Gee vir Cyril wat hom toekom?

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: PresidencyZA/Twitter)

Te midde van die ANC-regering se hopelose mislukking om voldoende voorrade Covid-19-entstof effektief en vinnig te verkry, kom daar nou uit hul geledere sprake van ’n belastingverhoging om hierdie entstowwe te finansier. Hierdie onbeholpenheid en gebrek aan visie het talle mense met reg die joos in gemaak en bied regverdiging vir ernstige vrae oor die regering se twyfelagtige hantering van geldsake en sy hardnekkige weiering om privaatsektorbetrokkenheid by die verkryging en verspreiding van Covid-19-entstof toe te laat.

Die regering se Solidarity Fund (ironiese naam) het sedert dit in 2020 met trompetgeskal van stapel gestuur is, meer as R3 miljard ingesamel, maar dit blyk nou dat hierdie fondse nêrens te vinde is nie terwyl dit dringend nodig is om die verkryging van entstof te befonds. Om dié slegte situasie te vererger, blyk dit dat die regering hardnekkig voortbeur om ’n staatsmonopolie vir die aankoop en verspreiding van alle entstof te vestig, en wanneer daar op antwoorde aangedring word, klap hy eenvoudig die deur toe in die gesig van die burgerlike samelewing en die privaat sektor. Om die privaat sektor toe te laat om ook entstof te koop en te versprei, sou ’n wyse stap gewees het om die finansiële las en druk op die regering betreffende entstowwe te verlig. Die regering se weiering om helderheid te bring oor AfriForum en Solidariteit se vrae in dié verband, bewys dat die regering die sentralisasie en konsolidasie van sy mag hoër ag as om finansieel oordeelkundig op te tree en lewens te red.

Vir die Suid-Afrikaanse kommentariaat is dit standaardpraktyk om die korrupsie, wanadministrasie en verstommende verspilling van staatsfondse onder oudpresident Jacob Zuma te betreur. Dit word egter vir hulle ’n al hoe groter verleentheid om die Ramaphosa-administrasie steeds as ’n nuwe dagbreek voor te hou, terwyl die dag al lankal aangebreek het om kritiek uit te spreek waar kritiek verdien word. Wat ons op president Ramaphosa se wagbeurt sien, is net nog meer van dieselfde, teen ’n agtergrond van die afwesigheid van ernstige gevolge vir diegene wat hulle aan staatskaping en skaamtelose korrupsie skuldig gemaak het. Dit word toenemend duidelik dat die Zuma-jare nie ’n skandvlek op die ANC se siel was nie, maar eerder ’n ware weerspieëling daarvan. ’n Regering wat skaamteloos fondse plunder wat bestem was vir diegene wat kwesbaar, sukkelend en siek is gedurende ’n pandemie, het klaarblyklik die voorreg verbeur om die voordeel van die twyfel te kry.

Die verskonings van die Nuwe Dagbrekers word al hoe desperater, soos die leë beloftes van berugte doemprofete. Hoe langer hulle wag om hul oordeelsfout te erken, hoe groter gaan die verleentheid wees.

Kom ons gee dus vir Cyril wat hom toekom en vir ons gemeenskappe wat hulle toekom. In die geval van president Ramaphosa is alles wat hom toekom, reeds gegee en die meeste daarvan is sedertdien verkwis of geplunder. Wat ons gemeenskappe betref, is daar nog so baie om te gee, en die burgerlike samelewing is gewillig en in staat om dit te doen – ’n feit wat selfs een van Cyril se vernaamste lofsangers onlangs ruiterlik toegegee het.

Sal die kwynende aantal regeringslofsangers ophou om ons te probeer oorreed om nog meer op die altaar van regeringsafhanklikheid op te offer? Ons sal sien, maar intussen is diegene wat bereid is om hul moue op te rol en aan die werk te spring met tasbare, staatsbestande, gemeenskapsgebaseerde oplossings, reeds besig om die vrug op hul vasberadenheid te pluk, en ons het nog maar pas daarmee begin.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

DieKriek ·

Oe ja, ons het n probleem maar waarmee gaan ons die ANC vervang? Daar is net niks leierskap beskikbaar nie. Dis voorwaar n nagmerrie. Al raad is om planne te beraam om dié in die hoëstoel te dwing om eties op te tree. En nee, ek het geen idee hoe nie.

Hendrik ·

Ek glo ons het ‘n nuwe regering nodig. Ons moet die korruptes (waaronder Ramaphosa is) uit kry. Daar is genoeg kundiges en ander leierskap wat kan oorneem. Die tyd vir “baadjies vir boeties” is verby – dit is hoekom ons is waar ons is.

Werner ·

Die regering is irrelevant. Jy is in beheervan jou eie toekoms. Hou soveel van die regering weg as moontlik en gee mildelik aan jou eie. Dis n goeie begin. Om vir n beter regering in Afrika te wag kan n lang speletjie raak, neem beheer oor jouself en jou mense

Dirk Mostert ·

Watter “ons” moet die korruptes uitkry. “Ons” is ‘n nietige minderheid.

Snowball ·

Ons lewe in ‘n mafia -staat. Rampokkers en boewe maak lewensbesluite oor SA se burgers. Gewetenlose geldjag is al wat die ANC dryf, ook tydens hierdie pandemie. Die wyse waarop hulle inentings monopoliseer sodat hulle weereens die belastingbetaler kan laat hoes grens aan diabolies.
Malema gaan glo tee drink by Zuma – ‘n gedeelde lot naamlik die ongemak wat die Zondo komissie vir albei veroorsaak het dalk dié groot versoening aangebring. Weereens net ‘n bewys dat beginsels nie bestaan nie, ál wat polities geld in SA is die red van die eie bas, met wie ookal die doel sal dien. Ramaphosa en sy kaders is uit hierdie selfde kleed gesny. Uiteindelik word al die leuens en korrupsie een verstrengelde nes waar jy nie meer die een van die ander kan onderskei nie.. Cyril Zuma, Julius Ramaphosa of Ace Shivambu?

annie ·

Wel, die son is besig om te sak en die oes het min om te wys. Nou kom die skure van die flukses aan die beurt. Vanaf 1333 het groot rampe vir jare die wèreld bloots gery: Storms, droogtes, peste, aardbewings, vuurspuwende berge en nog was dit het einde niet. As CR dink alles gaan na ‘n paar botteltjies entstof hom entuit in die heldeakker langs Oom Paul laat rus, maak hy ‘n moeviese mistyk.

SomeOne ·

in die eerste jaar as “vice-grip” om die stuurwiel het die meeste mense reeds gesien dat die bus oppad afgrond toe is, maar nee, meeste mense het die oogklappe opgehou

SomeOne ·

gee vir sirrel wat hom toekom= hy moet so hard geklap word dat sy tande sy hakke stukkend byt

Die Wolf ·

Maklik.Blokkiesraaisel boek, pyp , pantoffels , leunstoel en Zuma om hom geselskap te hou.

Dirk Mostert ·

Kom terug aarde toe mense. Daar is geen demokratiese manier om die huidige regering uit die saal te lig nie. Alle stemme is gelyk en die stemvee sal aanhou om vir die ANC/EFF te stem. Die oorgawe in die 1992-referendum is onomkeerbaar.

Phillip ·

Ek sien net dat die anc is nie die regte groep vir SA nie.

Anton ·

Ons kan nie onderneem om hom te gee wat hom toekom nie want ons het geweld afgesweer :-)

Marius ·

Dankie Ernst vir die insig dat Pres Ramaphosa en die ANC/SAKP ontbloot moet word as die struikrowers wat hul is. As die kiesers dit nie gaan agterkom nie is Zimbabwe ons voorland. Ons enigste kans op oorlewing andersins sal wees om as kleiner groepe te isoleer en jouself staatsbestand te maak. Die HSM en akademici moet egter begin om in die regte rigting te trek en nie die kwaad verder te stook nie.

Hercules ·

ons kan hoes, poep en knor soveel ons wil, nie CR, JZ of enige ANCircus Org. dief sal gearresteer word nie, die Zondo Kom. arresteer dan niemand met hope inligting tot hulle beskikking nie – die sirkus narre ondermyn die wette van SA en skep daardeur ‘n président vir kriminele in totaliteit – mense op voetsool vlak sien en hoor wat volwasse regeringslui doen en doen dieselfde!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.