Geskiedenis van idees: Tweede helfte van die 20ste eeu

Die val van die Berlynse muur (Foto: GERARD MALIE/AFP)

Bykans onmiddellik na die einde van die Tweede Wêreldoorlog, in September 1945, het die eenheid tussen die geallieerde magte begin verbrokkel. Die Oos-Wes-verdeling en die Koue Oorlog tussen die Sowjetunie en die VSA, met hulle onderskeie bondgenote en vasalstate, het gevolg. Die wedywering tussen kommunisme en die liberale demokrasie het die bepalende faktor geword.

Nog ʼn groot wêreldwye gebeurtenis kort na die Tweede Wêreldoorlog, was die onafhanklikwording van voormalige Europese kolonies en die opkoms van die sogenaamde Derde Wêreld as internasionale rolspeler.

Ideologies was die kommunisme egter nie tot die Oosblok beperk nie: dit het massiewe veld gewen in die sogenaamde Derde Wêreldstate en het ook in die Weste in die 1960’s en daarna onder die vaandel van die vredes- en omgewingsbeweging groot invloed uitgeoefen. In die 1980’s was daar ʼn konserwatiewe oplewing in die Weste, met leiers soos Ronald Reagan in die VSA, Margaret Thatcher in Brittanje en Helmut Kohl in Duitsland (terwyl Frankryk en Spanje, onder andere, in dié tyd links geswaai het). Die jaar 1989 en 1990 was die fenomenale oorwinning van die Weste met die bevryding van die Oosblokstate van die kommunistiese juk en die segetog van demokrasie en selfbeskikking orals in die wêreld. Die oorwinning was egter, soos die verdere verloop sou wys, net tydelik van aard.

Kenmerkend van die tweede helfte van die 20ste eeu is verder dat nie-Europese denkers, by name Amerikaners, maar ook denkers uit die globale Suide, op groot skaal die toneel betree het. Trouens, die VSA word sedert die Tweede Wêreldoorlog op elke terrein die onomstrede leier van die Weste.

Universiteite as bronne van idees is nog steeds belangrik, maar die massa-media soos koerante en tydskrifte, die radio en televisie en aan die einde van die 20ste eeu ook die internet word die eintlike draers van idees.

Die 1968-revolusie en sy idees

Die linkse bewegings in die Weste van die 1960’s en daarna word algemeen onder die term die 1968-revolusie saamgevat, alhoewel dit verskillende beginpunte en oorsake in die onderskeie lande van die Weste gehad het.

Die term “1968“ verwys na die jaar waar die meeste linksgesinde opstande in Westerse lande plaasgevind het. Breedweg het dit begin in ʼn tyd waar die voorspoed en selfversekerdheid van die 1950’s verby was. In die VSA was die swartmense se aandrang op gelyke regte, wat ook deur talle witmense ondersteun is, die politieke oorsaak, later het die Vietnam-oorlog ʼn groot onderwerp geword. In Duitsland was dit die afrekening met die Hitler-era en die generasie wat dit moontlik gemaak het, wat in die 1950’s weens die heropbou eers in die agtergrond geskuif het. In Frankryk was dit veral arbeideropstande vir beter werksomstandighede, betogings teen die oorlog in Algerië asook die weerstand teen die langdurige De Gaulle-bewind.

Al die verskillende bewegings verbind die onderliggende linkse idees van die verwydering van tradisie en konvensies, seksuele bandeloosheid, die stryd vir die gelykbehandeling van vreemdelinge en regverdigheid vir die arm lande, feminisme, vrede en internasionale solidariteit, die afkeur van die nasionale belang en die kapitalistiese ekonomiese stelsel en ʼn bekoring met die vreemde en met sosialisme.

Ook Suid-Afrika en Rhodesië het deel van die 1968-beweging se teikens geword. Dit het ook saamgeval met die onafhanklikwording van Europese kolonies en suksesvolle kommunistiese revolusies in China en Kuba, waarmee die Weste sy beeld van heerser oor die wêreld verloor en skielik kwesbaar geword het. Mao Tse-Tung, Ho Tsji-Min, Che Guevara en ander sogenaamde Derde Wêreldleiers het ook in die Weste ikoniese status gehad. Linkses, oor die wêreld heen, kon skielik die idee kry dat die dag waar die proletariërs van die wêreld sal verenig gekom het, alhoewel in die Weste dit veral die middelklas self was wat die revolusie gedryf het en eintlik in stryd met homself was. Dit was ook ʼn generasiekonflik van die na-oorlogsgenerasie teen diegene wat die Tweede Wêreldoorlog meegemaak het.

Daar was die populêre en emosionele sy wat bedien is deur die sangers, akteurs en digters, die intellektuele sy met die dosente, skrywers en filosowe en die politieke sy met aktivistiese studenteleiers. Op die terrein van kuns en kultuur het die leuse dat alles polities van aard is na vore gekom: die argitektuur moes nie-elitisties wees, die kuns moes altyd protes teen die heersende toestande uitbeeld, die musiek het met die sogenaamde Flower Power en Hippie-beweging dwelmgebruik, vrye seksualiteit en wêreldvrede besing.

“1968” was seker een van die mees suksesvolle revolusies in die geskiedenis as dit gemeet word aan sy langdurigheid en sy impak op alle fasette van die samelewing in die Weste. Dit was geen klassieke revolusie met ʼn skielike magsoorname nie, maar eerder die diepgrondige omvorming van die Weste en sy denke, wat egter al dekades vantevore begin het en steeds voortduur. Deel van die sukses was dat dit in die gedaante van vrede gekom het, dat dit alle vlakke van die samelewing geraak het, maar veral die intellektueles en kultuurdraers beïnvloed het.

Dus kon dit ook nie deur ʼn regeringsverandering verwyder word nie en was boonop nie beperk tot net een generasie nie. Trouens, die radikale idees van die 1968-beweging is vandag hoofstroom en herleef onder die vaandel van die “woke”-isme. Dit is ook daaraan te danke dat talle van die studente van die 1960’s suksesvol gepoog het om die samelewing van binne te verander deur byvoorbeeld onderwysers, dosente, joernaliste, politici, organiseerders en ander meningsvormers te word. Vandag is universiteite in die Weste, veral die geesteswetenskaplike fakulteite, bykans deur die bank links.

Bekende denkers en intellektueles wat die idees wat die 1968-revolusie geformuleer het, was in Frankryk die filosoof Jean-Paul Sartre en sy minnares, die skrywer Simone de Beauvoir, met die filosofie van Eksistensialisme en in Duitsland Herbert Marcuse, Theodor Adorno en ander met die neomarxistiese Frankfurter Schule.

Franse skrywers en filosowe, Simone de Beauvoir en Jean-Paul Sartre stap op die Copacabana-strand in Rio, 21 September 1960. (Foto: AFP)

Die idees van die 1968-beweging het ook sterk in die 1970’s ontvou, waar die kommunisme orals in die sogenaamde Derde Wêreld op die voorpunt was. Die neomarxistiese 1968-beweging het ʼn eenvoudige, maklik verstaanbare konsep gehad waaraan intellektueles die nodige teoretiese raamwerk gegee het: vir alle ellende in die wêreld, of dit nou rassisme, oorlog, onderdrukking van vroue en seksuele minderhede of omgewingsbesoedeling is, is die Westerse kapitalisme, gedra deur wit mans, verantwoordelik en moet dus oorwin word. Die onderdrukking, aggressie en besoedeling deur die Sowjetunie en ander kommunistiese lande is daarby gerieflikheidshalwe verswyg.

Ten spyte van die linkse idees wat groot dele van die tyd na die Tweede Wêreldoorlog gedomineer het, was die ander kant nie heeltemal stil nie. In die VSA het Christelike predikers, soos Billiy Graham en Pat Robertson, met hulle gebruik van massa-byeenkomste asook van die televisie miljoene mense bereik met die tydlose boodskap van persoonlike verlossing deur Jesus Christus deur bekering, en konserwatiewe denkers het tydlose waarhede lewendig gehou.

Die omwenteling van die laat 1980’s en 1990’s

Dit het wel na ʼn ruk duidelik geword dat die linkses geen antwoorde op die groter probleme van die wêreld het nie, veral nie vir praktiese politieke en ekonomiese ontwikkeling nie. Ook die uitreik na kommunistiese lande het geen vrugte afgewerp nie. Inteendeel, die kommunistiese opmars het voortgestoom in die ontwikkelde wêreld. Met die verkiesing van Ronald Reagan, ʼn Republikein, as president van die VSA in 1980 het daar ʼn beleidsverandering na konfrontasie met kommunisme plaasgevind. Anti-kommunistiese weerstandsgroepe is ondersteun, byvoorbeeld in Afghanistan wat deur die Sowjetunie in 1979 beset is. Daar was ook geleidelike verset in die Oos-Europese kommunistiese lande, by name in Pole (Lech Walesa van die vakbond Solidariteit) en Hongarye.

Die toenemende ekonomiese verknorsing van die Sowjetunie weens meer en meer internasionale militêre verpligtinge en die onmoontlikheid om die planekonomie te laat werk, het die Sowjetse leier Mikhail Gorbatsjof genoop om hervormings op ekonomiese en politieke terrein te begin. Ook die kerk het ʼn herlewing in Oos-Europa ervaar en die destydse pous, Johannes Paul II, het die anti-kommunisme heelhartig ondersteun. Die gebeure in die verskillende lande, burgerlike verset en betogings vir demokrasie, aan die een kant, en teësinnige hervormings van die regerings, aan die ander kant, het ʼn momentum van sy eie ontwikkel.

Amerikaanse president Ronald Reagan op 21 November 1985 waar hy met president van die Sowjetunie Mikhail Gorbatsjof praat tydens ‘n beraad tussen die supermoondhede in Genève. (Foto: AFP)

Wesenlike versnellers was die opening van die ystergordyn tussen Oostenryk en Hongarye en die vlug van Oos-Duitsers via Hongarye na Oostenryk en dan na Wes-Duitsland. In sekere deelstate van die Sowjetunie, by name die Baltiese state, het ook die aandrang op herstel van onafhanklikheid stukrag gekry. In die Weste was daar ook ʼn groot belangstelling in wat in Oos-Europa gebeur het, sodat die mense onder die kommunistiese bewind kon voel dat hulle nie alleen staan nie.

Vanaf omtrent die middel van 1989 het dinge in verskeie kommunistiese lande gelyktydig so vinnig verander dat dit onkeerbaar geword het. ʼn Mylpaal van groot simboliek was die val van die Berlynse muur en die oopmaak van die grens tussen Oos- en Wes-Duitsland. In die meeste lande was die omwenteling vreedsaam, net in Roemenië het dit met bloedvergieting gepaard gegaan. In die loop van 1990 en 1991 het die hele magtige Sowjetunie ontbind en in sy deelstate verbrokkel, met orals aandrang op vrye verkiesings en Westerse styl demokrasie, alhoewel dit in sommige gevalle net oppervlakkig was. Kommunisme, as wêreldideologie, is grootliks gediskrediteer en dit het gelyk asof die VSA die enigste oorblywende supermoondheid is en sy liberale demokrasie die enigste internasionaal aanvaarde idee.

Ook in Afrika het ʼn golf van demokratisering in die 1990’s oor die vasteland gespoel en ook in Suid-Amerika het (regs) outoritêre bewinde plek gemaak vir demokraties verkose regerings. Kommunisme was egter nog nie dood nie. In China is die demokratiese beweging bloedig onderdruk en daardeur het ook die res van Asië se kommunistiese diktatorskappe (Noord-Korea, Vietnam, Laos) staande gebly.

Nog ʼn gevolg van die val van kommunisme was ʼn hernude golf van selfbeskikkingstrewe. Die val van kommunisme in multinasionale state soos die Sowjetunie, Joegoslawië en Tsjeggo-Slowakye het stukrag aan die strewe na etnies gedefinieerde state gegee. Veral in die vroeë 1990’s het ʼn magdom nuwe state bygekom deur die ontbondeling van bogenoemde drie state. Dit het ook oorgespoel na die ontwikkelende wêreld (Eritreër, Oos-Timor) en duur reeds, ietwat gebriek, voort: Suid-Soedan se afskeiding in 2011 was die voorlopig laaste een, Skotland se afskeidingspoging in 2014 en Katalonië s’n in 2016 het egter misluk.

Denkers en idees van die tweede helfte van die 20ste eeu

(Die denkers en idees van die 1968-beweging is onder dié onderwerp hanteer)

Karl Popper (Foto: Wikimedia)

Karl Popper (1902-1994), ʼn Oostenryks-Britse filosoof, het die hele 20ste eeu met sy denke beïnvloed. Bekend is veral sy denke van die kritiese rasionalisme wat die waarheidsvinding deur middel van die gebruiklike induktief-empiriese metode (versamel solank feite totdat dit as natuurwet geld) op sy kop gekeer het deur die falsifikasiemetode. Volgens Popper is alle teorieë net vir solank geldig tot ʼn teenbewys gevind word. Die doel van die wetenskap moet nie wees om stellings deur meer en meer kwantitatiewe bewyse te probeer bevestig nie, maar om eerder hipoteses op te stel en dit te probeer verkeerd te bewys (te falsifiseer). As ʼn stelling of teorie nie verkeerd bewys kan word nie, kry dit ʼn geldigheid en so word geleidelik by die waarheid uitgekom.

Op die terrein van die politieke teorie is Popper veral bekend vir sy werk The open society and its enemies van 1945, wat vanuit die liberale hoek die demokrasie verdedig en kontrasteer met totalitêre stelsels en geslote samelewings. Filosowe soos Plato, Hegel en Marx staan vir Popper in die tradisie van pleitbesorgers vir totalitêre stelsels omdat hulle ʼn groot klem op historiese determinisme lê, naamlik dat die geskiedenis volgens vasgestelde reëls afloop en tot ʼn finale, hoogste vorm oploop. Popper sien eerder in die liberale tradisie die mens as die skepper van sy eie lot. Waarheid moet deur argumente en burgerlike deelname gevind word, dit kom nie deur verligte mense of heilige beginsels nie. Die Hongaars-Joodse sakeman en globalistiese aktivis, George Soros, is ʼn aanhanger van Popper en het die se term Open Society vir sy Open Society Foundation gebruik wat die doel het om outoritêre stelsels (of wat daarvoor aangesien word) te omvorm in liberale demokrasieë.

Russel Kirk (Foto: Wikipedia)

Russel Kirk (1919-1994), ʼn Amerikaanse politieke teoretikus, historikus en kritikus is veral bekend vir sy werk The Conservative Mind van 1953, waarmee hy die konserwatiewe denke in die 20ste eeu wesenlik beïnvloed het en konserwatiewes, wat teenoor sosialiste op die agtervoet was, weer selfvertroue en samehang gegee het. Hy het veral die idees van Edmund Burke weer gepopulariseer. Hy was ook die grondlegger van gesaghebbende hedendaagse konserwatiewe publikasies en instellings, soos National Review en Heritage Foundation en het ʼn magdom boeke en artikels oor konserwatiewe denke gepubliseer.

Kirk se kerngedagtes en oortuigings oor wat konserwatisme uitmaak en hoekom dit die beste idee vir die mense is, was die volgende: Die geloof in die transendente orde, dus in iets wat hoër is as die hedendaagse omstandighede en wat in die goddelike openbaring, tradisie of die natuurlike wet gesetel is; ʼn bekoring met die mistieke en die variasie in die menslike bestaan; die oortuiging dat ʼn samelewing orde nodig het, waartoe die bestaan van klasse wat natuurlike onderskeid handhaaf, behoort; die oortuiging dat persoonlike besittings en vryheid saamhoort; ʼn geloof in gewoontes, konvensies en voorskrifte; ʼn oortuiging dat vernuwings aan die tradisie en gewoontes gebind moet word.

Tydloos is ook sy uitspraak dat “die Christelike godsdiens en die Westerse beskawing onafskeibaar van mekaar is” en dat “alle kultuur uit godsdiens ontstaan; as die godsdiens verval, dan verval ook die beskawing, alhoewel dit eers met ʼn sekere tydelike vertraging gebeur”.

Kirk het ook die aandrang op een mens, een stem in die Suid-Afrika van die 1960’s verwerp omdat dit “die verkeerde mense in beheer sou plaas en tot die val van die beskawing in die enigste ontwikkelde en Westerse land in Afrika sou lei”. Kirk was ook krities teenoor die neo-konserwatisme en die VSA se inmenging in internasionale konflikte in veral die Midde-Ooste.

Samuel Huntington (1927-2008), ʼn Amerikaanse politieke wetenskaplike, dosent en skrywer van talle rigtinggewende boeke en artikels, se denke en idees was veral invloedryk onder liberale en neo-konserwatiewe akteurs in die laat 20ste eeu en hy het ʼn direkte invloed op besluitnemers, veral in die Republikeinse Party, gehad.

Samuel P. Huntington (1927-2008), skrywer van ‘The Clash of Civilizations and the Remaking of World Order’ (Foto: Wikipedia)

Sy kern-idee is die belangrikheid van politieke realisme en van instellings wat funksionerende samelewings verseker. Ook die militêre speel in sy idees ʼn rol. Hy het ook die konsep van modernisering in die ontwikkelde wêreld en die vraag hoekom sekere samelewings nie (wil) moderniseer nie ondersoek. Bekende begrippe wat op Huntington teruggaan is die golf van demokratisering, die botsing van beskawings en The Davos Man.

In sy studie “die derde golf” stel hy die tese op dat demokratisering in golwe plaasvind, met teengolwe, en doen ʼn vergelykende studie van die verskillende stadiums van demokratisering in die 20ste eeu, naamlik die eerste golf met die dekolonisasie in die 1960’s (en die teengolf van staatsgrepe en eenpartystate), die tweede golf in die middel 1970’s met die val van die diktatorskappe in Portugal en Spanje en die invloed op ander wêrelddele (asook die teengolf van militêre bewinde veral in Latyns-Amerika in die middel 1970’s). Die derde golf is die demokratisering van voormalige kommunistiese lande in veral Oos-Europa en die Sowjetunie (en die teengolf was ʼn terugkeer tot outoritêre bewinde in veral Asië).

Veelbesproke en omstrede is sy konsep van die botsings van beskawings, wat op die einde van die Koue Oorlog en van ideologiese verdelings sou volg. Hy het die belangrikheid van kulturele identiteit beklemtoon (teenoor die liberale asook sosialistiese oortuiging dat alle mense uiteindelik soortgelyke doelwitte en behoeftes het) en die wêreld in die volgende kulturele sfere ingedeel: die Weste (Noord-Amerika en die grootste deel van Europa, asook Australië), die ortodokse sfeer (Rusland en dele van Oos-Europa), China (insluitende Korea en Vietnam), Japan, Swart-Afrika, die Islamitiese wêreld, die Hindoeïstiese sfeer (veral Indië) en die Boeddhistiese wêreld (Suid-Oos-Asië).

‘n Kaart van die beskawingsblokke soos verstaan in Huntington se ‘ The Clash of Civilizations and the Remaking of World Order’ (Foto: Wikipedia)

Volgens Huntington is die bloedigste en langdurigste konflikte op die breuklyne tussen die beskawings, maar ook tussen beskawings. Die Islamitiese terreur as nuwe en gevaarlike bedreiging vir die Weste, veral met die aanslae van 11 September 2001, en die latere nuwe Koue Oorlog tussen die Weste en China met sy bondgenote, tans veral met Rusland, het Huntington reg bewys, terwyl die ander groot voorspelling, die “einde van die geskiedenis” en die aanbreek van globale vrede soos deur Francis Fukuyama as opvolger van die Koue Oorlog, nie gerealiseer het nie (meer oor Fukuyama in die volgende aflewering).

Huntington se begrip, The Davos Man, verwys na die globale elite wat jaarliks in Davos (Switserland) vergader en geen lojaliteit aan ʼn volk of land het nie. Veral in die 21ste eeu sou dié elite ʼn groot rol speel.

Hierdie artikel verskyn as deel van ‘n reeks wat handel oor die idee-geskiedenis van die mensdom. Die reeks ontleed die grootste idee-strominge wat oor die afgelope eeue die Weste soos wat ons dit vandag ken, help vorm het. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Conraad ·

Hierdie reeks artikels is (was?) baie insiggewend vir my, baie dankie aan die skrywer en aan Maroela om dit te publiseer.

Dit het politieke / filosofiese denke in kortstondige manier verduidelik aan my en het my tot nuwe insigte, denke en inderdaad verdraagsaamheid vir verskillende idees gelei.

Vir my is dit eintlik ‘n moet-lees vir alle mense – en dalk selfs iets wat op sekondere onderwys-vlak ingesluit moet word, om mense te laat dink en om verdraagsaamheid te bevorder.

Marthinus W ·

Hierdie idee dat die Weste n oorwinning oor die Oosblok gehad het, is n mite. Vandag word van Amerikaanse skole gepraat as “cesspools of Marxism”, terwyl die Russe en hul leier meer soos demokrate optree. n Groot probleem is dat Amerika n narsis-deluxe is: me, myself, and I. Niemand is so oulik soos ons nie. Ons het die 2de WO gewen. Regtig? Wat van die Sowjetsoldate wat aan Hitler se bunker geklop het en hom tot selfmoord gedryf het? Hoeveel flieks is gemaak oor die handjievol Yanks, en hoeveel oor die hele Rusland wat teen Duitsland geveg het? Die afgelope week is die herdenking gevier van die eerste satelliet in die ruimte, die eerste mens, ens. Niks in die media; net Amerikaanse celebs.

Manie ·

Korrek Marthinus, die Amerikaners ly aan opperste verwaandheid, en hulle was alleen nog nooit suksesvol in ‘n oorlog nie, inteendeel, ek glo hulle verwaandheid spruit uit ‘n hunkering na sukses. Hulle het tydens die 2de wêreldoorlog by die agterdeur ingestap toe die groot bakleiery feitlik klaar was en Duitsland reeds oorwin was. In Viëtnam het hulle liederlik slae gekry en so ook in Korea. Al wat hulle in Irak kon regkry, was om ‘n stabiele midde-oosterse land te destabiliseer.

Jaco ·

Na die lees van die hele berig het ek net 1 vraag: waarom mag die minderheidsgroepe of dan nie-ANC-mense in SA dan nie selfbeskikking kry nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.