit gebeur, behoort hy die gunsteling te wees om oor ’n jaar van nou tot Duitsland se nuwe bondskanselier verkies te word. Söder is sonder twyfel meer konserwatief as Merkel, maar het ook meer charisma en die nodige moderne aanslag om tot ’n breër kiesersbasis te spreek.

Terwyl die regse AfD die afgelope tyd baie steun verloor weens binnegevegte in die party en ’n voortdurende aanslag teen die party in die Duitse media, maak die Groenparty sterk opgang. Die Groenparty se toename in steun is hoofsaaklik ten koste van steun vir die Sosiaal-Demokrate. Die CDU en CSU het egter ook kiesers aan die Groenparty afgestaan. Die Groenparty is egter ’n radikaal linkse party en die regte kandidaat van die CDU/CSU behoort die Groenes se ware agenda tydens volgende jaar se verkiesingsveldtog te ontbloot.

Onseker tye lê oor die volgende paar jaar vir die wêreld voor. Regerings sal die staatskuld wat aangegaan is om ekonomiese stimuluspakkette te finansier, moet begin afbetaal. In Europa moet die Europese Unie sy verhouding met die Verenigde Koninkryk uitstryk terwyl die spanningslyne tussen Wes- en Oos-Europa, en tussen die noorde en suide ook toeneem. Daarmee saam gaan die probleme in Belarus, die Oekraïne en verskeie Balkanlande behoorlik aandag moet kry.

Nog belangriker egter is die verhouding tussen Europa en Rusland, Turkye en China. Tot dusver het Duitsland ’n belangrike rol gespeel om in Europa – maar ook globaal – sensitiewe verhoudinge te bestuur en geskille by te lê. Wie ook al die nuwe kanselier van Duitsland word, sal dus groot uitdagings in die gesig moet kyk. ’n Meer konserwatiewe, selfgeldende leier soos Söder kan dalk net wees wat Duitsland, Europa en die wêreld nodig het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Wat beteken meer konserwatief vir ‘n Duitser? Minder Nazi of meer Nazi? Nader aan watter ideologie en wie sal die vyand wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.