Internasionale oorsig: ’n Wêreld van onsekerheid

ʼn Skool word ontsmet teen Covid-19 (Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

In ʼn tyd van groot internasionale onsekerheid is die een stukkie sekerheid wat besig is om te ontwikkel, seker die feit dat 2020 vir baie lank onthou sal word as ʼn jaar van ontwrigting en herskikking in die wêreld. Terwyl die COVID-19-pandemie voortwoed en nuwe bevestigde gevalle van mense wat die virus opdoen, steeds wêreldwyd toeneem, is dit duidelik dat die pandemie se gevolge nie net polities en ekonomies gaan wees nie, maar dat dit ook die wyse waarop ons oor globalisme, internasionale samewerking en die rol van die groot moondhede dink, gaan verander.

Die komplekse netwerk van verhoudinge tussen lande soos, onder meer, die VSA, China, Indië, Rusland, Iran, Turkye, Pakistan, Israel en Saoedi-Arabië, is deur die afgelope paar maande se krisis blootgelê en talle ou foutlyne is weer sigbaar terwyl nuwes besig is om te ontstaan.

Gebeure die afgelope week, maar ook die afgelope vyf maande, wys duidelik dat die wêreld oor die volgende paar jaar ʼn hewige stryd om invloed tussen groot globale rolspelers gaan beleef. Daarmee saam sal lande aanhou om tot stappe oor te gaan om hul eie belange te beskerm, selfs ten koste van buurlande of ou bondgenote.

Die Covid-19-pandemie

Die afgelope week het die getal nuwe gevalle van Covid-19 in 96 lande toegeneem, terwyl geen nuwe gevalle in 19 lande aangemeld is. Die meeste van hierdie 19 lande is klein en is afgeleë eilandstaatjies. In 71 lande was daar ʼn afname in nuwe gevalle vergeleke met die vorige week.

Die grootste toename is steeds in die VSA waar daar die afgelope week op sommige dae selfs meer as 60 000 mense per dag positief getoets is. Meer as 3,2 miljoen Amerikaners het reeds Covid-19 opgedoen. Wêreldwyd is dit 12,5 miljoen, terwyl byna 600 000 sterftes weens Covid-19 aangemeld is. Die VSA is egter ook die land wat die meeste toetse doen met meer as 40 miljoen mense wat reeds vir Covid-19 getoets is.

Die skerpste toename in nuwe gevalle per capita die afgelope week was in Asiatiese lande soos Mongolië, die Filippyne, Sri Lanka en Viëtnam, en in verskeie Afrika-lande soos die Kongo, Ghana, Tunisië en Madagaskar. In Europa was daar ʼn skerp toename in Oos-Europese lande en die Baltiese state. Australië het ook die afgelope week ʼn groot toename beleef.

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Amerikaanse hooggeregshof lewer omstrede uitsprake

Die nege regters van die Amerikaanse hooggeregshof het die afgelope week verskeie omstrede uitsprake gelewer. Die hof het in ʼn beslissing van sewe teen twee, waarin drie van die hof se konserwatiewe regters, saam met die vier liberale regters gestem het, bevind dat pres. Donald Trump se persoonlike finansiële state aan aanklaers in die deelstaat New York oorhandig moet word. Pres. Trump probeer reeds drie jaar lank om dit te verhoed. Die hof het egter ook beslis dat pres. Trump se state nie aan die Amerikaanse kongres oorhandig hoef te word nie. Die Demokrate in die kongres wou toegang tot dié inligting kry.

In ʼn baie omstrede uitspraak wat Donderdag gelewer is, het die konserwatiewe regter, Neil Gorsuch, saam met die hof se vier liberale regters, in ʼn beslissing van vyf teen vier bevind dat bykans die helfte van die grondgebied van die Amerikaanse deelstaat Oklahoma eintlik deel uitmaak van die inheemse Creek-stam se reservaat.

Die Muscogee- of Creek-reservaat het reeds bestaan toe Oklahoma in 1907 ʼn deelstaat van die Verenigde State geword het. Die reservaat is juis vantevore as deel van die sogenaamde Indiane-gebied ingerig as tuiste vir verskeie inheemse volkere uit die suidoostelike dele van die VSA wat van hul grond afgesit is soos wat Europeërs die gebiede begin bewoon het.

Die hof het beslis dat die Creek-reservaat vandag steeds wettig bestaan en dat bykans die helfte van Oklahoma – insluitende die tweede grootste stad, Tulsa – deel van die reservaat uitmaak. Die Creek-volk is ʼn inheemse stamvolk wat federale erkenning in die VSA geniet en die hofuitspraak sal ʼn wesenlike invloed op die toepassing van kriminele en siviele reg in die gebied hê.

Die leierskap van die Muscogee/Creek-volk het die hofuitspraak as ʼn oorwinning vir hul soewereiniteit en die territoriale integriteit van hul reservaat beskryf. Volgens federale wetgewing geniet erkende inheemse volkere in die VSA wesenlike outonomie in hul eie grondgebied.

Kiesers staan tou om te stem in Hongkong. (Foto: AP Photo/Vincent Yu)

Toekoms van Hongkong onseker

Die toekoms van een van die belangrikste en sterkste finansiëledienstesentrums in die wêreld, Hongkong, raak toenemend onseker nadat die Chinese regering onlangs begin het om nuwe veiligheidswette, wat die outonomie van Hongkong bedreig, op die semi-outonome stad af te dwing. Sowel Brittanje as Australië het dit die afgelope week vir burgers van Hongkong moontlik gemaak om verblyfreg of burgerskap in hul lande te kry, terwyl Australië sy uitleweringsooreenkoms met Hongkong opgesê het.

Hongkong ondervind reeds die afgelope twee jaar ʼn toename in protesoptrede soos wat die Chinese hul invloed op die stad begin verhoog het. Die Verenigde Koninkryk het dié stad in 1997 aan China teruggegee maar met die veronderstelling dat Hongkong vir ten minste 50 jaar sy outonomie sou behou.

Indien heelwat Hongkongse burgers die stad verlaat en maatskappye hul kantore verskuif, sal dit enersyds vir China makliker raak om volle beheer oor die stad te kry, maar andersyds sal die stad se globale invloed verder kwyn.

ʼn Gevolg van die gebeure die afgelope ruk is dat ʼn breër koalisie teen China se outoritêre en soms aggressiewe optrede in Asië aan die ontstaan is. Die VSA, Brittanje, Europa, Australië en sommige Asiatiese lande soos Japan en Suid-Korea neem toenemend standpunt in teen Chinese aggressie in die Suid-Chinese See, Hongkong, Taiwan, die provinsie Tibet en ook op die grens tussen China en Indië waar Chinese soldate onlangs 20 Indiese soldate gedood het.

Die vrae wat nog onbeantwoord is, is wie China se vriende gaan wees in sy meer aggressiewe internasionale benadering oor die volgende paar jaar en tot watter mate dit China se ekonomie, wat baie sterk op produksie en uitvoere gebou is, gaan raak.

Foto: (AP Photo/Ariel Schalit)

Israel en Iran stuur op oorlog af

Strategiese teikens in en om Tehran, die hoofstad van Iran, is die afgelope ruk drie keer in aanvalle getref. In een aanval is groot skade aan ʼn belangrike ondergrondse kernaanleg net buite Tehran aangerig.

Die regering in Iran het heftig op hierdie aanvalle gereageer deur te beweer dat ʼn Sionistiese vyand (dus Israel) vir die aanvalle verantwoordelik was. Israel het die afgelope twee jaar gereeld aanvalle op die Iranse weermag in Sirië geloods, maar nie op Iran se eie grondgebied nie.

Die afgelope week het ʼn vertroulike bron uit Israel egter inligting aan die Amerikaanse koerant, The New York Times, gelek wat na bewering bewys dat Israel wel vir die aanvalle op Iran verantwoordelik is. In reaksie op die beriggewing in The New York Times, het Israel se voormalige minister van verdediging, Avigdor Lieberman, beweer dat die direkteur van die Mossad, Israel se intelligensiediens, Yossi Cohen, die inligting aan The New York Times uitgelek het.

Terwyl die spanning tussen Iran en Israel reeds vir baie jare oplaai en die twee lande mekaar gereeld dreig, of van spioenasie, sabotasie en ander misdade beskuldig, is die afgelope tyd se gebeure ʼn duidelike teken dat dié twee lande op groter konflik, en selfs oorlog afstuur.

Terwyl Israel die afgelope paar jaar met Amerika en groepe in die Midde-Ooste saamwerk om Iran in die streek te isoleer, finansier Iran verskeie groepe soos Hisbolla in Libanon en Hamas in die Gasa-strook wat ʼn veiligheidsbedreiging vir Israel inhou. Iran se invloed in Sirië, het sedert die uitbreek van ʼn burgeroorlog meer as nege jaar gelede in dié land, ook wesenlik toegeneem en Israel wil ten alle koste verhoed dat Iran ʼn vastrapplek in een van sy buurlande kry.

Emmanuel Macron. (Foto: Loic Venance, Pool via AP)

Macron wil oorbegin

Toe Emmanuel Macron net meer as drie jaar gelede tot president van Frankryk verkies is, was die verwagting dat hy met sy jeugdige energie en kenmerke as ʼn politieke buitestander wat nie lid van een van die groot politieke partye in Frankryk was nie, die land in ʼn nuwe rigting sou stuur en broodnodige hervormings sou deurvoer om Frankryk weer mededingend in Europa te maak.

Vandag, drie jaar later, is Macron uiters ongewild en het sy politieke party wat gestig is nadat hy tot president verkies is, onlangs sleg slae in munisipale verkiesings gekry. Verlede week het Macron se hele kabinet bedank en is ʼn nuwe eerste minister aangewys.

Volgens die Franse stelsel is die president die magtige gesig van die Franse regering, terwyl die eerste minister meer uitvoerend optree. Of die nuwe eerste minister, Jean Castex, daarin gaan slaag om Macron oor die volgende twee jaar suksesvol by te staan om Frankryk uit die huidige ekonomiese krisis te lei, is baie onseker.

Behalwe vir die ekonomiese probleme wat die Covid-19-pandemie veroorsaak het, het Frankryk die afgelope paar jaar ernstige sosiale opstande beleef met veral die werkersklas en laermiddelklasburgers wat meen dat hervormings hulle benadeel. Frankryk ondervind ernstige strukturele probleme soos ʼn kort werkweek, ongekende regte vir werkers, ʼn enorme burokratiese staatsdiens en ʼn oorgereguleerde ekonomie wat alles in die pad van vinniger ekonomiese groei, hoër produktiwiteit en groter mededingendheid staan.

Macron het hierdie week sy nuwe ekonomiese planne bekend gemaak in die hoop dat sy gewildheid voor die volgende verkiesing wat oor twee jaar moet plaasvind, sal verbeter.

Intussen het Macron, tot die verligting van mense oor die hele Frankryk heen en die res van die wêreld, Donderdag sy planne vir ʼn modernistiese toring op die herboude Notre Dame-katedraal in Parys laat vaar. Daar word verwag dat die oorspronklike toring, wat verlede jaar in ʼn brand verwoes is, nou volgens sy negentiende eeuse ontwerp herbou gaan word.

Rusland se Nord Stream 2-gaspyplyn kan voltooi word

Die langste ondersese gaspyplyn ter wêreld, Rusland se Nord Stream 2-pyplyn wat Rusland met Duitsland sal verbind, kan voltooi word nadat Denemarke die afgelope week toestemming gegee het dat die laaste deel van die pyplyn langs die Deense kus gelê kan word.

Die pyplyn, wat gas uit Rusland aan Duitsland sal verskaf, sou aanvanklik in Januarie 2020 voltooi gewees het, maar konstruksie is weens Amerikaanse sanksies en teenkanting teen die projek van sommige sentraal- en Oos-Europese lande vertraag.

Terwyl die VSA beweer dat die pyplyn Rusland se invloed in Wes-Europa sal vergroot, beskou die Russe en Duitsers dit suiwer as ʼn kommersiële projek. Die VSA het die afgelope paar jaar ʼn groot uitvoerder van gas geword en ding deesdae direk met Rusland gee.

Ivoorkus stuur op ’n nuwe politieke krisis af

Die Ivoorkus, ʼn land waar politieke geweld nog in 2010 en 2011 duisende lewens gekos het, het die afgelope paar jaar een van die snelgroeiendste ekonomieë in Afrika geword. Sedert pres. Alassane Ouattara, ʼn voormalige amptenaar van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), in 2010 die dienende president, Laurent Gbagbo, verslaan het, is politieke konflik deur redelike stabiliteit en sterk ekonomiese groei vervang. Die Ivoorkus is die grootste produsent van kakao in die wêreld en met voortdurende groei in die internasionale vraag na kakao, is daar steeds groot groeigeleenthede vir dié land.

Ouattara is egter veronderstel om later vanjaar uit te tree en die eerste minister van die Ivoorkus, Amadou Gon Coulibaly, sou die regerende party se presidentskandidaat wees. Hy is egter Woensdag oorlede nadat hy mediese behandeling in Frankryk ontvang het. Die verkiesing in die Ivoorkus moet op 31 Oktober plaasvind en daar heers groot onsekerheid oor wie die regerende party se kandidaat gaan wees. Politieke ontleders in die land vrees vir ʼn terugkeer na politieke geweld en onstabiliteit.

Gbagbo, wat vroeër vanjaar deur die Internasionale Geregshof in Den Haag op klagte van misdade teen die mensdom vrygespreek is, oorweeg dit om hom weer vir die pos van president beskikbaar te stel. Intussen oorweeg pres. Ouattara om hom, teen die bepalings van die Grondwet, vir ʼn derde termyn beskikbaar te stel.

Die lande met die hoogste ekonomiese groei in Afrika verlede jaar was Suid-Soedan (8,2%), Rwanda (8,1%), die Ivoorkus (7,3%), Ethiopië (7,2%), Senegal (6,8%), Benin (6,7%) en Uganda (6,2%).

‘n Teen-Brexit betoger oorkant die parlement in Londen. (Foto: Kirsty Wigglesworth/AP)

ʼn Harde Brexit nou selfs groter moontlikheid

Onderhandelinge tussen Brittanje en die Europese Unie (EU) ten einde ʼn Brexit-ooreenkoms te bereik, het die afgelope week weer eens weinig resultate opgelewer. Die EU se hoofonderhandelaar het ná die onderhandelinge gesê dat hy later in Julie weer onderhandelinge met sy Britse eweknie sal voortsit, maar dat EU-lidlande hulself moet voorberei op ontwrigtings wat in Desember en Januarie kan ontstaan indien die tussentydse reëlings tussen Brittanje en die EU verval en geen nuwe ooreenkoms wat die verhouding tussen die twee partye kan reguleer, bereik is nie.

Indien ʼn ooreenkoms nie bereik word nie, sal hoë invoertariewe vanaf 1 Januarie tussen Brittanje en die EU geld en sal streng grensbeheer ingestel word.

Die Colosseum verlig in die kleure van die Italiaanse vlag. (Foto: Fabio Polimeni, AP)

Sonder Amerikaners ly Europese toerismebedryf groot skade

Die Europese Unie (EU) het onlangs sy reisverbod na en van die VSA en verskeie ander lande wêreldwyd, insluitende Suid-Afrika, verleng. Terwyl die reisverbod verhoed dat mense uit lande met ʼn huidige hoë voorkoms van Covid-19 na Europa reis, het dit ook ʼn uiters slegte invloed op die Europese toerismebedryf.

Toerisme-ondernemings oor die hele Europa het die afgelope week berig dat hulle steeds baie minder sake doen as dieselfde tyd verlede jaar en dat die reisverbod die hoofrede daarvoor is. Sowat 29% van alle toeriste wat Europa jaarliks besoek, kom uit die VSA. Sonder Amerikaanse toeriste verloor Europa bykans ʼn derde van sy buitelandse toerismemark. Ook China is deel van die huidige reisverbod en Chinese toerisme maak sowat 9% van die jaarlikse buitelandse toeriste uit wat Europa besoek.

Die Italiaanse toerismevereniging het die afgelope week gesê hy verwag dat Amerikaanse besoekers aan Italië vanjaar 75% minder gaan wees. Verlede jaar het 4,4 miljoen Amerikaners Italië besoek en 5,5 miljard euro spandeer. Amerikaanse toeriste is die hoogste per capita-spandeerders van alle buitelandse toeriste wat Europa besoek.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Therese

Ek glo die “lockdown”-skade aan die wêreld-ekonomie is onberekenbaar en gaan dekades neem om te herstel, indien ooit.
Roekeloosheid op hierdie skaal is nog nooit gesien nie, en verstom steeds meer en meer.