Is 2017 die einde van die ‘Einde van die Geskiedenis’?

berlynse-muur-02

Foto: Pinterest.com

Die sosiale media gons omtrent van memes waarin daar vertel word dat 2016 die slegste jaar nog ooit was. Die rits sogenaamde glanspersoonlikhede in die VSA word gewoonlik ter motivering hiervan gelys, waarna daar gewoonlik met die “gruwels” van Brexit en Donald Trump se verkiesing as Amerikaanse president afgesluit word.

Prof. Koos Malan het onlangs tydens ’n gesprek oor die afgelope Amerikaanse verkiesing opgemerk dat dié gebeurtenis terugherlei kan word na die val van die Berlynse Muur in 1989, wat by nabetragting ’n ander simboliese betekenis gekry het as dit wat vir byna drie dekades aan ons vertel is.

Dié muur, wat regdeur Berlyn geloop het, was natuurlik die gedwonge skeiding tussen die Westerse (vrye) Wes-Duitsland en die kommunistiese Oos-Duitsland. Die onverwagte vernietiging in November 1989 van dié muur het die legitimiteitskrisis van kommunisme aan die wêreld ontmasker. Daar word steeds aanvaar dat kommunisme “finaal” deur dié daad gediskrediteer is. F.W. de Klerk het selfs aangevoer dat die vernietiging van die muur die enkele grootste gebeurtenis was wat hom beïnvloed het om op 2 Februarie 1990 aan te kondig dat Nelson Mandela vrygelaat sal word en dat die verbod op kommunisties georiënteerde organisasies herroep word.

In die negentigerjare het daar twee breë teorieë ontstaan oor wat die val van die Berlynse Muur nou eintlik beteken. Francis Fukayama het in sy beroemde boek The End of History and the Last Man aangevoer dat hierdie simboliese daad as ’t ware die einde van die geskiedenis meebring. Sy argument was dat hierdie gebeurtenis die oorwinning van liberale demokrasie as wêreldnorm gekenmerk het en dat alle ander regeringsvorms die finale nekslag toegedien is:

“We may be witnessing the end of history as such: that is, the end of mankind’s ideological evolution and the universalization of Western liberal democracy as the final form of human government.”

Fukayama het toegegee dat daar steeds aanhangers van Karl Marx en Vladimir Lenin sal wees, maar dat die liberale demokrasie reeds geseëvier het. Hy skryf verder dat toekomstige botsings nie oor idees of ideologieë gevoer sal word nie, maar eerder oor alledaagse ekonomiese en tegniese probleme. Hy kom dan tot die gevolgtrekking dat die wêreld ná die Koue Oorlog taamlik vervelig gaan wees. Die aanduidings is ook dat Fukayama reg was. In die 40 jaar tussen 1970 en 2010 was daar ’n enorme toename in die getal demokratiese state oor die hele wêreld. In 1973 is slegs 45 van die wêreld se 151 state deur die onafhanklike waghondorganisasie Freedom House as “vry” bestempel. Teen die laat 1990’s het ongeveer 120 state oor die wêreld – meer as 60% van die wêreld se onafhanklike state – verkiesingsdemokrasieë geword (en in gevalle waar state weerstand teen demokratisering gebied het, het die VSA hulle sommer vinnig in demokrasie in geboelie).

Samuel Huntington, eertydse dosent van Fukayama, was egter nie geneë met hierdie ontleding nie. In The Clash of Civilizations and the Remaking of World Order voer hy aan dat die oomblik van opwinding wat deur die beëindiging van die Koue Oorlog ontstaan het bloot ’n illusie van harmonie bewerkstellig het en dat die tyd sal leer dat hoopvolle verwagtings oor liberalisme niks anders as ’n tydelike vreugde was nie. Die belangrikste faktor wat mense ná die Koue Oorlog van mekaar sou onderskei, skryf Huntington, sou nie ideologie, politiek of ekonomie wees nie, maar verskille tussen kultuurgroepe of beskawings.

Die debat was dus oor wat die val van die Berlynse Muur nou eintlik gesimboliseer het, terwyl die vraag was of die wêreld liberaal en demokraties sou word of nie. Wat egter in Fukayama se ontleding misgekyk is, soos wat Huntington en Malan tereg uitwys, was die element van gemeenskapspolitiek wat met die vernietiging van die Muur gepaardgegaan het. Huntington het wel hiermee rekening gehou. Ontledings van die simboliek van hierdie gebeurtenis wat slegs aanvaar dat dit oor die aanvaarding of verwerping van ’n bepaalde politieke stelsel gegaan het, skiet dus te kort. ’n Onderliggende element wat (met die voordeel van terugskou) ’n belangrike rol gespeel het, was die stelselmatige terugkeer na die belange van die gemeenskap as ’n groep en nie bloot die belange van ’n klomp individue nie, soos wat die liberalisme ons wil leer.

Brexit was as ’t ware ’n daad van identiteitspolitiek. Ten spyte van die voorspellings dat die ekonomie in duie sou stort (wat nie gebeur het nie), het Britte vir uittrede uit die Europese Unie gestem omdat vryheid vir die gemeenskap vir hulle groter gewig gedra het as die argument dat hulle (in finansiële terme) armer gaan word.

Die verkiesing van Donald Trump as president van Amerika was tot groot mate ’n teenreaksie op die oordadige, beterweterige en dikwels skynheilige liberalisme waarmee Amerikaners daagliks gekonfronteer word. Liberale kommentators en die media-elite maak dan graag die gevolgtrekking dat mense wat vir Trump gestem het sy karakterlose optrede teenoor byvoorbeeld vroue ondersteun. Die meer korrekte ontleding sou wees dat mense nie weens sy skandale vir Trump gestem het nie, maar ten spyte daarvan. Dit, juis omdat die teenreaksie teen die bestaande orde so groot is.

Gebeure soos Brexit en die verkiesing van Donald Trump het natuurlik nie in isolasie gebeur nie. Die hittete-verkiesingsuitslag die afgelope Desember in Oostenryk, waar die sogenaamde “verregse” Norbert Höfer met net 7,6% teen die linkse Alexander van der Bellen verloor het, is nog ’n voorbeeld. Dan was daar die peilings in Desember dat Geert Wilders se anti-immigrasie Partij Voor De Vrijheid in Nederland tans die party met die meeste steun is (en hulle voorsprong word groter). Die groeiende moontlikheid dat Marine le Pen (nog ’n sogenaamde “verregse”) die president van Frankryk kan word, is nog ’n voorbeeld. Só kan ek aangaan.

Hierdie verskynsel begin ons ook in Suid-Afrika opmerk. Dit lyk of mense met groeiende selfvertroue hulle in die openbaar oor hul ontnugtering met die hoofstroommedia uitspreek, om maar een voorbeeld te noem.

Hierdie selfvertroue hou natuurlik bepaalde risiko’s in. Die gevaar van ’n teenreaksie is dat dit gewoonlik tot ’n volgende teenreaksie lei. Ons moenie die fout maak om aan te neem dat alles wat nie links is nie, outomaties regs is nie. Ons moet ook versigtig wees in ons kritiek op die media. Dat daar rede is om te kritiseer, is vir seker so. Dit wis egter nie die feit uit nie dat daar uitstekende, objektiewe joernaliste is wat hulle afsloof om die nuus feitelik en objektief aan ons oor te dra. Hierdie mense moet ondersteun word. Dit is net ’n dwaas wat glo dat ’n ontnugtering met die een kant van die politieke spektrum ’n carte blanche skep om na die ander kant toe die perke van beskaafde optrede te ontken. Ons moet leer uit die foute wat die linkse elite gemaak het en ons optrede moreel só posisioneer dat ons ruimte vir diverse opinies behou. Doen ons dit nie, sal daar vir seker weer ’n teenreaksie wees.

Daar lê interessante tye vir ons voor. Maar dat die einde van die “Einde van die Geskiedenis” aangebreek het, is ’n feit soos ’n koei.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hannah

Nugter weet wat… maar een ding is seker – daar le groot veranderinge voor. Iets se tog vir my dit gaan positief wees.

Ou Media-Vark

Die mens met sy multimedia het ontdek dat hy ook sy eie standpunt wêreldwyd op enige plek en enige tyd teen haas die spoed van lig kan verkondig en ondersteuning werf. Hy het sy “stem” ontdek. Elke mens kan nou ‘n ondersoekende joernalis wees en die kriminele se dade in die geheim en donkertes uitsnuffel en die feite daaroor wêreldwyd publiseer. Ook hul handelinge gaan deel wees van die toekomsige geskiedenis in wording.

Basson

Effe van die trant af – maar AS ek reg onthou skryf Genl Jannie Geldenhuys in ‘How the Soviets and Cubans lost the war in Southern Africa’ dat die Berlynse muur geval het agv die SAW se Angola ops? (Teruggetrek na die USSR (destyds) se fiansiele probleme) (Of dis dalk hoe ek die stuk geinterpreteer het)
Seker dabatteerbaar.

Steve Hofmeyr

Puik, nugter en ontnugterende stuk. Dis dalk nader aan die waarheid dat daar geen begin of einde aan geskiedenis is nie, net siklusse wat homself herhaal en dan konsentries uitstal. Dit sal ‘n fout wees om te dink dat enigiets (bv die groepsgevoel) ooit langs die pad verdwyn het. Teen bladsy 80 van die 700 bladsye van Brendan Sims se lywige EUROPE, The Struggle For Supremacy 1453 To Present, het ek reeds ‘n Trump, ‘n Brexit, ‘n NATO, ‘n EU, ‘n Merkel, ‘n onwettige immigrant, ‘n Hitler, ‘n Gandhi, ‘n Verwoerd, ‘n Malema en ‘n Zuma teëgekom. Jou nugter punt… Lees meer »

Theresa

Gister is al klaar weer geskiedenis. En dan, bly die massas en massas en massas mense wat buite hulself met tye vir ‘n saak staan, in my gedagtes opkom. Soos ‘n tsunami in vergelyking met ‘n fratsgolf. Geen weerstand daarteen nie… Dan ook onregverdige besluite wat ernstige gevolge vir mense inhou, wat geneem word maak nie saak hoeveel teenkanting daar is nie. Leuens en voortdurende breinspoeling is ‘n baie groot probleem. Wie gaan op die ou end nog die waarheid ken?