Inflasie en skuld ons grootste kopsere

Deur Adam Jacobs

Minister Enoch Godongwana. (Foto: Twitter)

In hierdie maand se ekonomiese oorsig laat ek die klem val op twee belangrike ekonomies of finansiële aspekte.

Ten eerste is inflasie: Internasionaal sowel as plaaslik, aangesien dit gaan bepaal wat met rentekoerse kan gebeur.

Die tweede aspek is: Die verloop van die staatsfinansies sover vanjaar, in die lig van inligting verkry uit die mediumtermynbegrotingsverklaring op 1 November vanjaar.

Inflasie

Inflasie, of die vermindering in die waarde/ koopkrag van geld, is ʼn hardnekkige ekonomiese vraagstuk waarmee lande die afgelope twee jaar in besonder te kampe het. Die omskrywing daarvan wat ek verkies, is: “Inflasie is die voortdurende styging in pryse van goedere en dienste oor ʼn wye front.”

Daarvolgens sal ek inflasie nie beskou as byvoorbeeld slegs pryse van landouprodukte styg weens ʼn eenmalige faktor soos droogte nie. Natuurlik sal wal gegooi moet word dat dit nie tot gevolg het dat ander pryse dan ook styg nie. Dit sal egter, onder normale toestande, nie voortdurend van aard wees nie.

Sou daar egter iets gebeur wat pryse oor ʼn wye front laat styg, soos byvoorbeeld oormatige groei in die geldvoorraad, dan kan dit ʼn tipiese geval van oormaat vraag, relatief tot produksie, wees. Daar kan uiteraard ook ander faktore wees soos onvoldoende produksie weens oorlogstoestande, wat wanbalanse tot gevolg het, wat die inflasiekoers kan verhoog. Dit moet dan in gedagte gehou word dat afhangende van die bron wat inflasie voed, dié instrument(e) gekies moet word wat dit die beste kan beveg. Dit daar gelaat en bloot as agtergrond.

Waar staan ons nou?

Daar was ʼn mate van vordering in die koerstoename die afgelope aantal maande. In die eerste wêreldlande oor die algemeen, is die mikpunt ʼn inflasiekoers van 2%. Soos voorheen verduidelik, word daar gereken dat kwaliteitsverbeterings van produkte en dienste met 2% per jaar toeneem. Dus is 2% inflasie, so word gereken, eintlik 0% inflasie.

So gesien, het beleidsvoerders nog nie dié mikpunt bereik nie. Ek toon aan wat die koerse vir ʼn aantal lande in September en Augustus was.

LandSeptember (%)Augustus (%)
VSA3,73,7
Kanada3,84,0
Europese Sone4,35,2
Duitsland4,56,1
Frankryk4,94,9
Verenigde Koninkryk6,76,7
Italië5,35,4
Spanje3,53,5
Japan3,03,2
China00,1
Australië5,46,0
Turkye61,558,9
Suid-Afrika5,44,8

(Bloot uit ʼn interessantheidsoogpunt kan genoem word dat die jongste inflasiekoers in Argentinië 138% en in Venezuela 318% beloop. In die Seychelle is daar deflasie waarneembaar van 2,47%. Dit kan ook probleme oplewer aangesien mense kan besluit om minder te spandeer met die oog op latere spandering as goedere en dienste goedkoper is. Uit ervaring weet ons dat dit die groeikoers kan benadeel.)

In September vanjaar, het die inflasiekoers plaaslik effens versnel van 4,8% in Augustus tot 5,4%. By nadere beskouing van die syfers blyk dit dat voedselpryse steeds een van die hoofdrywers van inflasie is, aangesien dit in September met 8,1% gestyg het. Met voedselpryse uitgesluit, styg die VPI met 4,7%. Kyk ons wat met pryse soos gemeet by die “plaashek” gebeur, het dit in September 8,3% beloop wat ʼn versnelling was van die 6,3% in Augustus.

Aan die positiewe kant moet ek egter daarop wys dat die styging in September verlede jaar 16,0% beloop het en in Mei verlede jaar so hoog as 18,9% was. Hier speel die oorlog tussen Rusland en Oekraïne ook ʼn rol aangesien veral graanpryse in Amerikaanse dollar-terme aansienlik versnel het. Tans styg suikerpryse skerp weens beperkings op uitvoer daarvan vanuit Indië.

Sover dit pryse gemeet op die produksiekant betref, toon die koopprysindeks vir vervaardigde produkte ʼn styging van 5,1% in September. Dit is ongelukkig ʼn versnelling in die stygingskoers van 2,7% in Julie maar laer as die 16,3% toenamekoers ʼn jaar tevore. Pryse van intermediêre vervaardigde goedere was in September 2,9% laer as ʼn jaar tevore. Pryse van intermediêre vervaardigde produkte daal nou reeds vir die afgelope drie maande.

Kyk ons in geheel na die inflasieprentjie, lyk dit nie of dit in die VSA en die Euro-sone die 2% koers voor die middel van volgende jaar gaan bereik nie. Dit sou rentekoersdalings kon meebring. Dit mag help dat koerse plaaslik ook verlaag kan word mits ons eie koerstoename ook laer neig.

Die staat se begroting

Wanneer ek die staat se begroting beoordeel, is daar ʼn aantal faktore wat oorweeg word met die oog op gevolge vir die ekonomie en die finansiële markte:

  • Die staat se totale uitgawes relatief tot die nominale BBP.
  • Die verdeling van uitgawes tussen lopende- en kapitaalbesteding.
  • Belasting gevorder relatief tot die nominale BBP.
  • Die tekort vóór lenings in verhouding tot die nominale BBP.
  • Die basiese balans, dit wil sê die tekort uitgeslote rente betalings.
  • Die finansiering van die totale tekort.
  • Die staat se besparing relatief tot die nominale BBP.
  • Die omvang en groei van die staat se skuld.

Die mediumtermynbegrotingsverklaring is presies wat die naam sê. Dit is voorlopige aanduidings van wat in die volgende twee tot drie jaar verwag kan word. Die werklike begroting is jaarliks in Februarie. Dan sal ons ʼn aanduiding kry van wat vir die volgende jaar vir ons gaan geld.

Die inligting wat die minister voorgelê het, was redelik ontstellend. Die belastingontvangstes vir die huidige jaar gaan minstens R50 miljard minder wees as wat in Februarie vanjaar in die vooruitsig gestel is. Die redes hiervoor, is swakker dollar-kommoditeitspryse en swakker produksievolumes in die mynwese in die besonder. Dan is daar ook swakker groeitoestande wat uiteraard lei tot laer winste en dus laer belasting wat betaal word.

Voeg hierby kragonderbrekings wat produksie kortwiek en die kostes wat aangegaan moet word om krag op te wek. Hierby is daar Transnet se onvermoë om vrag te vervoer en die probleme by ons hawens. Dit is dus verstaanbaar dat belastingontvangstes nie aan die verwagtinge voldoen nie.

Hiermee saam is staatsuitgawes ook hoër as voorsien. Die kombinasie van die twee faktore het tot gevolg dat die staat se tekort vóór lenings sowat 4,9% van die BBP gaan beloop teenoor die 4% wat in die begroting voorsien was. Dit beteken dat die staat meer lenings op die kapitaalmarkte sal moet aangaan as wat voorheen voorsien was. Dus styg die rentelas wat uitgawes verder verhoog. Ook kan kapitaalmarkrentekoerse verder styg.

Hiermee saam moet besef word dat die staat se skuld wat in rand-waarde en ook relatief tot die BBP hoog is, verder gaan styg. Nog ʼn aangeleentheid om in gedagte te hou, is dat die staat se ontsparing, dit is geld wat geleen word om lopende uitgawes te help finansier, verder gaan styg. Dit in eie reg verlaag die land se groeipotensiaal. ʼn Verdere aangeleentheid van belang is hoe die internasionale kredietgraderingsagentskappe die staat se kredietwaardigheid gaan aanslaan. Dit is reeds op ʼn nie-kredietwaardigheidsvlak en ʼn verdere afgradering beteken dat dit moeiliker raak om lenings te bekom en indien wel, geskied dit teen hoër rentekoerse.

Wat wag in 2024/-25?

Die minister het reeds aangedui dat belasting(s) verhoog sal moet word. ʼn Verhoging van die BTW lyk die mees moontlike met verdere vrystellings daarvan ten opsigte van sekere basiese produkte. Hy het ook aangedui dat uitgawes ingekort sal moet word. In dié opsig lyk dit nie of hy die steun van die kabinet kry nie; nie nou nie en ook nie met ʼn verkiesing wat op hande is nie. As hy dit sal wil doen, sal dit waarskynlik verdere inkorting van kapitaalbestedingsprojekte wees wat juis nie gedoen behoort te word nie.

Samevattend is dit duidelik dat die land in ʼn baie problematiese situasie verkeer. Dit kom oor baie jare wat geleidelik opgebou het tot ʼn punt waar, figuurlik gesproke, die wiele nou afkom.

Vir die huidige jaar word dit vererger deur die swak vertoning van veral die mynbousektor wat grootliks buite die beheer van die myne is. Dit is belangrik om te besef dat die mynbousektor ʼn baie groot bate vir die land is, maar baie onstabiel is, weens veral buitelandse gebeure. Daar sal streng dissipline toegepas moet word in tye van voorspoed vir die sektor wat groot belastingontvangstes genereer.

In so ʼn situasie sal die meevallers gebruik moet word om kapitaalwerke, wat in baie gevalle eenmalige uitgawes is, te ondersteun en om skuld af te los. In kort. Dit moet nie ingebou word in die land se lopende bestedingpatroon nie, soos byvoorbeeld, dat dit aanleiding gee tot hoër salarisse nie.

  • Adam Jacobs is ‘n onafhanklike ekonomiese ontleder. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

B-Man ·

Inflasie en skuld is nie grootste kopseer nie. Eerder: Korrupsie en onbevoegdheid.

Manie ·

Inflasie en skuld deur wie veroorsaak? Geen wonder die oukie is op siekrapport nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.