Groot oorwinning vir Milei

Argentynse presidentskandidaat vir die La Libertad Avanza-alliansie, Javier Milei, waai vir ondersteuners nadat hy op 19 November 2023 die presidensiële verkiesing in sy partyhoofkwartier in Buenos Aires gewen het. (Foto: Luis ROBAYO / AFP)

In die uitklopronde van die presidentsverkiesing in Argentinië, wat verlede Sondag plaasgevind het, het die minder gewilde kandidaat (underdog), die radikaal-liberale ekonoom Javier Milei, ʼn verbasende oorwinning behaal.

Nie net kon hy die sterk gevestigde, as’t ware in Argentinië se politieke stelsel ingegroeide, Peroniste-party en die se kandidaat Sergio Massa verslaan nie, dit was ook baie duidelik – dit is 56% vir Milei teenoor 44% vir Massa.

Gewoonlik is die uitslag in uitkloprondes redelik naelskraap. Dit is des te meer ʼn prestasie aangesien Massa in die eerste ronde die voorloper was met 36% teenoor Milei se 30%. Boonop het Massa sy posisie as minister van ekonomiese sake in die uittredende kabinet van president Alberto Fernandez gebruik om nog kort voor die verkiesing met allerhande omkoopgeskenke (verhoogte pensioene, bykomende veteraanpensioene en nog meer aanstellings in die staatsdiens) kiesers te probeer swaai. Verder het die talle stutorganisasies van die Peroniste, soos vakbonde en verenigings, alles gedoen om hulle lede vir Massa te beïnvloed.

Desnieteenstaande het die Argentyne nou vir eens genoeg gehad van die korrupte, ondoeltreffende en sosialistiese Peroniste met hulle valse beloftes en het gestem vir radikale verandering. Milei het juis nie nog meer welsyn en ander staatlike gawes op skuld belowe nie, maar radikale besnoeiing. Veral die jeug en die middelklas het egter besef dat die voortsetting van die ou stelsel ʼn doodloopstraat is en die land se ekonomiese inploffing om die draai is.

Milei het dit ook reggekry om by sy oortuigings te staan en hom nie met skyndebatte en beskuldigings besig te hou nie. Alle pogings van die Peroniste om hom uit te kryt as aanhanger van die diktatorskap (1976-1983), of as onpatrioties te bestempel omdat hy die destydse Britse eerste minister Margaret Thatcher as sy voorbeeld voorgehou het, of as harteloos omdat hy welsyn wil inkort, het nie gehelp nie.

Ook Milei se assosiasie met oud-president Donald Trump van die VSA, en sy onomwonde steun vir die Weste en Israel, in ʼn vasteland wat vol van linkse Derdewêreld-retoriek is, het hom nie skade aangedoen nie. Die meerderheid kiesers het deur die Peroniste gesien wat Argentinië die afgelope dekades stadigaan geruïneer het.

Milei kon ook daarin slaag om ʼn alliansie te vorm met die derde geplaaste uit die eerste ronde, Patricia Bullrich, en met oud-president Maurizio Macri (2014-2019), wat belangrik vir sy kieserssteun was. Milei en sy party het nogtans geen parlementêre meerderheid nie, omdat die president en parlement apart verkies word – albei direk deur die kiesers. Hy sal dus breë alliansies moet vorm, wat noodwendig ook versagting van sy hervormings beteken.

Daar lê nou groot werk voor, maar die groot oorwinning en die momentum behoort dit makliker te maak. Milei moet nou hervormings deurvoer wat die ekonomie vinnig stimuleer, voor sy ondersteuners moed verloor of die land se ekonomie ineenstort. Daarby het Argentinië groot ekonomiese potensiaal, met ʼn sterk uitvoergerigte landbousektor en ʼn groeiende mynbousektor, ʼn goed opgeleide bevolking van hoofsaaklik Europese afkoms en goeie infrastruktuur.

In sy eie vasteland het Milei min vriende, want Suid-Amerika se lande word feitlik volledig deur linkse presidente regeer. Die gety is egter besig om te draai en ook in ander lande is daar groot ontnugtering met die sosialiste. Die verhoudinge met die groot buurland en belangrike handelsvennoot Brasilië, regeer deur die sosialis Ingacio Lula da Silva, sal waarskynlik afkoel, asook die verhouding met Rusland en China. Aan die ander kant sal Argentinië sy verhoudinge met die VSA en Europa versterk. Derdewêreld-solidariteit sal geen rol meer speel nie, daarvoor ekonomiese en politieke belange.

Ook vir die Brics-groepering, waarvan Argentinië as een van verskeie nuwe lede benoem is, hou die nuwe regering implikasies in. Argentinië wat nou uitgesproke pro-Westers, pro-Israel en anti-sosialisties is, sal onwelkom voel in ʼn blok van hoofsaaklik anti-Westerse outokrate. Trouens, uit Milei se binnekring is aangedui dat Argentinië dalk nie belang stel om deel van ʼn uitgebreide Brics te word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Sterkte pres. Milei! Net die tipe president wat die Federasie van Kaap die Goeie Hoop benodig.

Marthinus W ·

Milei wil die peso vervang met die Amerikaanse dollar. Klink nie vreeslik patrioties nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.