Geskiedenis van idees: Hervorming, Renaissance en Humanisme

Inleiding

Die idee-tydperk wat hier behandel word strek vanaf omtrent 1400 tot 1600. Die sowat 200 jaar wat op die Middeleeue volg, word met Hervorming, Renaissance en Humanisme geassosieer en beteken ʼn wesenlike verandering teenoor die Middeleeuse denke en idees.

Gestoor. Martin-Luther-Reformasie-500_2.jpg

Martin Luther (Foto: Pt.aleteia.org)

Die Hervorming het veral op die teologiese omwenteling betrekking en is geografies veral in Middel-Europa gesetel; die Renaissance is veral ʼn kultuurtydperk met sy sentrum in Italië en die Humanisme is breedweg die filosofiese rigting wat die mens in die middelpunt stel en hom die maatstaf van alle dinge maak. Hervorming, Renaissance en Humanisme oorvleuel wel in tyd.

Die skolastiese metode van waarheidsvinding van die Middeleeue is geleidelik vervang deur ʼn groter klem op die empiriese metode (die versameling van waarneembare feite), en daar was ook wesenlike deurbrake wat ʼn paradigmaskuif beteken het, soos die aanvaarding van die heliosentriese wêreldbeeld (die aarde wentel om die son), die vermenigvuldiging van geskrifte deur die boekdrukmetode en die ontdekking van groot dele van die wêreld buite Europa. Die plekke van wetenskap, insig en kennis was nie meer die kloosters nie, maar die universiteite, en wetenskap is toenemend losstaande van teologie bedryf. Daar was egter nog steeds geen stelselmatige natuurwetenskap, soos ons dit ken, beoefen nie. Dit sou eers in die volgende era, van die Verligting, gebeur.

Terwyl die Middeleeue relatief staties was en God en die hiernamaals die fokus van alles was, het in die tydperk van die Renaissance en Humanisme die klem meer op die mens en die teenswoordige wêreld geval, sonder om enigsins antigodsdienstig te wees. Trouens, verstommende sakrale kuns is tydens die Renaissance geskep, maar, anders as in die Middeleeue, ook heelwat nie-sakrale kuns. Die Renaissance beteken hergeboorte en dit verwys veral na die herontdekking van antieke denke en kuns. Ook in die argitektuur was die nuwe idees sigbaar: pleks van na die hemelwysende gotiese katedrale is toenemend wêreldse geboue soos stadsale en paleise in ʼn horisontale styl, met talle elemente uit die antieke soos suile en gewels, gebou.

Estetika, proporsie en skoonheid het belangriker geword as die uitsluitlike verheerliking van God deur middel van kuns en argitektuur. Terwyl die kerk in die Middeleeue die hoofbefondser van kuns en argitektuur was, het in die Renaissance ʼn selfgeldende stand van welvarende burgerlikes bygekom wat veral deur die groeiende handel ryk geword het en hulle rykdom wou aanwend om die wêreld rondom hulle volgens die nuwe waardes en idees van die tyd te vorm. Veral in Italië het die welvaart van sekere families, soos die Medici in Florence of die Borgias in Rome, tot die bevordering van nuwe kunsstyle en die skep van kunswerke van tydlose waarde gelei.

Van betekenis op die gebied van die politieke ordening is ook die geleidelike verswakking van die universele Christelike Ryk (die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie, wat behalwe vir die huidige Duitsland ook Tsjeggië, Oostenryk, Switserland, Nederland, België asook dele van Italië en Frankryk ingesluit het) en die opkoms van voorlopers van latere etniese state, wat deur die gevolge van die Hervorming ingelei is. Die proses is ook versterk deur die ontwikkeling van nasionale tale ten laste van Latyn as universele taal van die geleerdes en die uitvinding van die boekdruk waardeur nuwe idees in nasionale tale vinniger kon versprei.

Die groot impak van die Hervorming

Die Hervorming was ʼn aardskuddende gebeurtenis vir die noordelike deel van Europa, terwyl dit Suid-Europa redelik onaangeraak gelaat het. Die doel van die Hervorming was om weer ʼn weg terug te vind na die Bybelse waarheid, wat deur die Katolieke Kerk erg verdraai en met allerhande mensgemaakte wette en vertellings oordek is. Onbedoeld het die uitdaging van die kerklike en keiserlike gesag egter tot ʼn algehele veranderde bedeling gelei, met die toenemende mag van die territoriale vorste asook van ʼn welvarende en selfversekerde burgerstand in die opkomende stede.

johannes-calvyn

Johannes Calvyn. Foto: Af.wikipedia.org

Die sentrale idees van die hervormers (onder andere die Duitser Martin Luther en die Switsers Johannes Calvyn en Ulrich Zwingli) word saamgevat as sola gratia (net deur God se genade is ons gered, nie deur ons eie toedoen nie), sola fide (net deur geloof en nie deur werke nie word die mens geregverdig), sola scriptura (slegs die Bybel is die grondslag van ons Christelike geloof, nie kerklike leerstellings en tradisies nie) en solus Christus (Christus staan sentraal as ons Verlosser en saligmaker, nie die pous, die maagd Maria of heiliges nie).

Verder is die kerk se deelname aan wêreldse mag en politiek wat tot korrupsie gelei het, verwerp. Die koop van aflate om vir jou en jou afgestorwene geliefdes ʼn plek in die hemel te verseker is net so verwerp soos die groot klem op relikwieë (oorblyfsels van heilige mense of voorwerpe) wat wonderbaarlike kragte sou hê. Die persoonlike bestudering van die Bybel, en daardeur die verhouding met God wat die mens tot insig en bekering deur God se genade lei, was die aangewese pad. Dit is moontlik gemaak deur Luther se vertaling van die Bybel in Duits sodat ook nie-teoloë dit kon lees. Die uitvinding van boekdruk deur middel van verskuifbare letters deur Johannes Gutenberg het die verspreiding van die Bybel en teologiese geskrifte moontlik gemaak.

Die aanhangers van die Hervorming het baie sterk gevoel oor hulle geloof en saam met die insig, dat die mens verlossing direk van God deur Jesus Christus ontvang, het ook die nuwe mensbeeld ontwikkel: die mens is wel in sonde ontvang en gebore, maar deur genade verlos en kan sonder die onsekerheid oor sy rol en plek in die hiernamaals tot eer van God leef. Die mens se goeie werke is nie om punte vir die toegang tot die hemel te versamel nie, maar uit dankbaarheid en tot eer van God.

ʼn Kenmerkende idee van die Protestantse mensbeskouing was dan ook die ontwikkeling van individualisme: jy word as individue verlos en staan direk in kontak met God. Elke mens moet dus self sy saak met God regmaak en daar kan geen tussengangers wees nie, of mense wat hulle aanmatig dat net hulle ʼn verhouding met God het op grond van hulle amp of afkoms nie. Die idee van persoonlike vryheid wat op die besef van persoonlike verlossing en roeping volg, was ook van groot betekenis vir die ontstaan van vryheidsgesinde nuwe volke wat sedert die 17de eeu begin het om dele buite Europa te bevolk en kolonies te stig om weg te kom van die neerdrukkende owerhede. Hier kan ons aan die stamvaders van die Amerikaners dink, asook aan die Afrikaners as nakomelinge van Protestantse Nederlanders, Duitsers en Hugenote, vir wie vryheid in erkentlikheid van God se almag sentraal was.

Die opkoms van Protestantisme het vir talle streeksheersers die geleentheid gebied om hulle mag ten koste van die keiser uit te bou en het geleidelik tot die vorming van state gelei. Deur die Vrede van Augsburg van 1555, wat op die eerste ronde godsdiensoorloë gevolg het, is vasgestel dat elke territoriale vors die geloof van sy gebied kan bepaal en dus ook die van sy onderdane. Mense het dus ten minste die keuse gehad om na gebiede te verhuis waar hulle godsdiens beoefen is. Voorheen was daar geglo dat daar geen saligheid buite die Katolieke Kerk is nie. Die houvas van die katolieke kerk, wat sedert die Middeleeue hulle ook sterk met die politiek bemoei het, is deur die Hervorming aansienlik verswak.

Na die groot skeiding van die Christendom tydens die Middeleeue in die westelik-katolieke sfeer en die oostelik-ortodokse sfeer, wat ook ʼn kulturele waterskeiding was, het met Protestantisme die kultureel-godsdienstige skeiding binne Wes-Europa tussen noord en suid bygekom. Breedweg is Europa daarmee in drie geografiese, godsdienstige en kulturele sfere gedeel: die Protestantse, Germaanse noorde en die middel, die Katolieke en Romaanse suide en weste en die Ortodokse, Slawiese ooste en suid-ooste.

Dante Alighieri (Foto: Artokoloro / Quint Lox / ARTOKOLORO QUINT LOX / Aurimages)

Beduidende denkers en idees van die Renaissance en Humanisme

Dante Alighieri, wat van 1265 tot 1321 geleef het en as Italië se nasionale digter en denker vereer word, het eintlik nog in die Middeleeue geleef, maar reeds die denke van die Renaissance, voor die begrip ontstaan het, voorberei. Sy staatsbeskouing word onder andere in die werk Monargia uiteengesit, waar hy stelling inneem ten gunste van die keiser as wêreldheerser pleks van die pous. Die tweestryd het die Middeleeue oorheers en nadat die pous tydens die Middeleeue as verhewe bo die keiser gesien is en die mag gehad het om die keiser aan te wys, het die pous se posisie tydens die Renaissance verswak. Dit was ook te wyte aan die alles behalwe morele gedrag van menige pouse tydens die Renaissance, wat hulle status verlaag het en ook ʼn wesenlike dryfkrag agter die Hervorming was. Dante argumenteer dat die keiser sy gesag van God en nie van die pous ontvang nie, waarop latere heersers hulle magsposisie begrond het.

Nicolaus Kues (1401-1464), ook bekend as Cusanus, was wel ʼn kerklike ampsdraer as kardinaal van Brixen in Tirool, maar iemand met ʼn belangstelling in wiskunde en natuurwetenskappe. Cusanus het ook gedagtes oor die sogenaamde epistemologie geformuleer, die teorie van begrip waarop later onder andere Immanuel Kant, met sy Erkenntnislehre, voortgebou het. Die epistemologie beskou die vraag van hoe begrip, insig en kennis tot stand kom. Cusanus het die idees van Aristoteles verder geformuleer, naamlik deur alles wat is, oftewel in die werklikheid deur die mens geskape word deur dit waar te neem, te meet en te beskryf. Die mens, deur God geskape en aan die spits van die skepping geplaas, is die maatstaf van alle dinge omdat hy met sy verstand eers betekenis aan dinge gee. Cusanus het ook van die standpunt uitgegaan dat die universum oneindig in tyd en ruimte is.

Leonardo da Vinci (Foto: Biography.com)

Leonardo da Vinci (1452-1519) was nie soseer ʼn denker nie, maar eerder iemand wat die ideale van die Renaissance in een persoon verteenwoordig het deur sy ongelooflike rykdom aan talente gekombineerd met ʼn belangstelling in bykans alles. Hy staan ook as universele genie bekend. Soos dit tipies van Renaissance en Humanisme was, het hy eerder in die mens in al sy aspekte belang gestel as in die metafisika. Die liggaam, in die Middeleeue as sondig beskryf en in die kunste eerder weggesteek, is in die Renaissance amper gevier en da Vinci het studies van die menslike liggaamsbou gedoen om daardeur werklikheidsgetroue skilderye te kon doen. Hy het ook reeds latere baanbrekende uitvindings soos motors, vliegtuie en duikbote teoreties ontwerp.

Desiderius Erasmus van Rotterdam (1466-1535) was sowel filosoof, teoloog, taalkundige en priester en geld as een van die grootste verteenwoordigers van die Humanisme. Gelyktydig was hy ook vir die Hervorming van groot betekenis deur die hersiening, vertaling en verspreiding van die Nuwe Testament, wat dit meer toeganklik gemaak het. Talle boeke en briewe het uit sy pen verskyn en hy was ook verskeie tale magtig en het meesal in Latyn geskryf. Hy geld as een van die grondleggers van die humanistiese onderwysideaal met sy klem op die antieke tale en mensbeskouing. Hy was ook ʼn vroeë verteenwoordiger van idealistiese denke, in teenstelling met Nicollo Machiavelli (meer hieronder).

Erasmus het oorlog afgekeur, geglo aan die verbetering van die mens en die samelewing deur middel van opvoeding, aan morele beginsels waardeur staatsmanne hulle moet laat lei en hy het raad gegee oor hoe die kerk in lyn met die morele en etiese vereistes van die Bybel, eerder as volgens magspolitieke vereistes van die dag, moet optree.

Niccolo Machiavelli (1469-1527), wie se naam later spreekwoordelik geword het vir koue politieke magspel, was ʼn Italiaanse filosoof, digter, historikus en diplomaat en word as een van die beduidendste staatsteoretici van sy tyd beskou. Hy was ʼn praktiese politieke filosoof, wat eerder gefokus het op wat is (realisme) en nie op wat behoort te wees (idealisme) nie. Hy was ook betrokke by die wisselvallige politiek van sy tyd, waar Italiaanse stadstate asook verskeie adelsgeslagte met mekaar in konflik was.

Machiavelli se hoofwerke is Il Principe (die Vors) asook die Discorsi sopra la prima deca de Tito Livio (Diskoers oor die eerste tien boeke van Titus Livius) en Dell‘arte della guerra (Oor die kuns van oorlogvoering), wat almal kort na mekaar verskyn het. ʼn Wesenlike kern van Machiavelli se denke is die beskouing dat die geskiedenis en die ontwikkeling van die mens geen progressiewe lyn is nie, maar eerder ʼn sirkel is: daar is geen vordering heen na ʼn beter samelewing nie (ʼn gedagte wat sterk onder linkse denkers van verskeie eeue is), maar alles is ʼn ewigdurende kringloop van opgang, verval en heropstanding. Dit is ʼn gedagte wat ook sentraal is in die konserwatiewe denke soos eeue later deur Edmund Burke geformuleer.

Portret van Niccolo Machiavelli (1469-1527), staatsman en diplomaat (Foto: Austrian Archives (AA) / IMAGNO / APA-PictureDesk via AFP)

Die sentrale gedagtes van die Vors is die skeiding van mag en moraal (die doel heilig die middele): die heerser moet in belang van sy staat optree en kan dus, as dit nodig is, sekere morele wette oortree, as dit tot ʼn goeie uitkoms lei. Die hoogste doel bly egter nie magsuitoefening per se nie, maar die oprigting van ʼn republiek waar in die belang van die burgery regeer word. Magsmisbruik word deur Machiavelli verwerp en ook die heerser is gebonde aan sekere morele kodes.

Verder beveel Machiavelli aan dat die regeerder ook oneerlikheid (voorgee) gebruik indien dit nodig is. Naïewe vertroue kan skadelik wees. In die Discorsi word eerder die teendeel van die Vors se uitgangspunte beskryf, naamlik ʼn ideale republiek, gegrond op die Romeinse geskiedenisskrywer Titus Livius se uiteensetting van die Romeinse politieke stelsel. In Oor die kuns van oorlogvoering val Machiavelli weer terug op die praktiese politiek en beskryf die ander been van staatlike soewereiniteit naas die politiek, naamlik die militêre mag. Ook hier verwerp hy die misbruik van oorlog, soos die misbruik van mag, maar stel dit duidelik dat vrede en stabiliteit sonder die militêre nie moontlik is nie – ʼn gedagte sentraal aan die latere realistiese denke in die internasionale politiek.

Thomas Morus, eintlik Thomas More, (1478-1535) was ʼn Engelse denker, politikus, regsgeleerde en skrywer. Morus se bekendste werk De optimo statu rei publicae deque nova insula Utopia (Oor die beste grondwet van die staat en oor die nuwe eiland Utopia) handel oor die staatsteorie, maar is geskryf in die vorm van ʼn utopiese roman, voor die term nog bestaan het. Daarin skets hy ʼn soort ideale stadstaat-samelewing op ʼn eiland met allerhande eienskappe wat nogal ooreenstem met die lewe van ʼn klooster, maar wat ook latere idealistiese voorstaanders van kommunisme aangehang het: die regte van die individu is ondergeskik aan die gemeenskap, alle besittings behoort aan almal en almal werk vir die gemeenskaplike doel en bevorder gelykheid en kennis vir almal.

Die staatsvorm is ʼn republiek en daar heers godsdienstige verdraagsaamheid. Mediese versorging en opleiding is gratis en geld is onbekend. Dit is egter nie duidelik of Morus werklik so ʼn samelewing wou hê en dit met die Engeland van sy tyd gekontrasteer het, of dit as satire geskryf het nie. Vir sy tyd, waar die samelewing streng hiërargies georganiseerd was en die outoriteit van die koning en die adellikes nie bevraagteken is nie en deur die ontluikende handel en vervaardiging groot rykdom, maar ook groot ongelykhede aan die orde van die dag was, was sy idees verbasend modern.

Portret van Thomas More (1478-1535) (Foto: PrismaArchivo/Leemage)

Die tema van die skets van ʼn ideale samelewing op aarde asook die terug-hunkering na ʼn goue era of die soeke na ʼn beter en ongeskonde samelewing in die nie-Westerse wêreld is sterk en deurlopende temas in die Weste sedert die tyd van die Renaissance.

Bykans alle totalitêre idees en ideologieë begin met die belofte van die ideale samelewing op aarde, terwyl die Christelike beskouing wat in die Middeleeue dominant was die aardse lewe as vol moeite en verdriet sien en dat die ideale wêreld net in die hiernamaals te vinde is.

In die volgende era van die Verligting, met sy groot klem op die mens en die wetenskap is in intellektuele kringe selfs gepoog om met God en geloof weg te doen aangesien die mens nou alles deur die wetenskap sou kon verklaar. Die Franse Revolusie met sy radikale omverwerping van die ou orde en die tradisie het die denke tot die uiterste gevoer, maar soos in enige era was daar ook denkers wat ʼn terugkeer na die ou weë bepleit het.

Hierdie artikel verskyn as deel van ‘n reeks wat handel oor die idee-geskiedenis van die mensdom. Die reeks ontleed die grootste idee-strominge wat oor die afgelope eeue die Weste soos wat ons dit vandag ken, help vorm het. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Harde werk en baie navorsing… En wat het toe intussen in Afrika gebeur? Die volgende reeks kan gerus daaroor handel. Asb!

Jakkie ·

Verseker Annie, ou Standerd 7 nou Graad 9 Geskiedenis sillabus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.