Erfenis is nie te vat

Minister Nathi Mthethwa. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Septembermaand is Erfenismaand en die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, wil Afrikanererfenis in temaparke van skande plaas.

Hy wil ons erfenis vat.

Daar is duidelik ʼn misverstand. My erfenis word nie deur die minister besit nie. Hy kan dit dus ongelukkig nie vat nie. Ek kan dit ook nie gee nie, want dit is ook net aan my geleen.

Erfenis is iets wat ʼn vorige geslag vir my nagelaat het om weer oor te gee aan die volgende geslag.

My geslag is rentmeesters en die volgende geslag is die ontvangers. So vorm erfenis ons, geslag vir geslag.

Omdat ek rentmeester is, kan ek ongelukkig nie toelaat dat erfenisplunderaars soos minister Mthethwa my erfenis in konsentrasiekampe plaas nie.

Die minister glo dat erfenis sentraal gereguleer moet word. Suid-Afrika moet gestandaardiseer word. Daar moet een staatsweergawe van die geskiedenis wees. Dit wat durf waag om teen dié weergawe te wees word in ʼn konsentrasiekamp geplaas.

Om nie in lyn met die gestandaardiseerde weergawe van geskiedenis te wees nie, is ʼn skande en moet so hanteer word. Almal moet dieselfde glo en wat geglo word, sal sentraal bestuur word.

Die staat wil die geskiedenis daardeur kaap en plunder en wil ʼn staatsnarratief oor die geskiedenis op Suid-Afrika afdwing. Hulle gebruik hul weergawe van die geskiedenis om hul weergawe van die toekoms op almal af te dwing.

Jammer minister, ek sit uit. Ek gaan nie my erfenis of myself laat standaardiseer nie. Ons kan gerus ons erfenis met mekaar deel, maar u kan nie my deel vat nie.

Erfenis is nie in skaarste nie. Dis in oorvloed. Hoe meer erfenis, hoe groter die rykdom.

Om kultuurgoedere te kriminaliseer word die kultuurgemeenskap gekriminaliseer. Vandag word die kultuurgoedere uit die openbaar verban en môre die kultuurmaker.

Dirk Hermann.

Dit het praktiese implikasies vir die lewe vandag. Daar is regverdiging vir vergrype teen die gekriminaliseerde gemeenskap. Die Covid-tyd was weer ʼn praktiese voorbeeld. Weens die verlede is dit regverdig om hulp op grond van ras te gee. Weens die verlede kan wittes uit Sasol se aandeelskema geskop word. Weens die verlede kan jongmense nie beurse kry nie. Universiteite se bose kulturele verledes moet met wortel en taal uitgewis word. Daar is nie meer plek vir Afrikaans en by implikasie Afrikaners in openbare ruimtes nie.

Die oortreders word so vir altyd in ʼn posisie van skuld gehou en die slagoffer bly altyd die skuldeiser. As die oortreder wil aanspraak maak op billike regte word die park van skande as skuldbrief voorgehou wat eers vereffen moet word.

Dit gaan dus nie hier bloot oor die skuif van monumente van die verlede nie. Dit kan dus nie aanvaar word nie.

Die kriminalisering van Afrikanergeskiedenis resoneer egter nie met Afrikaners nie. Elke Afrikaner ken ʼn persoonlike storie oor swaarkry en opstaan. Of dit die 1930’s se depressie, die Helpmekaar na die Rebellie, die konsentrasiekampe na die Anglo-Boereoorlog of die opstaan daarna is. Die enkel gestandaardiseerde meesterverhaal wat die minister wil afdwing, werk nie, want dit is nie waar nie.

Die teenoorgestelde van standaardisering gaan gebeur. Die voorstel om Afrikanermonumente in temaparke te plaas gaan Afrikaners se bewuswording van erfenis versterk. Pogings om Afrikanererfenis te vat gaan daaraan strydstatus gee. Iets wat bedreig word, kry nuwe betekenis. ʼn Groot oplewing gaan kom om Afrikaner-kultuurgoedere te beskerm.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

antieke antie ·

die mens het een ding genoem…skande…. dis n skande oor hoe die eens trotse land afgebreek was tot n n krot….. soos alles afgebreek en vernietig was om die lae standaard te ewenaar wat sommige bewoners se vlak is

Salome ·

Ons voorouers het hierdie land opgebou. as dit nie vir hulle was nie, was hier niks in hierdie land nie. So los ons erfenis uit.

Lian ·

My kultuur is MY EIE en ek is NIE SKAAM daarvoor nie. Jy raak nie daaraan nie. Ons het ook standbeelde of monumente wat vir ons ongemaklik is, maar ons gaan dit nie vernietig nie. ‘n Volk sonder monumente is ‘n identiteitslose wese . Ons moet bou op ‘n toekoms . Gister is verby ; jy het net nou. Maar soos ek voorheen gemeld het , daar word ‘n strategie van verdeeldheid gevolg en on moet dit nie toelaat nie. Net ten slotte : wat van a) die groot uitdelgingsoorloee lifiqane en difiqane b) huidige korrupsie c) hoofmanne wat hul onderdane vir ‘n appelen ‘n eie aan slawehandelaars verkoop het ?

Marianna ·

Hierdie reenboog het grys geword. Ek het niks om te vier nie. My erfenis word op alle maniere verwyder en minderwaardig gemaak. Gaan ons ook later net in temaparke gesien kan word? So het hulle gelyk? As temaparke nog gaan bestaan en nie ook afgebrand en verwoes sal wees nie.

Johan ·

Dis maar moeilik om te bepaal waar jy vandaan kom as jou voorouers nie kon lees of skryf nie.

Adam Adriaan ·

Uitstekende skrywe. Ja die knaap bly maar ‘n nar in sy eie kultuur. Hy sal nie eers ‘n pos by ‘n surkus kry nie. Hulle(ANC/EFF) het ‘n paleis geerf en dit gereduseer tot ‘n ashoop.

Vrijburger ·

Groot waarheid: “Iets wat bedreig word, kry nuwe betekenis.”

annie ·

Die Jode se tempel is steeds afgebreek en hulle wil dit weer herbou en die Bybel sè dit sal weer afgebreek word en die Voortrekkermonument is nie eers ‘n tempel ter ere van die Vader nie. En g’n beeld mog ook gemaak en aanbid word nie. Ons beelde is presies net beelde. Sonder beelde sal die Arikaners, sou hulle net die Here weer aanbid, baie beter daaraan toe wees.

Objektief ·

Van die minister se oogpunt kan ek heeltemal verstaan hoekom hy n skandepark wil ontwikkel. Vir n groot persentasie van die huidige regering is meeste van die volgende n skande:

– n Etiese bevoegde regering wat die land en bevolking se behoeftes eerste plaas: om in n regerings posisie te wees beteken doodeenvoudig dat jy nou die kans her om jouself onregmatig te verryk
– Erkenning van prestasie_ alle aanstellings word gedoen gebaseer op party affiliasie, familiue affiliasie, geslag en ras; daar is geen plek vir prestasie as n aanstelloings kriteria nie.
– Harde werk: alle standaarde word na die laagste vlak moontlik aangepas
– Die handhawing van morele waardes: dit is hoekom BLM so vinning versprei in SA

So die waardes wat die historiese erfenis en kultuur wat vereer word deur die standbeelde en monumente is vir hulle n skande.

Nici ·

Baie goed geskryf. Ek stem ook saam, die Afrikaner gaan uiteindelik baat by hierdie vervolging deur ‘n bietjie karakter en liefde vir hul eie te ontwikkel en sulke mense is ontstuitbaar. Kry tog nou net ‘n tuisland vanwaar ons kan Kultureel mobiliseer.

Schalk ·

Het die huidige regering al ooit iets gedoen wat ‘n standbeeld van verering verdien? En laat ons eerlik vra hoe word ‘n vryheidsvegter vereer wat terroristedade gepleeg het?

Chris dupreez ·

Ongelukkig is al erfenis wat die anc vir sy mense nalaat, afgebrande skole en bankrot munisipaleteite. Nou wil hulle ons pragtige erfenis wegvat,

Hercules ·

geen vyandige wapen
wat teen my gebruik
word sal slaag nie;
my toekoms sal
voorspoedig wees

ek glo in God die Vader
ek glo in Jesus die Seun
ek glo in die Heilige Gees
ek sal my knie net buig
voor Jesus Christus en
geen ander nie, daarom
is ek vreesloos
????Shalom????

Hannes ·

You are insulting the AFRIKAner’s ancestors, you are distorting and criminelising their history, you are racially discriminating against their children, you are oppressing their culture, and by doing so, you are dehumanising their existence. This is a crime against humanity.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.