Hoe sal die jaar 2019 verloop?

vuurwerke-op-slimfoon

Foto: Julie Tupas/Unsplash.com

Dis al weer ’n nuwe jaar en oral ter wêreld het mense Nuwejaarsvoornemens, maar almal wonder hoe die jaar 2019 gaan verloop. In Suid-Afrika het ons ’n belangrike verkiesing en dis seker dat die temperatuur in die land nog baie gaan styg soos Meimaand naderkom.

Terselfdertyd wonder baie mense hoe die wêreld aan die einde van die jaar gaan lyk. Gaan daar meer brandpunte wees; meer of minder geweld? Niemand weet regtig nie en die ou tannie wat in haar woonwa sit en die toekoms aan jou wil uitlê met haar kristalbal, gaan ook maar sukkel. Al wat seker is, is dat niks seker is nie.

Die wêreld het verskeie voortslepende knelpunte wat eintlik al die tekens toon dat dit gaan eskaleer. Om net ’n paar te noem: enersyds is daar president Donald Trump van Amerika se volgehoue betrokkenheid in die Midde-Ooste in die algemeen, en Afghanistan, Sirië en Irak in die besonder en sy voorgenome muur tussen Amerika en Meksiko (om van sy binnelandse probleme nie eens te praat nie). Dan is daar sy hangende handelsoorlog met China. Intussen probeer Brittanje hom uit die Brexit-toffie probeer loswikkel en Noord-Korea met sy kernwapens wat Amerika nie sy dubbele standaarde in dié opsig wil toelaat nie.

Dis duidelik dat Trump midde-in baie van die probleme sentraal staan, en die een rede waarom niemand die jaar kan of wil voorspel nie, is te wyte aan die man se onvoorspelbaarheid. Daar is ook verskeie probleme wat hom nou weens sy los twiets begin inhaal. Een voorbeeld is dat hy ’n week of wat gelede verklaar het Amerikaanse soldate in Sirië gaan nou terugkom huis toe, want Isis is verslaan. Amerika het die terroriste-organisasie uitgewis, het hy gesê. Eers het sy minister van verdediging, Jim Mattis, uit protes bedank en pas het Trump teruggekibbel en laat weet: nee, Amerikaanse soldate sal eers vertrek wanneer die VSA seker is dat Isis verslaan is en nie weer kan hergroepeer nie.

Terselfdertyd was Kim Jong-oen, Noord-Korea se “opperbevelhebber”, weer in Beijing om by Xi Jinping te gaan kers opsteek oor hoe om Trump te hanteer nadat dié nie sy beloftes nagekom het om sanksies teen die kommunistiese Noord-Korea op te hef in ruil daarvoor dat laasgenoemde sy kernwapenvermoë vernietig nie. Trump en Kim het juis op ’n spitsberaad in Singapoer ooreengekom dat kernwapens uit die Koreaanse skiereiland geweer moet word. Ek is egter bevrees dat die twee nie op dieselfde bladsy is nie. Amerika wil hê Noord-Korea moet sy kernwapens aftakel, Kim wil hê Amerika moet op sy beurt ook sy kernwapens uit die gebied verwyder en dat dit gevolg moet word deur die onttrekking van al Amerika se troepe daar. Dit sal egter nie gebeur nie, al sê Trump elke keer daar is “ontsaglike vordering” gemaak. Amerika het sy troepe daar nodig teen die werklike of gewaande bedreiging wat China bied.

Van China gepraat: die handelsoorlog tussen die twee lande toon al die tekens dat dit in die komende maande kan handuit ruk. Indien daar nie ’n bevredigende oplossing voor einde Februarie kom nie, sê Amerika hy gaan ’n invoertarief van 25% op honderde Chinese goedere instel. Die Amerikaners glo hulle wen die oorlog en China se ekonomie groei stadiger. Wat hulle egter nie sê nie, is dat China se ekonomie steeds met 6% groei, dubbel as Amerika s’n. China is ook besig om sy fabrieke na lande soos Thailand en Indonesië te verskuif in die hoop om sanksies vry te spring.

Intussen het Trump verskeie van sy vriende in Europa vervreem deur aan te dring dat lande soos Frankryk en Brittanje meer tot hul eie verdediging moet bydra. Hierin is hy natuurlik reg, Europa het vir te lank op Amerika se rug gery, maar dis ook waar dat Amerika met sy dollar-ekonomie Europeërs se guns gekoop het.

Intussen lag Trump se kritici met reg oor sy manewales om ’n muur tussen Amerika en Mexiko op te rig. Trump sê hy sal die staatsdiens onbepaald verlam tot hy die geld vir ’n muur kry. Eers het hy gesê hy sal dit met trots doen, maar nou is dit die Demokrate se skuld. Ek sal graag wil sien hoe hy uit dié tameletjie gaan kom.

Elders het Brittanje sy Brexit-probleem wat besig is om hom heeltemal te verlam. Ander Europese lande steier steeds onder ’n toeloop van vlugtelinge uit die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

Wat Afrika betref, gaan daar ook interessante verwikkelings wees. Amerika het aangekondig dat hy nou ook, soos China, meer in Afrika wil betrokke raak. Amerika het egter twee probleme: die eerste is dat China al ver voor is, en die tweede is dat Amerikaanse hulp met voorwaardes kom, China s’n nie. Of ’n mens nou daarvan hou of nie, dis die realiteit.

Wat Suid-Afrika betref: Ons het nou weer een van die niepermanente setels van die Veiligheidsraad teruggekry. Pres. Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika sal hom in dié tyd beywer om permanente verteenwoordiging vir Afrika te kry. Ek het slegte nuus vir hom: 30 jaar gelede toe ek Suid-Afrika in New York by die VN verteenwoordig het, was dit al op die agenda. Dit pas die vyf permanente lede – Amerika, Frankryk, Rusland, China en Brittanje – doodeenvoudig nie om meer kokke te hê wat die kos kan bederf nie.

En moenie dink die handelsoorlog tussen China en Amerika gaan Suid-Afrika nie aan die hakskeen byt nie. Stadiger groei in China sorg daarvoor dat hy minder grondstowwe koop, Dit sal ’n rimpeleffek hê wat geld al hoe skaarser gaan maak, juis in ’n tyd dat Suid-Afrika buitelandse investering soek.

Intussen bult al hoe meer lande hul spiere, net soos seuns wat vir ’n groot geveg gereed maak. Rusland sê hy het ’n nuwe “onvernietigbare” wapen ontwikkel wat dit onmoontlik vir enige land sal maak om hom met kernbomme aan te val. Dis glo sy eie missiele wat teen vyf keer die snelheid van klank aanvallende missiele kan afskiet. China sê hy het nou sy eie “moeder van alle bomme” wat goedkoper en kragtiger as Amerika s’n is. Amerika het sy verdedigingbegroting na ’n rekordbedrag van $681,1 miljard vermeerder.

’n Mens wil al wens dat Trump sy vingers liewer op sy selfoon hou en nie op die kernknoppie nie. Terloops, ek wonder of sy selfoon in China gemaak is…

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Dat ‘n mens so leedvermakerig kan klink, terwyl die eens vooruitstrewende Weste sienderoë agteruit boer tot midde in dieselfde ellende van die res.
Maar, nou ja …

Henry ·

“Dat mens so leedvermakerig kan klink…”
Inderdaad!
(My pogings, hoe sagkens ookal, om op oom Tienie se skryfsels te reageer, beland altoos in die snippermandjie, daarom beperk ek maar my poging tot ‘n ‘inderdaad’)

:-)))

Gert ·

Hierdie klink soos ‘n Amerikaanse Demokratiese party propagandastuk. Trump is net sleg en wil net heeltyd die hele wereld wegskiet met sy kernwapens. Niks van hoe hy die sluipende sosialisme en migrasie gestuit het nie. Niks van die lae werkloosheid en ekonomiese voorspoed wat hy gebring het nie. Niks van hoe hy Jerusalem erken het as hoofstad van Israel nie.

marco polo ·

Dankie Tienie vir ‘n insiggewende artikel. Vanuit ‘n Chinese perspektief bespeur ek nog nie juis regtig kommer oor die handelsoorlog by die Chinese besigheidslui met wie ek gereeld gesels nie. Hulle het eenvoudig hulle mark geskuif na Afrika en Europa, ook nou na Suid Amerika, alhoewel dit maar op klein skaal is agv taalprobleme. Daar is wel industriee wat groot steun op die Amerikaanse mark, wat nou begin sukkel, maar die gemiddelde Chinees doen nog onverpoosd sy koop orgies. Amerikaanse handelsmerke kry swaar en Chinese produkte geniet voorkeur, en hier dink ek aan ‘n handelsnaam soos Huawei, wat geweldig vooruitstrewend geword het. Die klem in China het begin skuif na plaaslike verbruik en geld is skynbaar nog in oorvloed.

Therese van Schalkwyk ·

marco polo

Kan goed glo dat alles nog voor die wind gaan in China, want die enigste Westerse leier met ruggraat, wat poog om slegs ‘n deel van die vervaardigingsbedryf terug te bring vanaf China na die Weste, word 24/7 beswadder, beledig en bevraagteken.

Annie Webb ·

Nog ‘n politieke kommentator wat meen alles wat wêreldwyd verkeerd loop, is pres. Trump se skuld. Ek kyk positief na Trump omdat hy die enigste persoon is wat die sosialistiese (en Islamitiese) instroming in en vernietiging van Westerse kapitalisme (en Judeo-Christelike geloof) probeer stuit. Hy kan dit juis doen omdat hy nié ‘n loopbaanpolitikus is nie, nie die jop of die geld nodig het nie en dus nie omgekoop kan word deur lobbyists nie, en koppig genoeg is om sy rug op “die wêreld” te draai en onbeskaamd te werk vir “America First”, oftewel om Amerikaners se werkgeleenthede terug te bring vanwaar dit weens globalisme en herverdeling van rykdom oor die aardbol versprei is, en Amerika weer onafhanklik te maak van Midde-Oosterse olie nadat Obama die Amerikaanse energiebedryf vernietig het. Ook met enorme verlies aan werksgeleenthede. Trump praat nooit bont oor die dinge wat hy ken en wat hy kan regstel nie; soos werksgeleenthede. Daarby is hy onbeskaand patrioties en ondersteun hy die vlag en volkslied, almal in uniform en alle oorlogsveterane. As hy bont praat oor ander dinge is dit omdat hy op raadgewers moet staatmaak wat elkeen hul eie agenda het, en dan steeds verantwoordelikheid moet neem vir die besluit. Ek vind niks in pres. Trump se agenda wat ek nie goedkeur nie. Omdat ek spesifiek die afgelope dekades se politieke korrektheid net so hartlik verag. Sosialiste word opgehemel en die kapitaliste waarop hulle teer, word afgekraak. Hoe rym dit? Sosialisme misluk oral, kapitalisme is suksesvol.

Farmer Brown ·

Nee sies oom Tienie , los vir Donald Trump uit, hy is die enigste leier met murg in die been.
Ons weet dat Amerika nog altyd oorlog maak as hulle ekonomie in die moeilikheid is , aanvaar dit so en bly eerder uit sy pad uit.
Oom Donald het darem ‘n simpatieke oor vir ons en miskien is van daardie $681.1 miljard dalk om ons te kom help.(Wensdenkery?)

Ronnie ·

Ek hoop ek is verkeerd, maar kanse is 2019 gaan baie stormagtig wees.
In Amerika sal die storm begin bedaar as Trump nie langer die lang arm van die gereg kan vermy nie en hy verplig word om die Withuis te verlaat. Dit is onwaarskynlik dat Pence sy plek sal inneem. Baie van dieselfde donker wolke hang oor hom as oor Trump. Sy mees waarskynlik opvolger sal Pelosi wees. En dit sal ‘n baie onbenydenswaardige taak wees om sake weer te normaliseer in die Administrasie en opnuut bande te hervestig met die VSA se tradisionele bondgenote.
In ‘n siviele geding is Trump en sy kinders deur die hof verplig om die Trump Charity tot niet te maak en om alle gelde wat hy vir persoonlike doeleindes misbruik het terug te betaal. Hy moes ook alle oorblywende fondse aan ander welsynsorganisasies oordra en almal van hulle is belet om vir ‘n sekere aantal jare op die bestuur van enige soortgelyke organisasie te dien. Dink hieroor: die President van die VSA mag nie op die bestuur van enige welsyns fondsinsamelings organisasie dien nie, maar hy is steeds in die Withuis! Hy kan ook ‘n kriminele klag oor dieselfde saak in die gesig staar.
Die hofsaak was nommer een van sewe teen hom. Wat nog van die Mueller ondersoek en die FBI teenintelligensie ondersoek. Die kanse dat hy skuldig is aan sameswering met Putin is myns insiens honderd persent. Kundiges noem hom “a clear and present danger” vir Amerika en vir wêreld vrede.

Jerry ·

Stilswye oor trump is ook n antwoord, veral as daar meer sleg as goed oor hom gepraat kan word. Wat SA aanbetref gaan die poppe behoorlik dans voor en tydens die verkiesing. Na die verkiesing gaan die poppe moeg wees en tjoepstil raak.

Gerrit ·

Wiens brood mens eet diens woord mens spreek. So as jy die Chinese se genadebrood eet (in terme van n onderwys possie), moet jy hulle ophemel.

marco polo ·

Geensins. Die Chinese het baie foute, veral hul gierigheid en hul onvermoe om behoorlik te beplan, maar hulle het ook reeds lankal geleer dat daar net twee oplossings vir armoede is. Behoorlike opvoeding en harde werk. SAners ksn herus hieruit leer.

John ·

Hoe behoorlik kan jou opvoeding wees indien jy glo renosterhoring het medisinale waarde?

John ·

Dit sal ‘n bedroeflike dag wees as Christene voor beeldaanbidders buig en op hulle hoop vir ondersteuning. Dis ‘n seker pad na ondergang. Subjektiwiteit vier hoogty wanneer Trump se naam genoem word, veral weens derderangse tv-stasies en koerante se bloeddorstige aanvalle onder die voedende hand van Soros wat nie eens sy eie bloedlyn respekteer nie. Selfhaat is ‘n gruwelike ding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.