Hoofregter Mogoeng se uitsprake moet fyn dopgehou word

Deur Paul Maritz

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. (Foto: Jacques Naude/African News Agency, ANA)

Ongeveer ’n maand gelede het hoofregter Mogoeng Mogoeng sy misnoeë uitgespreek oor die eensydige benadering tot Israel wat in Suid-Afrika posgevat het. Hy verwys sekerlik na grootskaalse ondersteuning van bewegings soos die Israel-apartheidsbeweging, en soortgelyke drukgroepe, wat Israel se hantering van Palestynse burgers bevraagteken.

Die Israel-Palestina-kwessie is interessant, en is al vir millennia interessant, maar dit is nie die mees pertinente punt van hierdie gebeure nie. Die interessante is dat ’n hooggeplaaste regeringsamptenaar ’n standpunt inneem wat teen die regering se historiese standpunte indruis.

Op 9 Februarie vanjaar is die planne wat Israeliese eerste minister Benjamin Netanyahu vir Jerusalem het deur pres. Cyril Ramaphosa met apartheid vergelyk – sekerlik die grootste belediging wat ’n ANC-kader soos Meneer Ramaphosa kan uitdeel. Spring vyf maande vorentoe, en hoofregter Mogoeng se woorde was nie eens koud nie, of Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het ’n verklaring uitgereik wat die ANC se ondersteuning vir Palestynse selfbeskikking hervestig het. (Mens wonder, terloops, of die ANC ’n soortgelyke standpunt oor Orania sal huldig as die vraag geopper sou word…)

Die onbetwisbare punt is hier dat die ANC in opposisie met die regering van Israel staan op die kwessie van Palestina – ’n opposisie wat oorgespoel het na ’n algemene onderliggende vyandigheid.  Hier kom die snykant van die lem dan in, die foutlyn wat met ’n valkoog dopgehou moet word:

Die ANC is in sy onlangse geskiedenis ’n sosialistiese beweging, en breedweg beteken dit dat kommunikasie van die party af vloei in een rigting, en dat terugvoering of opposisie summier as antirewolusionêr beskou word.

Vryheid van spraak is kennelik vir die ANC ’n doring in die vlees, maar dit is ook ’n doring in die vlees as skapies in die ANC-kraal teen die topramme se menings blêr – en dit is presies wat ons hier in hoofregter Mogoeng se geval gewaar.

Die optrede wat bespeur moet word, is die ANC se nasionale uitvoerende komitee se optrede teenoor Mogoeng. Laat hulle hom ongeskonde, dan toon hulle moontlik interne swakheid of gelatenheid teenoor hulle wat as skeurmakers gesien kan word. Betig hulle hom te skerp, dan kom hul onverdraagsaamheid na vore, tesame met die noodwendige kritiek wat daar vanuit die Weste en ander meer ontwikkelde lande sal kom.

Die topramme van die ANC-troppie, tesame met die president – wat in hierdie metafoor dalk die hekwagtertjie is – staan by ’n vurk in die pad ten opsigte van hul optrede teenoor hoofregter Mogoeng. Die keuse wat hulle maak, sal ten minste op die medium termyn ’n beginselskeppende optrede wees, juis omdat dit die bloudruk sal word van hoe interne verskille in die post-Zuma-era hanteer word. Voor die huidige ANC-NUK se aanstelling in 2017 was opposisie teen president Zuma die populêre ding om te doen, maar ná Zuma is daar nog net uitsonderlike openlike kritiek teen die party en sy beleid gewees. Juis daarom is hierdie vurk in die pad ’n waterskeidingsmoment.

  • Paul Maritz is die koördineerder van Solidariteit Jeug.

Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jaco ·

Hooftregter Mogoeng beweer hy is n wedergebore Christen. TOG BLY HY STIL oor wetgewing in SA wat aborsie en privaat gebruik van dagga en ‘n klomp ander algemeen erkende “sondes” toelaat en bly hy ook stil oor regstellende aksie en BEE wat openlike rassisme teen wit mense is. Maar nou ja, met ‘n salaris van R2.8miljoen PER JAAR, kan ek verstaan waarom hy stilbly. Die Bybel se tog: Want geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels” (I Timoteus 6:10)

Jackie ·

Stem in beginsel met jou saam, maar ons kan dankbaar wees dat ons n hoofregter het wat nie skaam of bang is om sy geloof in Jesus Christus te bely nie. Dink jou in die nagmerrie as dit n bekende regterpresident van 1 van ons provinsies was. Ons blankes moet ook nie te vinnig wees om klippe te gooi na die huidige korrupte spul nie. Ons voorvaders het ook maar goed die kat innie donker geknyp. Agterstraat aborsies, net blankes mog sekere beroepe beoefen, die Eschelle Roodie skandaal ens ens. Matt 7 is n goeie betugteging vir ons wat maklik klippe gooi.

JohanR ·

Israel het die woestyn maak blom, lui nou water uit wat ‘n droe land was, na sy bure, en uit sy uinversiteite kom een na die ander wonderlike ondervindings. Militêr wil nie eers die VSA met hom sukkel nie. Die ANC? Wel die ANC het Suid Afrika in ‘n woestyn verander. Viva Israel Viva!

Haan ·

Skokkend om te sien hoeveel van my volksgenote mislei word deur die geldmag en sy Rothschild-geborgde land.

madels ·

N Paar jaar terug het die Hamas leiers SA besoek en het n vergadering met die ANC gehad, wat soek die ANC met n terroriste groep? Dit is kommerwekkend dat dit lyk of hulle hierdie tipe groepe ondersteun :-(

Chris ·

Die ANC is ‘n terroriste bende. Was van 1918 af al so en sal tot die einde so wees. Hul leiers het “gewapende” optredes, halsnoermoorde ens goed gekeur. Gesels met mense in ons buurstate wat hulle van die ANC dink. Jy sal op jou rug val.

Karel Kobus Kruger ·

Volgens Wikipedia is 6% van Palestina se bevolking Christene, teenoor slegs 2% van Israel se bevolking. Interessant……
Gaan google dit maar self, diegene wat my nie glo nie.

JM ·

Israel is God se volk. “Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.” – Gen. 12:3

Henk ·

Hoofregter Mogoeng is na my beskeie mening iemand wat maar bra selektief met geregtigheid en moraliteit omgaan. Hy het al genoeg kere bewys dat wanneer dit hom pas hy maar ‘n al te gewillige ondersteuner van die regering is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.