Europa-verkiesings bied blik op moontlike politieke verskuiwing

(Foto: RODRIGO ARANGUA/AFP)

Kiesers in Switserland en Suid-Tirool, die klein Duitstalige semi-outonome provinsie in die noorde van Italië, het Sondag na die stembus gegaan.

In Switserland, een van die welvarendste lande ter wêreld, het kiesers nuwe federale parlementslede verkies ná ʼn verkiesingsveldtog wat deur ernstige vrae oor die toekomstige voorspoed, veiligheid en vryhede in hierdie Alpe-land gekenmerk is. In Suid-Tirool is dié provinsie se 35 parlementslede na ʼn veldtog oor dieselfde kwessies ook verkies.

In albei verkiesings was dit duidelik dat ernstige besorgdheid onder gewone burgers heers. Die partye wat goed gevaar het, was almal partye wat sterk standpunt teen immigrasie, en veral onwettige immigrasie, ingeneem het. Die partye wat goed gevaar het, is ook almal ten gunste van die behoud van hulle lande se eiesoortige kultuur en karakter.

Suid-Tirool is, soos Switserland, een van die welvarendste streke in Europa. Dit grens aan Switserland en hoewel dit sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog deel van Italië is, het die gebied ʼn eiesoortige Duits-Oostenrykse karakter en kultuur wat oor eeue heen terugstrek tot die 12de eeu toe die gebied deur Alperomaanse en Beierse setlaars ontwikkel is en ʼn unieke Tiroolse kultuur ontstaan het.

Die verkiesings die afgelope naweek in Switserland en Suid-Tirool volg slegs vyf weke ná belangrike verkiesings in twee Duitse deelstate, Hesse en Beiere. Hesse en Beiere is albei twee belangrike ekonomiese sentrums in Duitsland. Dit is ook twee van die rykste Duitse deelstate per capita. Beiere, die grootste Duitse deelstaat, is ook die deelstaat met die tweede grootste ekonomie. Hesse, met Frankfurt as die sentrum van finansiële dienste in Duitsland, is die vyfde grootste ekonomie in Duitsland.

Verkiesingsuitslag in Switserland

(Foto: Fabrice COFFRINI/AFP)

In Sondag se verkiesing het die regse Switserse Volksparty ʼn reuse-oorwinning behaal deur 29% van die stemme op federale vlak op hom te verenig. Die linkse Sosiaal-Demokrate het die tweede plek behaal met 18% van die stemme en die sentrumregse party, Die Mitte, was derde met 15% van die stemme.

Die Switserse Volksparty se verkiesingsveldtog het op drie kwessies gefokus. Eerstens is die party sterk gekant teen massa-immigrasie en het onderneem om onwettige immigrasie hok te slaan en Switserland se bevolking, wat tans 8,7 miljoen is, teen 2050 tot niks meer nie as 10 miljoen mense te beperk. Tweedens het die party sterk gefokus op tradisionele waardes en is ʼn omvattende veldtog teen die sogenaamde woke-ideologie gevoer. Derdens het die party sterk standpunt ingeneem ten gunste van Switserland se onverbondenheid en onafhanklikheid van die EU en wil die party hê dat Switserland sy neutraliteit in Europese en globale kwessies versterk.

Hoewel Switserland nie ʼn lid van die Europese Unie (EU) of Navo is nie, is sy toekoms ten nouste verbind aan Europa. Politieke neigings in dié klein landjie hou dus ook meestal verband met die breë politieke neigings in die res van Europa.

Verkiesingsuitslag in Suid-Tirool

suid-tirool1

Suid-Tirool (Foto: Argief)

Die politiek in Suid-Tirool is sedert 1948 deur die Suid-Tirool Volksparty (SVP) oorheers. Die party se leiers was oor dekades direk betrokke by die vryheidstrewe van die mense van Suid-Tirool ná die geweldige onderdrukking en diskriminasie deur die fasciste in Italië direk ná die Eerste Wêreldoorlog. Die SVP was dus ʼn ware volksparty wat vir die Duitssprekende en Ladinsprekende (een van die oudste taal- en kultuurgroepe wat reeds vir eeue in ʼn enkele vallei in die ooste van Suid-Tirool woon) Tirolers ingetree het. Dit was die party van die Alpe-boere, die skrynwerkers en die opkomende Tiroolse middelklas.

Dit het veral sedert die vroeë 2000’s egter begin duidelik word dat die SVP al minder in Suid-Tirool se vryheidstrewe begin belangstel het. Ekonomiese welvaart het belangriker as die stand van die Tiroolse kultuur geword. Hoewel baie burgers van Suid-Tirool steeds gehoop het dat dié gebied in die toekoms weer deel van Oostenryk kon word, selfs onafhanklikheid as ʼn eie land kon verkry, of dat Suid-Tirool se outonomie verder uitgebrei kon word, het die leiers van Suid-Tirool, namate die welvaart in die streek skerp toegeneem het, belangstelling in die vryheidstrewe verloor.

In die 2013-verkiesing het die SVP vir die eerste keer ooit sy volstrekte meerderheid in die Suid-Tiroolse parlement verloor en kon hy slegs 17 van die 35 setels verower. In die 2018-verkiesing het die party nog verder agteruitgeboer en nog twee setels afgestaan. In Sondag se verkiesing het die party selfs verder agteruitgeboer en nóg twee setels verloor.

Die groot wenner van Sondag se verkiesing in Suid-Tirool was die voorheen klein en obskure Sud-Tiroler Freiheit, ʼn party wat sy ontstaan in die burgerlike opstande van die 1980’s gehad het. Dié party se steun het Sondag van net meer as 5% tot byna 11% gestyg. Die STF se primêre verkiesingsboodskap was dat hy ʼn referendum eis om te bepaal of Suid-Tirool weer deel van Oostenryk moet word. Die party is ook sterk gekant teen emigrasie na die gebied. Die party se groei verteenwoordig ʼn wesenlike verskuiwing na regs. Nog talle ander klein sentrumregse partye, wat almal krities is oor die regerende SVP se hantering van die immigrantekrisis en Suid-Tirool se unieke taal- en kulturele karakter, het ook setels gewen. Byna 70% van stemme in Suid-Tirool is ten gunste van regse partye uitgebring.

Ingewikkelde koalisieonderhandelinge sal nou in Suid-Tirool moet plaasvind omdat dit vir die eerste keer ooit nodig gaan wees dat drie partye ʼn koalisieregering moet saamstel. Dit is egter duidelik dat die kiesers in Suid-Tirool, en in die besonder die Duitssprekende en Ladinsprekende groepe (Italiaanssprekendes maak 27% van die bevolking uit), baie onrustig is oor die wyse waarop die SVP die gebied die afgelope paar jaar geregeer het.

Verkiesings in Hesse en Beiere, Duitsland

(Foto: Christoph Soeder / DPA / dpa Picture-Alliance via AFP)

In verlede maand se verkiesings in Hesse en Beiere het ons dieselfde neiging gesien met kiesers wat positief op boodskappe teen massa-immigrasie en die verval van tradisionele waardes gestem het.

Terwyl die sentrumregse Christen-Sosiale Unie en die Christen-Demokratiese Unie (twee susterspartye) onderskeidelik in Beiere en Hesse gemaklik eerste geëindig het, was dit veral die regse Alternatief vir Duitsland (AfD) wat verras het. Die AfD se steunbasis was die afgelope paar jaar grotendeels in die armer deelstate van Oos-Duitsland. Die AfD het voorheen swakkerig in welvarende state soos Hesse en Beiere gevaar. Verlede maand het die AfD egter tweede in Hesse geëindig deur sy steun van 13% tot meer as 18% te laat toeneem. In Beiere het die party derde gekom met sy steun wat van 10% tot 15% toegeneem het.

Wat egter ook opvallend is, is dat die Christen-Demokrate, wat Duitsland vir byna 16 jaar onder leiding van Angela Merkel geregeer het en wat die byna onbeteuelde massa-immigrasie toegelaat het, nou onder nuwe meer konserwatiewe leierskap ook toenemend sterk standpunt teen massa-immigrasie inneem. In Beiere het die drie partye wat die beste gevaar het, die CSU (37%), die Vrye Kiesers van Beiere (16%) en die AfD (15%) almal sterk standpunt teen die huidig immigrasietoestroming ingeneem. Al drie partye het hul standpunt oor kwessies soos immigrasie, kultuur en waardes na regs verskuif in aanloop tot die verkiesing. Net soos in Switserland en Suid-Tirool het byna 70% van die kiesers in Beiere dus vir regse partye gestem.

Nederlanders in November na stembus

Mark Rutte (Foto: PETRAS MALUKAS / AFP)

Volgende maand sal kiesers in Nederland na die stembus gaan in wat as ʼn historiese verkiesing bestempel word. Die vraag is of die huidige politieke verskuiwing in Europa hom ook in Nederland gaan voortsit.

Die huidige Nederlandse premier, Mark Rutte, tree ná 12 jaar uit. Rutte was die Merkel van Nederland. Gematig, soms effens konserwatief, maar ʼn leier wat soveel toegewings gemaak het en so sterk op Europese integrasie gefokus het dat sy land onder sy leiding radikaal getransformeer is met veral massa-immigrasie en grootskaalse kulturele verval wat orals ingetree het.

Rutte is reeds die langsdienende Nederlandse premier. Peilings voorspel dat sy party, die Volksparty vir Vryheid en Demokrasie, saam met sy drie koalisievennote lelik gaan pak kry by die stembus. Die Christen-Demokratiese Appel (CDA) wat vir dekades in Nederland geregeer het en wat veral die platteland verteenwoordig het, gaan feitlik uitgewis word nadat die party die afgelope paar jaar meegewerk het om massa-immigrasie toe te laat en ook die aanslag op Nederlandse boere te steun. Ook die links-progressiewe Demokraten 66 (D66) gaan volgens peilings min setels behou. Drie regse partye, Partij voor de Vrijheid en twee nuwe partye, die Nieuw Sociaal Contract en die BoerBurgerBeweging gaan na verwagting saam tot soveel as 40% van die stemme op hulle verenig.

Dit is onmoontlik om te voorspel wie die volgende Nederlandse premier gaan wees en ingewikkelde koalisieonderhandelinge lê voor na die verkiesing. Dit is egter duidelik dat baie Nederlanders diep bekommerd is oor die toekoms van hulle land en oor die rigting wat regeringsbeleid die afgelope paar jaar ingeslaan het.

2024 en Europese verkiesings

Die Europese parlement. (Foto: Kenzo TRIBOUILLARD/AFP)

Aanstaande Junie sal kiesers in al 27 EU-lidlande na die stembus gaan om lede vir die Europese Parlement te verkies. Daar word verwag dat regse partye in veral Frankryk, Duitsland, Nederland, België, Oostenryk, Italië, Swede en Spanje groot vordering gaan maak. Die samestelling van die Europese Parlement kan ná volgende jaar se verkiesing heelwat anders daar uitsien.

Dit kan ook beteken dat dit moeiliker vir die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, kan raak om tot nog ʼn termyn verkies te word. Hoewel staatshoofde van die 27 EU-lidlande aanvanklik moet ooreenkom oor wie die president moet wees, moet die parlement dit steeds in ʼn stemming goedkeur.

Twee ander belangrike verkiesings wat gerus dopgehou kan word, is die parlementêre verkiesings volgende jaar in Oostenryk en in België. In albei lande loop regse anti-immigrasie partye voor in die peilings. In Oostenryk is die Vryheidsparty al vir meer as ʼn jaar voor in die peilings en ʼn koalisieregering tussen die regse Vryheidsparty en die sentrumregse Volksparty is die mees logiese uitkoms van die verkiesing. Meer as 25% van mense in Oostenryk is van immigrante-afkoms en baie mense in Oostenryk voel dat die immigrasiekrisis vir eens en vir altyd beëindig moet word.

In België moet die verkiesing in Vlaandere dopgehou word. Die regse Vlaams Belang loop ook reeds vir langer as ʼn jaar voor in peilings. Die huidige regerende Nieuw-Vlaamse Alliantie (N-VA) is in ʼn sterk tweede plek. Die vraag is of dié twee partye daarin kan slaag om saam meer as 50% van die stemme op hulle te verenig en of die N-VA dan bereid sou wees om met Vlaams Belang in ʼn koalisie te tree. Dit kan beteken dat wesenlike regeringshervormings, groter selfstandigheid vir Vlaandere en dus ʼn herbedink van die Belgiese staatsbestel in die vooruitsig gestel kan word. België is ook ʼn land met ʼn reuse-immigrantebevolking en immigrasie is reeds een van die belangrikste kwessies in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing.

Toekoms van Europa

Daar is tans ʼn wesenlike reaksie in Europa op die gevolge van massa-immigrasie, die langdurige oorlog in Oekraïne, stygende lewenskoste, insluitende energiekoste, en algemene kommer oor die toekoms van Europa en die Weste. Die konflik tussen Israel en Hamas, en die grootskaalse pro-Hamas (verbloem as pro-Palestynse)-betogings wat die afgelope paar weke in Europese stede plaasgevind het, gepaardgaande met hernude terreuraanvalle en -bedreigings, dra by tot die angs wat by meer en meer Europeërs intree.

Die vraag moet gevra word of hierdie reaksie nog tot wesenlike beleidsveranderings kan lei. Het massa-immigrasie, kulturele verval en die verrotting van Westerse samelewings nie reeds te ver gevorder nie? Ons sal oor die volgende paar maande sien of die negatiewe neiging in Europa deur die nuwe politieke leierskap opgelos kan word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Die Europeërs begin nou besef wat die lot uit Afrika aan hulle dien. Ons het hulle gewaarsku, naar ai, die mense kry dan nou sooo swaar! Nou sien hulle en voel hulle waarteen ons al dekades waarsku en wat ons ervaar. So kry vir julle en hou julle monde van ons af weg. Die mense wat die swaarste kry agv hierdie grensoopmakings, is die burgers van daardie lande. Daar word van hulle ontneem om die immigrante vol te stop. So ek hoop die regse partye wen, in al hierdie verkiesings dat die lot hier by ons se oë ook dalk sal oop gaan en besef dat dit gedoen kan word. Kulture is met ‘n doel daar. Moet dit nie probeer wegneem of integreer met mekaar nie. Respekteer almal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.