Hoe kies ons in die skadu van transformasie?

  • Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA sê ons moet versigtig wees oor hoe ons transformasie beoordeel. (Foto: Maroela Media)

    Deur Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA

Daar is weinig gesprekke wat met enigiemand gevoer word waar daar nie groot ontevredenheid heers oor die huidige toestand van ons land en waarheen dinge ontwikkel nie. Almal het baie eiers om te lê en met reg oor hoe die wiele afkom en dat daar groot bekommernis oor die toekoms van Suid-Afrika is. Dit is al ʼn geruime tyd dat die kredietagentskappe ook so dink.

Wanneer die ongelukkigheid uitgespreek word, word die oorsaak dan ook telkens met reg aan die voete van die ANC en sy beleid gelê. ʼn Eens funksionerende staat wat gereken was as die leier op vele gebiede in Afrika, het so ver gedisintegreer dat die enkele suksesse nog die uitry van die laaste branders van ʼn funksionerende staat se stuiptrekkings is.

Daar is inderdaad niks wat in die land verbeter het sedert die ANC in 1994 sy beleid op Suid-Afrika losgelaat het nie. Dat daar nog enigsins iemand is wat hom ondersteun, is moeilik te begryp. Dalk is dit diegene wat naby die vuur sit wat as kaders die regte ontplooiing gekry het en van oortuiging is dat hierdie melkkoei onbepaald sal melk lewer. Ander kan diegene wees wat net nie die kennis of begrip het oor waar welvaart vandaan kom nie en dus steeds in die ANC se beloftes van “a better life for all” glo.

In die natuur beleef ʼn mens dat die natuurkragte altyd strewe om dinge na balans te bring. Ten spyte van ons as mens se negatiewe invloed, byvoorbeeld die besoedeling en die oorbenutting van die grond, sal die natuur altyd strewe om te herstel. Die vleilande filtreer ons besoedeling, pioniergrasse begin weer op oorbeweide gebiede groei om dit vir die subklimaks en klimaksgrasse moontlik te maak om weer te kan begin groei.

Daardie natuurkragte is deel van die skeppingsorde en ons as mense kan dit nie verander nie. Ons kan net met dankbaarheid daarvan kennis neem, want anders het ons die grond as die bron van ons oorlewing reeds so verwoes dat ons oorlewing dalk wel soos in die wetenskapfiksiefilms op Mars of die maan sou moes wees.

In elke omgewing is daar bepaalde kriteria of spelreëls wat prosesse reguleer en bestuur. In enige ekonomiese proses is dit die markkragte wat sukses al dan nie bepaal. Deur die regte dinge reg te doen skep dit die geleentheid om wins te maak. Bepalend sal wees of enige persoon die verantwoordelikheid aanvaar wat die lewe van jou vereis. Indien ʼn opeis kultuur (“demanding culture”) die norm is, kan sodanige persone enige sukses in die ekonomie op hul maag skryf en afvee.

Keuses het gevolge en ʼn mens moet die gevolge van jou keuses dra. Wanneer ons dus terugkeer na die resultate van ʼn beleidsomgewing wat tans in Suid-Afrika heers, beleef ons dat hierdie ideologie en die beleid wat dit in die praktyk laat vergestalt, mislukkings oplewer. Daar is immers niks wat oor die afgelope 28 jaar verbeter het nie. Hoe groot moet die werkloosheidsyfer byvoorbeeld word om dan maar as oplossing sosiale toelae te wil uitdeel? Die logiese vraag tereg is dan waar gaan die geld uiteindelik vandaan kom?

Die ANC het oor tyd ʼn sekere inhoud gegee aan sekere begrippe en dit selfs reggekry dat mense wat beter behoort te weet, daardie begrippe ondersteun. Ons kan hier dink aan dinge soos regstellende aksie, grondhervorming en transformasie. Wanneer die praktyk van al hierdie aspekte ontleed word, sien ons die land rondom ons – waaroor almal kla en uiters ontevrede is –  maar steeds word daar op daardie begrippe ingekoop soos wat die ANC met sy sinkende ideologie inhoud aan gegee het. Die ANC se beleid kan inderdaad verpak word onder die begrip transformasie en hy het inderdaad daarin geslaag om die land te transformeer tot wat dit nou is.

Die probleem van transformasie is dat ons nie die voorreg het om inhoud daaraan te kan gee nie, maar dit word wel deur die ANC gedoen.

Daar is verskeie voorbeelde wat genoem kan word van hoe die prys van transformasie deurentyd net te duur is en stelsels tot stilstand bring. In die landbou-omgewing het ons verskeie voorbeelde van hierdie glybaan na mislukking en is die gevaar dat ons almal later dit net probeer “bestuur”.

Die afgelope 18 maande het die landbousektor gewerk aan ʼn landbou-meesterplan (AAMP). Van TLU SA se kant het ons van meet af die onderskeie rolspelers in die waardeketting versoek dat ons moet seker maak dat ons ʼn ekonomies gerigte landbouplan daar stel.

Die werklikheid is dat markkragte altyd die laaste sê sal hê wanneer met ekonomiese sake gewerk word. Ons het ʼn suksesvolle landbousektor nodig en dit beteken dat die produsente, maar daarna ook die ander rolspelers in die waardeketting, winsgewend moet wees. Winsgewendheid sal volhoubaarheid teweegbring. Ons moet daarteen waak dat ons die ANC se transformasiebeleid enigsins toelaat om enige invloed uit te oefen. Die prys daarvan is volgens sy eie erkenning dat meer as 90% van die landbougrond wat oorgedra is (volgens sy beleid) uit produksie gegaan het.

Baie goeie navorsing en goeie pilare is in die plan wat afgeteken is ingebou, maar dan word daar weer in die slagyster van transformasie getrap, want die konsep van transformasie word baie hoog gestel in dít wat toegepas moet word.

TLU SA het reeds ʼn jaar voor die afteken van die AAMP in ʼn dokument van tien bladsye uitklaring versoek oor sekere begrippe in die dokument waarvan transformasie een is.  Ons is aan ʼn lyntjie gehou sonder dat ons dokument ten spyte van vele navrae ooit hanteer is. Diegene wat oënskynlik tevrede was om ongekwalifiseerd verder te transformeer is na die aftekenfunksie genooi, maar TLU SA is nie genooi nie. Wanneer minister Thoko Didiza nou beweer dat die proses deursigtig was en dat almal volle geleentheid gehad het om insette te gee, moet die stelling ongelukkig as ʼn onwaarheid uitgewys word.

Suid-Afrikaners wat aanmekaar rondom die braaivleisvure en andersins gal braak oor hoe dit tans in ons land gaan, sal moet besin oor watter gewig hul ontevredenheid dra indien hulle deur hul stilswye kondoneer wat die ANC doen. Dalk nog erger, selfs afteken op wat die ANC doen. Ons kan nie volhard om mislukking te ondersteun nie.

Die toekoms van almal in die land is te belangrik om maar gedwee saam met hierdie stroom van transformasie te gaan – die prys daarvan sien ons elke dag rondom ons. Persone sal ernstig hul stem moet laat hoor in hul onderskeie strukture en seker maak dat ons dit wat sukses sal meebring, ondersteun. Om nou te sê dat daar net vir die goeie dinge in die plan geteken is, kan gesien word as uiters kortsigtig. Die hele plan is afgeteken met wat daarin staan.

Vir TLU SA was die proses nog aan die gang en is dit oorhaastig afgeteken om saam te val met die landboubegroting. Daar is nog baie wat gedoen moet word om daardie plan so te vestig dat dit vir alle boere ʼn positiewe verskil sou kon maak – ook vir nuwe toetreders.

Wanneer sodanige dokumente op ons tafels land het ons ʼn keuse oor hoe dit hanteer moet word. Weet net dat ons reeds te lank betaal aan die ANC se keuse en hoe elkeen se keuse ook hierin is, se gevolge sal verder gedra moet word. Dit is dalk tyd dat ons ʼn slag opstaan vir sukses en mislukking verdoem met ons keuses.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Landbounuus, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Die grootste probleem in sa is die diskriminernde wette teen huidige benaadeelde minderhede, die regering moet gedwing word deur erge druk om alle diskriminernde wette te skrap en tweedens moet eiendomsreg verseker word en die misdaad moet met spoed gestop word .

Jaco ·

Hiers my voorstel om by transformasie en regstellende aksie verby te kom:
Gee werk vir wit kundiges by eskom en sommer alle sukkelende staatsbedrywe in SA. As dít dan ‘n uiters bitter pil is vir die ANC om te sluk, vat dan dáárdie wit mense se stemreg weg. Daardie sukkelende staatsbedrywe gaan regkom en nie-wit mense in diens neem. So gaan werkskepping toeneem.
Voordat almal my nou kruisig oor stemreg wat weggevat word: vanaf 1994 sê BAIE wit mense vir my dat hulle nie meer stem nie. Ek hoor gedurig “ons het ons kans gehad. Dis nou ‘hulle’ kans”. ‘n Ordentlike 100% suksesvolle ekonomie elke dag is in elk geval ‘n veel groter behoefte/reg as om 1 keer elke 5jaar ‘n kruisie te trek.
Die ou Turkse ryk met meerderheid Moslem geloof, het dit met die joodse minderheid gedoen. Jode mag net sekere soorte werk gedoen het en net op sekere plekke gebly het. Hulle belastings was ook meer.MAAR die jode het dié beperkings so aanvaar en baie het skatryk geword. SA kan dieselfde met wit mense doen

Jakes ·

Ek stem glad nie saam nie. Die grootste rede vir die hoë werkloosheidsyfer is dat die bevolkingsaanwas meer as 6 persent per jaar is en dis hopeloos te hoog. Die feit van die saak is dat die skade wat die ANC in 28 jaar aangerig het, dekades sal neem om weer onder beheer te kry. SA sal verder veragter totdat ons n tweede Zimbabwe gaan word en dan wil ek nie eers dink aan die gevolge nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.