Europa se duur les ook van toepassing op Afrikaners

Reddingswerkers buite die metrotreinstasie in Brussel ná 'n ontploffing op 22 Maart 2016 (APTN via AP)

Reddingswerkers buite die metrotreinstasie in Brussel ná ‘n ontploffing op 22 Maart 2016 (APTN via AP)

Deur Christoff van Wyk

Vlugte vanuit die Belgiese hoofstad Brussel is hervat ná die terreuraanval wat 35 lewens gekos het. Die terugkeer na normaliteit geskied egter teen die agtergrond van ʼn Europa wat eenvoudig nie die vaagste benul het hoe om die terroristekwessie of selfs die immigrantekwessie te benader nie. Pierre Manent gee in sy artikel “Repurposing Europe”, vanuit ʼn Franse oogpunt, ʼn skreiende analise van die Europese probleem. Europa wat eens deur die Christelike geloof gevorm is, het in die naam van die “Europese projek” verval tot humanistiese individualisme waar kultuurgroepe totaal gestroop is van enige vorm van geestelikheid en nasionale, samebindende identiteit en nou rigtingloos voortstrompel van die een uitdaging na die ander.

Europeërs het hul geloof in God afgesweer en daarmee saam die idee van ʼn nasie of ʼn volk. In stede daarvan is die ideaal van ʼn verenigde Europa wat opgemaak word uit individue, met geen ware erkenning aan gemeenskappe of nasionale identiteit nie, aangehang as antwoord op die verskriklike gebeure van die twee wêreldoorloë. In hierdie projek is dit die regte van elke individu wat bo alles seëvier en word daar weggedoen met enige nasionale gemeenskaplike doelwitte en samehorigheid teenoor ʼn spesifieke land en sy mense.

Hierdie projek wat gedryf is deur verskeie politici het egter, soos wat in meeste lande tans gebeur, nie tred gehou met plaaslike gemeenskappe en hul probleme nie. ʼn Groeiende getal Europeërs is ongemaklik oor die huidige situasie in hul onderskeie lande en besef dat ʼn plaaslike, kollektiewe poging nodig is om aandag te gee aan verskeie kwessies soos die immigrante, Islam en die ekonomie. Die huidige politieke leiers, na wie daar opgekyk word, is egter totaal onbekwaam om na behore hierdie probleme te takel omrede hul steeds opereer op die vlak van die denkraamwerk van ʼn Europese Unie. Dit veroorsaak dat Europa en veral ʼn land soos Frankryk, polities verlam is om die groot plaaslike uitdagings aan te durf.

Manent stel die vraag dan ook as volg: “What to do about our diminished collective capacity is the great political question of Europe.”

Manent se oplossing vir hierdie toestand lê in die herontdekking van ʼn nasionale identiteit wat slegs kan geskied indien daar ʼn terugkeer is na geloof in God en die Christelike denkraamwerk wat instrumenteel was vir die vorming van dié nasies wat tradisioneel bekend was as die Christendom. Hy gee ook ʼn spesiale verbintenis aan die idee van die verbond, soos in die Bybelse konteks, wat volgens hom die idee van ʼn volk of nasie daarstel. Hy bring dus in geen onduidelike terme ʼn wekroep aan die kerk om ʼn “terugkeer” te maak. Slegs wanneer die ou nasies van Europa weer hul nasionale identiteite terugneem, met die Christelike geloof as grondslag, kan daar werklik, sonder vervreemding en haat, volgens hom ʼn plek gemaak word vir Islam in Europa.

Die Suid-Afrikaanse konteks

Suid-Afrika, net soos Europa, is saamgestel uit ʼn groot verskeidenheid kultuurgemeenskappe. Net soos in Europa loop ons ook deur onder ʼn geforseerde projek van saambondeling genaamd die “reënboognasie-projek”. Die projek het egter vinniger gefaal as wat baie mense verwag het (al hoor jy steeds sommige hardnekkige denkers en wensdromers wat hieraan vasklou). Vanuit ʼn politieke oogpunt bly dit steeds ʼn sterk slagspreuk waarmee die land van Nelson Mandela verkoop kan word as ons geld soek in die buiteland of ons eie beeld wil poets, maar die realiteit is veel anders.

Vanuit ʼn Afrikaner-perspektief het baie mense hul Afrikanerskap opgegee in ruil vir Suid-Afrikanerskap (asof die twee identiteite in spanning met mekaar is) om opgeneem te word in die “reënboognasie”. Groot is die ontnugtering dan gewoonlik as hulle uitvind dat die reënboog oorwegend swart is en dat daar nie soseer plek is vir wit nie. Hierdie ontnugtering vind toenemend plaas wanneer die realiteit van kader-ontplooiing, regstellende aksie en SEB tot hul reg kom.

Baie Afrikaners het heeltemal weggestap van die kollektiewe Afrikaner-identiteit in ruil vir ʼn bestaan waarin individualisme hooggety vier en waarin daar geen politieke of gemeenskapsbetrokkenheid meer is nie. Wanneer hierdie lewenstyl bedreig word deur swak dienslewering, misdaad of korrupsie wend mense hulself baie vinnig tot die reg en veral die Grondwet, net om weereens ontnugter te word deur die onmagtigheid van die regbank om die probleme die hoof te bied.

Afrikaners verkeer dus toenemend, op meer as een vlak, in ʼn bestaanskrisis. Een van die kernpunte wat hierdie bestaanskrisis veroorsaak is ʼn self-ontkenning onder Afrikaners wat veroorsaak dat ons nie meer weet wie ons is en wat ons plek in die nuwe Suid-Afrika behoort te wees nie. Tesame met hierdie knellende vrae is daar ook nog die probleme van demografie en geografie, iets wat die Europeërs nog nie pla nie, maar wat ook vir hulle op die horison is.

Kan ons aansluiting vind by Manent se antwoord vir Europa? Sal ʼn terugkeer na ʼn geloof in God (in plaas van die staat en die Grondwet) vir die Afrikaner ook antwoorde bring?

As die Afrikaner as gemeenskap weer vanuit sy tradisie en geloof homself kan vind, dan staan ons ʼn kans om ons eie probleme op te los en dalk selfs ook met antwoorde vir Suid-Afrika se toekoms vorendag te kom. Daar is wel baie uitdagings, maar as ons op die punt kan kom waar ons vir onsself kan sê dat ons onbeskaamd Christen, Suid-Afrikaner, Afrikaner, Afrikaans, trots op ons herkoms en geskiedenis is en dat geen van hierdie punte in spanning met mekaar staan nie en dat almal hiervan ons gevorm het wie ons is, dan het ons gevorder. Hierdie eerste stap van self-erkenning begin by elkeen van ons en geen reg in die Grondwet of andersins kan dit vir ons gee of van ons wegneem nie.

Die politieke analis Samuel P. Huntington het die volgende voorspelling gemaak: “It is my hypothesis that the fundamental source of conflict in this new world will not be primarily ideological or primarily economic. The great divisions among humankind and the dominating source of conflict will be cultural. Nation-states will remain the most powerful actors in world affairs, but the principal conflicts of global politics will occur between nations and groups of different civilizations. The clash of civilizations will dominate global politics. The fault lines between civilizations will be the battle lines of the future.”

Wat in Europa gaan gebeur, weet ons nie, maar die “Europa projek”, net soos die “reënboognasie-projek” is dood. Hoe langer projekte soos hierdie op nasies en kultuurgroepe afgedwing word deur ontoegeeflike state, hoe groter is die kans dat Huntington se voorspelling vir ons toekoms waar gaan word.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

NP van Wyk Louw-sentrum

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Hus ·

Ek sou eerder sê die Afrikaners se duur les is ook van toepassing op Europa, maar toemaar.

Tiger ·

Ek en my man het van die begin af geweet die “reenboognasie” bestaan net in feetjieland.Die werklikheid is heeltemal anders.Die jongste poging van die anc regime om rassisme te kriminaliseer is ‘n duidelike bewys daarvan!Hoe kan jy skielik oornag jou Afrikaner identiteit en geskiedenis afskryf ?Dit werk nie.

Reinhardt ·

Ek sê al vir n geruime tyd dat ons land se slagspreek “unity in diversity” ons ondergang gaan beteken. Ek het glad nie n probleem met ander kulture nie, soos ek ook nie n probleem het om Indië te gaan besoek en hul kultuur en kos te beleef nie. Maar op die ou einde van die dag wil ek terug kom en Afrikaans praat met my mense. Ons land is te divers. Ek persoonlik voel dit is waarom die Wes-Kaap so goed vaar, ons is nie so divers nie. Afrikaners en kleurlinge is baie dieselfde met betrekking tot kultuur, taal en waardes. En ek dink die Wes-Kaap, Noord-Kaap en miskien die Vrystaat moet wegbreek van Suid-Afrika.

Hein ·

Dit sal NOOIT toegelaat word deur die huidige meerderheid nie. Julle kan regtig probeer afstig. Doen iets is beter as niksdoen. Niksdoen ontaart in ‘n Zimbabwe. Daar sal na ‘n ander oplossing gekyk moet word. Orania en Kleinfontein bestaan al onderskeidelik 25 jaar en 22 jaar .Inwonergetalle staan so ongeveer 1500 mense elk. Orania is so 120 km van Kimberly en Kleinfontein 30k m vna Pretoria. Volgens my is dit ‘n oplossing. Daar moet maar in elke dorp/stad plase gekoop word en bewoon/bewerk word soos die 2 bogenoemde voorbeelde. Ongelukkig is dit nie ‘n plekke vir lui mense nie en die klem is op werk. Jy kom weg van stadsrade en Eskom en skep jou eie ekonomie. Jy kan nog steeds in jou dorp/ stad gaan werk. Eenvoudige oplossing vir ‘n ingewikkelde probleem :-).

FreddieS ·

Die artikel is op die kop en uitstekend gestel……SA SKRIK WAKKER!!!!!
Een ding wat ons Afrikaans sprekendes moet leer vinnig is om saam te staan en saam aan die probleme te werk te veel sit handjies gevou en kyk net na hulleself en kla oor alles.

Ronnie ·

Manent propageer dat Europa se oplossing le in ‘n terugkeer na sy Christelike herkoms waarfes en hierdie artikel trek ‘n paralel met SA.
1. Geld dit vir die swart Christene ook?
2. Wat van die sekulere, humanistiese, agnostiese en ateistiese wit afrikaanssprekende mense wat hulleself tog wel assosieer met die wit afrikaner kultuur? Volgens die artikel lyk dit vir my hulle word uitgesluit uit die wekroep

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.