Hoe om betroubare bronne te vind

Johannes Froneman

In my vorige rubriek het ek na die noodsaaklikheid van betroubare nuusbronne verwys. Die billike teenvraag is: Maar waar kry ons dit? Hoe weet ek ʼn bron is betroubaar?

Daar is geen maklike antwoord hierop nie. Dit is soos wanneer ons lees dat ʼn mens ʼn “betroubare finansiële adviseur” moet kry. Dit help nie veel nie. Want wie is dan betroubaar? Net die een wat sê jy moet ʼn betroubare raadgewer kry?

Ons sal dus meer duidelikheid hieroor moet probeer kry. As jy hierdie rubriek lees, bewys dit jy lees Maroela Media. Waarskynlik aanvaar jy dit as ʼn betroubare bron. Sommige wat egter nie met die Solidariteit Beweging se posisionering en werksaamhede saamstem nie, sal argumenteer dat Maroela Media deel is van die Solidariteit Beweging en dáárom nie vertrou kan word nie.

Waarom nie? Sou jy met reg kon vra. Omdat die Beweging ʼn bepaalde ideologiese posisie inneem en daarvolgens optree, kom die antwoord. Of die kritikus maak wilde bewerings dat die Beweging “rassisties” of “regs” is.

Dit is waar dat Maroela Media, net soos Pretoria FM, ʼn bepaalde plek op die ideologiese spektrum inneem, maar dit sê nie dat Maroela Media nuus skeeftrek ter wille van Solidariteit nie. Daar word dalk meer aandag aan die Solidariteit Beweging se aktiwiteite gegee as wat Netwerk24 byvoorbeeld sou, maar dit bewys nie dat nuus skeefgetrek word nie.

Dit balanseer dalk juis die eensydige dekking wat die Solidariteit Beweging in die verlede in die media geniet het. Na my oordeel is dit egter besig om te verander. Afrikaanse koerante en die SABC besef dat die beweging ʼn belangrike rolspeler in die Afrikaanse gemeenskap geword het en daarom aandag verdien.

Soos een (swart) joernalis ná die opening van Sol-Tech geskryf het: “Jy kan nie hiermee stry nie. Sonder staatshulp word ʼn fantastiese projek binne begroting en op tyd voltooi.”

Woordvoerders van een van die sowat 25 organisasies onder die Solidariteit-sambreel kry toenemend ruimte as kommentators in die media — nie noodwendig oor sake wat Solidariteit as sodanig raak nie, maar as kundiges wat oor meerdere sake ʼn geldige mening het waarna maar geluister kan word.

Hierdie tendens is positief omdat dit tot ʼn meer gebalanseerde media lei. Dit geld seker nie vir alle media nie, want Solidariteit se fokus is sodanig dat media wat veral op die swart bevolking toegespits is nie so ʼn pertinente belang het by alle aktiwiteite wat onder die Beweging se sambreel plaasvind nie.

Tog raak talle regsaksies oor sake soos regstellende aksie, die gebruik van slagspreuke en die opkeil van die regering oor onregmatige optrede die hele bevolking. Vandaar die aandag wat hierdie sake op ʼn wye front geniet, al beteken dit nie dat almal met die standpunte eens is nie.

Wat ons hier sien, is ʼn groeiende aandag (en balans) in die beriggewing oor Solidariteit en sy organisasies. Dit is nie op ʼn omvattende wetenskaplike navorsing gegrond nie, maar dit is my waarneming. Daarmee sê ek nie dat die Solidariteit Beweging steeds die teiken van onbillike beriggewing of kommentaar is nie — ook van wit kommentators wie se ideologiese onderrokke sleg uithang.

Wat het bogenoemde met betroubare bronne te make? Wel, alles. Want die belangrikste voorwaarde vir betroubaarheid is dat nuusmedia hul dekking nie eensydig tot troeteltemas beperk nie. Die kern van ʼn goeie koerant (ons kan maar sê enige nuusmedia) is dat dit universeel in sy nuusaanbod moet wees.

Daarmee kan nie bedoel word dat oor álles berig word nie; daar is nie plek daarvoor nie. ʼn Nuusbulletin of aktualiteitsprogram op radio of TV het ook net sóveel minute tot hul beskikking.

Die kern van die saak is dus keuring. Alle nuusmedia moet keuring toepas, want hulle het net sóveel stories wat elke dag of week gedra kan word. Boonop is daar net soveel verslaggewers beskikbaar.

ʼn Betroubare nuusbron probeer hierdie en ander beperkinge balanseer, billik balanseer sodat die nuusgebruiker ʼn wye blik op nuusgebeure kry. Voeg maar die woord “onbevooroordeeldheid” by. Is die berig blatant bevooroordeeld?

Daarmee is nog niks gesê oor akkuraatheid van die beriggewing nie, óf oor die kontekstuele volledigheid van beriggewing nie. Daarmee word bedoel dat feite nie sonder konteks aangebied moet word nie; anders verstaan die leser of luisteraar nie waar die feite in die groter prentjie inpas nie.

Tog kan elke berig nie ʼn hele relaas gee van al die agtergrondfeite nie. Daar rus dus ook op nuusgebruikers ʼn redelike verantwoordelikheid om hul kant te bring. Toevallige lesers kan soms verlore wees — om nie eens te praat van diegene wat trots verklaar dat hulle glad nie meer nuus lees of daarna luister nie. Dit is ʼn gevaarlike onttrekking aan die wêreld.

Die uitdaging is om tog wyer te lees en te luister as een of twee bronne. Al het jy nie al die kanale op TV nie, is daar tog ʼn paar plaaslike kanale wat verskeidenheid bied. Daardeur verruim mediagebruikers hul verwysingsraamwerk. Dit stel hulle (hopelik) ook in staat om krities te lees en te luister.

So begin die gebruiker in ʼn volwasse mediagebruiker ontwikkel wat met oorleg na die nuus luister. Kortom, dit vra ʼn mate van volwassenheid. En deel van daardie volwassenheid is om nuus nie met dieselfde sonbril op te bekyk nie. Dat ons almal nuus vanuit ʼn bepaalde hoek (noem dit ideologie as jy wil) benader, is ʼn feit. Dit geld vir almal.

Dit is egter juis volwasse om nie jou ideologie (of persoonlike standpunte) altyd in die sentrum van alles te plaas nie. Deur jou oop te stel om die ander kant van die saak aan te hoor, groei jy in kritiese ingesteldheid sonder om jou oortuigings noodwendig te versaak.

So groei jou vermoë om betroubare bronne te identifiseer en juis die vooroordele van ʼn bepaalde berig te identifiseer. Ongelukkig moet elke berig met sorg gelees word. Dit geld veral vir bronne wat geen bekende redaksie en adres het nie. Nou verwys ek in die besonder na internetbronne.

Wees veral baie versigtig vir bronne wat daagliks opspraakwekkende bewerings opdis. Moenie vasval in ʼn sloot van pessimisme of bangmaakstories nie. Vra waar dit vandaan kom. Is die feite gekontroleer, billik, gebalanseerd en sonder vooroordeel?

Deur die “hoofstroommedia” summier af te skiet, bewys dat jy dalk reeds ʼn slagoffer is van propaganda wat nuus sektaries hanteer. Lees die hoofstroommedia inderdaad met sorg, maar pasop vir diegene wat net húlle nuus as die waarheid voorhou. Die hoofstroommedia (lees: koerante en uitsaaimedia soos die SABC) is almal onderworpe aan etiese kodes. Hulle kan nie maar net sê wat hulle wil nie.

Wat is dus betroubare bronne? Nee, ek kan geen lysie voorstel nie, maar probeer wegbly van hulle wat “té” is. So het ons mos van jongs af geleer. Vra watter medium jou eie toets vir betroubaarheid slaag. Gee voorkeur aan daardie nuusbron, maar moenie alles en almal bloot afskryf nie.

Die uitdaging is dus daar vir die individuele mediagebruiker om betroubaarheid telkens self te ontdek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Johannes Froneman is ‘n emeritus-professor, kurator van Mediamense.com en vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

…. Prof, jy’s doodreg. As die WO3 toe nie op die 14de Februarie so op Valentyn se verjaarsdag begin het soos Biden, die CNN en die CIA voorspel het en Rusland die Uraïene en die magtige wêreldmag probeer troef het nie gaan hy dit beslis op die 20ste doen soos Biden, die CNN en die CIA voorspel. So weet mens dat hulle beraminge en voorspellings absoluut betroubaar is.

Treurwilger ·

Puik artikel!
Opiniestukke in die hoofstroommedia moet nie summier afgeskiet word nie, maar beslis met die spreekwoordelike knippie sout gelees word.
Die eensydige/verdagmakende verslaggewing oor die Solidariteit Beweging waarvan prof. Froneman skryf, is net een voorbeeld waar veral die Afrikaanse koerante hul lesers gefaal het. Die ommeswaai wat nou plaasvind, is mosterd na die maal en oortuig nie.

Autobahn ·

Die hoofstroommedia kan nie sê wat hulle wil nie omdat hulle voorgeskryf word wat om te sê en nie onderworpe is aan etise standaarde nie.
Wie graaf dan die sloot van pessimisme en bangmaakstories? Die meeste westerse regerings met die hulp van die hoofstroom- en staatsmedia. Of dit nou die histeriese omgang met Omicron in Duitsland en Oostenryk is of die sogenaamde gevaar wat Rusland vir die wêreldvrede inhou volgens basies elke westerse land se media. Om nie die gevaar wat die klimaatsveranderinge inhou en dag in en dag uit gepropageer word nie. Het amper die gevaar van regs vergeet.
Alles net om ons aandag af te trek van werklike probleme en duister agendas.
Die hoofstroommedia is slegs daar om ons te desinformeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.