God se Woord in elke taal – ʼn huldeblyk aan die Bybelgenootskap

Dr. Danie Langner voor die Voortrekkermonument. (Foto: Dawid Brand)

Die vertalingsopdrag vir ʼn Nederlandse Statenvertaling uit Grieks en Hebreeus is by die Sinode van Dordrecht in 1618 gegee. Die Nederlandse Statebybel het in 1637 verskyn, vyftienjaar voordat Jan Van Riebeeck in 1652 ʼn VOC-verversingstasie aan die Kaap gestig het.

Vir 281 jaar was die Statebybel die lewenshandboek van die Hollandse en later Afrikaanse gemeenskappe, totdat die Statenvertaling met die 1933-Afrikaanse Bybelvertaling vervang is.

In 1820, dieselfde jaar waarin die Britse setlaars hulle aan die oosgrens van die Kaapkolonie gevestig het, het die British Bible Society die Bybelgenootskap van Suid-Afrika op 23 Augustus in Kaapstad gestig. Die bestaansdoel is duidelik geformuleer:

Om aan die kerk en al die inwoners van Suid-Afrika bekostigbare Bybels te voorsien, vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.”

Vir twee eeue het die Bybelgenootskap getrou aan hul roeping ʼn onskatbare bydrae gelewer om God se Woord in elke taal in Suid-Afrika te vertaal. Setswana was die eerste Suid-Afrikaanse taal wat die volledige Bybel ontvang het.

In 1830 het Robert Moffat die evangelie van Lukas in Setswana vertaal. In 1840 volg die Nuwe Testament en in 1857 die hele Bybel. Die Afrikaanse Bybel sou eers 76 jaar later volg.

Reeds met die ontstaan van die eerste Taalbeweging in 1875 is gepleit vir ʼn eie Afrikaanse Bybel. Sonder ʼn Bybel in eie taal sou Afrikaans beswaarlik van kombuistaal tot ʼn internasionale taal kon groei. Die GRA-manne het moue opgerol en in 1893 verskyn DF du Toit se vertaling van “Die eerste boek van Moses genoem Genesis” in Afrikaans.

Na die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 het Afrikaners nie, in die woorde van Jan F Cilliers, by “ʼn graf in die gras en ʼn vallende traan” gebly nie. Hulle het herbou, nuut gebou en Afrikaans tot ʼn volwaardige taal ontwikkel.

Die verskyning van Eugene Marais se Winternag in 1905 het aan die tweede Afrikaanse Taalbeweging en die behoefte aan Gods Woord in eie taal momentum gegee. In 1911 vra ʼn jong Vrystaatse teologiese student vir president Steyn om ʼn boodskap te stuur vir die taalkongres wat die Stellenbosch studente se Afrikaanse taalvereniging reël. In sy toespraak met die tema: “Hoe kan ons Afrikaanse taalregte kry”, lees hy die kort saaklike boodskap van president Steyn: “Die taal van die veroweraar is in die mond van die verowerde, die taal van slawe.”

Vyf jaar later stel die student, nou dominee van NG Gemeente Wepener en skoonseun van president Steyn, in 1916 aan die Vrystaatse Sinode voor dat die Bybel in Afrikaans vertaal word. Die student was NJ van der Merwe wat in 1929 ʼn medestigter van die FAK, eerste FAK-voorsitter en eerste hoofleier van die Voortrekkers was. Toe die eerste 10 000 Afrikaanse Bybels 1933 in Kaapstad arriveer, nooi JD Kestell vir NJ van der Merwe om die eerste krat met Afrikaanse Bybels oop te maak.

Die publikasie van Langenhoven se Woordelijs en spelreëls in 1917 het ʼn raamwerk gegee waarvolgens die Bybelvertalingskommissie, onder leiding van ds. JD Kestell, met die monumentale werk om die Bybel in Afrikaans te vertaal kon begin.

Behalwe die geestelike en kerklike waarde van die 1933-Afrikaanse Bybelvertaling kan die kulturele en letterkundige betekenis daarvan nouliks oorskat word.

Totius se vertalings van die Psalms, waaronder Psalm 8: “Daar is geen land so ver of woes geleë, geen strand o Heer of wilde waterweë, geen hemelsfeer in die oneindigheid of orals blink U naam en majesteit”, asook JD Kestell se vertaling van 1 Korintiërs 13: Al sou ek die tale van mense en engele spreek en ek het nie die liefde nie het ek ʼn klinkende metaal en ʼn luidende simbaal geword”, en verder aan “die liefde vergaan nimmermeer”, span die kroon op die skoonheid van Afrikaans.

Vir die Afrikaanse leser het daar skielik 66 boeke in Afrikaans verskyn, van prosa en poësie tot wetenskap en antieke fabels, briewe en kortverhale, wysheidspreuke en gelykenisse. Daar is meer as 800 idiome, spreekwoorde, vaste uitdrukkings en gesegdes in alledaagse Afrikaans aan die Bybel ontleen. Gesegdes soos “eet, drink en wees vrolik”, of ʼn “ware Jobstrooster”, iemand wat “kop en skouers uitstaan” of sy “Moses teëkom” het vinnig deel van die spreektaal geword.

Van die meer as 800 gesegdes uit die Bybel kom 300 uit die mond van die Jesus en 70 daarvan uit die Bergrede, byvoorbeeld “sout van die aarde” en “meer werd as twee mossies” of “gee aan die keiser wat die keiser toekom”.

Die 1983-Bybelvertaling het vyftig jaar na die 1933-vertaling verskyn en die 2020-vertaling 37 jaar later. Gegewe die ritme is dit vir elke geslag beskore om een, hoogstens twee, Bybelvertalings in ʼn leeftyd te ontvang. In 2023 is die Afrikaanse Bybel 90.

Vir die 1933-vertaling was ds. JD Kestell, vir die 1983-Bybelvertaling prof. EP Groenewald en vir die 2020-Bybelvertaling prof. Bernard Combrinck onderskeidelik voorsitters van die verskillende vertalingskommissies. Elke vertaling is in eie reg ʼn getuigskrif van die wetenskap van vertaalkunde van sy tyd en nie een vertaling is sonder kritiek ontvang nie. Inderwaarheid was dit die kritiek, tesame met die ontwikkeling van vertaalkunde as wetenskap en die ontwikkeling van die Afrikaans taal, wat die noodsaak en energie skep vir elke nuwe Bybelvertaling.

Dit is opvallend dat elke amptelike Afrikaanse Bybelvertaling te midde van ʼn krisis in Suid-Afrikaanse geskiedenis verskyn het. In die depressiejare, armoede en droogte van die dertigs; die oorlog, geweld en verskeurdheid van die tagtigs en in die tragedie van 2020 se Covid-pandemie.

Waar Suid-Afrika in vele opsigte op die glybaan beland het, is die nuwe 2020-Afrikaanse Bybelvertaling ook ʼn helder lig en ʼn antwoord van toekomshoop. In 1 Sameul 3:1-4 staan daar: “Die Woord van die Here is in daardie tyd min gehoor…” en “… toe roep die Here na Samuel”. Samuel het geantwoord: “Ek kom!”

Dankie aan die Bybelgenootskap wat in ʼn eietydse krisistyd opnuut die roepstem van ons Here gehoor het en soos Samuel van ouds daadwerklik daarop gereageer het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Hierdie is ‘n puik oorsig van die Afrikaner se suksesverhaal om in die geloof te bly voortbeur en die bykans onmoontlike te vermag. Laat dit ‘n les wees vir almal wat nou wil “hensop!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.