Internasionale oorsig: Hou op hoop vir ʼn gematigde Taliban-regering

Afghane in Londen betoog teen die nuwe Taliban-regering. (Foto: Justin Tallis/AFP)

Kort nadat die Taliban op 15 Augustus beheer oor Kaboel, hoofstad van Afghanistan, geneem het, het dié groep onderneem om ʼn inklusiewe regering wat lede uit Afghanistan se minderheidsgroepe sou insluit, aan te stel. Die Taliban het Dinsdagaand tydens ʼn mediakonferensie sy nuwe regering vir Afghanistan bekendgemaak en presies die teenoorgestelde gedoen as wat hy belowe het.

Die regering wat Dinsdagaand aangekondig is, verteenwoordig nie Afghanistan se diversiteit nie. Dit is ook allesbehalwe die “gematigde” regering waarvoor soveel naïewe politici in Westerse lande gehoop het.

Die hele kabinet wat aangekondig is, bestaan uit lede van die dominante Pasjtoen-etniese groep. Hoewel die Taliban nie eksklusief ʼn Pasjtoen-organisasie is nie, word die Taliban se leierskap sedert sy stigting deur Mullah Mohammad Omar, self ʼn Pasjtoen, deur persone uit dié etniese groep gedomineer. Die Pasjtoen maak slegs omtrent 50% van Afghanistan se bevolking uit.

Hoewel byna ʼn kwart van Afghanistan se bevolking Sjiïtiese Moslems is, is die hele kabinet wat aangekondig is, Soenniete. Geen vrou, Christen, Hindoe of lede van ander etniese groepe soos die Tadjikse, die Hazara en Oesbeekse groepe is ingesluit nie.

Die ergste van alles is egter die aanstelling van Sirajuddin Haqqani as die nuwe minister van binnelandse sake wat ook aan die hoof van Afghanistan se polisie en binnelandse veiligheid sal staan. Haqqani word tans deur Westerse lande as ʼn terroris beskou en die Federale Buro vir Ondersoek (FBI) in die VSA bied ʼn losprys van 5 miljoen dollar aan vir inligting wat tot sy inhegtenisname kan lei.

Haqqani het direkte bande met Al Kaïda en met die Haqqani-netwerk. Dié ekstremistiese beweging was verantwoordelik vir sekuriteit by die Hamid Karzai-lughawe in Kaboel op 26 Augustus toe die Islamitiese Staat ʼn selfmoordbomaanval op die lughawe geloods het waarin byna 200 mense, insluitende 13 Amerikaanse soldate, dood is.

Die Britse minister van buitelandse sake, Dominic Raab, het onlangs aangedui dat Brittanje hoop dat die Taliban ʼn verteenwoordigende regering sal aanstel en dat die Britse regering dit sal oorweeg om só ʼn nuwe regering in Afghanistan te erken. Daar is die afgelope paar weke ook soortgelyke valse hoop in ander Westerse lande bespeur.

‘n Konvooi van Taliban-vegters in ‘n straat in Kaboel. (Foto: Aamir QURESHI/AFP)

Verskeie Westerse politici het ook oor hulle voete geval om te probeer bewys dat die Taliban nie aan Al Kaïda en ander terreurgroepe verbind is nie en dat die Taliban nie sal toelaat dat die meer ekstreme Haqqani-netwerk wesenlike invloed in ʼn nuwe regering sal kry nie. Hoewel die Taliban nie deur Westerse lande as ʼn terreurgroep beskou word nie, word die Haqqani-netwerk, wat reeds sedert 1995 deel van die Taliban is, wel as ʼn terreurgroep gelys.

Die aankondiging Dinsdagaand bevestig die patroon van optrede van die Taliban die afgelope paar jaar waar die groep een ding belowe, maar dan ʼn ander doen. Daar is ná Dinsdag se aankondiging min rede om te glo dat die regte van vroue en minderheidsgroepe beskerm sal word. ʼn Islamities-fundamentalistiese regering met streng Sjaria-wette is nou Afghanistan se voorland.

Al wat Westerse lande oor het om hieraan te doen, is om voort te gaan om die Taliban te isoleer en om die nuwe regering in Afghanistan van soveel legitimiteit as moontlik te ontneem. Tot dusver het geen land nog die nuwe regering amptelik erken nie, hoewel Rusland, China, Pakistan, Iran, Katar en Turkye hul ambassades in Kaboel oopgehou het. Tussen 1996 en 2001 het slegs Pakistan, die Verenigde Arabiese Emirate en Saoedi-Arabië die regering van die Taliban erken.

Dit is ook nou vir Westerse leiers nodig om baie meer realisties te wees oor die kanse dat Afghanistan weer ʼn tuiste kan word vir groepe wat aanvalle op die Weste beplan. Teenterreurveldtogte, gegrond op internasionale samewerking en goeie intelligensie, is vir eers die beste opsie om dit teen te werk.

Verkeerd om Trump vir Afghanistan-chaos te blameer

Pres. Joe Biden. (Foto: Saul Loeb / AFP)

Sedert Joe Biden, Amerikaanse president, in Januarie ingehuldig is, verwys hy graag na sy voorganger, Donald Trump, in toesprake of media-onderhoude wanneer hy die skuld vir verskeie probleme in die VSA op iemand anders as sy eie administrasie probeer pak. Hierdie probleme wissel van die hantering van onwettige immigrante op die VSA se grens met Mexiko, die VSA se groeiende infrastruktuurprobleme, klimaatsverandering, die voortslepende Covid-19-pandemie en die enorme verdeeldheid en polarisasie in die VSA.

Die afgelope paar weke kry Trump nou ook die skuld vir die Taliban se oorname van Afghanistan en die wyse waarop die VSA uit Afghanistan onttrek het. Biden en sy administrasie verwys na die ooreenkoms wat die Trump-administrasie verlede jaar met die Taliban in Doha in Katar onderteken het, waarvolgens die VSA homself daartoe verbind het om teen Mei 2021 uit Afghanistan te onttrek.

Biden het uiteindelik hierdie datum tot 31 Augustus verleng, maar sê nou dat hoewel hy altyd uit Afghanistan wou onttrek, die VSA se onttrekking deur die Trump-administrasie se ooreenkoms met die Taliban voorgeskryf is.

Verskeie kommentators het die afgelope weke na die Trump-administrasie se ooreenkoms met die Taliban verwys. Hoewel die VSA se laaste drie presidente, Barack Obama, Donald Trump en Joe Biden, saamstem dat die VSA uit Afghanistan moes onttrek, was daar natuurlik die afgelope 13 jaar tussen dié drie administrasies verskille oor presies hoe dit moes gebeur.

Barack Obama

Barack Obama. (Foto: AP Photo/Pablo Martinez Monsivais)

Barack Obama het reeds tydens die 2008-verkiesingsveldtog onderneem om Amerika uit Afghanistan te onttrek. Tydens sy agt jaar as president kon hy dit egter nooit doen nie. Die redes was eenvoudig. Hoewel die VSA aanvanklik die Taliban verslaan het, het die Taliban nie verdwyn nie. Ten spyte van enorme pogings deur die VSA om Afghanistan te help om ʼn demokratiese sentrale regering te vestig en om ʼn bekwame weermag daar te stel, was die opeenvolgende regerings in Kaboel meestal verswak, verdeeld en boonop korrup. Die Afghaanse weermag, ten spyte van toegang tot puik Amerikaanse opleiding, wapentuig en ammunisie, het nooit ʼn suksesvolle stryd teen die Taliban gevoer nie.

Donald Trump het ook in 2016 belowe om ʼn einde aan die oorlog in Afghanistan te maak. Hy wou ʼn ander rigting inslaan. In September 2018 het hy die briljante diplomaat Zalmay Khalilzad as ʼn spesiale gesant vir Afghanistan aangestel. Trump se mandaat aan Khalilzad was duidelik: Vind ʼn volhoubare weg vir ons uit Afghanistan uit.

Khalilzad is in 1951 in Afghanistan gebore en het in 1966 as ʼn uitruilstudent in die VSA aangekom. Ná studies aan die Universiteit van Chicago en die Universiteit van Beiroet in Libanon het hy oor die jare heen in die administrasies van Ronald Reagan, George HW Bush, George W Bush, Barack Obama en Donald Trump gedien.

Khalilzad het die dinamika in Afghanistan baie goed verstaan en het Trump daarvan oortuig dat onderhandelinge met die Taliban die sleutel tot ʼn langtermynoplossing sou inhou. Dit het die klem verskuif van ʼn absolute oorwinning oor die Taliban na een waar die Taliban as deel van die toekoms van Afghanistan aanvaar word en dus deel van die oplossing moes wees.

Trump se dreigemente teen die Taliban het sonder twyfel tot dié groep se teësinnige instemming tot onderhandelinge met die VSA in Katar bygedra. Uiteindelik is ʼn ooreenkoms verlede jaar tussen die VSA en die Taliban bereik waarvolgens die VSA teen 31 Mei 2021 volledig uit Afghanistan sou onttrek.

Oudpres. Donald Trump. (Argieffoto: Evan Vucci/AP)

Dit was egter nie die enigste bepaling van die ooreenkoms nie. Die ooreenkoms het bepaal dat die VSA sou onttrek indien die Taliban ʼn reeks stappe sou doen. Eerstens moes die groep homself tot dialoog met die Afghaanse regering verbind. Die Taliban moes homself ook tot ʼn skietstilstandooreenkoms verbind. Verder moes die groep instem om aan ʼn proses deel te neem om uiteindelik ʼn regering van nasionale eenheid in Afghanistan saam te stel. Die Taliban moes ook verseker dat aanvalle nie op Amerikaanse teikens uitgevoer sou word nie.

Die gevolg van hierdie ooreenkoms was dat aanvalle deur die Taliban op Amerikaanse soldate in Afghanistan gedurende 2020 grootliks tot ʼn einde gekom het. Waar die VSA wel aangeval is, was dit meestal deur die Islamitiese Staat-terreurgroep.

Die een deel van die ooreenkoms waaroor ernstige vrae bestaan, is die bepaling waarvolgens 5 000 Taliban-stryders uit tronke vrygelaat moes word. Dit was talle van hierdie stryders wat vanjaar grootliks tot die omverwerping van die regering in Kaboel bygedra het.

Dit is egter oneerlik van die Biden-administrasie om die ooreenkoms wat verlede jaar in Katar onderteken is die skuld vir vanjaar se chaos te gee. Die waarheid is dat die Taliban nie die ooreenkoms nagekom het nie en dat die VSA daarvolgens alle reg gehad het om hom ook as ʼn party aan die ooreenkoms te onttrek.

Die VSA het al sedert Obama se dae nie eintlik ʼn ander keuse gehad as om uit Afghanistan te onttrek nie. So ʼn onttrekking moes egter met ʼn langtermynplan vir die stabiliteit van Afghanistan gepaardgegaan het. Obama en Trump het dit besef. Biden en sy administrasie se onttrekking, ten spyte van die Taliban se nienakoming van die ooreenkoms, was ʼn fout en die prys daarvoor word nou betaal.

Trudeau oorspeel sy hand in Kanada

Justin Trudeau. Foto: (Sean Kilpatrick/The Canadian Press via AP)

Met net meer as ʼn week oor voordat kiesers in Kanada na die stembus gaan, lyk dit toenemend of dié land se eerste minister, Justin Trudeau, sy hand oorspeel het toe hy verlede maand skielik ʼn vervroegde verkiesing uitgeroep het. ʼn Meerderheid van kiesers in Kanada het Trudeau se hantering van die Covid-19-pandemie ondersteun en was tevrede met die vinnige uitrol van ʼn inentingsprogram in Kanada. Sy gebruik, of dalk misbruik, hiervan om kiesers vir ʼn nuwe mandaat te vra, is egter besig om in sy gesig te ontplof.

In ʼn peiling wat die afgelope week in Kanada bekendgestel is, sê 60% van Kanadese dat die verkiesing nooit uitgeroep moes geword het nie. Die volgende verkiesing was veronderstel om eers oor twee jaar plaas te vind. Die meeste kiesers voel dat dit ʼn vermorsing van hulpbronne is om nou ʼn verkiesing te hou en baie voel dat dit onverantwoordelik is om ʼn verkiesing te hou terwyl die pandemie nog nie verby is nie.

Trudeau het ná ʼn verkiesingsoorwinning in 2015 eerste minister van Kanada geword. In die 2019-verkiesing het sy Liberale Party se steun gedaal en het die Liberale Party ook sy meerderheid in die parlement verloor. Die Konserwatiewe Party het met 34,34% van die stemme die meeste stemme gekry, maar die Liberale Party was gelukkig om, ten spyte daarvan dat hy nie die meeste stemme gekry het nie, wel die meeste setels te wen. Sedert 2019 is Trudeau dus in beheer van ʼn  minderheidsregering.

Met die peilings wat in sy guns getel het en ʼn sterk behoefte om ʼn meerderheid in die Kanadese parlement te behaal, het Trudeau in die middel van Augustus die vroeë verkiesing op 20 September aangekondig. Binne ʼn week na die uitroep van die verkiesing het die Liberale Party se steun met meer as 5% gedaal en het die Konserwatiewe Party die voortou geneem. Sedertdien loop die Konserwatiewe Party in bykans elke peiling voor.

Justin Trudeau. Foto: (Justin Tang/The Canadian Press via AP)

Trudeau het duidelik die Kanadese kiesers se intelligensie onderskat. Sy opportunisme is ontbloot en die Liberale Party se absoluut desperate optrede die afgelope paar dae laat die party reeds soos verloorders lyk. Waar Trudeau aanvanklik oor sy rekord en die hantering van die pandemie wou praat, was die party se boodskap die afgelope paar dae op verdelende kwessies soos aborsies, privaat gesondheidsorg, sogenaamde regse persone wat teen entstowwe gekant is en wapenbeheer gefokus. Erin O’Toole, die Konserwatiewe Party se koelkop en gematigde nuwe leier, weier egter om hiervoor te val en bly die afgelope twee weke op sy boodskap van ekonomiese groei en ʼn pro-aktiewe benadering tot die uitdagings wat gewone Kanadese in die gesig staar, gefokus.

In nog ʼn peiling die afgelope week het 48% van Kanadese gesê dat Trudeau uitgestem moet word. Met televisiedebatte wat nog voorlê en baie Kanadese wat ná die somervakansie nou eers op die verkiesing begin fokus, kan baie dinge nog verander. Die kiesafdelingstelsel maak dit ook moeilik om die uitslag te voorspel, maar dit lyk tans asof die Liberale Party en Trudeau se kanse baie klein is om op 20 September eerste te eindig, wat nog te sê die verkiesing te wen.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Hoe naief om te dink die Taliban sal verander.
Hoe integriteitloos van die Biden-administrasie om die blaam te probeer verplaas. (Trump, die Biden-administrasie en (s)linkses se “dit is apartheid se skuld”-verskoning.)

Anton

Die enigste verskil tussen die Taliban en die ANC is dat laasgenoemde ook ‘n klomp radikale vroue in hulle regering het. Ons hoop ook verniet op ‘n gematigde ANC