Geen Amerikaanse oorlog oor Noord-Korea

Kim Jong Un

Kim Jong-un. Foto: AP Photo/Wong Maye-E.

Die spanning wat al vir maande, eintlik jare, opbou oor die ontwikkeling van Noord-Korea se kernwapens, word tans op die spits gedryf deur die grootheidswaan van die rolspelers. Aan die een kant is daar die uitdagende Noord-Koreane, met hul onvoorspelbare diktator, Kim Jong-un, wat die wêreld, en veral die Amerikaners, tart met ’n vlaag van missieltoetse. Aan die ander kant is daar die Amerikaanse president Donald Trump en sy bondgenote in Asië – Japan en Suid-Korea – wat nie kan toelaat dat die Noord-Koreaanse regime nie net interkontinentale missiele kan afskiet nie, maar ook moontlik kernwapens met missiele kan ontplooi nie.

Dis ’n skaakspel wat die wêreld lankal dophou en dit lyk nie of die Koreane enigsins belang stel om toe te gee nie. Die Noord-Koreaanse leier is aan stuur van seker een van die mees eksentrieke en eintlik vreemdste lande in die wêreld. Dit is ’n land wat vasgevang is in die koue oorlog en eintlik steeds die oorlog veg wat in die 1950’s Korea in twee laat skeur het – ‘n kommunistiese noorde en ’n kapitalistiese suide. Die pro-Westerse suide het intussen een van die mees welgestelde lande in die wêreld geword– en dit sonder enige noemenswaardige minerale skatte.

Kim Jung-un se oogmerk

Wat wel waar is, is dat Noord-Korea al jare werk aan hierdie ideaal om kernwapens te ontwikkel asook ’n missielstelsel om hierdie wapens te lanseer. Kim en die Noord-Koreaanse junta se oogmerk is duidelik: word ’n staat met kernwapens, want in hul berekeninge is dit die enigste manier om te oorleef. Enige vyandige aanval (selfs deur die militêr-superieure VSA) word daarmee geneutraliseer. Met ander woorde, kernwapens moet die afskrikmiddel wees om enige aanval teen die regering van Noord-Korea teen te staan.

Waar ander kernlande in die 1970’s en 1980’s in die geheim hul kernvermoëns ontwikkel het, insluitend Indië, Pakistan, Israel en Suid-Afrika, is Noord-Korea glad nie skaam om hul oogmerk en enige vordering met hul kernprogram met die wêreld te deel nie. Inteendeel, die Noord-Koreane het volgens hulself reeds vyf kerntoetse gedoen. Na alle waarskynlikheid het hulle nou ook interkontinentale missiele ontwikkel wat kernplofkoppe so ver as die weskus van die VSA kan afvuur.

Dit laat grondige vrae ontstaan waarom die internasionale gemeenskap nie eenvoudig die Noord-Koreane met sanksies kon dwing om hul sogenaamde “wapens van massavernietiging” op te gee nie. Dit het immers baie goed gewerk om Irak, en later Libië, te oortuig om hul programme te staak. Die antwoord is eenvoudig dat Noord-Korea só geïsoleerd is, dat sanksies (wat wel ingestel is), weinig impak op die regering het en eintlik maar net die landsburgers verder benadeel.

Hier is dit interessant dat die VSA binne ure ná ’n vermeende chemiese wapenaanval deur die Siriese regering op burgerlikes vroeër vanjaar, ‘n klomp teikens in Sirië aangeval het. Hoekom tree die VSA dan nie dieselfde op en bom die wit waks uit die Noord-Koreane nie? Die antwoord is eenvoudig dat Noord-Korea reeds met hul ontwikkeling van ballistiese missiele en moontlike kernwapens ’n afskrikmiddel opgebou het teen die VSA.

Kernwapens as afskrikmiddel

Daar word aanvaar dat die VSA en sy bondgenote maklik militêr sal kan klaarspeel met die Noord-Koreane in ’n konvensionele oorlog. Die groot maar is egter dat Noord-Korea nie net sal kan terugslaan en groot dele van Suid-Korea en selfs Japan vernietig nie, maar ook kernwapens kan gebruik om hul punt te bewys. Daarom kan die VSA, behalwe om te dreig dat hy militêr teen Noord-Korea sal optree, eintlik niks meer doen as om militêre oefeninge te hou en te hoop dat die druk die Noord-Koreane sal laat oorreed om terug te staan nie.

Die Noord-Koreane is egter vasberade. Baie kenners beskou dié leierskap as uiters wispelturig en in staat om enigiets te doen. Dit is nog ’n goeie afskrikmiddel teen enige aanval teen Noord-Korea. Kim is só onvoorspelbaar – en baie kenners glo hy is sielkundig onstabiel – en sal sonder om te blik of bloos kernwapens gebruik om sy punt te bewys. Dit is natuurlik ’n aanvegbare stelling. Ja, daar is heelwat wat die buitewêreld te hore kry oor die toestande in Noord-Korea, die swaarkry van die bevolking en hongersnood. Maar soos met enige propaganda-oorlog wat die Weste (en Suid-Korea) nou al jare teen die Noord-Koreane voer, is daar ook baie legendes, half-waarhede en wanopvattings wat sekerlik as die waarheid uitgebeeld word.

Die ooreenkomste met die ontwikkeling van kernwapens deur Noord-Korea en dié deur China in die 1950’s is nogal ooglopend. Destyds het die VSA die moontlikheid dat die arm en agterlike (destyds waar) China kernwapens kan ontwikkel, as ’n grap beskou. Net soos Noord-Korea tans.  In daardie jare het China in Mao Zedong ’n onvoorspelbare leier gehad. Taiwan is toe erken as die verteenwoordiger van die Chinese hoewel die Taiwannese regering – net ’n klein eilandjie – beheer het, teenoor die kommuniste wat die Chinese vasteland beheer het. Mao het eenvoudig ’n kernwapen ontwikkel en China toegevoeg as ’n kernmoondheid. Later het China internasionale erkenning verkry en vandag is die Chinese natuurlik polities, ekonomies en militêr uiters magtig.

China word nou tereg deur die Trump-administrasie as die sleutel tot druk op die Noord-Koreane beskou. Maar die Chinese het goeie handels- en politieke betrekkinge met hul bure en sal nie sommer die VSA en Weste ondersteun teen hul eertydse bondgenoot nie. Onthou net, ideologies is beide lande steeds kommunisties, hoewel die Chinese natuurlik al jare terug kommunisme verruil het vir kapitalisme. Wat wel waar is, is dat China allermins kan bekostig dat ’n oorlog op sy grens uitbreek, veral as daar kernwapens en grootskaalse vernietiging betrokke is. Hulle sal nietemin nie sommer die VSA se aanspraak dat daar in die VN Veiligheidsraad teen die Noord-Koreane opgetree moet word, steun nie.

Trump is magteloos

Die VSA is dus feitlik magteloos. Trump wil graag aan die wêreld bewys dat hy ’n kragdadige leier is, wat hy wel in Sirië gedoen het, maar hierdie is ’n ander tameletjie. Verder is sy bondgenoot, Suid-Korea, self nie seker hoe om op te tree teen sy stoute kleinboetie nie. Suid-Korea het vir jare saam met die VSA rondgeval oor sy beleid teenoor die Noorde. Eers was daar dreigemente, daarna multilaterale samesprekings, druk op China, sanksies teen die Noord-Koreane, VN-resolusies en, les bes, ’n Suid-Koreaanse beleid wat die Sonskynbeleid genoem is: ’n poging om Noord-Korea deur gunste en gawes te oortuig om hul wapenbeleid te laat vaar. Alles tevergeefs.

Die punt wat hier gemaak word, is dat Noord-Korea nou presies bereik het wat hy wou. Kim het ’n kernwapen afskrikmiddel daargestel om seker te maak die Noord-Koreaanse regering gaan nie deur regimeverandering, soos in Irak en Libië, tot ’n val kom nie. Hoewel die mees logiese gevolg van die spanning wat tans opbou, oorlog en selfs kernoorlog is, is dit uiters onwaarskynlik omdat daar vir alle partye net te veel op die spel is. Die VSA en sy bondgenote het eintlik geen ander keuse as om die Noord-Koreaanse kernstaat te aanvaar nie. Die nuwe Suid-Koreaanse leier, Moon Jae-in, het hoeka onlangs by president Trump gepleit dat hy dialoog met Noord-Korea moet voorstaan.

Dat die Noord-Koreane voorbarig is en ’n groter bedreiging vir wêreldvrede inhou as ooit tevore, is natuurlik waar. Die verskil is egter dat hulle nou militêr so ver ontwikkel is, dat ’n vrywillige vernietiging van hul kernwapens nie gaan plaasvind nie. Dit beteken dat spanning tussen die Noord-Koreane, hul Suid-Koreaanse bure, Japan en die VSA in die afsienbare toekoms gaan voortduur.

Die Noord-Koreaanse regering gaan voortbestaan in sy huidige formaat en daar is niks wat die VSA of sy bondgenote daaraan kan doen nie. Nietemin sal Trump ’n paar troewe moet speel, al is dit simbolies van aard, veral deur die ontwikkeling en ontplooiing van ’n missielafweerstelsel teen ’n moontlike missielaanval uit die Noorde. Terselfdertyd kan verwag word dat die VSA en sy bondgenote nou meer as voorheen gaan probeer om die Noord-Koreane op ander wyses te verswak. Eers as die Noord-Koreaanse regering van binne verswak is, sal daar ’n geleentheid wees om van die huidige regime ontslae te raak. En dit kan nog baie jare duur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Kannaland ·

Die Koreane, noord en suid, is hardwerkend en fokus hulle aandag op opbouende, produktiewe en welvaartskeppende dinge soos akademie, om op hoogte te bly met tegnologie, harde werk. In die Weste het ons verslaaf geraak aan sport, vermaak en gebruik rekenaars vir sosiale media en speletjies. Daarom haal hulle ons nou baie vinnig in en het ons eintlik klaar verbygevat. Ons is agter en moet wakker skrik en weer begin slim en harder werk.

Sebastiaan ·

Dit geld seker vir Suid-Korea, maar nie vir kommunistiese Noord-Korea nie waar mense veg om oorlewing.

Paul ·

Jy besef dat Suid-Korea die grootste sogenaamde “e-Sports” land is? Met ander woorde, miljoene der miljoene mense daar speel rekenaarspeletjies byna voltyds.

Marisa ·

‘n Hoogs vreemde meningstuk. Duidelik bly die skrywer baie ver weg van die byenes. Hier en daar is ‘n ietsie wat regval, maar merendeels is sy verhaal gebaseer op wat klink na hoorsê.

Kom Ons Boks ·

‘n Hoogs vreemde kommentaartjie. Staaf asseblief jou mening en lig ons in oor wat jy wil afmaak as hoorse in die artikel. “Hier en daar” en “klink soos” veleen ongelukkig geen legimiteit nie.

Gudeon Jones ·

Die Russe het die tegnologie aan Sjina verskaf, wat hulle (meestal) gesteel het van die Weste. Die Sjinese het op hulle beurt die tegnologie aan Noord-Korea verskaf. Nico , jy beredeneer die Noord-Koreaanse situasie uit ‘n rasionele perspektief. Die Noord-Koreaanse samelewing word beheer deur te glo dat hulle voortbestaan bedreig word en dat die vyand enige oomblik gaan aanval. Desperaatheid en irrasionaliteit kan katastrofiese gevolge he. Dink aan Hitler. Ten laaste, Sjina hou waarskynlik die status quo in Noord-Korea in stand, ‘n verenigde Korea sal polities en ekonomies sy posisie verswak in Asie

Marisa ·

Korrek. Noord-Korea se mense word in die meningstuk uitgebeeld as ‘uitdagend’. Niks is verder van die waarheid nie. Hulle is gebreinspoelde, geintimideerdes wat swaar leef ter wille van die militêre magte wat alles kry. En daardie ‘alles’ is ook maar nie veel nie.
Daar is ook net één rolspeler, en dit is Kim Jong-un. Hy is totaal paranoies en delg enige persoon uit wat hy selfs vermoed hom probeer ondermyn, of wat hy dink hom uit sy posisie mag stoot. As ‘n paar voorbeelde kan ek noem sy eie oom wat hy voor ‘n vuurpeleton staan gemaak het, en sy eie halfbroer wat hy op Kuala Lumpur se lughawe laat vermoor het.
Suid-Korea is van die rykste lande ter wêreld sonder minerale bronne want hulle rykdom lê in tegnologie en industrieë.
Die Noord-Koreaanse regering ‘deel’ nie hul toetsprogramme en die lansering van hul missiele met die weste nie – dit word deur Suid-Korea waargeneem en aan die wêreld bekend gemaak. Wat dit is wat hulle lanseer, is ook raaiskote, en word nie deur Noord-Korea aan die buitewêreld openbaar gemaak nie. Noord-Korea se no 1 missie is om hulself weerbaar teen die res van die wêreld te maak, maar hulle gebruik wat hulle reeds het as afdreigmiddel teenoor Suid-Korea. Hulle is nie ingestel op oorlogmaak nie, bloot omdat dit tot selfvernietiging sal lei. Hulle wil bloot ‘sterk’ wees en ‘n ‘stem’ in die wêreld hê.

Therese van Schalkwyk ·

Marisa

Sou jou bitter graag wou glo, maar hoe verklaar jy die feit dat Noord-Korea die afvuur van die missiel op 4 Julie beskryf het as “a ‘gift’ to American ‘b——s’ from North Korea on Independence Day”?
Dit klink taamlik uitdagend, of hoe?

Santie ·

President Trump is gelukkig ‘n pragmatis en laat hom in die geval lei deur die menings van sy hoogs bekwame generaals en minister van buitelandse sake. Dat hy graag bekend wil wees as ‘n “kragdadige” leier is vir my nuus. Ek kry die indruk dat hy glad nie belangstel in enige “beeld” nie. Hy doen eenvoudig wat nodig is.

arno ·

Die artikel het my genoop om by Wikipedia die geskiedenis te gaan op lees. Vir my lyk die Koreaanse stryd na n volk se wil tot selfbestemming , in n eeu waar koue en warm oorloe nog die Kolonialistiese magte se speelveld was. Baie indrukwekkend hoe Nord Korea se vryheidsstryders steeds vasklou aan veg vir selfbestemming na feitlik n eeu se vreemdheerskappy, en in isolasie so n arsenaal van moderne wapentuig kon opbou. Aangesien daar net n wapenstilstand en nie vredesooreenkoms onderteken is in die 1950 oorlog, beskou die Noorde hul eie militere mag as oorlewingskwessie. Die VSA bly in sy optrede gebind aan die VN.

arno ·

Wat my laat dink dat die Groot moonthede (VSA, Russland, China) nie gretig is om die 2 Koreas te sien hereenig. Dit sou dan n uiters sterk nuwe rolspeler , n legitieme Tiger State met kernwapens en groot ekonomiese krag beteken,- die ‘divide and rule ‘ strategie van die koue oorlog raak al hoe warmer , hoe sterker Noord Koreaanse wil tot selfbestemming en hereeniging van die verdeelde nasie word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.