Hoe ontstaan state?

(Argieffoto: Pixabay)

Territoriale politieke entiteite is al baie oud. Die Bybel ken reeds die groot ryke soos Babilon, Egipte, die Persiese Ryk of Assirië. Ook China en Japan is al van baie lank af politieke entiteite. Die ryke was almal monargieë en multi-etnies van aard. Daarbenewens het ook kleiner, meer homogene entiteite bestaan, soos Israel.

In Europa was die Griekse stadstate van die vroegste en reeds taamlik goed geordende politieke entiteite. Later het die Romeinse Ryk die grootste deel van Europa beslaan en was vir daardie tyd onvergelykbaar wat sy militêre mag, kulturele invloed, goeie organisasie en sy regstelsel betref, terwyl elders in Europa nog min of meer stamstrukture geheers het.

Orals in die wêreld het een of ander vorm van politieke ordening bestaan, maar stamstrukture kan nie as state gereken word nie. Noord-Amerika en Australië ken geen state voor die koms van die Europeërs nie. Ook in Afrika was ryke met kwasi-staatlike strukture eerder die uitsondering as die reël, veral suid van die ewenaar.

As ons egter van moderne state praat, dan praat ons van die ontstaan in Europa in die tyd na die Middeleeue, oftewel die sogenaamde Nuwe Tydperk, met ander woorde die tydperk van die 16de tot 18de eeu. Die meeste groot en belangrike state wat vandag nog Europa bepaal, het in daardie tyd hulle vorm gekry en onderskei hulle van die premoderne state veral daardeur dat hulle nasiestate is, met ander woorde state vir ʼn spesifieke volk (ongeag etniese minderhede en streeksverskille in talle van hulle), met gewoonlik een gemeenskaplike taal, dikwels een gemeenskaplike godsdiens en ʼn gemeenskaplike kultuur.

Ook later het nuwe state in Europa ontstaan, meestal deur die opbreek van groot ryke soos die Osmaanse Ryk of die Habsburgse Ryk, maar die konsep van die moderne staat het nie meer wesenlik verander nie. Benewens die geleidelike en organiese vorming van state, veral in Europa, het daar vanaf die laat 18de eeu (beginnend met die onafhanklikheidsverklaring van die VSA) buite Europa in ʼn redelike kort tydperk nuwe state ontstaan deur die onafhanklikheidsverklaring van Europese kolonies. Hulle was egter struktureel en organisatories dikwels nabootsings van hulle Europese moederland. Die proses word in meer besonderhede in die volgende artikel bespreek.

Nog ʼn derde, meer onlangse manier van staatvorming (na die organiese ontstaan van nasiestate en die ontstaan deur dekolonisasie) is die ontstaan deur middel van afskeiding, wat veral ná die einde van die Koue Oorlog in 1990 prominent geword het en benewens in Europa (Joegoslawië, Sowjet-Unie e.a.) ook in Asië en Afrika gebeur het. Selfs Noord-Amerika het amper die afskeiding van Quebec in 1995 beleef. Die voorlopig laaste afskeiding was die van Montenegro (van Serwië) in 2006 (Kosovo se eensydige onafhanklikheidsverklaring in 2008 word nog nie algemeen en ook nie deur die moederland Serwië aanvaar nie) en van Suid-Soedan in 2011.

Vereistes van die moderne staat

Die moderne staat moet oor die volgende vier voorvereistes beskik: grondgebied, legitimiteit, soewereiniteit en ʼn werkende administrasie. Anders gestel: daar moet ʼn grondgebied wees wat se grense deur ander state erken word as staat (en dus ook ʼn diplomatieke diens om die verhoudinge te formaliseer). Daar moet inwoners van die staat wees wat lojaal aan hulle staat is (en hoe meer homogeen ʼn staat is, hoe meer vanselfsprekend gebeur dit) en wat die gesag van die regering aanvaar. Laastens moet die regering deur middel van ʼn administrasie (en veiligheidsmagte, indien nodig) in staat wees om sy gesag oor elke inwoner binne sy grondgebied, byvoorbeeld deur middel van belastinginvordering en uitreik van registrasiedokumente, af te dwing. Vir bogenoemde faktore om te kon intree was interne konsolidasie ʼn voorvereiste. Moderne state in Europa was net moontlik deur een nasionale taal (al het dit beteken dat talle streekstale uitgeroei is), waaruit dan ook ʼn volksbewussyn ontstaan het, wat die staat eerder as die familie, sibbe of die onmiddellike omgewing as die bron van lojaliteit gesien het. Doeltreffende administrasie is deur een amptelike taal vergemaklik. Ook die rol van geografie moenie onderskat word nie. Gebiede met natuurlike grense het gewoonlik vinniger gekonsolideer en is minder aangeval as diegene daarsonder.

Sekere Europese state kan as oerstate beskryf word, omdat hulle, ongeag talle grensveranderings en besettings, uit hulleself organies ontstaan het, en nie deur afskeidings (insluitende dekolonisasie) van ander state nie. Oerstate is natuurlik nie tot Europa beperk nie. Op elke vasteland is daar state wat amper van die begin van die geskiedenis af daar was en nooit (of hoogstens gedeeltelik) gekoloniseer is nie, soos China, Japan en Ethiopië. Sulke state is egter wêreldwyd die uitsondering. Eers in die 19de en veral 20ste eeu het state op groot skaal ontstaan.

Nog ʼn kenmerk van die moderne staat wat in die loop van die bogenoemde tydperk ontstaan het, was die idee dat die burgers se lojaliteit nie meer in die eerste plek aan hulle heerser behoort nie, maar aan hulle staat en dat die staat die volk se strewe en wese verteenwoordig. Sodoende het ook die inwoners van ʼn staat geleidelik van onderdane na burgers verander, en daarmee saam ook aangedring op medeseggenskap deur middel van stemreg en verteenwoordiging. Nog in die 17de eeu kon die Franse koning Lodewyk XIV verklaar: “L’etat, c’est moi” (die staat is ek), net enkele dekades later het die beginsel van volksoewereiniteit al hoe sterker geword. Denkers soos Jean-Jacques Rousseau, John Locke en Thomas Hobbes moet hier as rigtinggewend genoem word. Nogtans het sekere dinastiese ryke soos die Habsburgse Ryk en die Osmaanse Ryk tot in die vroeë 20ste eeu voortbestaan.

Ontstaan van die moderne Europese state

Die Vrede van Wesfale van 1648, wat die Dertigjarige Oorlog (1618-1648) beëindig het, word algemeen as die beginpunt van die moderne nasiestaat beskou. Die mag van die sentrale gesag, die keiser, wat in die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie (die eerste Duitse Ryk) reeds ingeperk was, is aansienlik verswak en meer magte is oorgedra na die territoriale heersers. Ook die Christelike godsdiens, as saambindende faktor en die pous as die universele geestelike heerser, het nie meer die mag en gesag soos tydens die Middeleeue gehad nie. Die Vrede van Wesfale het trouens gelei tot territoriale entiteite wat volgens denominasie (katoliek of protestants) ingedeel is, waardeur die universele aard van die Christelike ryk nie meer bestaan het nie. Dit het wel grootliks Middel-Europa betref, wat feitlik godsdienstig in die helfte gedeel was en orals sekere denominasie-enklawes gehad het, tot vandag toe.

Ook het geleidelik uitsluitlike soewereiniteit ontstaan. In die politieke entiteite van die Middeleeue was daar vlakke van gesag en die keiser of koning het net indirekte mag gehad wat oorvleuel het met die territoriale vorste en die geestelike ampsdraers. Soos die vorste se magte teenoor die sentrale gesag (ten minste in die Duitse Ryk) versterk het, het dit die ontstaan van kleiner, meer homogene state begunstig. Die verskillende deelstate van die eerste Duitse Ryk het al hoe sterker geword totdat dit in 1806 ook “de jure” ontbind is deur keiser Napoleon van Frankryk. Onder die leiding van Pruise, het die Duitse Ryk in ʼn taamlik ander gedaante en ʼn ietwat ander grondgebied in 1871 weer herrys. Dit was die eerste keer ʼn moderne, Duitse nasiestaat, al was dit nog steeds ʼn monargie.

In Frankryk het die teenoorgestelde proses plaasgevind, naamlik die sentralisasie van mag in die hande van die koning (absolutisme). Daardeur is ook die sentrale staat versterk en die ontstaan van een Franse taal en volk bevorder. In die Middeleeue was Frankryk ʼn dinastiese ryk en daar het nog geen nasionale bewussyn bestaan nie. Die Honderdjarige Oorlog teen Engeland (1337-1452) was belangrik vir die vorming van ʼn Franse nasionale bewussyn (optrede van die “nasionale heilige” Jeanne d’Arc, die maagd van Orleans), al was dit in die eerste plek ʼn oorlog tussen adelsgeslagte. Ook die Franse Revolusie van 1789 word as ʼn belangrike mylpaal in die proses van die vorming van die moderne nasiestaat beskou. Dit het daarmee te doen dat die monargie (op ʼn wreedaardige wyse) verwyder is en die burgers se lojaliteit nie meer aan ʼn koningshuis behoort het nie, maar aan die (revolusionêre) staat. Al het die monargie later weer teruggekeer, het Napoleon en ander konings die rol van Franse patriotte gespeel, nie die van internasionaal gesinde adellikes nie.

Spanje in sy (min of meer) huidige vorm het vanaf 1479, deur die huwelik van Ferdinand van Aragon met Isabella van Kastilië, waardeur die belangrikste dele van die huidige Spanje verenig is, tot stand gekom. Die twee heersers het spoedig die suidelike deel, wat nog deur die Moslems beset was, bevry en die “Reconquista” voleindig. Spanje was een verenigde, katolieke land en het ook in die 16de eeu tot wêreldmoondheid opgestyg danksy sy ontdekking en besitneming van Amerika. Afgesien van die onafhanklikheid van Portugal weens ʼn dinastiese skeiding in 1640, het Spanje se grense nie meer verander nie.

Ten spyte van sy geografiese eilandposisie het Groot-Brittanje nooit ʼn eenvormige nasiestaat, soos byvoorbeeld Frankryk, geword nie. Eintlik bestaan geen Britse nasie nie, maar ʼn Engelse, Skotse en deels Walliese nasie. Die land het ook nooit ʼn republiek geword nie en die vereenselwiging met die monargie is nog steeds ʼn deel van die Britse identiteit. Vir die vorming van ʼn eie identiteit was die stigting van ʼn eie nasionale kerk, die Anglikaanse Kerk in 1534, die eerste mylpaal. Na oorloë teen die Skotse koningshuis en ʼn burgeroorlog (beide met elemente van godsdiensoorloë) is die Verenigde Koningryk in 1707 gestig wat (afgesien van die afstigting van Ierland) met die huidige Groot-Brittanje ooreenstem. Die mag van die koningshuis het gedurig teenoor dié van die parlement afgeneem.

Italië is kultureel baie oud en is ook geografies ʼn natuurlike eenheid, maar was sedert die Middeleeue altyd polities verdeel tussen sterk selfstandige republieke in die noorde, die kerkstaat in die middel en die koningryk, Sisilië en Napels, in die Suide. Dele het ook aan die Habsburgse Ryk behoort. Eers in 1861 kon die land onder die leiding van die streek Piemont na ʼn langdurige proses, insluitend oorlog teen die Habsburgse Ryk, as monargie verenig word.

Rusland is ook een van die oudste state in die wêreld, maar sy ontstaansgeskiedenis is te ingewikkeld en te vol breuke om die ontstaan aan enkele gebeure vas te maak. Dit kan ook gedebatteer word of dit ʼn moderne nasiestaat in die sin van die meeste ander Europese state is, omdat dit in wese nog steeds ʼn multi-etniese ryk is en ook die proses van burgerlike demokratisering nie behoorlik kon posvat nie.

Switserland, alhoewel een van die kleinste lande van Europa, is ʼn interessante voorbeeld omdat dit, as bykans enigste Europese staat, nooit ʼn monargie was nie en van die oudste demokratiese en federale entiteite in die wêreld is. Verder het dit ook nie as nasiestaat vir een spesifieke volk of taalgemeenskap ontstaan nie, maar as vrywillige gemeenskap van mense met dieselfde vryheidsgesindheid. As die stigtingsdatum van kern-Switserland geld 1291, waar die drie oerkantonne ʼn verbond gesluit het om mekaar by te staan. Saam met latere toevoegings, het hulle vir hulleself oor sowat tweehonderd jaar ʼn groot mate van outonomie van die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie oopgeveg. Met die Vrede van Wesfale van 1648 is Switserland se soewereiniteit ook formeel erken.

Maroela Media gaan in die komende weke tweeweekliks artikels plaas as deel van ʼn reeks oor outonomie, waarin die term en hoe dit in praktyk neerslag vind onder die loep geneem sal word. In die reeks word daar nie net na outonomiese state gekyk nie, maar ook na mikrostate wat outonoom funksioneer en wat dit in praktyk ook in Suid-Afrika mag beteken. Die reeks is deur Sebastiaan Biehl geskryf wat oor merkwaardige kennis rakende die internasionale politiek en die funksionering van verskeie politieke stelsels beskik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Manie ·

Die Wes-Kaap beskik oor al 4 die voorvereistes, kry dit net gedoen!

Harley Davidson ·

Die weskaap moet ook ‘n onafhanklike staat word en wegbreek van die piesang Republiek bekend as Suid-Afrika.

Republikein in die Wes Kaap ·

Tyd vir afstig is al verby, maar ons kan steeds daarvoor werk.

Marthinus W ·

n Russiese grappie: n Lid van die Politburo staan op n plaas en kyk hoe die boer werk, en se vir hom, “Ek kan sien dat dit in praktyk werk, maar werk dit in teorie?”

Baie state vandag, soos bv Sirie, Oekraine, is nie deur die teoriee hierbo geskep nie; dis kunsmatig, deur burokrate geskep. Veral na die 2 wereldoorloe is lande geskep deur die sogenaamde “oorwinnaars”. Oekraine se westelike deel was 150 gelede deel van Pole en Oostenryk. Sirie se probleme vandag is juis dat Britse burokrate lukraak grense saamgestel het, hulle het nie die Koerde in ag geneem nie; dis waarom die Koerde versprei is deur n paar lande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.